Junior in Saal 7. Ena Murray
alte goed.
Sy steek die foto met raampie en al diep onder haar onderklere weg. Dis meer as ’n penarie, dink sy: Ek is in ’n dik fieks. As die senior personeel darem moet hoor dat ek kastig met die professor sleep . . . Hulle sal my uitmekaar trek. Matrone het juis in die begin van die jaar gesê dis etiket dat daar nie iets soos ’n verhouding tussen ’n junior en ’n senior is nie . . . Dis weliswaar nie ’n geskréwe reël nie, maar dit staan ewe vas as die wette van die Mede en die Perse. Dis glo onbetaamlik dat juniors en seniors familiêr met mekaar verkeer. Dis sleg vir die dissipline van die hospitaal. Dis iets wat net nie gedoog word nie.
En nou is hier ’n rou juniortjie wat beweer sy en die nuwe professor is gekys! Louwrinda voel behoorlik ’n rilling langs haar ruggraat afgaan. As hierdie storie moet uitlek, sal dit so goed wees of ’n bom het die hospitaal getref.
Met haar vingers gekruis, in die hoop dat verpleegster Keuler haar vermoedens vir haarself gehou het, stap sy ’n rukkie later die eetsaal binne.
Sy kan dit eenvoudig nie ignoreer nie. Die juniors se glimlagge na haar kant toe is te breed en te vriendelik en net te ingenome om mis te kyk. Daar is selfs ’n paar van die seniors wat ondersoekend na haar kyk. Sy het skoon die bewerasie toe sy op haar plek neersak. Al haar honger het verdwyn.
“Hoekom skep jy nie vir jou kos nie, Kemp?” vra iemand.
“Ek is nie honger nie, dankie,” antwoord sy so kalm moontlik, maar daar is moordgedagtes in haar hart. As sy darem daardie Keuler in die hande kry, draai sy haar nek om!
“Los haar, man. Sy leef van liefde en koue water!” spot verpleegster Vos aan die hoof van die tafel.
“Wat wil sy ook nou met kos maak terwyl haar groot liefde by haar is?” wil ’n ander weet.
Daar breek ’n gegiggel uit.
Louwrinda swaai haar oë blitsend oor die tafel. “Julle is verspot!”
“Is ons, Kempie?” Vos bedaar effens toe Louwrinda haar kwaai aankyk. “Toe maar! Ons sal nie jou geheimpie verklap nie, hoor? Dis net tussen ons juniors.”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie!”
Almal lag en Louwrinda voel haar hart wild in die kuiltjie in haar nek klop. Hierdie klomp simpel goed het al die storie tot wie weet waar versprei!
“Nee. Nee, nie een van ons weet waarvan gepraat word nie. Moenie bekommerd wees nie. Ons vang die skimp. Nè, ouens? Ons weet van niks nie, nè?”
’n Klomp koppe knik om haar, maar die oë dartel terg-lustig in hare.
Louwrinda wend haar desperaat tot verpleegster Vos. “Vos, luister, daar bestaan nie so iets nie.”
“Wat?” Die oë terg. “Wát bestaan nie, Kemp?”
Sy trek haar asem in. Hulle wil haar in ’n hoek dryf. Sy slaan haar oë neer. Dis hopeloos. Niks wat sy sê, sal hierdie stuitige spul anders laat dink as wat hulle dink nie. Sy sug. Maar weer moet sy net vir haarself kwaad wees. Dit was immers syself wat hierdie ding aan die gang gesit het.
Iemand leun nader en fluister oor die tafelblad: “En toe verwelkom jy hom met ’n . . . ’n ongeluk, Kempie!”
Van die senior verpleegsters se aandag word onwillekeurig na die juniors se tafels getrek. Die juniors is vandag uitsonderlik vrolik. Daar is beslis iets onder hulle aan die gang. Dan draai hulle maar weer hul koppe terug. Dáárdie klompie is nog half-rou, half-gaar. Dit sal nog lank neem om waardige verpleegsters van hulle te maak. Maar dan – almal moet onder begin.
Louwrinda is die volgende oggend innig dankbaar dat sy die dag vry het. Vir die eerste keer is sy bly om nie aan diens te gaan nie. Tot dusver het sy haar werk baie geniet en het sy elke oggend gretig daarna uitgesien om saal 7 binne te stap. Maar vandag is sy dankbaar dat sy onder al daardie oë uit is. Vandag moet sy ’n plan maak om die vure dood te gooi wat sy self aangesteek het en wat nou blykbaar tot hoë vlamme deur die ander juniors aangeblaas is.
Maar skielik is sy nie in staat om te dink nie. Toe! raas sy met haarself, jy kon gou leuens uitdink toe dit jou gepas het. Wat is dit dan nou met jou? Maar dit help nie. Dis of haar verstand botstil gaan staan het. En sy moet, sy móét aan ’n plan dink om hierdie stories dood te smoor voordat dit by verkeerde ore uitkom.
Ten einde raad besluit sy om maar vir tant Sannie te gaan kuier. Sy het geen vrees dat sy oumatjie se kleinseun tuis sal raakloop nie. ’n Professor werk dié tyd van die oggend . . .
Tant Sannie is weer baie bly om “die liewe kind” te sien, en sy het skaars gegroet of sy borrel oor van haar blye nuus. “En toe, my hartjie? Het jy toe al vir Len gesien? Hy is mos nou ook daar by julle.”
Louwrinda kyk die ou dame beteuterd aan. “Hoekom het u my nie vertel hy kom nie?”
“Ek het self nie geweet nie, kindjie. Len het dit vir my vir ’n verrassing gehou. Maar wás ek bly toe hy my vertel hy gaan nou hier by my woon! Ek kan jou nie vertel nie! Nou is die huis sommer weer vol. Ag, hy is so ’n dierbare kind. Jy sal hom nog goed leer ken.”
“Dis te betwyfel, oumatjie. Die juniors en seniors kom nooit met mekaar in aanraking nie, behalwe in hul werk. En u kleinseun is baie senior.”
Tant Sannie lyk ontsteld. “Maar dis sommer nonsies daardie. Ek wil dan so graag hê julle tweetjies moet mekaar goed leer ken. Jy is so ’n liewe kind en Len is so ’n pragtige mens . . .”
Louwrinda twyfel of hy steeds ’n pragtige mens sal wees as hy moet weet watter stories op hierdie oomblik van hom en ’n junior verpleegster versprei word. Sy wonder skielik of sy nie maar die hele storie aan oumatjie moet bieg nie. Maar sy besluit daarteen. Nee, wat sy aangevang het, is verdoemend. Sy het nie die moed om dit oor te vertel nie.
Te laat hoor sy ’n motordeur toeklap en sy voel weer net so desperaat soos gisteroggend toe sy onder die hospitaalbed rondgeskarrel het. Sy kan net hulpeloos terugkyk in daardie blou-blou oë wat haar uitdrukkingloos betrag en dan skielik ’n vonkie van herkenning toon.
Tant Sannie is alte bly dat haar kleinseun iets by die huis vergeet het. “Ek weet jy is haastig, Len, maar kom ontmoet eers vir verpleegstertjie Kemp. Julle twee werk in dieselfde hospitaal. Julle sal mekaar nog daar raakloop.”
Louwrinda sit vasgenael op haar stoel en dis die man wat nader kom, hand uitsteek en met ’n diep stem sê: “Ons het mekaar al . . . e . . . raakgeloop, nie waar nie, verpleegster Kemp? Aangename kennis, in elk geval.” ’n Fyn glimlaggie verskyn om sy mondhoeke. “Hierdie keer darem onder baie aangenamer omstandighede, nie waar nie?”
3
__
In ’n hospitaal is daar baie werk. Dis nie ’n plek vir ginnegaap nie. Tog is daar altyd tyd om nuus met die bostelegraaf na al die uithoeke van die hospitaal te versend – so tussen inspuitings gee, beddens regtrek, rûe smeer, trollies stoot en panne dra deur.
Die bostelegraaf dring selfs tot binne-in matrone se kantoor – en dié dame is beslis ook onkant gevang, nes die res van haar personeel.
“Maar suster, ek kan dit kwalik glo. Is dit nie maar net lawwe stories van die juniors nie?”
Suster Behrens lag, maar haar stem is tog ernstig. “Na alle waarskynlikheid, ja, maar die storie is nietemin soos ’n veldbrand deur die hospitaal. Ek het gedink ek moet u maar inlig daaroor. Ek glo nie professor Landman sal daarvan hou as hierdie storie sy ore bereik nie.”
“Nee, beslis nie.” Matrone Hefer frons. “Maar sê nou dis waar . . .?” Sy swyg. Sy is nie verniet al vyftien jaar lank matrone van hierdie hospitaal nie. Hier is so te sê niks onmoontlik nie.
In haar tyd het sy mense hier sien uitstap, pasiënte wat, volgens alle mediese getuienis, nie kon lewe nie, maar wat die hospitaal as gesonde mense verlaat het. En dan was daar die gevalle waar skynbaar gesonde pasiënte onverklaarbaar gesterf het. Dat ’n professor op ’n junior verpleegstertjie kan verlief raak, is sekerlik ook moontlik . . .
Sy