Bella se skaduwee. Amelia Strydom
nadat sy vroeg reeds moes uitvind hoe onbetroubaar die ganse spesie is. Niks gaan haar daardie kosbare lesse laat vergeet nie. Selfs nie al hop haar libido sedert Boland se verskyning soos ’n sirkushond op haar agterbene rond nie.
Miskien moet sy haar hand uit syne loskry. Dit behoort te help vir die lamheid wat soos tequila deur haar are trek. Maar tot haar verbasing is selfs hierdie eenvoudige aksie onmoontlik. Dis asof daar ’n kortsluiting tussen haar brein en regterhand is. Sy frons af na die ongehoorsame ledemaat, net om haar opnuut te verwonder aan die yslike beerklou waarin dit lê. Wat het hom besiel om ’n gynie te word? Sy stomme pasiënte kry seker paniekaanvalle wanneer daardie paar pote vir hul onderdele mik. Onwillekeurig knyp sy haar eie knieë toe en besef te laat hoe eienaardig dit haar laat lyk. Nes ’n pas gepotty-trainde peuter met ’n enorme nood …
Sy kug selfbewus. Haar gesig gloei so warm dat sy vir ’n hele manskoshuis eiers sou kon bak daarop. Natuurlik kyk Cameron se wakker oë nie haar verleentheid mis nie. ’n Glimlag pluk-pluk aan sy mondhoeke. “Als oukei?”
Sy trek haar hand uit syne soos mens ’n pleister van ’n harige liggaamsdeel sou afruk: blitsvinnig en sonder genade. Dan ontknoop sy haastig haar bene.
“Piekfyn, dokter.”
Sy’t lus om haar eie gat te skop. Hoekom moes sy nou aan sulke nonsens staan en dink? Netnou dink dokter Hotshot sy bloos oor hy haar kniekoppe lam maak. Netnou is gedagtes lees een van sy verborge talente. Hy kyk haar reeds omtrent middeldeur.
“Ag, noem my sommer Cam,” nooi hy. “Al my pelle doen.”
“Cam, nè?” Meteens makeer haar tong niks. Haar brein ook nie, want die snedige comeback glip vanself uit: “Dan wil jy my seker Bells noem? Soos die whisky?”
“Is dit jou noemnaam?”
Ag, sy hoop tog nie hy’t sy sin vir humor in die Eikestad agtergelaat nie. “Nee, dit is nie. Maar ons is ook nie pélle nie, sien. Daarom gaan ek jou ‘dokter Cameron’ noem en jy vir my ‘suster Du Toit’.”
“Bellaaa …” Chrissie se vingers sluit om Bella se boarm en haar Tupperware-naels sny geniepsig in die sagte vleis in. Bella wriemel haar onder die knelgreep uit. Vanaand sit daar ’n bloukol en sy’t nie eens arnica-salf in die huis nie. Die dae toe sy ’n buisie in haar handsak rondgedra het, is lankal verby.
“Dames, ek sou heeldag hier kon staan en gesels,” verbreek Markus die stilte, “maar het ons nie ’n pasiënt in kraam nie?”
Skuldig onthou Bella van die noodleuentjie wat sy vroeër vir Chrissie vertel het. Sy klap haar vingers. “Natuurlik.”
“Jou voertuig of myne?” vra Markus.
“Het jy suurstof en ’n suigapparaat in jou kar?”
“Ja.”
“ ’n Babaskaal?”
“Um, nee.”
“Myne dan, as jy aandring om saam te kom.” Bella vlieg om. Sy waai oor haar skouer vir Chrissie, wat vir haar kwaai oë maak, en drafstap kar toe. Ongelukkig hou haar skaduwee gemaklik by met sy ellelange bene.
“Natuurlik kom ek saam, Be – suster Du Toit. Dis mos ons ooreenkoms?”
“Dis die ooreenkoms tussen my hospitaalbestuurder en joune, dokter Cameron. Een waaroor ek, soos jy seker kan aflei, nie juis ’n happy dance doen nie.” Veral nie aangesien jy presies die tipe mansmens is wat ek gewoonlik soos masels vermy nie.
Hy steek langs haar Smart vas en sy oë rek. “Is hiérdie jou voertuig?”
Sy gooi haar motorsleutel in die lug op, vang dit behendig en druk die oop-knoppie met groot vertoon. “Jip, sowaar. Kyk, daar’s my toerusting ook!”
Hy klik sy tong. “Lyk my jy’s nie ’n oggendmens nie.”
Bella verwerdig haar nie om te antwoord nie. Sy staan en gluur hom hande-op-die-heupe aan. Hy stap om die tweedeurmotortjie en skop aan een agterband met ’n tekkie wat sweerlik meer kos as ’n maandpaaiement op die einste Smart.
“Dis darem bitter dun bande dié.”
“Ek’s jammer dat hulle nie jou goedkeuring wegdra nie.” Hoekom vind mans dit alewig nodig om mens se bande te beskop?
“Dis amper tyd vir nuwes. Jy moet maar solank begin rondkyk vir ’n goeie deal.”
“Ek het oë in my kop, dankie. Ek kan self sien wanneer my bande afgeloop is.” Haar kopvel kriewel van kwaadgeit.
Sy grys oë koel ’n paar grade af. “Jammer, mag van die gewoonte. Ek het ’n sussie wat tien jaar jonger is, so ek’s gewoond om na sulke goed op te let.”
“Wel, jy’s nie mý ouboet nie. Ek’s ’n enigste kind, ek het vroeg al geleer om vir myself te sorg.” Liar, liar, pants on fire, tjirp haar gewete. Dis die tweede leuen in een oggend.
“Ek sien. Mag ek vra waarom jy ’n gifgroen kar gekoop het?”
“Lémmetjiegroen.”
“Gifgroen, lemmetjiegroen, whatever,” bry hy. “Kom die goetertjies nie in kleure wat sagter op die oogballe val nie?” Dan sien hy haar verpersoonlikte nommerplaat. “MIDWIFE-GP. Oulik! Ek het ook een.”
“Issit?” vra sy, kamma-belangstellend. “En wat sê joune? POEPHOL-WP?”
Sy hoekige kakebeen val oop. “Sies, suster Du Toit. Praat jy so lelik voor jou pasiënte ook?”
“Nee, my kru taal bêre ek spesiaal vir dorings in die vlees soos jy.”
Hy trek skewebek en vroetel met die rekkie om sy pols. “Hoekom het jy so ’n popkarretjie, hm? Is jy ’n groenie?” Sy grynslag verbreed toe hy weer na die Smart kyk. “No pun intended. Of kan vroedvroue net halwe karre bekostig?”
Die bloed bruis in haar kop soos ’n glas vol Eno’s. “Ek’s nie ’n gynie wat sewentig of tagtig bevallings in ’n maand indruk nie, maar ek’s ook nie ’n kerkmuis nie. Die Smart is duurder as wat jy dink.” Sy wenkbroue lig. Bella sug en trek haar vingers deur haar kuif. “Natúúrlik bestuur ek ’n Smart omdat ek omgewingsbewus is. Dis gerieflik vir die stad, ook.”
“Gerieflik vir wie? Vir jou dalk, maar hoe moet ek my bene opvou om in te pas?”
“Ek sal verstaan as jy liewer nie wil saamkom nie. Of as jy wil stap. My pasiënt se huis is nie ver nie, ek kan vir jou ’n kaart teken.”
Die meerderwaardige glimlag kleef steeds aan sy bakkies, maar die onweer is stadig maar seker besig om in sy oë op te steek. Die wete dat sy hom omkrap, verskaf Bella intense bevrediging.
“Kyk, suster, ek sal eerlik wees met jou. Ek het net so min lus vir hierdie mentorskap as jy. Ek vind die idee dat ek by ’n pops soos jy oor verloskunde moet leer belaglik, om die minste te sê.”
“As jy dink jy kan my kom patronise net oor ek kort en blond is –”
Hy praat voort asof hy haar nie hoor nie. “Niks sou my gelukkiger maak as om in my kar te klim en terug te ry Kaap toe nie. Jy kan jou indink hoeveel pasiënte en geld hierdie kastige mentorskap my kos.”
“Hoe tipies gynie! Die bottom line is altyd geld.”
Haar woorde vee die grinnik vinniger van sy gesig af as wat jy “mes” kan sê. Sy lippe word ’n dun spleet. Hy wurm sy wysvinger onder die geheimsinnige rekkie in. Nog ’n paar sulke weldeurdagte beledigings en hy snap dalk nes daai rekkie en vat die N1 terug Tafelberg toe.
“Verskoon my, Florence Nightingale, maar vra jy geld vir jou dienste?” Sy staalgrys oë broei soos die Hoëveldlug voor ’n donderstorm.
“Natuurlik. My fooi het net minder nulle agteraan as joune.”
“Is dit my skuld dat jy nie medies gaan swot het nie?”
Ysvingers vou om haar hart. Sy ruk haar kop op om sy oë te ontmoet, om te probeer bepaal hoeveel