Man van gister. Helene de Kock
oomblik staan sy nog, en die volgende lê sy plat op haar rug en haar kop kom met ’n dowwe slag op die kweek te lande. ’n Gil wel in haar keel op, maar sy is te lam en duiselig om klank daaraan te gee. Sy is ook veels te verskrik, want, met sy groot pote stewig op haar borskas geplant, staan ’n yslike geelbruin Deense bond. Sy groot bek is oop van opgewondenheid – en hy blaf-blaf heserig, tjank dan op ’n hoë fyn noot.
“Pote?” klink ’n diep manstem net buite die blaargordyn, en die hond kry die bibberasie van blye opwinding, trap-trap met sy groot pote op Maryn se borskas sodat sy die bietjie asem wat sy oor had in ’n kreun verloor.
“Pote! My hemel tóg! Póte! Af daar!”
In die greep van asemnood en doodverskrik sien Maryn hoe die hond van haar afgetrek word, hoor sy verontwaardige tjank-blaffies, en voel hoe sy vinnig ondersoek word vir breuke. Groot, ferm hande wat raakvat.
“Lê stil!” gebied dieselfde stem toe sy met haar longe vol nuwe lug ’n beweging wil maak.
“Ek makeer regtig niks …” glimlag sy, kyk huiwerig na waar die groot Deen haar skeefkop op sy agterpote sit en betrag.
“Nee, gelukkig nie,” sê die man bondig, en trek haar aan albei haar boarms orent. Toe eers kom hy mooi in haar gesigsveld.
Nog verdwaas na haar ondervinding van so flussies, staar sy na hom: ’n groot man wat haar hande op die heupe en met ’n bekommerde frons op sy ru-aantreklike gesig staan en dophou. Sy vlasblonde hare hang in ’n deurmekaar kuif oor sy breë voorkop en is in sterk kontras met sy digte, donker wenkbroue en kenbaard. Sy mond, streng en geslote, gee aan sy hele voorkoms ’n koue afsydigheid wat ’n mens versigtig maak.
“Hoe voel jy?” vra hy skielik, sy grougroen oë met die dik swart wimpers op haar gesig gerig met ’n direktheid wat haar verbouereerd maak.
“Nee wat, heeltemal goed … dankie,” sê sy, vryf oor haar boarms waar daar nog klam grassprietjies kleef, skud haar krulkop in ’n ou gebaartjie van onsekerheid. Toe kyk sy na die hond wat nou vreeslik bedees op sy agterpote na haar sit en kyk. “Doen … doen hy dit altyd met ’n mens?” vra sy met ’n klein laggie.
Die man bly so lank stil dat sy vraend na hom terugkyk.
“O … e … nee, nie eintlik nie. Hy het dit lank gelede gedoen met … met iemand wat baie uitbundig met hom gespeel het … en …” Hy bly stil, staar stip voor hom uit, sê toe: “Nou ja, ek sal sorg dat hy dit nie weer doen nie. Jy is seker een van die gaste hier op Damplaas. Oom Basson het gepraat dat sy kinders en hul vriende kom kuier …”
“Ek is Maryn Basson.”
“Ek sien,” sê hy luiters, en sy sien dat dit hom bloedmin skeel of sy Maryn Wie-ook-al is. Hy’s nou jammer dat die hond haar omgespring het, maar dis al. Hy is hoegenaamd nie onkant gevang daardeur nie; dit kom eerder voor asof hy hoflik op haar wag om hul gesprek en ontmoeting af te sluit, en dit gaan onverklaarbaar teen haar grein in – so asof sy geringgeskat is.
“Stap saam met my terug huis toe,” nooi sy op die ingewing van die oomblik, en besef toe dat hy homself nog nie eens voorgestel het nie. Hy is natuurlik dr. Marcel Hoffman, dit ly geen twyfel nie. Maar sy sou tog verwag het dat hy dit aan haar sou sê. ’n Man, besluit sy stilweg, wat nie graag met ’n nuwe gesig glimlag nie. Dalk ook nie met oues nie, wie weet. Iemand wat sy eie geselskap koester.
“Dit was my plan, juffrou,” sê hy droog, sodat sy tjoepstil bly. ’n Moeilike man, besluit sy by ’n tweede gedagte. Sommer rêrig moeilik. Maar haar kop steek vas by hierdie vae definisie van Marcel Hoffman. Die eintlike waarheid is dat sy hom nie eintlik kan kleinkry nie. Sy skryf dit sober daaraan toe dat sy so groot geskrik het vir die hond. Môre, of dalk later vandag, sal sy hom beter leer ken. Want sy hou daarvan om direk tot mense deur te dring. Dit laat haar vaagweg gefrustreerd voel om nie terstond te weet waar sy met iemand staan nie. Almal in haar lewe het ’n plek. Daar is niemand wat aan ’n los draadjie van kennismaking hang nie, want Maryn laat selde ’n ontmoeting verbygaan sonder om dit op te volg. Sy is ’n menseliefhebber soos haar pa. En op hierdie oomblik ondervind sy ’n byna onkeerbare drang om Marcel Hoffman uit te vra tot op die wit van sy gebeente. Sy wil die hele skelet van sy verlede sien. Sy weet ineens intuïtief dat sy geskiedenis ’n swaar neerslag het, en die wete bring ’n ongekende beklemming oor haar sodat sy vervaard wegkyk van sy geslote gesig na die groot hond.
Sy is bewus daarvan dat hy nog ’n stonde fronsend na haar staar voordat hy hom ook na die hond keer.
“Kom, Pote,” sê Marcel gebiedend. “Kom maak kennis en vra verskoning!”
Tot Maryn se verbasing kom die hond, kop omlaag, nader tot reg voor haar en steek sy poot uit. Sy buk en skud dit met ’n laggie.
“Oulik!” sê sy, en glimlag met sy baas met haar besonderse glimlaggie wat so skelm te voorskyn kan kom op haar kalm gesig.
Hy kyk vlugtig na haar voordat hy sê: “Dis nou Baron Pote von Schlossenburg. Hy was saam met my Duitsland toe en ’n ou tantetjie waar ek gewoon het, het hom só gedoop!”
“O?” sê Maryn geamuseerd en verbaas. “En watter titel het jy in Duitsland opgetel? Jy het tog seker ook jou bewonderaars gehad!”
’n Vlugtige laggie roer om sy half weemoedige mond en hy kyk haar vas aan.
“U weet mos wie ek is, juffrou,” sê hy gelykmatig. “Anders sou u vir my ook geskrik het.”
Maryn kyk hom sprakeloos aan, en sluit haar gedagtes oor hom net daar af. Oor hierdie man kan ’n mens nie vinnig dink nie. “U”, inderdaad …
“Gaan maar, Pote,” sê Marcel, en Maryn sien net ’n geel streep soos die groot hond ooplê al op die damwal agter die een of ander denkbeeldige prooi-met-pootjies aan. Agter haar op die uitgetrapte paadjie hoor sy die swaar, afgemete stap van die man wat nou in die Ou Huis woon. Dis eienaardig, maar dis byna asof sy tasbaar kan aanvoel dat sy gedagtes swaar en diep is, asof hulle dringend teen haar aandu soos die dik mis wat soms in die winter van die dam af opstyg. Onwillekeurig maak sy haar rug effens hol toe hy in maat met sy swaar stap ’n weemoedige deuntjie tussen sy tande deur begin fluit. Eenkeer buk hy langs haar om ’n lekker plat klippie op te tel en dit met geoefende hand te gooi sodat dit liggies wip-wip oor die watervlak en fyn kringetjies laat. ’n Ent van hulle af staan Pote oopbek en kyk, proes uitgelate en spring wlaps! binne-in die water met groot geplas.
Maryn lag saggies, kyk toe op na die man langs haar en sien dat sy volle aandag by die hond is, ’n klein genotvolle laggie om die andersins swaar mond.
“Jy is seker nooit verveeld met Pote by jou nie,” sê Maryn geselserig.
“Ek is nooit verveeld nie, juffrou,” antwoord hy haar, sy oë steeds op die hond se manewales in die water. Dis bloot ’n stelling, gestroop van enige aanknopingspunte, en Maryn bly stil, draai om en loop verder. Net voordat sy die welige grasperk wil oorsteek na die huis toe, draai sy tog om en wag hom en die druipnat hond in.
“Koffie?” vra sy onseker. “Ek gaan buitendien nou vir almal maak.” Sonder dat sy weet, klink sy verskonend, en ook smekend. Dit het skielik vir haar dringend belangrik geword om met hierdie man kontak te maak – só dat hy met haar sal praat asof sy ’n gesig het.
Dit gebeur, maar net vir ’n vlietende oomblik. Hy rig sy oë in ’n vriendelike dog onpersoonlike blik op haar en sê: “Graag, dankie. Ek moet buitendien jou vader spreek.”
Teen haar verwagtinge in, is daar tog ’n roering onder die slapendes in die huis, want toe hulle die groot woonvertrek binnestap, sit oom Frederik al met Peet en gesels, en Elsje kom vakerig verneem of daar nie vir haar ’n koffietjie is nie.
Maryn lag toe sy dit hoor.
“Luiaard! Ek wou nou net kom maak! Waar’s daardie flukse broer van my?”
“Slaap nog,” antwoord Peet, sy oë op die groot man langs Maryn.
“Môre, Marcel,” groet oom Frederik met sy diep, bedaarde stem. “Kom sit, man, dat ek jou aan die