Junior in Saal 7. Ena Murray
ion>
Ena Murray
Junior in saal 7
Jasmyn
1
__
“Ag, verpleegstertjie, bring tog gou vir my ’n bietjie water. Gou maak, hartjie, ek is só dors!”
Met ’n goedige glimlag verdwyn die junior verpleegster in die gang af, en ’n rukkie later kom sy terug met ’n beker water.
Terwyl tant Sannie dorstig drink, kyk sy die jong gesiggie liefdevol aan. “Hoe jy dit darem hou, hartjie . . . As ek maar sien, is jy aan die gang, en altyd so fluks.”
Louwrinda lag vrolik. “Ek is die belangrikste verpleegster in die saal, oumatjie! Dink net, as ek nie hier was nie, wat sou van julle almal geword het?” skerts sy.
Tant Sannie se oë vonkel ook. “Liewe kind, dit sou nooit deug nie. Maar nietemin, dit lyk my hulle laat jou darem te hard werk.”
“Ek is ’n junior, ouma. Ons juniors is die koeriers van die hospitaal. Jy word eers ná ’n paar maande . . . ag, soms eers ná ’n jaar, ’n verpleegster – ’n regte een. Tot dan . . .” sy help die ou tante om weer gemaklik te lê, “tot dan is ek maar ’n soort bode.”
Tant Sannie se oë verteder. Ag, sy is nog jonk, maar so geesdriftig en gewillig. ’n Liewe kind. “Jy moet tog vir my kom kuier as ek weer tuis is, hoor jy, hartjie? Dan kan ek jou so ’n bietjie vergoed vir alles wat jy so gewillig aangedra het.”
Louwrinda staan deur se kant toe. Daar is al weer ’n noodsein verder af in die gang. “Dankie, oumatjie. Ek sal beslis kom. Nie omdat ek vergoed wil word nie, maar omdat ek ook lief geword het vir u. U was nooit ongeduldig met my nie.”
“Dis dan ’n belofte, hoor? Ek sal jou my adres gee voordat ek hier uitgaan. Ek bly alleen in ’n groot ou huis.”
Terwyl Louwrinda haar weer haas om die nood verder af in die gang te gaan verlig, dink sy met deernis aan die ou dame. Om ’n junior in saal 7 te wees, is geen grap nie. Hier moet jy die klap van die sweep ken, of daar is chaos.
As rou junior het sy dikwels gewonder wat haar makeer het om van haar ouers en haar vyf broers op hul plaas in die Karoo afskeid te neem en in hierdie groot hospitaal haar bene te kom afhardloop. Maar ná drie maande gaan dit al heelwat beter. Sy het ten minste al die verpleegsterstappie aangeleer – ’n kruis tussen hardloop en stap – en sy verlang nie meer so erg na die plaas en sy mense nie.
Sy, wat haar lewe lank gewoond was om deel te wees van ’n groot gesin, altyd omring deur mense, was aanvanklik baie eensaam en verlore in die groot hospitaal. Totdat sy ontdek het dat daar baie alleenmense is – mense soos tant Sannie Landman. Al wat sy in die lewe oorhet, is ’n kleinseun, en dié is in Skotland. Daarom probeer Louwrinda altyd tydjies afknyp om ’n woordjie met dié oumatjie te wissel. Veral tydens besoekure wanneer al die ander pasiënte besoekers ontvang, glip Louwrinda altyd by tant Sannie se kamer in om die alleenheid te probeer verlig.
So het sy en die ou dame mekaar goed leer ken en lief geword vir mekaar. Sy sal haar beslis gaan besoek wanneer sy weer tuis is. Sy is juis soms maar opgeskeep met haar vry dae.
Sy frons nou terwyl sy opvryf en wegpak. Voordat sy van diens af kan gaan, moet alles netjies wees. Haar maats in die verpleegsterstehuis het almal reeds mansvriende, maar nie sy nie. Sy het tot dusver nog geen behoefte daaraan gevoel nie. As enigste dogter tussen vyf broers en talle neefs, is ’n mansmens nie vir haar so ’n snaakse ding as vir ander meisies van haar ouderdom nie. Haar loopbaan as verpleegster het sy in alle erns aangepak, en sy wil nie nou al betrek word by verhoudings met die teenoorgestelde geslag nie. Die meeste jong mans wil ernstig raak (of dan ten minste’n bietjie flankeer), en sy is nog nie te vinde daarvoor nie. Sy is nie ’n meisie vir ligte flirtasies nie, en daarom is sy seker die enigste junior wat nie ’n kêrel het nie.
En dit het haar al baie ergernis besorg. Almal wil gedurig weet hoekom sy nie ’n kêrel het nie. Dis vir hulle net onverstaanbaar dat ’n meisie van agtien nie ’n kêrel wil hê nie. Dit het al aanleiding gegee tot baie gespot en geterg – en hoe meer sy sê sy is nie manmal soos hulle nie, hoe meer dink hulle dis net suur druiwe. Dis natuurlik glad nie die geval nie. Die jong mediese studente probeer voortdurend ogies maak oor die lengte van saal 7 wanneer hulle saam met hul professor ingestap kom. Haar volgehoue koel blik sal hulle wel nog hul aspirasies laat vergeet. Sy wíl nie nou al ’n kêrel hê nie en basta! Vriende wel, maar op agtien weet sy darem al dat daar kwalik ’n jong man bestaan wat bloot net ’n vriend vir ’n aantreklike meisie met ’n hartvormige gesig en kort, swart hare sal wil wees.
’n Week later het sy haar dag vry en gedagtig aan haar belofte aan tant Sannie Landman, besluit sy om te gaan kuier. Tant Sannie is drie dae gelede uit die hospitaal ontslaan en sy sal graag wil sien hoe dit gaan. Arme ou mens. Om op haar hoë ouderdom so ’n groot operasie te moes ondergaan, was ’n groot beproewing. Sy sal maar lank nog baie swak voel.
Sy is verras toe sy voor die tuinhekkie tot stilstand kom. Die huis staan in ’n gegoede woonbuurt en vertoon deftig en weelderig. Die ou tannie was altyd so nederig in die hospitaal dat Louwrinda haar nie met rykdom vereenselwig het nie. Maar na die uiterlike te oordeel, moet die tante goed daarin sit. Nie dat dit haar enigsins sal beïnvloed nie – sy kom self uit ’n ryk huis, maar dit het nog nooit na haar kop toe gegaan nie. Haar ouers het haar en haar vyf broers reg grootgemaak en geld sal nooit vir hulle ’n maatstaf wees nie.
Tant Sannie sit op die sonstoep en laat geen twyfel oor haar vreugde om Louwrinda weer te sien nie. “Kom sit, kindjie. Ai, maar dis lekker om weer jou ou gesiggie te sien! En jy lyk so anders vandag – amper groot!” terg sy.
Louwrinda lag. “Ek is ook bly om u weer te sien. Hoe gaan dit, oumatjie?”
“Goed, my kind. Nog swakkerig, maar dit sal ook weer regkom. Die eensaamheid is maar die groot klagte.”
“Bly u stoksielalleen in hierdie groot huis?”
“Ja – ek en Nellie, my ou huishulp sedert die jaar toet. Snags kom slaap die buurman se seun darem hier. Maar bedags is ek maar baie alleen.”
“Hoekom kry u nie maar vir u ’n kleiner plekkie nie, oumatjie? So ’n groot huis is ’n groot verantwoordelikheid, en dan is die tuin ook nog daar.”
“Ek sal, sodra Len terug is. Maar terwyl hy oorsee is, sal ek maar hier bly om sy plek vir hom op te pas.”
“Len? O, u kleinseun, bedoel u? Dan is dit sý plek hierdie?”
“Ja. Hy het dit van sy pa geërf. Hy wil dit nie graag verkoop nie. Hy sal seker maar hier kom bly wanneer hy klaar geleer het daar anderkant.”
Louwrinda het in die hospitaal ook al baie van dié kleinseun gehoor. Daar bestaan geen twyfel dat hy sy ouma se oogappel is nie.
“Waarvoor leer hy, oumatjie?”
“Ag, my kind, dis so ’n lang, hoë woord. Maar hy is ’n slimkop. Hy sal dit seker nog ver bring, maar ai, ek verlang darem so baie na hom. Wag, kyk, ek het netnou in die foto-album gesit en blaai. Hier. Dis nou Len hierdie. Wat dink jy van hom?”
Louwrinda kyk met aandag op die gesig af wat na haar opglimlag vanuit die foto. Eers is dit net ter wille van die ou vroutjie langs haar dat sy dit doen. Dan trek sy haar asem in en kyk weer. Die feit dat sy nie in ’n kêrel belang stel nie, maak haar nie immuun teen die teenoorgestelde geslag nie. En hierdie Len-kleinseun van oumatjie . . .
In alle opregtheid uiter sy haar gedagtes hardop: “Maar oumatjie, hy is . . . hy is sommer ’n bak ou!”
Tant Sannie glimlag ingenome. Sy het gedink die liewe kind sou sommer van haar Len hou. Amper oorgewillig slaan sy die een bladsy ná die ander om. “Kyk hier. Hier is hy ’n baba . . . Hier is dit die dag met sy doop . . . Hier is sy rugbyfoto’s van die skooldae . . . Hier is hy universiteit toe . . . en hier . . . ontvang hy sy graad . . .”
Van A tot Z volg Louwrinda Len Landman se ontwikkeling en luister nou diep geïnteresseerd na die tante se vertellings. Hierdie kleinseun van oumatjie is die mooiste mansmens wat sy nóg aanskou het! As sy nou só ’n kêrel kan kry . . .
Wat