Uur van die Sewester. Helene de Kock

Uur van die Sewester - Helene de Kock


Скачать книгу

      Clara sien hoe sy oë mooi pleit by haar, en sy verteder, maar antwoord hom doodsedig: “Nou toe nou … dag dis dalk ink. Volgens hoorsê is jy nou ’n geleerde man. ’n Prokureur, mos …”

      Hy lag geluidloos, sy gesig vertrek van die pyn.

      “Sies tog, ou Sneeuwitjie,” sê hy, “nog altyd kleinserig oor die wit verf wat in jou are geloop het toe jy klein was, nè? As dit jou sal troos – een van die dinge wat ek al geleer het, is dat mense bloed het wat kan vloei as hulle seerkry …”

      Clara frons diep toe haar oë weer op sy gesig rus. As sy haar nie misgis nie, is hy op die punt om flou te word.

      “Is dít wat met jou gebeur het?” vra sy. “Waar het jy seergekry?”

      Hy snak na asem, maar antwoord tog: “Salpetergrot. Sowat … ’n uur gelede … weet ook nie mooi nie … Clara, help my, moenie vrae vra nie …”

      Sy knik haastig. Krap in die kassie langs die bed waar sy haar eerstehulpgoedjies hou. Nie dat sy dit al ooit nodig had nie. Sy kry verbande, nog in sellofaan toegedraai, en sukkel lomp om dit oop te kry. Vroetel in die laai om die botteltjie ontsmettingsmiddel te kry.

      “Los dit eers,” sê hy en sak agteroor op die bed, maar sodat die arm nog langsaan afhang. “Kom stop eers die bloeding. Dit was ’n skoot, Clara – ’n skóót!”

      Haar mond is kurkdroog as sy nader staan, en toe sy die geruite hemp hoog by die skouer weglig van die wond af, voel dit koud en glibberig onder haar vingers. ’n Naarheid wel in haar op dat die sweet op haar voorkop pêrel. Sy staar na die gapende wond, angswekkend met die bloed wat aanhoudend uitloop en die rou, verflenterde vlees rondom.

      “Ek … gaan vir jou ’n dokter kry …” stamel sy. “Of hospitaal toe vat.”

      “Néé!”

      Sy skrik toe hy in een beweging orent kom, homself op die gesonde arm stut. Sy swart kuif hang deurmekaar oor sy voorkop en sy oë kyk koorsig in hare.

      “Nee, Clara! Jy mag onder geen omstandighede nou ’n dokter vir my kry nie. Ek sal nie doodgaan nie, ek beloof jou! Maar nié ’n dokter nie, hoor!”

      Sy kyk hom stom van skok aan. En vir die eerste maal laat sy oë haar gesig los en gaan sy blik oor haar skouers en die rooi rok wat aan dun bandjies hang en haar voete in die goue sandale.

      “Gaan jy iewers heen?” vra hy skerp.

      “Nee … ek … hier is ’n uitstalling van my werke vanaand. Ek is ’n pottebakster.”

      “’n Pottebakster … maar ek het natuurlik geweet dat jy kuns geloop het … My jinne, ou Claartjie …”

      ’n Oomblik lank verdring ’n soort vertedering die pyn, maar dan frons hy weer diep en krampagtig, en hy sak moeg terug.

      “Waarom … is jy hier?” vra Clara stadig. “Waarom het jy juis hierheen gekom?”

      “Jou plek was die naaste … en ek het gehoop dat jy … of iemand, hier sou wees. Janus het my lankal vertel dat jy toe nooit verkoop het nie.”

      “Janus!” roep Clara half verlig uit. “Ek gaan hóm bel! Hy moet kom help!”

      “Néé, Clara,” sê Alfons ferm, steun van pyn. “Jy bel niemand nie. Niémand, hoor. Asseblief, jy moet my vertrou.”

      In haar angs buk sy oor hom. Haar asem jaag toe sy sê: “Maar ek móét hulp kry. Jy kán nie hier bly nie.”

      Hy lig die gesonde hand en raak haar skouer lig aan, sy oë brandend op haar gesig.

      “Asseblief, Clara … vertrou my. En help my. Ek moet hier by jou bly totdat ek beter voel, asseblief …”

      Sy kyk af na sy pynvertrekte gesig naby hare, na die breë skouers wat haar so baie kere van die skool af tot by die huis teen die berg gedra het, en ’n skielike doelgerigtheid pak haar. Sy draai om en kry die verbande, vou dit reg en neem sommer ’n klein sakboekie wat op die bedkassie lê om ’n drukverband te maak. Hy kreun toe sy hom aanraak en maak sy oë toe. Sy is net klaar toe die voordeurklokkie lui en daar ’n klop aan die agterdeur is.

      Die gaste … laat dit asseblief Erna by die agterdeur wees, bid sy beangs met oop oë. Erna is immers ’n verpleegster. ’n Suster, eintlik. Sy sal weet wat om met Alfons te maak. Ag, laat sy tog wéét, liewe Vader …

      Sy stap suutjies tot in die deur en kyk terug. Alfons lê soos ’n dooie, en op die wit verband vorm daar al weer ’n donkerrooi kol. Erna, dink Clara weer, sy sal weet wat om te doen.

      Toe die klokkie weer lui, dwing Clara haar gesig tot ’n soort kalmte, en stap stadig die gang af net toe daar weer dringend aan die agterdeur geraps word.

      2

      Clara word koud wakker. Sy ril effens en tas na die donskombers wat van die bank afgegly het. Die nagte hier bo in die berge raak al ysig, veral so na die vroegoggend se kant toe. Sy trek die kombers weer oor haar en knip-knip haar oë om beter te kan sien in die roosgrys lig wat van agter die wit gordyne deursyfer.

      Oral in die sitkamer staan nog leë koppies en glase rond. Sy en Erna kon gisteraand net die ergste opruim voordat hulle weer aan Alfons moes aandag gee. En toe moes Erna inderhaas weg, want sy is vroeg al weer op diens by die hospitaal. Gelukkig kom Mamoesa nou-nou, en sy het beloof sy bring ’n niggietjie saam om hand by te sit.

      Clara sug en sak terug teen die kussings. Wat ’n aand was dit nie. Dis of daar nou nog ’n lammigheid deur haar bene trek as sy net daaraan dink. Die skote hoog op in die berg. Die skok en tog ook die vreugde om Alfons voor haar te sien staan. En die angs omdat sy gevrees het dat sy arm nooit sou ophou bloei nie …

      Ook Erna, liewe staatmaker wat sy is, se oë was groot toe sy afkyk op Alfons se aswit gesig. Haar vaardige verpleegstershande het vinnig Clara se lomp verband afgehaal en dit vervang deur ’n stewige wit verband uit ’n wit kussingsloop geïmproviseer. En sy het Clara laat tee maak – ’n sterk, stroopsoet brousel, wat Alfons eers teësinnig laat proes het, maar wat hy toe maar gedwee saam met twee pynpille gedrink het.

      “Jy moet bloed kry,” het Erna kortweg gesê, haar vingers lig en professioneel op sy pols.

      Maar Alfons se mond het koppig getrek.

      “Oor my dooie liggaam,” het hy gesê. “Ek wil nie ’n dokter hê nie en ek wil nie bloed hê nie. ’n Mens weet buitendien nooit wie s’n dit was nie en ek was nog altyd ordentlik.”

      “Jy sal nog spot,” het Erna kwaai gesê, maar tot Clara se verbasing nie verder aangedring nie. Miskien was dit die blik in Alfons se oë. Waarskuwend en gedetermineerd. Hy was kapabel en staan daar op en strompel verder aan na wie weet waar as hulle nie maak soos hy sê nie.

      “Asseblief, luister … Ek weet dis vir julle moeilik om te begryp en ek weet dat jy eintlik my geval behoort te rapporteer, juffrou, maar ek weet wat ek doen, gló my.”

      Erna het nadenkend na hom gekyk, haar smaakvolle blou pakkie se romp met haar hande platgestryk.

      “Jy moes naby aan die geweer gewees het, want die koeël is een kant in en anderkant uit,” het sy sag gesê.

      “Gelukkig, nè,” het hy moeg geglimlag, bedag na Erna geloer van onder sy digte swart wimpers.

      “Hm … Jy kon ook dóód gewees het,” het Erna koel opgemerk. “Ek sal ná die onthaal ’n bietjie penisillienpoeier by my woonstel gaan haal.”

      Alfons het sy oë toegemaak en skaars merkbaar geknik, en hulle het nog gestaan en kyk, toe is dit asof die sagte wind van buite in sy lyf intrek en met swaar, reëlmatige asemteue sy gesig stil en uitdrukkingloos laat word. Clara het gebuk en die duvet oor hom getrek. Sy het Erna se oë vraend op haar gevoel.

      “Ken jy hom goed?” het sy gevra, haar vingers deur haar ligbruin haardos getrek soos wanneer sy onseker is.

      Clara het haar skouers opgehaal.


Скачать книгу