Rabbedoe van Rietkuil. Ena Murray
die moeite getroos het om haar ’n kans te gee nie. Sy sal moet teruggaan met haar hoed in die hand en voor prokureur Len Beyers gaan staan en erken dat haar ou poginkie om haar en die Bezuidenhouts se trots te red, jammerlik gefaal het. Sy sal moet omdraai en haar kontrei se mense in die oë kyk met die wete dat die Bezuidenhouts se eer in die stof lê, dat sy te swak was om dit te red.
Nee, dit is nie so eenvoudig nie. Sy kan Wynand Hechter se houding nie sommer net ongeërg afmaak nie. Daar is te veel op die spel vir haar. Haar hele menswaardigheid is in gedrang met wat sy haar ten doel gestel het. En was dit nie dat ou Tjorries haar in die steek gelaat het en oom Fasie gekeer het nie, het Wynand Hechter haar binne twee minute ná haar aankoms op die terugpad gehad. Wie dink hy is hy altemit? begin sy weer van voor af stoom optel. Hy is ongetwyfeld een van daardie haatlike mansmense wat dink hy is die koning se hond se stert, tier sy in haar gedagtes voort, die trane van so ewe droog op haar wange.
Toe sy oom Fasie se gestalte skielik in haar kamerdeur sien verskyn, sit sy regop, skakel die bedlampie aan en die ou oom glip vinnig binne en druk die kamerdeur suutjies agter hom toe. Was dit ander omstandighede, sou sy kon lag vir die wyse waarop oom Fasie op sy tone nader sluip, sy vinger waarskuwend voor sy lippe, maar die duiweltjies dansend in die ou oë.
“Sjuut! As Wynand my hier betrap, sit ék môre op die trekpad!”
Sy knik en klap met haar hand op die kant van die bed. “Kom sit, oom. Is daar iets verkeerd?”
Oom Fasie neem plaas en sy oë vernou toe hy haar vlugtig beskou. Sy lyk gans en al nie meer soos ’n rondloper-rabbedoe nie. Ook nie soos ’n skoolmeisie nie. Die tekens van ’n wordende skoonheid is duidelik sigbaar en oom Fasie weet dat as Wynand sy voorvrou nóú moet sien, net mooi niks hom sal beweeg om haar hier te hou nie.
Net ’n oomblik lank is daar ’n bietjie vertwyfeling in oom Fasie se hart. Miskien moet die kind maar liewer terug. Sy is nog bitter jonk en sy ís ’n vrou. Plaaswerk is harde werk en Wynand Hechter ’n harde man met hoë standaarde. Hierdie kind gaan dalk seerkry. Het reeds seergekry … Iets moes haar na Rietkuil gebring het. Dit is ongehoord dat ’n meisie van haar ouderdom as plaasvoorman wil werk. Daar moet ’n goeie rede wees. Haar ouers is dood. En hulle het ’n plaas gehad. Wat het dan nou van die plaas geword? En hoekom moet die dogter van ’n boer met sy eie plaas skielik uitspring en as kneg by ’n ander man werk soek?
Nee, hieragter lê ’n hartseerstorie, daarvan is oom Fasie oortuig. En nou wil hy die kind nog dieper in die moeilikheid laat beland. Want dis nie net om Wynand se plaas te help bewerk dat oom Fasie so gretig is dat sy moet bly nie. Hulle sal wel die een of ander tyd ’n voorman kry. Maar dit is juis die feit dat sy ’n meisie is, jonk en mooi en ’n mens met baie durf wat haar man kan staan, wat oom Fasie laat besluit het sy is direk uit die hemel hierheen gestuur. Want Rietkuil en sy baas het so iemand nodig …
Sy lê hom stil en bekyk en die klein vlammetjie van hoop wat in haar ontbrand het toe sy die buitelyne van oom Fasie se boepmagie in haar kamerdeur gesien het, verdwyn weer. Oom Fasie kon ook niks uitgevoer kry nie. Dit is duidelik.
“Toe maar, oom. Ek sal regkom. Herman lyk my nie onaardig nie. Al sal hy nie vir my werk hê nie, sal hy miskien van iemand weet.”
“Nee, kindjie, nee, dis nog glad nie ’n uitgemaakte saak dat jy nie gaan bly nie,” lieg oom Fasie hoopvol. “Jy moet verstaan dat Wynand niks teen jou persoonlik het nie. Dis maar net omdat jy …”
“Omdat ek ’n vroumens is. Hoekom is hy so allergies vir vroumense, of verbeel ek my dit maar?”
Oom Fasie knik. “Nee, jy het reg. Maar dis ’n lang storie en ek sal dit eendag vir jou vertel.”
Eendag sal ek nie hier wees nie, dink Nicolette, maar swyg liewer. Hoe minder sy in elk geval ook van daardie mansmens af weet, hoe beter. Sy stel tog nie belang in sy persoonlike sake nie.
“Dan is dit nou maar tot daarnatoe, oom. Dankie in elk geval dat oom probeer het.” Die groen oë skitter weer. “Ek dink oom se danige Wynand is bang om my ’n kans te gee om te wys waartoe ek in staat is. Ja, ek dink hy is bang ek sal hom die loef afsteek, hom wys ’n vroumens is net so goed, indien nie beter nie, as hy. Hy is bang hy gaan op sy neus kyk.”
Oom Fasie se oë begin ook blink. Mag, hy het nooit aan daardie argument gedink nie! “Miskien het jy reg, meisie. Sowaar, ek dink jy het!” Hy staan op en kyk teer na haar. Hy was nooit getroud nie. Hy het nie kinders nie. Maar Wynand het vir hom die afgelope jare die seun geword wat hy nooit gehad het nie en … as hy kon kies, sou hy ’n dogter soos hierdie dingetjie hier voor hom gekies het. En sy is ook maar alleen op die aarde, nes hy en Wynand.
Dit is vroeg in die oggend op Rietkuil. Die son luier nog agter die ysterkliprantjies, maar daar is reeds groot bedrywigheid op die skemerwerf.
Die emmers skuimende melk staan gereed in die buitekombuis om afgeroom te word. Op die stoof in die kombuis prut die mieliepap al lankal en wag die stuk boerewors in die oond. Twee perde is reeds opgesaal en wag om veld toe te gaan en daar onder op die lusernlande begin die trekker dreun vir die eerste oes van die somer.
Oom Fasie het net sy tweede beker stomende koffie geskink toe Wynand die kombuis binnestap.
“Môre, oom.”
“Môre, seun. Koffie?”
“Dankie.”
Dit klink nie te bemoedigend nie, maar oom Fasie hou hom ongeërg. Hy kon met die eerste oogopslag sien Wynand het nie vanoggend met die beste voet uit die bed geklim nie. Tog … as ’n ding gesê moet word, moet dit gesê word.
“Jy sal moet besluit voor jy veld toe gaan, Wynand. Die kind moet ook haar dinge reël.”
’n Frons keep diep tussen die wenkbroue in. “Ek bly by my besluit.”
“O. Nou ja, dan sal ek haar maar gaan sê. Nie dat sy iets anders verwag het nie. Sy het gisteraand gesê sy weet jy is te bang om haar te laat bly.”
Die koppie kom hard op die piering neer. “Oom, moenie so vroeg in die oggend met my sukkel nie.”
Oom Fasie lag goedig. “Nee, Wynand, ek sê maar net wat sy gesê het. Jy weet hoe is vroumense. Kan kastig alles doen wat ons kan doen en is danig onafhanklik en so aan, maar op die ou end moet hulle maar erken ons is hul meerdere. Die klein snip! Sy sê sowaar vir my sy sal jou die loef afsteek met boerdery. Jy is te bang om met haar te kompeteer! Ek het maar net gelag en my kop geskud. Dis een ding om ’n ding te sê, maar sy sal darem lelik op haar neus kyk as sy met jóú moet kragte meet. Maar soos ek sê, ek het haar liewer nie geantwoord nie.”
“Bang!” ’n Stoel skraap op die plankvloer. “Bang vir so ’n klein … Waar is sy?”
Oom Fasie lag alte lekker. “Waar dink jy? Nog in droomland, ons flukse klein boertjie. Ook maar goed sy sal haar stellings nie hoef te bewys nie.”
“Dis wat sý dink!”
Dit was kort voor hanekraai dat Nicolette eers regtig ingesluimer het en sy word ru uit hierdie slaap gewek. Die gordyne word voor die venster weggeruk net toe die eerste skerp strale van die son oor die rantjies loer. Toe staan die baas van Rietkuil stewig op sy voete langs die bed geplant, hande in die sye. “Het jy gekom om te boer of om jou te lê en uitslaap?”
Sy knip haar oë en sit regop. “Ek … ekskuus?”
“Ek ry oor vyf minute veld toe. Dan moet jy op die werf wees om jou bevele te kry … en om jou ontwil hoop ek jy kan darem perdry.”
Nog al knipogend sien sy hoe hy hom omswaai en weer verdwyn. Sy probeer haar verstand na nugterheid terugruk. Oor vyf minute … oor vyf minute moet sy haar bevele kry …
Asof ’n bom skielik onder haar ontplof het, skiet sy uit die bed. Nagklere word afgepluk en dieselfde klere van gister word nader geruk. Daar is nie nou tyd vir skoon klere in die tas soek nie. Oor vyf minute moet sy haar bevele kry. Drie hale met die borsel en sy het klaar hare gekam, glip die rekkie oor. Sonder om in die spieël te kyk, is sy gereed.
Sy is reeds op pad kombuis toe, toe iets