Stukkies van die hemel op aarde. Dirkie Smit
die eenvoud van ’n haselneut,
in die wonder van alle lewe,
in die belofte van elke nuwe oggendskemer,
in die rustigheid van elke aand wat daal?
Hoe sou ons u krag kon sien in die weerlig en die donder,
u grootsheid in die oseane wat eindeloos voor ons uitstrek
en die berge wat hoog bo ons uittroon?
Hoe sou ons tog u voorsienige sorg kon ontdek
in die blomme van die veld en in die voëls van die hemel?
Hoe sou ons u trou bely kon hoor
in die dankbare brul van die leeus
en die sagte drup van die eerste reëns?
Hoe sou ons u heiligheid kon ervaar
in die roetine en verveling van elke dag,
u geregtigheid te midde van die onreg en die leed van die lewe?
Hoe sou ons u troos kon aanvoel
as die sorge ons keel en die vrees ons hart beklem?
Hoe sou ons die geheimenis van u liefde kon ervaar
in die grootsheid van die mens,
in die onbeskryflike wonder wat onsself is?
Here onse God,
hoe sou ons tog u eie aanwesigheid by ons
kon gewaarword in die doodgewone van elke dag,
die stukkies van u hemel
in die gebrokenheid van ons aardse verblyf –
as U nie Uself aan ons openbaar nie?
As U nie self onder ons kom woning maak nie?
As U nie in stilte in ons harte fluister nie?
Amen.
Februarie
Nagedink oor gebed,
oor drome
– en oor rus in God.
______________________
Ons kan die besorgdheid nie verhelp nie.
Ons kan die vrees en die kwelling nie van ons weer nie.
Dit gaan oor ons kom, so seker soos wat ons gaan kwaad word.
Die Here weet dit, daarom gaan die Ou én Nuwe Testamente
daarvan uit. Dis daar, van nature, dit vreet aan ons gedagtes,
veral in die skemer van die aand en deur die eensame ure van die nag.
Vir seker gaan ons ontsteld raak.
Vir seker gaan ons sidder.
Maar dan kan ons met onsself praat,
in die stilte van ons eie hart,
ook in die donker van die donkerste nag, as die vrees ons keel toedruk
– vrees oor ons kinders, ons dierbares, oor onsself,
oor die dag van môre –
en ons kan vir onsself opnuut van God vertel.
En omdraai, en tot rus kom.
Want Hy sal nie slaap nie.
Vervulling?
Waarin vind die mens se gees vervulling? Waarna hunker die hart? Waarna streef ons? Oor eeue heen sou dié vraag denkers boei, maar dis ook die vraag wat ons almal elke dag met ons doen en late beantwoord. Ons lewe is ons antwoorde op die vraag na die lewe.
Die grote Plato se antwoord op die vraag waarin ons vervulling vind, was dat ons as mense onvermydelik streef na die Ware, die Skone en die Goeie. Dié antwoord sou geslagte lank mense bly inspireer, trouens, deur al die eeue daarna, tot vandag toe. Daarvolgens vind ons vervulling as ons kennis kan versamel, dit wat mooi is, kan geniet en kan uitleef wat reg is.
Maar ook ander sou oor dié vraag saamdink, soos die beroemde joernalis-historikus Daniel J. Boorstin, Pulitzer-pryswenner, Direkteur van die Smithsonian se Nasionale Museum van Amerikaanse Geskiedenis en jare lange Bibliotekaris van die Amerikaanse Kongres. Sy gevierde boek [8]The Discoverers vertel die ontroerende verhaal van die mens-as-ontdekker, van talle helde van kennis en ontdekking, wat – soms onder verguising, selfs lewensgevaar – die weerstande van onkunde, of soos hy verkies om te sê: die illusies van kennis, moes oorwin, om ons insig in die geheimenisse van die waarheid al verder te verryk.
Maar dis nie die volle storie nie, en in ’n tweede boek, [9]The Creators ontvou hy daarom ook die betowerende verhaal van die mens-as-skepper. Skeppende mense is die helde van die verbeelding, sê Boorstin. Diesulkes het en sal met nuwe visies en drome ons wêreld verruim en ons versugtinge stil, hetsy as argitekte of bouers, skilders en beeldhouers, skrywers en digters, komponiste, fotograwe, filmmakers, kortom, kunstenaars van alle soorte.
Maar selfs só word die volle verlange van die mensehart na vervulling nog nie volkome bevredig nie. En in ’n derde boek, nóg ’n opvolgverhaal, naamlik [10]The Seekers, voltooi Boorstin die prent met sy vertellinge oor die mens-as-soeker, wat handel oor denkers en gelowiges – hulle wat na méér hunker as die antwoorde wat bloot die wetenskap en die kuns kan bied. Dit is uiteindelik, sê hy, die vrae wat ten diepste die mensehart vul – na waarom en waarheen, na verlede en toekoms.
Natuurlik stel nie elke enkeling al dié vrae met ewe veel patos nie. Party word só gedryf, ander weer anders. Maar wee ’n samelewing, skryf Boorstin, wat een van dié soeke nie ken nie, wat ’n verarmde opvoedingsisteem het sodat, sê maar, die Skone en die Goeie nie meer getroetel word nie.
Dis nogal veelseggend dat Boorstin se soeker-boek afsluit met Einstein, want hy is juis ’n wonderbare voorbeeld van die komplekse, ryke aard van menswees. Uiteraard verdien Einstein tog ook ’n hoofrol in die ontdekker-boek – dit weet ons immers almal. Maar hy kon ook ewe goed ’n ereplek gekry het in die skepper-boek. Sy vreugde aan musiek is immers welbekend, en sy liefde vir die viool befaamd. Maar – merkwaardig! – Boorstin sluit juis sy soeker-boek af met Einstein!
Biograwe vertel van die aand in 1929 in Berlyn, toe die Berlynse Filharmoniese orkes onder dirigent Bruno Walter die violis Yehudi Menuhin begelei het terwyl hy Beethoven, Bach en Brahms speel. Einstein was so oorweldig dat hy oor die verhoog na die kleedkamer gehardloop het met die uitroep: Nou weet ek dat daar ’n God in die hemel is!
Alles is relatief, soos dié “ou man” ons self juis geleer het, en hang af van ons perspektief, van ons oogpunt, van die vraag waarmee ons kom. Maar vanuit ’n sékere gesigshoek, as antwoord op ’n sékere lewensvraag, was dit dalk een van sy belangriker ontdekkings?
Nuuskierigheid?
Is nuuskierigheid ’n deug of ’n ondeug? Iets om na te streef of te vermy? Behoort ouers nuuskierigheid by hulle kinders aan te moedig, of nie? Dwarsdeur die Christelike tradisie – en lank tevore, by Griekse filosowe en Romeinse leermeesters reeds – het dié vraag die menslike gees geboei.
Altyd was daar sommige wat oortuig was dat nuuskierigheid gevaarlik is. Sedert Sokrates het denkers al diepsinnig daarteen gewaarsku. Figure soos Eva – met die lus om te luister waar sy moes ligloop en te peusel waar sy moes padgee; en Ikarus – wat wou vlieg ver bo sy vermoë, dien as tipiese voorbeelde van dié hunkering wat uitloop op ellende. Ook in die volkswysheid van talle kulture sou dié siening neerslag vind. Nuuskierige agies word aangepraat. Curiosity killed the cat. Van nuuskierigheid is die tronk vol.
Maar altyd was daar ook ander menings. Trouens, sommige sê dat die ontwikkeling van die moderne Westerse lewe – te danke aan wetenskap en tegnologie – die direkte gevolg is van nuuskierigheid. Eers toe nuuskierigheid die oorhand gekry het, al meer as deug gesien is, toenemend as lewensideaal bevorder en nagestreef is, kon ons moderne wêreld groei, gebou