Meisie in die reën. Schalkie van Wyk
gesig verseker haar van deernisvolle begrip.
“Stil en somber, ja. Ek was dankbaar toe ouma Heilet en oupa Frans my gevra het om hier by hulle te kom bly terwyl ek studeer het.”
“Maar daar ís ’n universiteit in Pretoria. Hoekom wou jy Johannesburg toe kom?” vra hy fronsend.
Sy haal haar skouers onverskillig op. “Dit was ’n verandering.”
“Weg van jou ma af?” vra hy vinnig.
Sy probeer frons, maar ’n moedswillige glimlag kruip om haar lippe toe haar oë syne ontmoet. “So iets, ja. Ek is lief vir my ma, maar toe ek eindelik kon vrede maak met Armand se dood, wou ek soms oor hom praat. Ek kon nie met my ma oor hom praat nie, en ek het gevoel dit sou oneerlik wees om met my pa te praat, maar ouma Heilet en oupa Frans het graag staaltjies oor Armand se kleintyd vertel. Dit was asof ek meer . . . tuis gevoel het in hulle huis.”
“Jou oupa is al ’n paar jaar gelede dood?” sê-vra hy.
Sy knik, haar uitdrukking spytig. “Dit was so onnodig – ’n agterlosige bestuurder wat oor ’n rooi verkeerslig gejaag het. My oupa was so ’n gesonde man, altyd opgebeur en besig, en toe . . . niks. Dit het gevoel of die groot, ou huis my en ouma Heilet ingesluk het, of dit propvol leë kamers en ’n neerdrukkende stilte was. Ek was gelukkig, want ek het toe pas begin skoolhou, maar ouma Heilet was so bitter eensaam en hartseer.” Sy swyg, herinneringe wolkend in haar oë.
“Tant Alma het my vertel jy het net ’n kwartaal lank skoolgehou en daarna jou ouma versorg. Was sy altyd ’n hartlyer?” probeer hy haar weglok van haar hartseer gedagtes.
“Nee . . . Die dokters sê dit was haar hart, maar ek weet dit was hartseer. Ouma Heilet het doodeenvoudig ophou leef die dag toe my oupa verongeluk het. Sy het geëet as ek daarop aangedring het, maar nie genoeg vir ’n voëltjie nie. Ek twyfel of sy snags geslaap het, want die enkele kere wat ek ’n slapelose nag gehad het, het sy elke keer op die stoel voor haar kamervenster gesit. Net gesit, asof sy vir iemand gewag het. Ek het haar so bitter jammer gekry, maar ek het geweet ek kon haar nie troos nie.”
“Soms is woorde nie nodig nie; is dit oorgenoeg om te weet iemand is daar vir jou,” antwoord hy mymerend. “Dis hoe ek gevoel het toe die liewe tant Alma haar huis en haar hart vir my oopgemaak het na my ouers se dood. Ek was skielik nie meer alleen nie, want tant Alma was daar vir my. Nogtans is ek jammer dit het kwaaivriendskap tussen haar en jou ouers veroorsaak.”
“Het tant Alma gesê hulle is kwaaivriende?” vra sy verbaas.
“Nee, maar tant Alma is tog jou pa se suster. Julle het in die afgelope tien jaar nooit kom kuier nie – watter ander afleiding kon ek maak?” vra hy ligfronsend.
“Ek het jou reeds vertel: na Armand se dood was Groeneweide en sy mense taboe in ons huis. Selfs al het my ma nie jou ouers vir Armand se dood geblameer nie, sal sy nooit weer haar voete op Groeneweide sit nie. Ek verstaan haar nie. Sy kon nie soos ek en my pa oor Armand se dood rou nie; sy het doodeenvoudig alles wat haar aan Armand herinner het, verwerp . . . so asof hy nooit bestaan het nie. Miskien maak haar herinneringe aan hom te seer, daarom probeer sy om te vergeet.”
“Dink jy sy het hom vergeet?” vra Hilgard sinies.
Marli sug ongeduldig. “Hoe kan sy? Hy was haar seun, haar eerste kind. Sy het hom nie opsigtelik voorgetrek nie, maar ek weet hy het ’n spesiale plek in haar hart gehad. Sy het gehoop hy sou ’n dokter word, soos my pa, maar toe hy besluit het om op Ou Werf te boer, het sy hom aangemoedig om sy graad in landbou te kry. Sy keuses was altyd reg in haar oë, want sy geluk was altyd vir haar belangriker as haar eie begeertes.”
“Hulle noem dit onselfsugtige liefde,” sê hy, glimlag skrams en betrag haar dan oomblikke lank in stilte. “Wat van jou, Marli? Jy is vier-en-twintig en ek sien nie ’n verloofring aan jou vinger nie. Ek besef jy het jou ouma Heilet voltyds verpleeg, maar ek kan nie glo daar is nie ’n spesiale man in jou lewe nie.”
Sy weet sy bloos, maar sy kyk hom nietemin met ’n tikkie uitdaging in haar oë aan. “Ek en Frans le Roux is goeie vriende, maar ons kon nooit werklik uitgaan nie. Frans het gereeld kom kuier, maar die afgelope twee weke, sedert ouma Heilet se begrafnis, het ek geweier om die foon te beantwoord of gaste te ontvang. Ek . . . ek . . .” Sy swyg, bang om verder te praat, want haar stem is, soos haar oë, vol trane.
“Jy wou alleen wees met jou hartseer. Ek verstaan, Marli, maar as ek na die donker vlekke onder jou oë en die holtes in jou wange kyk . . . Jy was lank genoeg alleen. Gaan jy nie terug na jou ouers toe nie?” vra hy en hou sy sakdoek na haar toe uit.
“Dankie,” sê sy gesmoord, gebruik die sakdoek en vervolg met neergeslane oë: “Ek het aangeneem my ma sou alles erf, want sy was my ouma-hulle se enigste kind, maar ouma Heilet het die ou huis aan my bemaak. Dalk . . . bly ek hier.”
“Maak so – maar eers oor ’n maand of drie. Tant Alma het my die dood voor oë gesweer as ek sonder jou by haar huis opdaag. Ek weet julle bel mekaar gereeld, maar toe jy nie die foon beantwoord nie, en jou pa haar verseker jy is nog hier, het sy my hierheen gestuur om jou te kom haal. Jy het ’n keuse, Marli: óf jy kom saam met my, óf ek trek hier by jou in en pas jou op,” dreig hy sonder ’n sweem van ’n glimlag.
“Solank jy kos maak, kan jy maar bly,” antwoord sy, merk die ongeloof op sy gelaat en glimlag halfhartig. “Ek weet nie, Hilgard. Ek was nog altyd lief vir tant Alma, maar . . .”
“Maar jy is bang om jou ma seer te maak?” raai hy.
“Nee. Jy vergeet – ek was die laatlammetjie. My ma is reeds sestig, en hoewel sy nie meer voltyds werk nie, het sy talle ander belangstellings . . . maar ek is nie werklik een van hulle nie. Ons is nog altyd lief vir mekaar, maar nie meer so na aan mekaar nie. Ek is oud genoeg om my eie besluite te neem.”
“Maar ek is nie, want tant Alma speel nog baas oor my.” Hy blik op sy horlosie. “Ek moet nog ’n paar draaie ry. Ek sal jou ’n paar uur tyd gee om in te pak. Ek behoort nie later as drie-uur vanmiddag terug te wees nie.”
“Maar ek het nog nie besluit wat ek gaan doen nie!” protesteer sy en kom saam met hom orent.
“Jy weet reeds wat jou keuses is. Ek kampeer net hier voor die kaggel totdat jy besluit om saam te kom huis toe, want ek sien nie kans vir ’n konfrontasie met tant Alma nie.” Hy glimlag flitsend. “Tot later, Marli. Onthou om die skottelgoed te was.”
“Maar . . .” begin sy byna onhoorbaar terwyl haar oë sy lang, breedgeskouerde gestalte volg, besef dan wat sy wou gesê het en voel haar wange vlam vat. Sy wil nie hê hy moet weggaan nie; wil nie alleen wees nie, erken sy teenoor haarself. Of is dit meer as eensaamheid wat haar Hilgard by haar wil laat hou?
Sy frons ergerlik. “Onsin! Ek is veels te oud vir tienerliefde!” stel sy haarself gerus en pak hulle borde en eetgerei op die skinkbord.
Frans le Roux neem Marli in sy arms, soen haar langs haar mondhoeke en dan op haar mond, besef dat sy hom nie terugsoen nie en lig sy kop op. “Jammer, Marli. Met jou in my arms raak ek selfsugtig. Ek besef jy is ’n hartseer meisie,” sê hy en glimlag verskonend.
“Ja . . . dankie, Frans,” antwoord sy, nog verward oor haar eie onwilligheid om deur hom gesoen te word. Haar ouma se versorging het ’n ernstige verhouding tussen haar en Frans onmoontlik gemaak, maar tot dusver het sy sy omhelsings en komplimente geniet.
Hy lyk soos altyd, atleties gebou en aantreklik met sy krullerige, goudbruin hare, groenblou oë, gelykmatige gelaatstrekke en ’n sjarmante glimlag, wat ’n kuiltjie in sy regterwang laat keep, dink sy en glimlag vir hom. “Kom ons stap deur kombuis toe, dan maak ek vir ons tee.”
“Wat het van julle kok geword?” vra hy terwyl hulle hand aan hand in die gang afstap.
“Sophie het saam met my ouma oud geword. Ouma Heilet het gesorg dat sy ’n behoorlike pensioen en ’n persentasie van haar boedel erf sodat sy kon aftree. Sophie was so hartseer na ouma Heilet se dood dat ek daarop aangedring het dat sy huis toe gaan. Sy het my verseker sy sal terugkom as ek haar nodig het,