Meisie in die reën. Schalkie van Wyk
“Maar . . . maar wat van al jou plaaswerk?” maak sy hulpeloos kapsie.
“Ek het ’n knap voorman en betroubare arbeiders, maar selfs al was dit nie die geval nie – jy kan nie alleen die ver pad Groeneweide toe aanpak nie,” antwoord hy met finaliteit.
“As ek net bedags ry en snags in ’n hotel –”
“Nee, Marli,” val hy haar ferm in die rede. “Jy is dalk nie meer die fraai, pienk babatjie met die wit haartjies nie, maar ek voel nog soos jou ridder wat jou kleintyd beskerm het. Dis doodeenvoudig te gevaarlik vir jou om alleen die lang pad af te lê, maak nie saak hoe betroubaar jou motor is nie. Jy kan in jou motor ry as jy wil, maar ek sal op jou hakke wees. Pas dit jou?”
“Dis so ver . . .” Sy byt op haar onderlip en bloos betrap. “Ek bedoel, ek sien nie kans om reeds vanmiddag self te ry nie. As ek ’n paar nagte goed geslaap het, sal ek makliker kan bestuur.”
Hy plaas ’n beker koffie voor haar neer en neem weer op sy stoel plaas. “Hoe goed gaan jy stoksielalleen in hierdie kasarm van ’n huis met al jou hartseer herinneringe slaap? Hoe gereeld gaan jy eet? Wees eerlik, Marli: jy het ’n vakansie nodig. Meer as dit – ’n vakansie by die liewe tant Alma wat jou sal vertroetel en bederf totdat jy nie meer soos ’n verdwaalde spookasempie lyk nie.”
“Dankie! Ek het nog nooit so gevlei gevoel nie!” sê sy gekrenk.
Hy lag haar goedig uit. “Jy het ’n spieël en oë . . . Maar aan die ander kant: daar is soveel onskuld in jou uitdrukking dat jy moontlik onbewus is van jou skoonheid.”
“Onskuldig – ek?” vra sy ongelowig, innig dankbaar dat haar uiterlike nie haar verwarrende emosies verraai nie.
“Onbetwisbaar, ja,” antwoord hy terwyl sy blik tydsaam oor haar gly. “Jy het nie dikwels saam met mans uitgegaan nie?” vra hy.
’n Skaam glimlaggie fladder om haar lippe. “Nee . . . Ek dink ek het al my selfvertroue en sprankel in die stad verloor. Op skool was ek sku vir seuns, en toe ek universiteit toe is, het ek onbewustelik met my ma se akademiese prestasies gekompeteer. Ek móés doodeenvoudig al my vakke met die hoogste lof slaag, anders sou ek soos ’n mislukking gevoel het. En na oupa Fanus se dood het ouma Heilet al my aandag vereis. Ek het soms uitgegaan, maar my verhoudings was nooit ernstig nie, behalwe . . .” Sy swyg, ’n ligte frons kepend tussen haar wenkbroue.
“Hy verwar jou en laat jou ongelukkig lyk. Los hom!” skerts hy.
“Jy verstaan nie, Hilgard. Frans is . . . Dis die interkom.”
Hy staan vinnig op en laat rus sy hand op die gehoorstuk van die interkom. “Verwag jy gaste, Marli?”
“Dit kan net Frans wees, want hy het gesê hy kom weer inloer. Maak maar die hek oop, asseblief,” versoek sy, jammer dat Frans se teenwoordigheid die intimiteit van haar en Hilgard se kuiertjie gaan onderbreek, maar terselfdertyd bly dat haar vriendskap met Frans sal verhoed dat Hilgard agterkom hoeveel sy vir hom omgee.
“Gaan jy nie jou gas tegemoetloop nie?” vra hy toe hy weer aan die tafel plaasneem om sy koffie klaar te drink.
“Hy stap altyd deur die huis na die sitkamer toe. Kom jy saam?” nooi sy hartlik.
Hy kyk haar wantrouig aan. “Só gretig om my aan die liefde van jou lewe voor te stel, Marli? Ek sou liewer solank jou tasse in my motor wou laai. As ons binnekort ry, kan ons op Colesberg oornag en môremiddag teen etenstyd op Groeneweide wees.”
Sy glimlag onnutsig. “My bagasie staan gereed aan die bopunt van die trap. As jy so graag arbeider wil speel, sal ek Frans intussen inlig oor my vakansieplanne. Kom roep my sodra jy gereed is om te ry.”
“Slim meisie. Maar eers sal ek seker die vervlakste skottelgoed moet was!” antwoord hy kamma vies en dra die breekgoed en eetgerei met ’n oordrewe sug na die opwasbak toe.
Marli glimlag flitsend toe Frans die sitkamer binnekom en beweeg opsetlik om die rusbank na die venster met ’n uitsig oor die tuin. “Hallo, Frans. Die plante lyk so vars en skoongewas na die onverwagte reën vanoggend. Sal ons buite gaan sit?”
“Hallo, my liefste,” groet hy asemrig, sluit by haar aan en plaas sy arms besitlik om haar. “Ek kyk liewer na jou, want jy is mooier as enige blom.”
“Daar is niks mooi aan die donker vlekke onder my oë nie, maar dankie vir die kompliment. Kom ons gaan sit. Ek het iets om jou te vertel,” antwoord sy, beur weg van hom af en verstyf toe sy lippe dringend op hare rus. Sy ruk haar kop weg, druk met haar handpalms teen sy bors en stoot hom liggies weg. “Asseblief, Frans. Ek het vanoggend vir jou verduidelik hoe ek oor ’n ernstige verhouding voel.”
“Jammer, my liefste. Ek sal meer selfbeheersing toepas, maar as ’n man liefhet . . . Het jy al besluit wanneer jy na jou tante toe gaan?” vra hy, neem haar hand in syne en lei haar na die rusbank toe.
“Ja. So spoedig moontlik.”
Hy glimlag triomfantelik. “Dan is ek nog blyer ek het my besluit uitgevoer!” antwoord hy, haal ’n klein, wit boksie uit sy baadjiesak, klap die deksel oop en hou dit na haar toe uit. “Ons verloofring, my liefling. Hou jy daarvan?”
Sy staar sprakeloos na die diamantring en kyk ontsteld op in sy gesig. “Frans, ek is so bitter . . .”
“Jou bagasie is in my motor, Marli. Sal ons . . .” vra Hilgard terwyl hy die sitkamer binnekom, maar bly stil toe hy die ring in Frans se hand sien. “Jammer. Daar skort iets met my tydsberekening,” sê hy verskonend.
“Dis alles reg, Hilgard,” sê Marli vinnig, so verlig dat sy in trane kan uitbars, loop na hom toe en vat sy hand. “Frans, dis Hilgard Geldenhuys. Ons het saam grootgeword. Hilgard, ontmoet Frans le Roux. Frans het my net ’n verloofring kom wys, maar hy besef ek is nie op die oomblik in staat om ernstige besluite te neem nie.”
Hilgard kyk haar skerp aan, druk haar hand asof om te sê hy besef wat sy van hom verwag en glimlag aangenaam. “Bly te kenne, Frans. Dis ’n mooi klippie wat jy daar het,” groet hy en steek sy hand uit.
“Ja . . . ’n mooi klippie,” beaam Frans, sy stemtoon grinterig, klap die deksel toe en prop die boksie in sy broeksak. Hy skud Hilgard se hand en sê strak: “Aangenaam. Dan het jy Marli kom haal?”
“Op aandrang van haar tant Alma Conradie, ja. Marli het jou seker vertel van haar plan om by haar tante te gaan kuier?” verneem Hilgard en druk weer haar hand liggies.
“Ja . . . ja, sy het, maar ek het nie verwag dat sy reeds vandag sou vertrek nie.” Hy blik verwytend na Marli. “Ek het ’n tafeltjie in die Drie Flaminke bespreek, my liefste, en gehoop ons kon saam iets vier, maar nou . . . Is dit werklik so noodsaaklik dat julle vandag al moet vertrek? As ek jou vanaand kan uitneem, net behoorlik van jou kan afskeid neem . . . Of is dit te veel gevra?”
Hilgard voel Marli se greep op sy hand verstewig, kyk flitsend na haar en lees die woordelose pleidooi in haar oë. Hy frons oorwegend en skud dan sy kop. “Ek is werklik jammer ek moet julle romantiese aandjie bederf, Frans, maar ek is ’n besige boer en ek moet teruggaan plaas toe. Boonop het ek tant Alma reeds laat weet dat ons môre teen middagete by haar sal wees.” Hy blik op sy horlosie. “Ons sal moet wikkel as ons die spitsverkeer wil vermy.”
“O . . . in daardie geval . . .” Frans frons sy teleurstelling weg en vra geraak: “Het jy darem tyd om my na my motor toe te vergesel, Marli?”
“Vanselfsprekend, Frans. Ek is jammer ek het die aand vir jou bederf, maar alles het so skielik gebeur,” maak sy skuldig verskoning.
Frans groet Hilgard stug en loop swyend saam met Marli na waar sy motor voor die motorhuis geparkeer staan. Hy ruk langs sy motor tot stilstand en vra grimmig: “Is daardie Hilgard-vent die rede waarom my verloofring nie goed genoeg is vir jou nie, Marli? Ek het sy motor in die motorhuis gesien; hy het geld. Miljoene, soos jy. Geen wonder hy verwys na die diamant in my ring as ’n ‘klippie’ nie!”
“Ek het nog nie gevra om sy bankstate te