Fort van die kappiedraers. Sarah du Pisanie
on>
Sarah du Pisanie
Fort van die kappiedraers
Jasmyn
1
“Dit is al wat ek nog gehoor het vandat ek vanoggend hier aangekom het. Elke tweede een wat hier instap, bring berigte oor aanvalle op die boere en handelaars. Hoeveel noodlottige gevalle is daar nou al, kaptein?”
“Dit was vyftig die laaste keer dat ek getel het, majoor.”
“Almal mans?”
“Ja, majoor, met die uitsondering van een of twee.”
“Ek kan dit nie begryp nie, kaptein! Wat word van die vroue en kinders? Die berigte lui dat die mans vermoor en die huise afgebrand word.”
“Ons het al ’n hele klompie vroue en kinders in die veld gekry. Ons probeer maar die wêreld patrolleer, majoor.”
“Ek is nog nie heeltemal op die hoogte met alles wat die afgelope veertien dae hier gebeur het nie, kaptein. Dis net te veel om so op ’n mens se nugter maag in te neem. Ons het net die berig gekry dat ons so gou moontlik moet terugkom. Sit, dan gesels ons ’n slag ordentlik.”
“Majoor, sover ons kan uitmaak, het die Herero’s alles haarfyn beplan. Hulle het net gewag dat die grootste gedeelte van die beskermingstroepe weg is Warmbad toe om die opstand onder die Bondelswarts te gaan onderdruk. Toe het hulle op ’n georganiseerde manier verskillende streke en vestings gelyktydig aangeval. Hulle het in groepe verdeel en daar was dus nie kans dat die storie kon versprei na ’n ander streek toe nie. Dit was dus vir die blankes oral ’n algehele verrassing.”
“Ja! Ek moet erken dit was ’n slim stukkie werk van hulle. Ons is met die meerderheid van die troepe weg en al die forte is met die minimum mense agtergelaat.”
Majoor Leutwein vee moeg oor sy rooi gesig. Hulle was onder in die suide van Suidwes om ’n opstand daar te gaan onderdruk. Gelukkig was hulle al op pad terug toe hulle die dringende boodskap kry dat die Herero’s hier in die sentrale en noordelike dele besig is om boere en handelaars, asook verskillende forte, aan te val.
’n Ligte kloppie aan die deur laat hulle hul gesprek vir eers onderbreek.
“Majoor, ons het die kerk ingerig as ’n hospitaal. Hier is nou twee dokters en vier verpleegsters.”
Majoor Leutwein kyk fronsend na die soldaatjie. “Waar kom die ander dokter vandaan? Dit is tog net dokter Friedelingsdorf, die militêre dokter, wat hier is.”
“Dokter Haan van die sendingstasie het hom ook kom aanmeld, majoor. Hy en die twee susters wat daar was.”
“O! Wel, goed, Kurt, baie dankie. Sê eers vir my, wat maak al die boere vandag hier met hul ossewaens?”
“Ons het daarop gereken om hulle hier te kry sodat ons hulle kan werf as transportryers.” Hiermee knik Hein Schultz vir die soldaatjie dat hy maar kan gaan en beantwoord hy self die majoor se vraag.
Toe die deur agter Kurt toegaan, kyk majoor Leutwein goedkeurend na hierdie knap kaptein wat hy hier in bevel gelaat het.
“Knap gedaan, Hein! Ek is dankbaar vir die inisiatief wat jy aan die dag gelê het terwyl ek weg was. Sake vlot nou sommer. Ek kan nou die manne aan die werk laat spring.”
Hein Schultz skink vir hulle van die tee in wat op die lessenaar staan en sy hart gaan uit na die arme majoor Leutwein. Die man is doodmoeg! Hy het maar ’n uur of wat gelede hier aangekom. Hulle moet teen ’n moordende pas teruggejaag het, want hy kon nog nie behoorlik asemskep nie. Hy sit net vasgevang in ’n hele warboel van nuwe probleme.
Hy gee die majoor se tee aan en soek wild in sy gedagtes rond na waar hul laaste gesprek onderbreek is. “O! Ja! Majoor het nog gevra wat word van die vroue en kinders?”
Die ouer man vat die koppie tee aan en sit agteroor. Die moeë lyne om sy mond laat hom oud en siek lyk. “Ja! Vertel my meer. Die hele aangeleentheid slaan my dronk.”
“Die paar boere wat die moordaanslae oorleef het, sê dat hulle vroegtydig deur hul getroue Hererowerkers gewaarsku is. Hulle het blykbaar nie kans gesien dat hul werkgewers mishandel en doodgemaak moet word nie. Die vroue . . .”
Majoor Leutwein val hom egter in die rede. “Waar is die boere nou? Dié wat die aanslae oorleef het?”
“Hier is ’n paar op Okahandja. By die ander forte ook. Hulle help sommer om die plekke te beman en te beskerm. Waar daar nie genoeg plek in die fort was nie, het ons sommer tente opgeslaan. Hulle vlug maar na die naaste fort vir beskerming.”
“En die vroue en kinders? Waar is dié?”
“Die paar boere wat hier aangekom het, het hul gesinne by hulle gehad. Die boere wat wel omgekom het, se vroue en kinders word net eenvoudig die veld in gejaag en die huise word agter hulle afgebrand.”
“Dis eienaardig. Hoekom sou hulle die vroue en kinders spaar?”
“Ja, majoor, dit is vreemd. Die vroue en kinders word net eenvoudig aan die natuur en die elemente oorgelewer.”
“Ons probleem lê in die feit dat ons nie weet of hulle nou verder, ná die eerste aanval, nog in groepe gaan werk en of hulle ’n verenigde aanvalslinie gaan vorm nie.” Majoor Leutwein klink moedeloos en bekommerd.
Hierdie land is so groot en uitgestrek en hulle is maar ’n handjie vol Duitse soldate op wie se skouers die veiligheid van die hele land rus.
“Majoor, die Habicht het in Swakopmund geland en kaptein Gudeman en kaptein Gygas het met hul manne aangekom.”
“Ek weet reeds van hulle, Hein, maar hulle het ’n hulpkorps gevorm wat die treinspoor vanuit Swakopmund tot in die Karibib moet bewaak en die vernielde treinspoor oral moet regmaak. Ons het die ammunisie wat met die trein moet kom tot op Karibib so dringend nodig.”
Kaptein Schultz sug en kyk deur die venster na die helder blou lug daar buite.
“Kaptein Schultz!” Majoor Leutwein se militêre verstand werk egter al weer in hoogste versnelling nadat hy die omvang van die situasie opgesom het. “Ons sal moet patrollies uitstuur sodat ons kan gaan kyk of daar nie nog van die vroue en kinders in die veld rondswerf nie.”
“Ons manne is min, majoor.”
“Ek besef dit maar te goed, kaptein. Ons sal in elk geval nie sommer blindelings kan opruk teen die Herero’s nie. Die patrollies sal moet vasstel waar hul vestings is, en ook of hulle nog in groepe rondtrek.”
Hein Schultz kom vinnig op aandag voor die lessenaar en wag op verdere opdragte.
“Gaan maak asseblief vir my ’n opname van al die bruikbare manne. Hier moet genoeg agterbly om hierdie fort te beman en ook om ’n magseenheid te vorm wat ons kan uitstuur sodra ons van ’n groep hoor.”
“Ja, majoor.”
“En kaptein . . . Nee, toe maar, ek sal die opdragte regstreeks aan die verskillende patrollies gee. My manne wat weg was Warmbad toe, moet almal hier bly. Hulle sal net eers vir ’n dag of wat moet rus voordat hulle weer op gereedheidsgrondslag kan kom.”
“Ja, majoor!” Flink kap die kaptein sy hakke teen mekaar en stap styf en militêr by die deur uit.
Majoor Leutwein druk sy kop in sy hande. Sy arme manne! Hulle is al so moeg. Dis Januarie en kokend warm. Hulle kom nou net van ’n moordende tog uit die suide. Hierdie land is so groot en yl bevolk. Die blote gedagte aan die vroue en kinders wat dalk nog in die veld rondswerf te midde van ’n duisternis gevare, laat die kommersweet klam op sy voorkop uitslaan.
Hy trek ’n papier met ’n aantal name voor hom nader en kyk dan na die naam van kaptein Franke. Hy en sy manne beman die Omaruru-fort en hulle was ook in die suide om daar te help. Hulle behoort darem ook nou binnekort terug te wees by hul eie fort, dan is dit een plek minder waaroor hy hom moet kwel.
Sy groot kopseer op hierdie oomblik is die kleiner forte, waar daar net vier en vyf manne gestasioneer is.
Majoor Leutwein wens hy kan net slaap. Hy is so moeg!