Soos honde van die hemel. Marzanne Leroux-Van der Boon
lê en hy geleidelik warmer word.
“Wat het jy gedroom?”
Maar hy sê: “Ek kan nie onthou nie.”
Hy raak voor haar weer aan die slaap.
Drie
Terwyl Ruud die kaggel pak, lees Anne die voorbladberigte voor uit die koerant wat kort tevore met ’n sagte plofgeluid teen die voordeur geval het.
“Cameraman’s killing sparks call for safety of newsmen. Policeman, two motorists die in highway shooting. Two East London women killed on farm. Train torched at Wynberg station.” Sy ril. “Horrible!”
“Waarom koop jy altyd die Argus?”
“Omdat Die Burger my ’n leeftyd lank gebrainwash het.”
Hy grimlag en vee sy hande wat swart geword het van die houtskool aan ’n ou koerant af. “Wat laat jou dink die Argus brainwash jou nie ook nie?”
“Mens hoop maar.”
“Dié keer sal die hoop jou beslis beskaam.”
Dis die eerste aand dat hulle in die kaggel vuurmaak. Die nag se wind het reën gebring. Dit suis deur die denne oorkant die straat en pik teen die ruite. Hulle het die rusbank tot voor die vuur gesleep. Alexander snork sag in sy mandjie. Af en toe poep hy geluidloos. Dan trek Anne ’n vuurhoutjie.
Die vloer om hulle lê besaai met koerante en tydskrifte. Ruud se werkery is lankal nie meer tot die woonstel beperk nie. Groot dele van die middag en aand werk hy ook hier. Daar lê ook ’n dik pak swart-en-wit foto’s wat hy tydens Hani se begrafnis geneem het.
“Is dit nie tyd vir nuus nie?” Hy wag nie vir haar om te antwoord nie en leun oor die kant van die rusbank om die radio aan te skakel. Dit kras so dat dit onmoontlik is om te hoor en hy stel onhandig die kontrole wat hy nie kan sien nie. Totdat die omroeper se stem deur die vertrek bulder.
“Three men, including a police reservist, were killed and then two motorists who apparently tried …”
Anne leun oor hom en druk die skakelaar sonder meer af. Toe hoor hulle die reën wat nou harder val en die geklap van die vlamme wat hoog in die nat stompe opskiet.
“Ek kan dit nie meer aanhoor nie.”
“Sorry,” sê hy.
“Maak nie saak nie.”
Sy sit langs hom, met haar voete op die rusbank, arms om haar opgetrekte knieë. Hy kan nie haar gesig tussen haar hare sien nie.
“Ek word mal in hierdie land.” Sy laat haar kop op haar knieë sak.
Hy vat oor haar springerige hare. “Jy leef al soveel langer as ek daarmee saam.”
Sy draai haar gesig na hom toe. “Ek word nou uiteindelik daarvan bang.”
Hy sit sy arm om haar skouers en trek haar teen hom aan. ’n Tyd lank sit hulle in die vlamme en kyk.
Later sê hy: “Ek het vandag weer ’n slag my pos gaan haal.”
“En?”
“Vrij Nederland wil dat ek vir hulle ’n artikel oor wit vrees doen.”
“Wit vrees?”
Hy hoor die ergerlikheid in haar stem en trek haar kop teen sy skouer aan. “Dit is wat hulle gevra het.”
“Wat laat hulle dink dat die kleur van vrees hier wit is?”
“Ek weet nie.” Hy stryk oor haar hare om haar te kalmeer. “Sal jy my help?”
“Hoe sal ék jou kan help?” Sy kyk nie na hom nie.
“Deur jou kan ek by die Afrikaners uitkom.”
Sy blaas deur haar neus. “Die Afrikaners is nie al wat bang is nie. Inteendeel.”
“Ek weet. Maar vir die buiteland, vir die Hollanders veral, is húlle reaksie nuuswaardig, selfs sensasioneel. Perpetreerders van Apartheid … weet jy?”
Sy roer haar skouers gefrustreerd. “Ek dag dat die nugtere Nederlanders nie op sensasie bejag is nie.”
“’n Groot persentasie mense is sensasiebelustig. Miskien wel álle mense.”
“Ja …” Sy skud haar hare weg. “Wat wou jy doen?”
Hy strek sy bene na die vuur toe. “Ek weet nie presies nie. Ek het gedink ons kan gaan gesels met ’n paar mense wat jy ken. Of ’n paar kort uitvluggies maak, dalk as jy weer skoolvakansie het. Of so iets. Dit sal lekker wees as jy by is.”
Sy ontdooi geleidelik. “Ons kan kyk wat ons kan doen, ja.”
Hy kyk na haar. “Annie, hoekom ontstel jy jou so oor die Afrikaners?”
“Wat laat jou dink ek ontstel my oor die Afrikaners?”
“Ek kan dit mos sien.”
“Oor ek ’n Afrikaner is,” sê sy en haar wange word rooi. “Ek wil dit nie wees nie, maar ek ís dit!”
“Is jy seker jy wil dit nie wees nie?”
Sy druk haar handpalms teen haar wange en kyk in die vuur. Ná ’n lang ruk skud sy haar kop. “Miskien is ek nie seker nie.”
“Sien jy kans om met hulle te gaan gesels?”
Sy knik ’n paar maal. “Miskien leer ek myself beter ken so.”
“Ek het gedink aan die Noord-Kaap …” sê hy later.
Sy draai haar kop vinnig in sy rigting.
“Hoekom?”
“Ek dag dat dit ’n interessante streek is, die mense is dalk meer konserwatief … as hier, maar nie so verstar soos in die hoog-noorde nie …”
Sy sit ’n rukkie ingedagte ’n haarsliert om haar voorvinger en draai. “My pa se mense het oorspronklik van die Noord-Kaap gekom, miskien is daar nog ’n shrine of wat ook wat ek kan gaan opsoek.”
“Jy het nog nooit oor jou mense gepraat nie …”
Sy druk sy vingers. “En jy?”
Hy skud sy kop. “Het jy ’n goeie verhouding met jou ouers gehad?”
Sy sit weer ’n ruk lank in die vuur en kyk voor sy sê: “Ek het my pa liefgehad.”
Die studeerkamerdeur staan effens oop. Maria het dit seker nie op knip getrek toe sy elfuur sy tee geneem het nie. Anne-Jeanne loop tot agter sy stoel sonder dat hy haar hoor inkom. Sy huiwer, want hy is so besig, maar nou raak sy tog versigtig aan sy skouer.
“Pappie.”
Sy voel sy spiere onder haar vingers beweeg. Hy draai nie om nie, sug, skroef sy vulpen toe en lê dit op die boek waarin hy sy preek uitskrywe.
“Wat is dit, sussie?”
Ek het ’n naam! skree sy geluidloos.
Sy sê: “Ek het vandag 8 uit 10 gekry vir my opstel ‘Suid-Afrika, my vaderland’.” ’.”
“Dis mooi, sussie.”
Sy hou die boek na hom uit, maar hy sien dit nie. Die boek waarin Meneer ’n goue ster langs die 8 uit 10 geplak het en “uitstekend” bygeskryf het.
“Hoeveel het jy vir jou wiskundetoets gekry?”
Hoe het hy nou daarvan onthou?
“18 uit 60.” Sy probeer dit sag sê, maar dis asof die studeerkamer wat na boeke en roulynolie ruik, daarvan weerklink.
“18 uit 60!” Hy swaai sy draaistoel so vinnig om dat sy verskrik agteruit trap.
Onthou wie jy is, skree sy weer woordeloos, die dorp se dominee!
Hy