Marta. Helena Hugo
se hande raak stil. Wat kon sy nie meer verduur nie? Het hy haar geslaan?
“Toe moes ek wegkom. Dis ’n cliché, maar ek moes myself gaan soek en in die oë kyk en vind. My naam is nie Marinda nie. My naam is Ragel. Ek sal almal reghelp. Tienke en Bakker en Valery en Trevor en Ciska en oom Swanie, ek skuld hulle. Emma en Johan weet.”
Marta sny die hare langs Marta se slape skuins. Dis nou so kort, haar ore is oop. Haar nek is slank, delikate trossies-oorbelle sal pragtig vertoon. Wat sal sy sê? Vir eers niks oor oorbelle nie.
“Ragel pas by jou, beter as Marinda.”
“Dis my ma en my ouma se naam.”
“Hou jy van jou hare?”
“Dit lyk so goed.”
“Ek dink ook so. Strepies om jou nog mooier te maak?”
“Enigiets wat kan help. Ek het my man die afgelope tyd gruwelik verwaarloos – ek was so verkeerd. Ek was nie myself nie. Ek is nog steeds nie reg nie.”
Sy sluk. Haar oë skiet vol trane. Marta gee haar skouer ’n bemoedigende drukkie voor sy omdraai om die nodige hulpmiddels vir die kleurproses in die kas te kry.
“Ek is seker hy sal jou nou waardeer.”
“Ek was so onregverdig.”
Marta hang nog ’n mantel om, van dik plastiek dié keer.
“Jy moenie jouself verwyt nie,” troos sy. “Rusies kom altyd van twee kante.”
“Hy het nie rusie gemaak nie, dit was ek.”
“Jy?”
Sy knik, haar gesig trek skeef. “Hy moes ons seuntjie oppas, toe vergeet hy om die voordeur toe te maak en die hondjie hardloop uit en Frankie agterna onder ’n kar in.”
Marta wag. Die ergste, weet sy, kom nog.
“Hy’s dood, doodgery reg voor ons huis.”
Vir ’n paar oomblikke is dit asof die spieël dof raak en Marinda – nee Ragel – Ragel is nie meer daar nie. Marta sien haar pa se verskrikte oë, sy mond wat geluide maak: Sorg vir jou ma, kyk na haar.
Dood is alomteenwoordig.
“Ek is jammer,” sê sy sag. “Hoe oud was hy?”
“Twee jaar en vier maande. Hy kon so vinnig hardloop.”
“So klein nog? Ek is jammer.”
“Ek het Stephan beskuldig. Amper het ek hom ook verloor.”
“Maar jy is nou reg om vrede te maak.”
“Ek weet nie hoe nie. Ek het tyd nodig, maar ek moes hom laat weet dat ek beter is. Dis hoekom ek hier is – om beter te lyk.”
“Ek belowe jou, ná dese sal hy baie van jou hou.”
“Ek moet na Ciska-hulle ook, sê van my naam en … alles.”
“Was jy nog nie daar nie?”
“Ek moes eers by jou uitkom. Jy doen Ciska se hare so mooi.”
“Sy is baie spesiaal.”
“Sy is.”
Haar seun Deon ook. Maar Marta sê dit nie. Dis nie haar gewoonte om háár geheime met haar kliënte te deel nie. Sy luister na hul stories. Soms gee sy raad, soms troos sy, soms maak sy vrede. Sy is nie net die dorp se haarkapper nie, sy is ook hul biegmoeder en sielkundige. Sy praat nie uit nie, selfs nie voor haar ma nie. Sy hou alles vir haarself, al hul gevegte en uitgerekte sages. Dit kom van haar opleiding. Hulle het geleer om te luister. Maar as buitestander mag hulle nie betrokke raak nie.
Dis nie die maklikste ding op aarde nie. Dis so erg dat sy nagmerries kry. Een keer ’n maand wanneer sy Lambertsbaai toe ry, gaan sit sy op die strand en kyk hoe die golwe aanrol en die voëls ingesweef kom. Sy smeek God om hom vir haar terug te gee, vir Deon, sodat sy alles wat sy hoor met hom kan deel – nie in haar drome nie, werklik.
Maar nou het hy iemand anders …
“Ek gaan tee maak,” sê sy vir Ragel toe sy klaar is met die kleursel. “Jy sal so tien minute moet sit.”
“Dis reg, dankie.”
“Hoe drink jy jou tee? Swart of met melk?”
“Melk en suiker.”
“Kan ek vir jou ’n tydskrif aangee?”
“Nee, ek sit toe-oog.”
Marta druk Ragel se hand. “Dit sal regkom,” sê sy. “Ek bedoel, met jou en jou man.”
Ragel knik. “Ek het te veel gepraat.”
“Dit bly tussen ons. Wees gerus.”
Gunther kry Eva in die kombuis aan die tee maak. “Eva, ek is bly jy is nog hier,” sê hy.
“Ek het julle grootgemaak. Hoekom sal ek weggaan?”
“Omdat ons weg is.” Gunther vat vir hom ’n gemmerkoekie. Dit knars onder sy tande.
“Ek sal hier bly tot die oumense afgesterf het, dan gaan ek na my dogter in Worcester en pas die kleinkinders se kinders op.”
“Nog kinders om groot te maak?”
“Daar sal altyd kinders wees, al is hulle nog nie gebore nie.”
Gunther gooi sy arm om sy ou oppasser en gee haar ’n drukkie.
“Jy’s ’n goeie mens, Eva, jy’t ons mooi geleer.”
“Regte seunskinders, altyd weg as ek julle soek. Nou is julle groot mans en julle loop nog die wêreld vol. Maar ek sien, julle het geleer.” Sy gooi kookwater oor die teesakkie in die ketel. “Waar is jou broer?”
“Hy help my pa in die tuin.”
“Is reg so, hulle moet praat. Jou pa kan hom sê hoe om by sy vrou te staan. Wat van jou?”
“Ek het ander planne.”
“Daar is nie ’n vrou nie?” Eva gooi ook ’n bekertjie vol kookwater. Sy sit dit neer en kyk vraend na hom.
“Ek sal die trollie invat.”
“Ek dek vir jou ook ’n koppie.” Sy pak nog ’n paar koekies op die bord. “Netnou maak ek vir jou pa en jou broer. Gaan praat met jou ma. Sy sit alleen.”
Gunther vat die trollie vas en stoot dit versigtig in die gang af. Sy ma se kamerdeur staan oop. Toe hy in die deur stop, sien hy haar weemoedig sit en staar na die venster, hande gevou, haar hekelwerk op die tafeltjie langs haar.
“Mamma?”
Sy glimlag verras toe sy hom sien.
“Waar is Eva dan?”
“Ek het haar voorgekeer.”
“En jou pa en Deon?”
“In die tuin. Pa spog met sy groente.”
“Dis goed. Ek wil graag met jou praat.” Sy wys hom waar om die trollie te laat staan.
“Ek ook. Mamma moenie heeldag so alleen sit nie.”
Sy gee ’n laggie. “My verdiende loon. In die ou dae, toe ek so besig was, het ek dikwels gewens ek kan sit en alleen wees.”
Hy stut sy ken op sy vuis en kyk reguit na haar.
“Raak Mamma nie eensaam nie?”
“Ek kry geselskap. Emma doen my voet elke tweede dag. Johan besoek my gereeld. Marta kom drie keer ’n week vir my hare. Van die skoolkinders verras my. Tienke loer in, die Bybelstudievroue kom gesels. Jou pa het een van die vakansiegangers aangekeer, ’n gawe vroutjie. Sy lees