Stukkies van die hemel op aarde. Dirkie Smit

Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit


Скачать книгу
én nuuskierigheid. Doelbewus is daar ’n onderskeid gemaak tussen “ydele nuuskierigheid” aan die een kant en “weetgierigheid” aan die ander, curiositas teenoor studiositas. Die een verwoes die lewe, die ander dien dit – en om dié onderskeid te leer ken, is die doel van ware opvoeding en die blywende uitdaging vir ouerhuise en skole! In dwase selfvernietiging wil mense alles self beproef en glo hulle nie as ander hulle waarsku teen warm plate en teen dwelms nie. Maar uit ewe dwase selftevredenheid rus ander weer net in wat hulle reeds weet en reeds kan, en hunker hulle nie om te ontdek, te leer, te groei, ja, selfs te kan vlieg nie.

      Dus: Is nuuskierigheid deug of ondeug? Goed of kwaad? Hoekom wil jy weet? Hoekom vra jy?

      Leergierigheid?

      Omtrent ’n eeu voor Christus het die Romeinse staatsman Cicero al gesê: “Die doel van opvoeding is om leerlinge te bevry van die tirannie van die hede.”

      As ons niks leer nie, bly ons verslaaf, ons lewe lank. As ons maar net weet wat almal weet, maar net kan doen wat elkeen kan, maar net glo wat ander vertel, is ons blywend onderdane, diensknegte van die hede. Die kans dat dinge vir ons gaan verbeter, is dan maar skraal. Die kans dat ons geleenthede sal kan skep, of dié wat oor ons pad kom sal kan aangryp, trouens, selfs sal kan raaksien, is maar gering. Ons hede is ook ons toekoms – en dié hede is al klaar die vrug van ons verlede.

      Maar opvoeding kan ons bevry! Kennis is mag, het Francis Bacon dié insig al in die 16de eeu verwoord. Deur kennis te verwerf groei ons, ontdek ons nuwe lewensmoontlikhede, ontwikkel ons nuwe vaardighede, droom ons nuwe drome. Met kennis verander probleme in uitdagings om aan te durf, word ons horison verbreed, begin ons toekoms ook anders lyk.

      In die Christelike tradisie het dié oortuigings diep ingesink. Daarom doen die kerk al eeue lank soveel om kennis te dien – meermale, ook vandag nog, juis wanneer niemand anders die verantwoordelikheid aanvaar om dit te doen nie – om mense te leer lees, skole te stig, onderwys, universitêre opleiding, die wetenskap te bevorder. Dit hoort by die bevryding wat die evangelie bring. Die Christelike geloof en tradisie gló daaraan.

      Daarom is dit so tragies – ’n mens kan ook sterker woorde oorweeg! – wanneer kinders, jongmense, wie ook al, dié kanse nie waardeer nie. Wanneer hulle nie leer nie, nie opgevoed wíl wees nie, nie hunker na kennis nie, nie eens wil dink nie. Wanneer hulle nooit wonder, nooit eksperimenteer, nooit uitvind, nooit vra en soek nie. En dié tragedie speel hom op talle, talle wyses af, in ons tyd óók – byvoorbeeld wanneer kinders hulle dae sinloos verwyl met ydele vermaak op televisie- en rekenaarskerms.

      Die bekende Amerikaner Neil Postman is juis aan ’t nadink oor die bogenoemde woorde van Cicero wanneer hy oor die verwoestende invloed van die elektroniese media en die vermaaklikheidsindustrie op sy samelewing ’n boek skryf, onder die veelseggende titel, [11]Amusing ourselves to death.

      ’n Wonderbare geskenk

      Eeue lank al word die Bybelse Psalmbundel ook “die gebedeboek van die kerk” genoem. Dis omdat soveel gelowiges self leer hoe om te bid deur hierdie eeue oue gebede ná te bid en ná te sing. Hierdie ou Joodse gebede verwoord op ontroerende wyse die vele gemoedstemmings van brose mense – op hoogtes en in dieptes, soms vol lof en blye jubeling, soms vol klagte en krete van leed en lyding, soms vol vrae van verlange en verbittering. En só word die psalms ’n leerskool vir duisende der duisende wat ook met God probeer wandel op die vreemde weë van die lewe. Só word die psalms ’n wonderbare geskenk, van uitsonderlike geestelike waarde, tot vandag toe. Gebede om daagliks ná te bid.

      Dis geen wonder dat die dissipels vir Jesus sou vra om hulle te leer bid nie (Luk 11:1-4). Of dat Paulus sou sê die Gees help ons sug nie (Rom 8:26-27). Want bid is nie ’n eenvoudige saak nie. Dit kom vir baie mense bitter moeilik – die stilword, die tyd maak, die inkeer, die dink aan God, die sukkelende verwoording van ons gedagtes, vrese, versugtings, verwondering, vreugde, voorneme, dit alles kom nie vanself nie. Ons het hulp nodig. En dié kom soms ook in die vorm van wonderbare geskenke, die gebede van ander wat ons help om ook te kan bid, te kan agterna-bid, te kan sáám-bid.

      Dis daarom ook geen wonder dat die tradisie deur die eeue nog méér sulke gebede en liedere sou opteken nie, ánder gebede, benewens die aangrypende psalms van die Bybel. Sodat hulle, hierdie ander gebede, óók tot hulp kan word vir komende geslagte wat sukkel om te bid.

      Só ’n bundel het ook in Afrikaans verskyn, Die Groot Gebedeboek – Daaglikse gesprekke met God, met ou én nuwe gebede, vir elke dag, om in stilte ná en sáám te bid. Dis moeilik om aan ’n meer wonderbare geskenk te dink vir enigeen vandag, vir elke gesin, ouer, kind, lewensmaat, vriend, ja, vir jouself. Dis ’n wonderbare, wonderbare boek van onberekenbare geestelike waarde. Elkeen wat dit gebruik, getuig daarvan.

      Miskien is die enigste méér wonderbare geskenk die gawe van gebed self.

      Vernuwing

      Gebed bring verandering, gebed bring heling, bevryding en vernuwing. Dié tye van stilword, van inkeer, van verwonderd nadink oor die evangelie, van stamelend soek na woorde om te sê hoe ons voel en wat met ons gebeur – dié tye is oomblikke van ware vernuwing en genesing.

      Dit geld vir alle aspekte van bid. Dink maar aan voorbidding, en hoe dít ons verander! As ons ons eie node en behoeftes voor God bring, ja, soms klaend, smekend, vol angs, kom ons paniekbevange harte tot rus deur die vrede wat alle verstand en logika te bowe gaan – en hoeveel kan nie daarvan getuig nie?

      In sy boek [12]Die gebed wat die wêreld omspan, ’n verwerking van preke wat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog in Stuttgart gelewer het terwyl die bomme letterlik geval het, sê die bekende prediker Helmut Thielicke: “Wanneer die sirenes loei en ons ons kinders teen die bors vasdruk en afhardloop na die bomskuilings, fluister net ’n oomblik in julle hart: ‘Die Vader weet, die Vader weet.’ Dan sal julle gebede verander van die beangste geskreeu van paniekbevange mense na die stem van kinders wat met hulle goeie Vader praat.”

      En as ons in ons voorbidding die node en behoeftes van ánder, van die samelewing, van ons vriende, die nood van die wêreld, van ons televisie en ons koerante, ook van ons vyande – as ons dié node in gebed voor God bring, bring dit dan nie vir ons kalmte nie? Is dit dan nie – in Dietrich Bonhoeffer se bekende woorde – soos ’n bad wat ons afwas, wat ons perspektief en prioriteite wysig, sodat ons gebede oorgaan in toewyding, en ons as nuwe mense kan voortgaan nie?

      Of dink aan skuldbelydenis – daardie “oefening in naam gee”, soos Karl Barth dit sou beskryf. Leer ons nie daardeur om na onsself te kyk soos ander ons sien, om die leed te herken wat ons hulle aandoen deur ons liefdelose woorde, ons dade en ons versuim nie? Leer dit ons nie om dié leed dan ook te érken en onsself te noem, huiwerend, broos, met die name waarmee húlle ons noem nie? Kan mense wat só bely en dan woorde van vergifnis en vryspraak hoor ooit dieselfde, onveranderd, van hulle knieë opstaan?

      Of dink aan lof en danksegging. Hoe het ons in Halleluja 245 gesing? “Tel jou seëninge, tel hulle een vir een . . . As die kruis te swaar word en jou krag te klein – tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen, en jy sien God se goedheid laat jou nooit alleen nie.”

      Hoe kan sulke oomblikke van seëninge tel ons tog nie verander nie! Hoe bring dit nie dankbaarheid waar daar ontevredenheid en afguns was nie!

      Dink net vir ’n oomblik. Hoe anders, hoe nuut sou die wêreld tog nie lyk as ons almal soggens net eers ons seëninge sou tel nie?

      Godslastering?

      “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie” (Eks 20:7). Sondag na Sondag hoor baie van ons dié woorde, as spieël én as uitnodiging. Vir baie gelowiges dra dié woorde groot gewig. Dit gaan immers om God se lof, letterlik (in die oorspronklike tale en betekenis) om God se “gewig”, wat bely word in dié heilige Naam. Dié heiligheid moet geheilig word, dié gewig behoort gewig te dra in hoe ons praat en wat ons doen. Dié Naam vertel van God se eie aard. Vir sommige Jode dra dit soveel gewig dat dié Naam nooit geskryf of uitgespreek word nie, maar altyd vervang word deur leestekens of omskrywings. En ook vir Christene weeg dié Naam swaar. Die Ons Vader leer ons immers bid:


Скачать книгу