'n Man van min belang. Chris Karsten
Sy het ses en dertig jaar gewag om te hoor wat met haar vermiste pa in Argentinië gebeur het. Die refrein is dieselfde: Victoria sê die uitkenning van haar pa, al was dit hoe pynlik, laat skyn ’n bietjie meer lig op die waarheid van ’n donker verlede. Maar die belangrikste: ‘Ons gee aan mense soos my pa hulle waardigheid terug.’”
“Ja,” sê Luther, “ek het van haar gelees.”
Hy dink aan die verskriklike – en ironiese – ontdekking dat die pleegouers wat haar as baba aangeneem het, betrokke was by die dood van haar biologiese ouers in 1976. Haar pa was een van die baie Argentynse politieke gevangenes wat in sogenaamde doodsvlugte lewend uit militêre vliegtuie oor die Atlantiese Oseaan en die Plata-rivier tussen Argentinië en Uruguay gegooi is. Van dié lyke het later uitgespoel en is as onbekendes in Uruguay begrawe. In 2002 is begin om die beendere in hierdie grafte in Colonia in Uruguay te herwin. Met Victoria se DNS-monsters kon Equipo die oorskot van haar pa, Roque Orlando Montenegro, identifiseer. Hy het as twintigjarige verdwyn, toe sy ’n baba van ’n paar dae oud was. Nou probeer sy nog uitvind wat van haar ma geword het.
Mosman verskuif op sy stoel, vryf aan sy knie. “Wat betref daardie sewe herwinnings … Ja, dit was die moeite werd. Dit het my hart goed gedoen, al het dit tien jaar gevat. Maar ek is ook mismoedig en desperaat oor die oortreders. In my ondersoeke hoor ek name van verdagtes en ek kan niks aan hulle doen nie. Daar is genoeg omstandigheidsgetuienis, maar g’n bewyse nie. Niemand is bereid om in ’n hof te gaan getuig ná soveel jare nie. Die polisie en die vervolgingsgesag lag as ek sulke hoorsê by hulle aandra. Los dit, sê hulle, moenie ou bitterhede laat opvlam nie. Maar só eenvoudig is dit nie.”
Luther skat Mosman dieselfde ouderdom as hy, maar hierdie man is nog nie gereed vir ’n stoep met ’n see-uitsig nie. Sy lewenstaak is nog nie afgehandel nie; byna vyf honderd vermistes moet nog gesoek en uitgeken word.
“Nou pas het ons wéér ’n vermiste gekry,” sê Mosman. “Geraamte B1-12 is ses maande gelede naby Barberton gevind, deur ’n voetganger in ’n donga langs die R40 op pad na Bulembu. Daardie ou skelet, of dele daarvan, is ná vier maande uitgeken as dié van Bafana Mxenge. Hy het in Februarie 1990 verdwyn. Die MPTT het Bafana se suster in Emjindini opgespoor, en uiteindelik ook sy vrou en twee kinders in Kamagugu. Sy ouers, eens van Carolina, is reeds oorlede en kon nie hulle vermiste seun se oorskot help begrawe nie.”
Luther dink: Teen sewe opgrawings per dekade het Mosman werk vir nog 700 jaar.
“Bafana is met waardigheid begrawe en sy familie het afsluiting,” sê Mosman. “Wel, soort van, want nou kom ék in die prentjie: Wie is aanspreeklik vir die koeëlgat agter in Bafana se verweerde skedel? Die forensiese antropoloog se bevinding oor die ouderdom van die beendere klop met Bafana Mxenge se verdwyning in 1990, maar ek kry geen rekord dat enigiemand oor sy dood gebieg en daarvoor amnestie gevra het nie. Jy sien my dilemma, Lieter? Kan ek jou Lieter noem?” Hy glimlag onverwags. “Off the record?”
“Ja, maar die uitspraak is Loether. Wat is jóú voornaam, terwyl ons nou familiêr begin raak?”
“Net my vrou het my voornaam gebruik, toe ons nog getroud was. Noem my Mosman, soos sy dit nou ook doen.”
Hy staan weer op en hink terug venster toe. Soos iemand in eensame aanhouding wat na ’n blik op die buitewêreld smag, dink Luther. Of soos iemand met vlooie in sy gat.
Oor sy skouer sê Mosman: “In ’n polisieargief in Pretoria, in ’n vergete ou voorvalleboek, het ek Bafana Mxenge se naam gekry, en die datum van sy arrestasie in Kaapmuiden vir die besit van ’n AK47 en twee magasyne in sy bagasie. Die voorvalleboek wys ’n latere notulering dat Bafana en sy dossier van Kaapmuiden na die polisie in Barberton oorgeplaas is. Hier loop die spoor dood: geen polisiedossier nie, net ’n aantekening in ’n voorvalleboek dat Bafana Mxenge wel in Barberton opgeneem is. Ook geen hofdossier in die justisie-argiewe nie – Bafana het vermoedelik verdwyn voor die ondersoekbeampte die saak aan die aanklaers kon oorhandig. Toe begin ek soek, maande lank, na die twee speurders van Barberton wat Bafana destyds op Kaapmuiden gaan haal het. Die een is dood, die ander is ’n uitsmyter by ’n nagklub in Sandton. Die uitsmyter was kortaf, met ’n houding en ’n kort geheue. Ek spoor toe ’n eertydse konstabel van Barberton op, nou ’n veiligheidswag, en met ’n beter geheue. Hy onthou hoe hy een aand in daardie tyd om middernag opdrag gekry het om toebroodjies en koffie by ’n wegneemkafee te gaan koop. Hy onthou dit goed, ná al die tyd, want hy was moerig omdat hy, ’n polisieman, vir ’n aangehoudene moes gaan kos koop, ’n fokken terroris nogal, was sy presiese woorde. Wat kon hy doen? Die opdrag was van ’n fokken kolonel uit fokken Pretoria … weer eens verbatim, ek is nie geneig tot sterk taal nie. Die kolonel se naam ontgaan hom, ’n Tom-iets, dis al wat hy onthou. Sê sy oorlede broer was Tommy, dis hoekom hy die Tom onthou.”
Mosman skep asem. “Het jy nog tyd, Luther?”
“Ja, as daar nog tee is. En koekies.”
Hy het baie tyd, hy wil hoor waarheen hierdie storie lei. Want dis nog twee maande voor hy op die aftreestoep gaan sit, en hy moet sy laaste opdrag afhandel.
2
Mosman los sy kar by O.R. Tambo vir die vlug George toe, en ry met die huurkar deur die Outeniquapas na die Langkloof. Naby Haarlem kry hy ’n vulstasie om pad te vra, kom agter almal ken die blommeplaas.
Hy vra ook die sleutel vir die vulstasie se toilet. Dis ’n dêm verleentheid vir ’n direkteur van die NIA – selfs vir ’n obskure een – om in ’n vuil toilet sy broek af te trek en wydsbeen salf aan sy ners te smeer, vir verligting van die jeuk wat hom rasend maak. Die gevolg, sê die dokter, van slegte eetgewoontes van sy jare in die bos.
Toe hy die plaas bereik, vat die boer hom in sy bakkie na die plato waar die polisievoertuie teen die grensdraad geparkeer staan. Mosman hink na die skutmuur van die ou lapa en stel homself voor aan die luitenant van Uniondale in wie se jurisdiksie die opgrawing plaasvind, nominaal nog in beheer.
Ná die kort formaliteit tree Mosman weg, asof hy afstand wil plaas tussen hom en die res. Niemand praat met hom nie, niemand steur hulle aan hom nie, en hy praat met niemand nie. Hande agter sy rug gevou, hou hy die opgrawing dop, sy oë agter die sonbril veral stip op die skare van die ploeg in die rooi kluite waar met die opgrawing begin is. Dan draai hy na die seilafdak, skuif die sonbril op sy kaal kop en betrag die beendere wat reeds op die groen seil in die koelte van die afdak uitgepak en genommer lê.
Aan hom is al gevra of hy nie afgestomp raak nie. Op sulke vrae antwoord hy nie. Hy is van nature in homself gekeer; hy gaan kuier by niemand nie en nooi niemand na sy huis toe nie. Mense wat daarop aanspraak maak dat hulle hom ken, en die adres van sy woonplek, kan op die vingers van een hand getel word, en daar sal twee vingers oorbly. Enkeles weet van ’n gewese vrou iewers oorsee, en van ’n volwasse dogter, ook oorsee. Hy dink dikwels aan sy dogter, selde aan sy eks.
Hy weet dat daar openlik geskinder word dat hy by elke opgrawing en herwinning teenwoordig is in die afwagting en hoop dat van sy eie geliefdes gevind sal word. Hy reageer nie daarop nie, beken of ontken dit nie.
Teen die middaguur kyk hy hoe die ondersoekers hulle werk in die afgesperde kuil onderbreek om te gaan strek en iets te eet, en ook dit doen hulle byna gewyd. Enige opgrawing geskied met groot gewydheid, en een so groot soos hierdie duur dag en nag.
Teen laatmiddag sien hy hoe die man met die hyskraan nadergewink word om die ploeg te verwyder, sodat die ondersoekers ook op daardie plek kan grawe. Toe die kragopwekker op hierdie tweede aand begin dreun, hoor hy die uitroep uit ’n hoek van die kuil, die uitgrawing daar ook al dieper as ’n meter.
Op die rand van die kuil staan en kyk hy hoe die grond met kwaste van ’n ribbekas afgestof word. Dan van ’n tweede ribbekas, half onder die eerste een waar klein skeppies klam grond met die troffels en tuingrafies verwyder word.
Oor die uitgrawing en sy nuwe vonds daal ’n stilte neer. Mosman dink as hy nou sy hand uitsteek, sal hy die stilte kan aanraak.
Dit duur nog ’n uur van peuterig-presiese uitgrawe, skeppie vir skeppie, en afstof, voor die toneel van hierdie nuwe vonds duideliker vorm aanneem. In die groot stilte begin in Mosman se gedagtes gruwelike beelde definisie