'n Man van min belang. Chris Karsten
Loekman, al die geweld. Kyk ’n slag na ordentlike goed. ‘Frankly, my dear, I don’t give a damn.’ Dis mos nou kultuur.”
“Weet jy wat ek wonder, Booger?”
“Wat?”
“Hoekom het jy nie kinders nie?”
“Kinders? Te besig vir kinders.”
“Maar jy was nie te besig vir trou nie.”
“Ek was nie te besig vir drié troues nie. Maar elke keer, voor ek kan begin praat van kinders, vat hulle die pad. Het jou pa met jou oor sulke goed gepraat, Loekman? Praat jou ma met jou daaroor? Miss Potts? ’n Seun moet sulke goed weet, anders kom hy in die moeilikheid.”
“Oor trou?”
“Nee, man, oor kafoefel, kattemaai.”
“Kafoefel?”
“Jy’s twaalf …”
“Dertien. O, jy bedoel oor seks.”
“Seks, ja, dis waarvan ons praat. Kafoefel. Nookie. Whoopee. Knippie.”
“Ek’s nog te jonk vir ’n flippen knippie, Booger.”
“Te jonk! Maar jy kyk na Betty en jy’t ’n pin-up van ’n bimbo en jy dink jy sal graag aan hulle wil vat. Dis wat jy dink, nè? En een van die dae kom daar ’n regte flossie en sy sê: ‘Wil jy vat, Loekman?’ En dan, wat doen jy dan?”
Luca vat nog biltong. “Ek weet nie. Wat doen ek dan? Soen haar?”
“Hel, Loekman, sóén? Ja, soen haar, whatever. Al wat ek sê: moenie vat nie. Begin jy vat, is dit verby. Vra vir my. Onder hulle klere is goed, hulle nether regions, wat met ’n man se kop smokkel. Verstaan jy my bedoeling, Loekman?”
“Nie eintlik nie.”
“Ek praat van siektes, vigs, ander aaklige goed, jy wil nie so ’n siekte hê nie. Van kafoefel, en dis die heilige waarheid, dis nie ’n storie nie: jou pister kan afval.”
“Flippen hel …”
Nou sit hulle in stilte, en Booger kan sien Luca is diep ingedagte.
Hy rek hom uit en sê: “Oukei, dit was die les van die dag. Waaroor wil jy nog gesels?”
“Ek wil oor my toekoms praat.”
“Jy bedoel oor die koers van jou lewe, as jy klaar is met skool.”
“Ek wil hier by jou kom werk, met die ysters.”
“Uh-huh.” Booger kerf nog biltong, steek nog ’n sigaar aan. “Jy kan hier kom werk, maar jy gaan eers leer soos jou pa. Ek sal betaal, jou ma het nie geld nie.”
Luca sug. “Ek’s nie gemaak vir skool en ’n koshuis en al daai crap nie, ek wil hier kom werk. Sal jy my betaal?”
“Jy kan g’n op dertien begin werk nie, dis teen die fokken wet, verskoon my taal. Buitendien, ek het jou pa beloof ek sal sorg dat jy gaan leer.”
“Jy’t my pa beloof? Wanneer het jy hom beloof?”
“Ons het baie gesels toe hy daar by my kom intrek het, ná die egskeiding. Hy’t my een aand gevra of ek vir jou sal sorg as hy dalk iets oorkom, of ek jou voog sal wees.”
“My ma sorg vir my.”
“Ek weet. Maar as sy nie kan nie, as sy dalk nie meer werk kry as aktrise nie.”
“Dis hoekom ek by jou wil kom werk, jy’s my voog.”
“Ek’s net jou voog as jou ma nie vir jou kan sorg nie. Gaan terug skool toe, dis die beste ding. In ’n koshuis leer jy gou om groot te word, vra vir my.”
“Was jy in ’n koshuis?”
“Nee, ek moes gaan werk, g’n tyd vir boeke nie. Ek het op die harde manier geleer.”
Hoofstuk 2
1
Luther se afspraak met die spook is by Musanda (“hoofman se kraal” in Venda), ’n plaas aan die buitewyke van Pretoria, maar nie een waarop geboer word nie. Teen ’n steenmuur by die ingang is die embleem in metaalfiligraan: ’n oog en die leuse Ito la lushaka (“oog van die nasie”) – die alsiende oog van die hoofkwartier van die Nasionale Intelligensie-agentskap.
By sekuriteit word hy uitgevra of hy ’n afspraak het, en oor die aard van sy besoek. Hy moet wag terwyl gebel word om sy geloofsbriewe by Mosman se kantoor te bevestig, en word dan beduie na ’n parkeerplek naby ’n anneks van die hoofgebou. Hy betrag die netjiese tuine onder die kameeldorings: die blomstruike, die gemanikuurde grasperke, die fleurige beddings. Hiér wys die NIA sy beste aansig, sy verbruikersvriendelike gesig, probeer hy hard om weg te kom van die beeld van die sinistere skaduryk wat sy ongure voorgangers verteenwoordig het.
Maar dis ongewoon om ’n joernalis hier te ontvang. Spoke staan nie onderhoude toe nie. Die nuwe deursigtigheid is net bluf; die gene is dieselfde, Big Brother het bloot ’n nuwe jas aangetrek.
Mosman se mure is kaal, behalwe vir twee groot kleurfoto’s van sy minister en president in goudkleurige rame, amptelik geposeer, agter sy stoel. Op die hoek van sy lessenaar, langs sy rekenaar, hang ’n landsvlaggie slap aan sy stok. Teen ’n muur is ’n boekrak met glasdeure. Die boeke lyk vernaam, soos dié in advokate en prokureurs se kantore, maar Luther kan nie die titels uitmaak nie. Wat ook sy oog vang, is die bonsaiboom bo-op die boekrak; ’n dwergkremetart wat byna prehistories lyk.
Geen kiekie van vrou of kind of kraai nie, onpersoonlik, asof Mosman en die groeigestremde boom met die vet stammetjie die vertrek net tydelik beset.
“Sit,” sê Mosman en beduie na een van twee staatsdiensstoele voor sy lessenaar.
Dis ’n bevel wat Luther se indruk versterk dat Mosman, dasloos in swart hemp en broek, nie tyd of woorde verspil nie. ’n Man wat ontuis sal wees om kletstafels vol vingerhappies.
“Ek weet nie wie jou my naam gegee het nie,” gaan hy dadelik voort, “ek steur my gewoonlik nie aan koerante nie, praat nie met joernaliste nie. Maar dis goed dat jy gebel het, dié slag kan ons mekaar dalk help.”
Luther knik. “Die polisie sê hulle kan my nie help nie en verwys my na die taakmag vir vermiste persone. Húlle sê dis nie hulle beleid om met die pers te praat nie en verwys my na die polisie. Die polisie sê moenie ons weer bel nie, die saak is uit ons hande uit. As die MPTT nie kan help nie, probeer die NIA. Ek sê wat het die spioene uit te waai met ’n opgrawing in die Langkloof? Julle weet mos die NIA praat nie met die pers nie. Hulle sê bel direkteur Mosman by Musanda, ons het hom daar by die herwinning van die beendere opgemerk.”
Hy hou Mosman se gesig dop: g’n trek van emosie nie, die man dra ’n fokken masker. Sy hande gevou op ’n blou lêer voor hom op sy lessenaar, geen ringe nie, vingernaels geknip en gepoets. Die lig uit die venster agter Luther fletsend op Mosman se brillense, sy oë diskreet verskuil.
“Voor ons verder praat, net eers ’n paar huisreëls,” sê Mosman. “Niks is sonder reëls nie, sonder reëls is daar chaos, en ons het genoeg chaos in hierdie land gehad. Die beendere in die Langkloof is ’n residu van daardie chaos.”
“Watse reëls?”
“Reël nommer een: my naam, of dié van die NIA, word in geen berig genoem nie. Reël nommer twee: enigiets wat ek sê, kan jy skryf, solank jy hou by reël nommer een. Oukei?”
“Oukei.” Nie juis ’n keuse nie, en Luther besluit om te kyk hoe die gesprek verloop.
“Die uitkenning van die Langkloof-beendere is wel in die hande van die MPTT, ’n agentskap van die PCLU, op sy beurt ’n eenheid van die NPA, onder jurisdiksie van justisie … Wat van tee, rooibos?” Mosman tel die binnefoon op voor Luther kan antwoord, bestel die tee en vervolg: “Die EAAF is reeds gekontak om weer te kom help.”
Luther lig sy hand.