Bella se skaduwee. Amelia Strydom
Bella se skaduwee
Amelia Strydom
Hartklop
Everyone carries a shadow, and the less it is embodied in the individual’s conscious life, the blacker and denser it is. If an inferiority is conscious, one always has a chance to correct it … But if it is repressed and isolated from consciousness, it never gets corrected.
Carl Jung. 1938. “Psychology and Religion: West and East”
(in Collected Works Vol. 11) New Haven: Yale University Press
1
Hoekom, hoekom, hoekom, wonder Bella, het sy nie vanoggend haar foon op silent gesit nie? Of dit geïgnoreer toe die hospitaalbestuurder se naam daarop verskyn het nie? Sy’t mos geweet waaroor Chrissie op haar spoor is. Hierdie “mentorskap” is ’n simpel idee en sy’t nie die tyd of die lus daarvoor nie.
“Ai, Chris, móét dit vandag gebeur?” Sy knyp die selfoon teen haar skouer vas en steier onder die gewig van haar plastiektrommel. By haar motor laat sak sy die pakkaas grond toe. Chrissie babbel nog eenstryk deur, maar Bella luister net met ’n halwe oor. “Suurstofsilinder, suigapparaat, swart trommel, babaskaal,” resiteer sy onderlangs. Sy voel soos ’n neurotiese hen wat kort-kort haar kuikens tel, maar sy’t ’n heilige vrees om by ’n tuisbevalling betrap te word sonder haar lewensbelangrike tegnologie.
“Ekskuus?” vra Chrissie.
“Sorrie, daai laaste deel was nie vir jou bedoel nie. Ek’s op pad na ’n tuisgeboorte, Chris. Ek kan nie nou deur spitsverkeer piekel om jou VIP op te laai nie. Ek weet ons het ooreengekom dat hy my vandag begin stalk, maar jy verstaan tog hoe onvoorspelbaar my dae is.”
“Dokter Cameron is ’n hoogs gerespekteerde ginekoloog al die pad van Stellenbosch af, nie ‘my VIP’ nie. En hy kom jou g’n ‘stalk’ nie. Die term is ‘skadu’ en die doel heilig die middele, soos ek al ’n duisend keer verduidelik het.”
Bella antwoord nie. Sy’s te besig om die koelsakkie met medikasie te inspekteer. Sy skreef haar oë om die vervaldatums op die ampules na te gaan. Verdekselse mikroskopiese syfers! Sy kan sweer die goed krimp. Of is dit haar oë wat verswak? Sy wás eeue laas vir ’n oogtoets.
En sy is nie meer agtien nie. Die groot Three Oh lê kwylbek vir haar en loer, soos Pa haar Sondag ewe bedagsaam herinner het. Ergerlik rits sy die koelsak toe. Die gedagte aan daardie telefoongesprek, aan haar pa se belaglike voorstel vir ’n verjaarsdaggeskenk, krap haar van voor af om. Dis háár lyf, sy sal self besluit hoe sy daarvan hou. Sy’s nie meer ’n magtelose kind wat desperaat is vir Pappie se aanvaarding nie.
“Bella, hóór jy my? Ek vra: Is jou pasiënt in aktiewe kraam?”
“Klink so,” jok Bella en klap die kattebak toe. Eintlik vermoed sy Jacomien is nog ver van geboorte gee. Die arme ding het sedert Vrydag soveel vals alarms gehad dat Bella nie eens meer opgewonde raak nie. “Dis haar derde baba,” voeg sy by, al pla haar gewete oor die noodleuentjie.
Chrissie was darem self eens ’n vroedvrou en weet uit ervaring dat multips – vroue wat voorheen gekraam het –
vinniger vorder as eerste-keer-ma’s. En sy’s vertroud met die universele motto van kraamsusters: Eerste babas neem hul tyd, tweede babas is haastig en derde babas is onvoorspelbaar.
“Waar woon jou pasiënt?” vra Chrissie en Bella blaas ’n lang, moedelose asem uit.
“Eastwood.”
“Ai, Bella! Jy ry voor die hospitaal verby. Dit gaan jou nie vyf minute ekstra neem om dokter Cameron op te laai nie.”
“Daar’s nie plek in my kar vir ’n gynie met sy ekstragroot ego nie.”
“Kry end met jou nonsens. Ons ontmoet jou by die hoofingang.”
“Maar … ” Die foon kaats haar eie stem hol terug. “Hallo? Chrissie?” Sy het so wragtag die foon doodgedruk.
Met ’n gedempte kragwoord skuif Bella agter die stuur van haar Smart in. Moes die flippen gynie nou juis vandag van alle dae kies om in Pretoria te arriveer? Dis erg genoeg dat sy hom vir die volgende maand moet entertain. Erg genoeg dat sy haar werk moet doen terwyl hy oor haar skouer loer. Nou land hy wraggies hier aan op die dag dat Jacomien in kraam gaan! Jacomien, van al haar dosyne pasiënte. Nie dat die vrou juis moeilik kraam nie. Haar babas is net so enorm. Albei dogtertjies het die skaal tot oor die vier kilo’s laat kreun. En nou wil Jacomien weer ’n tuisbevalling hê, dié keer met ’n seuntjie wat waarskynlik nóg groter gaan wees. Wat sal Dokter Boland daaroor te sê hê?
’n Taxi sny voor haar in en Bella lê op die toeter. Verbrande onverantwoordelike bestuurders! Verbrande Chrissie wat haar met ’n gynie opsaal! Verbrande, verbránde gynie wat kastig gementor moet word! As hy en sy kollegas nie so scalpel-happy was nie, was haar lewe nie nou op sy kop gekeer nie.
Oukei, die doel agter die mentorskap is ’n edele een. Suid-Afrika se keisersneesyfer ís skokkend, die hoogste ter wêreld. Onnodige chirurgie lei tot onnodige komplikasies vir ma’s en babas. Maar sal die program waarvoor sy nou proefkonyn moet speel regtig die probleem oplos? Sal dit help om gesoute ginekoloë soos skootbrakkies agter vroedvroue te laat aandraf? Nee wat, hulle gaan g’n skielik hul skalpels wegbêre en voor geboortebaddens neerkniel nie. Daarvoor is snitte net té gerieflik. Om van té lonend nie eens te praat nie.
Bella sien Chrissie dadelik raak toe sy voor die hospitaal stilhou. In haar kersierooi kragpakkie wat soos cling wrap aan haar kurwes kleef, kan die hospitaalbestuurder model speel vir Executive Barbie.
Dis egter nie Chrissie wat Bella na asem laat snak nie, maar die blonde reus langs haar. Sy fluit sag deur haar tande. Dit kan tog nie Dokter Boland wees nie? Hierdie man strook glad nie met die prentjie in haar kop nie. Hy lyk nie eens soos ’n gynie nie. Eerder soos ’n Amerikaanse voetbalspeler of ’n onderkleremodel.
Haar oë gly van sy stormramskouers tot by sy boomstompbobene, knussies gegiet in ’n paar donker jeans. Dan glip haar blik outomaties terug na die indrukwekkende paar biseps wat by die moue van sy swart T-hemp uitrys. Whoopee, haar skaduwee is ’n vleispaleis. Aantreklik genoeg om al haar pasiënte te intimideer met sy flagrante testosteroon-oorproduksie. Ai tog! Sy’t só gehoop hy is ’n gawe, vaal omie met ’n bles en ’n bril. Sy kan mos nooit van haar pasiënte verwag om voor só ’n prime specimen van manlikheid te kraam nie!
Sleepvoet stap sy nader. “Bella, hier’s jy!” roep Chrissie. Nog voor sy die heen-en-weer voorstellery kan doen, steek die besoeker sy hand na Bella uit. “Markus Cameron, bly te kenne.”
Iets fladder in haar borskas. Vaderland, die man praat dan Afrikaans! Met só ’n van het sy ’n Engelse dokter verwag. En wátter Afrikaans praat hy nie! Sy Bolandse aksent glip soos ’n skelm sonstraal agter haar ribbes in. Hý, besluit Bella, het nog nooit ’n pick-up line nodig gehad nie. Hoef natuurlik net sy naam te sê, met die twee bry-r’e, dan swymel al wat vrou is. Shame, sy kry die res van haar geslag jammer. As Markus Cameron háár versteende hart so ’n lawwe huppel laat gee, is daar geen hoop vir hulle nie!
Sy reusehand omvou hare, die sonbruin vel warm en droog. Sy handdruk is ferm genoeg om nie net alle gevoel uit haar vingers te pers nie, maar ook elke druppel lug uit haar longe. Haastig laat sak sy haar blik na sy voorarm. Elke spier is perfek gedefinieer, elke tendon snaarstyf gespan. Hy wóón natuurlik in die gym.
Om sy pols span ’n breë rooi rekkie. Wat op aarde, wonder Bella. Is dit een van daai magnetiese goed wat kastig balans verbeter? Dalk is dit ’n embleem van die een of ander vreemde godsdiens. Ag, sy hoop tog nie so nie! ’n Doodgewone gynie is al erg genoeg; vir ’n fruitcake sien sy glad nie kans nie.
Chrissie, wat Bella se swye skynbaar vir stilstuipe aansien, spring in om die situasie te red. “Markus, dis nou suster Bella du Toit. Bella, dokter Cameron van Hospimed Boland.” Haar stem is asemrig. “Ek hoop julle tweetjies gaan lekker saamwerk.”
Bella se skouers verstyf. Julle tweetjies? Chrissie laat hulle soos twee lovebirds in ’n kou klink. En watter deel van “ek soek g’n dêm skaduwee nie” het haar baas vergeet? Weier kon Bella nie, maar dit beteken sowaar nie sy’s van plan om die gedwonge vennootskap te geniet nie. Sy maak