Bella se skaduwee. Amelia Strydom
deur twee skeel gate wat hy in die sak geskeur het. En ja, sy knieë sit omtrent by sy ore.
“Ek neem aan die vermomming beteken jy wil nie dood gesien word in my karretjie nie?”
Hy brom instemmend uit die sak.
“Jy, dokter, is ondankbaar.” Bella stamp die rathefboom ekstra hard teen sy knie vas. “My Smart is dalk klein en groen, maar hy kry my waar ek moet wees. Wees bly ek ry nie ’n scooter nie!”
“Oukei, fine.” Hy pluk die lawwe papiersak van sy kop af. Elke blonde haar lê nog netjies op sy plek, asof dit pas gestileer is. “Ek sal my seëninge tel. Ek kon nou agterop jou Vespa gesit het.”
Haar vrugbare verbeelding tower dadelik die prentjie op. Markus se lyf ’n skans agter hare, sy beeldhouwerk van ’n borskas teen haar rug. Hy sal sy arms heeltemal om haar bolyf slaan, weet sy sommer. Hy’s nie ’n beweblommetjie wat hoflikheidshalwe net liggies sal vashou nie.
“Volgende keer kan ons met jou petrolvraat van ’n sportmotor ry,” belowe sy, voor hy kan raai waar haar gedagtes rondgerits het.
“Ek, um, het nie ’n sportmotor nie.”
“Wát?” Sy skud haar kop. “I must be slipping.”
Hy trek sy gesig op ’n gepynigde plooi. “Oukei, fine, ek het een. By die huis.”
“Liewers die langpad met jou petrolvraat van ’n viertrek aangepak?” Sy proes toe hy haar ’n antwoord skuldig bly. “Hm, laat ek sien … Dis ’n rooie, nè? Jou sportmotor?” Hy skuif ongemaklik rond. “Porsche? Ferrari? Of nee, wag, dis bietjie flashy vir jou. Bietjie jonk.”
“Gmf.”
Sy verkneukel haar in sy verontwaardigde blik. “Ag, kom nou, dokter, ek sê nie jy’s oud nie, man. Net, um, volwasse.” Sy klop hom op die skouer. “Gesofistikeerd. Jy lyk na ’n man wat ’n Duitse sportmotor sal bestuur. Watter een van die twee ou staatmakers? BMW of Mercedes?”
“Vertel my liewer van jou pasiënt.”
“Wil jy wraggies eerder shop praat as om oor jou wiele te spog?”
Hy draai skuins in sy sitplek. Om jou beter te begluur, my kind, dink Bella toe sy die frons tussen sy wenkbroue sien.
“Kom ek vra jou weer: Het ek iets gedoen om jou om te krap? Buiten nou die feit dat jy met my opgeskeep sit?”
“Dink jy nie dis rede genoeg nie?”
“Ek kan kwalik glo dis ál wat jou pla.”
Wel, daar ís natuurlik die kwessie van jou bestaan, dink Bella. Joune en die res van jou soort s’n. Über-aantreklike blikskottels wat geen snars vir ander omgee nie. Wat ’n spoor stukkende vroue agterlaat oral waar julle gaan.
“Toe,” por hy, “my ore is gespits.”
Bella loer na hom. Nee wat, nes sy gedink het. Sy ore is perfek. As hy letterlik kabouter-ore gehad het, soos die paar waarmee sý gebore is, het sy dalk meer van hom gehou. Ingedagte speel haar vingers oor haar eie oorskulp, wat deesdae netjies plat lê. Haar pa die plastiese chirurg het haar bakore laat regdokter toe haar mangels uitgehaal is. Laat “fieks”, soos hy dit gestel het.
“Sy móét tog nou narkose kry,” het hy gesê. “Ons kan netsowel haar ore laat fieks. Hermanus du Toit se dogter hoef g’n soos ’n elf deur die lewe te gaan nie. Dis ’n ou klein operasietjie, niks pynlik nie. Bella sal nog eendag vir ons dankie sê.”
Oor een ding was Pa reg: Die snytjies agter haar ore was nie danig seer nie. In vergelyking met haar keel, het sy hulle skaars gevoel. Maar die verband om haar kop was só styf dat dit haar duiselig gemaak het. Die aand ná die operasie het sy in die badkamer omgekap. Die saalsusters was hoogs ontstoke.
“Jy moet jou klokkie lui!” het een geraas. “Jou pa slag ons lewendig af as jy iets oorkom.”
Terug onder die stywe wit lakens kon Bella die trane nie keer nie. Verlange na Mamma het haar rou keel nog dikker laat voel. Die kleintjie langsaan het net grommets gekry, maar sy ma het heelnag by hom gebly. Natuurlik was hy drie, en sy darem al tien. Lankal te groot om oor haar ma te tjank …
’n Fietsryer ruk Bella uit haar mymering. Hy swaai so skerp voor hulle in dat hy byna op die enjinkap beland. Sy hamer op die skril toetertjie en laat die enjin teen Meintjieskop uitbrul.
“Bleddie onverskillige fietsryers!” raas sy. “En dan spog elke tweede kar in Pretoria met ’n ‘Think bike’ bumper stick-
er. Dis hulle wat ‘kar’ moet dink, man. Geen wonder hulle word raakgery nie!”
Markus antwoord nie en Bella loer in sy rigting. Hy sit toe-oë, sy kneukels spierwit op die paneelbord.
Sy moet kastig in haar blindekol kyk om haar grinnik te verbloem. Hierdie mentorskap moet ’n control freak soos Cameron se ergste nagmerrie wees.
“Hei,” stel sy hom gerus. “Dis oukei. Ek sal jou in een stuk daar kry. Ek’s ’n uitstekende bestuurder.”
“Ek’s seker jy is,” mompel hy met sy hand voor sy oë. “Jy én Rain Man.”
“Wie?”
“Toemaar, dit was voor jou tyd.”
Voor die Uniegebou rem Bella net betyds om nie dwarsdeur ’n groep staatsamptenare te ploeg nie. Die Smart se skreeuende remme dwing die groep tot stilstand. Hulle gaap Bella oopmond aan, drentel dan omkyk-omkyk verder.
“Flippen spul suits! Nie ’n haastige been in hul lywe nie. Die soustrein ry mos stadig.”
“Jy het professionele hulp nodig,” sê Markus. “Mense soos jy is ’n hartaanval wat wag om te gebeur.”
“Wat bedoel jy, mense soos ek? Ek’s fiks en gesond, thank you very much!”
“Fiks en gesond met ’n trippel-A-persoonlikheid, ja.”
“Nonsens! Daar’s niks fout met my gesondheid óf my persoonlikheid nie. As jy te chicken is om saam met my te ry, weet ek nie hoe ons gaan saamwerk nie.”
Hy mompel iets van “volgende keer” en Bella loer gou of hy nie weer die sak oor sy kop het nie. Maar dié is in sy vuis vasgeklem asof hy vrees dat hy dit binnekort gaan nodig kry. Sy hoop hy onthou van die gate wat hy daarin geskeur het. Laat sy liewers sy aandag aflei.
“Oukei, my pasiënt: Jacomien Grobler, ses-en-dertig jaar oud. Nege-en-dertig weke swanger, derde baba. Sy’t twee dogtertjies van drie en ses. Vorige bevallings was normaal, ook tuis, en hierdie swangerskap was ongekompliseerd.”
“Wanneer het die kontraksies begin?” Hy loer skrams op, versigtig om nie na die pad te kyk nie. Verbeel sy haar of lyk hy groenerig om die kiewe?
“Man, ek’s nie doodseker dat sy wel in kraam is nie. Sy’t ’n prikkelbare uterus. Drie vals alarms gehad oor die naweek. Vanoggend sê sy dit voel of dinge eindelik gebeur.”
“Tipiese derde kraam, nè?”
“Tipies. Natuurlik is sy teen hierdie tyd behoorlik moedeloos. Sy’t my gisteraand omtrent gesmeek vir ’n induksie.”
“En?”
“En sy kan dit op haar boepie skryf en met haar maternity top afvee! Ek gaan haar g’n induseer net omdat sy gatvol is om swanger te wees nie.”
“Watter kwaad kan dit doen om op nege-en-dertig weke met gel te induseer? Sekerlik moet ’n mens die pasiënt se gemoedstoestand ook in ag neem? As sy werklik nie meer kans sien om te wag nie –”
“Moes sy in die eerste plek nie ’n vroedvrou gekies het nie. Buitendien, induksie is vrek seer.”
Sy gee vet oor die oranje verkeerslig. Markus se regterknie pomp op en af soos hy ’n denkbeeldige rem trap.
“So jy’s gekant teen pynmedikasie? ’n Vooruitbetaalde lid van die natuurlikegeboorte-Nazi’s?”
Ag