Somer van betowering. Schalkie van Wyk
is ’n sukses, het sy besluit dat sy elke sent wins wat sy maak, sal gebruik om haar kinders ’n geleerdheid te gee. Oom Hans kon nie eens die skoolfonds betaal nie, wat nog te sê om Tertius universiteit toe te stuur. En boonop: toe oom Hans die familieplaas geërf het, was daar reeds ’n verband op die grond, en hy het dit reggekry om ’n tweede en ’n derde verband te kry. As hy Wolwekrans nie verkoop het nie, het die bank dit gevat.”
“Praat van sukkelaars!” Elbie skud haar kop verdwaas. “Ek onthou Tertius en Luan was vriende op skool, seker omdat albei se pa’s sulke nuttelose mans was.”
“Dis nie so eenvoudig nie. Oom Hans staan te maklik borg vir sy vriende, en as hy ’n paar rand in sy sak het, gee hy dit vir iemand wat dit nodiger het as hy. Tant Elize sê hy is ’n gebore Kersvader, want hy wil almal help, maar intussen vergeet hy dat sy eie mense ook hulp nodig het.”
“Hoera vir hom,” kom dit vies van Elbie. “Ek wed hy gaan heeldag op óns stoep sit en koerant lees terwyl tant Elize en Tertius hulle oor ’n boeg werk.”
“Oom Hans is nie lui nie, net te vrygewig. In die huurkontrak wat Pappa met die Davels aangegaan het, is tant Elize en Tertius die huurders, nie oom Hans nie. Maar dis net tussen ons. Therine het my gevra om vir niemand te vertel nie, want sy voel haar pa is genoeg verneder.”
“Ek is nie ’n kletskous, soos tant Philippa nie,” sê Elbie en haal haar skouers ongeërg op.
“Ek weet, maar . . .” Anneke vou die servet in verskillende vorms terwyl sy met neergeslane oë voortgaan: “As jy met Tertius trou, kan jy weer op Helderstroom woon.”
Elbie skiet regop op haar stoel, haar gesig gloeiend van verontwaardiging. “Wat? Verwag jy van my om op agtien met ’n man te trou bloot omdat jy jou ou slaapkamer wil terughê? Ek kan dit nie glo nie! Jy, my eie suster –”
“Sjuut! Jy skree, Elbie. Wil jy hê Pappa moet ons hoor?” val Anneke haar gedemp in die rede, haar oë bekommerd op die oopstaande eetkamerdeur.
“Dis jou skuld,” sê Elbie dikmond, bly dat sy kan rusie maak omdat dit haar tydelik van Luan laat vergeet.
“Ek weet dit is. Ek is jammer,” sê Anneke sag, ’n moeë verslaentheid in haar houding. Maak die liefde vir een man ’n mens volkome gevoelloos teenoor ander mense wat aanspraak het op jou liefde? wonder sy. Maar sy móés net uitvind of Elbie enige gevoel vir Tertius het, want vrees is deel van haar liefde vir hom, besef sy. Solank as wat sy Tertius liefhet, solank as wat hy ongetroud is, sal vrees haar metgesel wees, want sy sal elke dag wonder met wie hy gaan trou. Waarom is liefde so ’n kankerende teenwoordigheid? Waarom kan ’n mens dit nie soos ’n inkopiesak opfrommel en in die naaste vullisblik gooi nie?
“Gaan jy huil, Anneke?” vra Elbie bekommerd.
Anneke glimlag teësinnig. “As trane sou kon help, het ek nooit ophou huil nie. Ek is werklik jammer, Elbie. Ek vergeet jy is net agtien en dat vier jaar van studie nog vir jou voorlê. ’n Mens dink nie ernstig oor mans en ’n huwelik as jy agtien is nie.”
“Natuurlik nie,” beaam Elbie geesdriftig. “As jy nie vinnig trou nie, bring ek elke vakansie ’n halfdosyn mans saam huis toe totdat jy een kies wat in jou smaak val,” voeg sy skertsend by.
“Dankie, ek sal my eie soekwerk doen. Maar van die Davels gepraat: Tertius het vroeër vanaand gebel en ons genooi om môre op Helderstroom deur te bring. Hy sê Karwats mis jou.”
Elbie staar haar onthuts aan. “Sê jy vir my hierdie hele argument gaan oor ’n perd, Anneke? Jy wil hê ek moet met Tertius trou sodat Karwats nie na my sal verlang nie? Goeiste, mens, jy is dowwer as dof!”
“Ek was nog altyd ’n diereliefhebber,” sê Anneke met soveel aangeplakte vroomheid dat hulle saam uitbars van die lag, bly dat hulle ’n oomblik van genot kan deel, omdat hulle hartseer hulle eie is.
Elbie hou haar ryperd op die wal van die rivier op Helderstroom in, luister na die donderende gedawer van perdepote agter haar en glimlag uittartend toe Tertius haar oomblikke later op die rug van sy perd, Voorslag, bereik. “Grootprater!” koggel sy, haar oë laggend op sy onthutste gelaat. “Glo jy nog mans is beter ruiters as vroue?”
“Sommige mense is gebore wenners,” antwoord hy, sy glimlag bedroë, en hy kyk haar deurdringend aan.
Sy sien hoe die somerson koper uit sy rooibruin, effens krullerige hare haal en kyk met kritiese waardering na sy reguit neus, ferm mond en ken. Sy glimlag in sy groen oë, voel ongemaklik onder die intensiteit van sy blik en sê net met ’n ongeërgde ophaal van haar skouers: “Jy vergeet dis my geboortegrond. Ek en Karwats ken ’n kortpad na die rivier toe wat jy en Voorslag nog moet leer.”
“Ek praat oor die algemeen,” sê hy met onverwagte erns.
Sy blik hom verwonderd aan. “Ek verstaan nie. Ek het akademies goed presteer op skool, maar op sportgebied . . .Ek het net vir ons eerste tennisspan gespeel, maar ek was nie altyd ’n wenner nie.”
“Jy is die mooiste meisie op die dorp,” sê hy feitelik.
Sy glimlag selfbewus en kyk weg oor die watervlak. “Dankie, maar dis net jou opinie. Boonop . . . Skoonheid het niks met wen te doen nie.”
“Dit het. Ek het minstens ses keer onbeskaamd geskimp dat ek beskikbaar is om jou metgesel na julle matriekafskeid toe te wees. Jy het my skimpe geïgnoreer, want . . .” Hy swyg, skraap sy keel ongemaklik en staar strak voor hom uit.
“Tertius!” verwyt Elbie en glimlag met goedige begrip toe hy vinnig na haar kyk. “Daar is seker kleiner dorpies as Hangkrans, maar jy weet self: almal wag dat jy die ongeskrewe reëls van die gemeenskap moet oortree en speel dan die rol van aanklaer en regter, sak soos ’n spul aasvoëls op jou neer en skeur jou met hulle kloue uitmekaar. Skoolmeisies nooi nooit werkende mans na die matriekafskeid toe nie – dis die dorpenaars se ongeskrewe wet en dit was ons skoolhoof se uitdruklike opdrag. Dieselfde reël het tog in jou matriekjaar ook gegeld.”
Hy frons nadenkend en knik bevestigend. “Ek hét vergeet!” sê hy verlig en lag uitbundig. Hy besef dat sy nie saamlag nie en vervolg verskonend: “Jammer, Elbie. Ek voel ’n bietjie dronk van verligting. Sien, die jong ouens op die dorp praat onder mekaar oor julle meisies . . .”
“Ek weet,” kom dit koel van Elbie, haar blik afgewend. “Elbie de Villiers glo dat, omdat sy ’n professor se dogter is, die jong mans van Hangkrans nie goed genoeg is vir haar nie. Sy gaan universiteit toe om vir haar ’n jong lektor te vang.” Sy kyk hom in die oë. “Glo jy dit, Tertius?”
“Natuurlik nie! Anneke het vir Therine vertel hoe hard jy studeer het en van al die ander skoolbedrywighede wat jou voltyds besig gehou het. Dis net . . .” Hy aarsel, byt op sy onderlip en vra hoopvol: “Sal jy saam met my uitgaan, Elbie? Jy is tog nou klaar met skool . . . klaar volwasse. Ek weet jy gaan universiteit toe, maar ons kan mekaar beter leer ken. Dalk korrespondeer. As ek nie te bedrywig is op die plaas nie, kan ek soms oor ’n naweek Johannesburg toe ry en jou uitneem. Ek verwag nie dat jy net aan my getrou moet wees nie, maar . . . maar ek wil nie hê jy moet van my vergeet nie.”
“Hoe kan ek? Jy boer op my geboorteplaas en jy slaap elke nag in die huis waarin ek grootgeword het,” sê sy met ’n neutrale stem.
“Ja . . . ja.” Hy kug selfbewus, ’n donker blos van verleentheid op sy gesig. “Ek hoop nie dit maak van ons vyande nie, Elbie. Ek bedoel, jy is welkom om elke dag hier te kom kuier . . . selfs te oornag. Helderstroom is tog nog julle De Villierse se erfgrond. Ons huur net die plaas.”
“Jy verstaan my verkeerd, Tertius. Die plaas was vir my pa net ’n blyplek, nie iets om oor sentimenteel te raak nie. Hy is dolgelukkig in sy nuwe studeerkamer op die dorp. Ek glo dit was ’n wyse besluit om ons plaas te verhuur.”
“Dan sien jy kans om saam met my uit te gaan?” vra hy gretig.
Sy aarsel en staar met troebel oë voor haar uit. Hoe maklik sal dit nie wees om ja te sê nie, dink sy wrang. Sy sal die meerderwaardige Luan Stegmann behoorlik op sy neus laat kyk as Tertius haar gereeld begin