.
ction>
God se pad van vryheid
366 Dagstukkies
Engela Linde
Lux Verbi
“Het was Gods wil, om met den mensch den gevaarlijken weg der vrijheid te bewandelen, liever dan om hem ineens door eene machtsdaad boven de mogelijkheid van zonde en dood te verheffen.”
– HA van Andel
Januarie
Genesis, Eksodus, Levitikus,
Numeri, Deuteronomium
Kriptiese prikkels
(om in die loop van die maand na te slaan)
___________________________
Gen 8:7
Die ou Wikings het dit glo ook op see gebruik as kompas
Gen 18:2
Die “draf” wys hy hunker na ’n bietjie geselskap (Gen 18:17)
Gen 36:24
Hoe opgewonde moet die donkiewagtertjie gewees het oor hierdie vonds
Gen 47:9
Wat ’n droefgeestige bekendstelling
Eks 8:28
Farao ruik lont … maar sy arglis stry teen sy “geloof” (bygeloof)
Eks 23:2
Wanneer simpatie met armes verkeerd is
Eks 33:11-12
Ons mag reguit met God praat, soos boesemvriende
Eks 34:1
Streng ouers sê: “Jy het hom gebreek, jy kry nie weer een nie.” Wat sê God?
Lev 7:23
Sommer anti-cholesterol ook
Lev 10:19
Nog dieselfde dag as 1-7? Dit moet vir vader Aäron ’n dag uit die hel gewees het
Lev 25:10b
Weet nie of die Landbank hiervoor sal skik nie
Lev 25:31
Interessante onderskeid tussen platteland en stad
Num 11:10
Destyds voor die familietent gedoen, deesdae met openbare betogings
Num 11:27-29
Merkwaardige leier, sonder ’n sweempie professionele afguns
Num 11:34
Dit laat die kos in mens se keel vassteek
Num 36
Die boeiende verhaal van Selofgad se dogters
Deut 3:11
Wou koning Og sy hele harem hierop lêmaak?
Deut 4:10
’n Lang sin, maar nie die langste nie; kyk 1 Kon 8:46-50
Deut 32:11
Die afgrond leer vlieg
Deut 33:15
Van die mooiste taal in die Bybel
1 Januarie Genesis 1:1-25
DIE SKEPPING – KIES OM TE VERSKIL
In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Gen 1:1).
Om deesdae oor Genesis en die skepping te praat, is, helaas, om ’n mynveld te betree. Die kreasioniste of fundamentaliste glo dat God alles in sewe weeksdae (volgens ons Gregorius-kalender) met gedronge oppervlakverandering tot stand gebring het. Die sogenaamde evolusioniste lê argeologiese vondste voor en glo aan die stadig kruipende veranderings wat in die loop van geologiese tyd plaasvind. Hoewel Bybel en wetenskap mekaar nie noodwendig weerspreek nie (dagstukkie 3 Jan), vlieg die groepe mekaar gereeld op die mees onverkwiklike manier in die hare. Briewe en polemieke wemel hiervan, sodat dit eintlik sinneloos word.
Dit laat mens dink aan die jong Addy in Louis Couperus se roman De Boeken der Kleine Zielen. Terwyl sy ouers weer ’n rusie het wat sy ma soos ’n lyk in haar stoel laat hang, dink hy met ’n minagtende krul van sy effens donserige bolip: “Het is alles om niets …” Ons weet almal so min, dat ons groot genoeg moet probeer wees om te verskil. Ook in familie- en vriendekring saai dit tweedrag. Leunstoel-godsdiens, soos leunstoel-politiek, bring net verwydering. Hoekom móét almal eenders glo?
Dát die skepping plaasgevind het, is seker. Dit was ’n massiewe totstandbrenging uit oerchaos. Dr Louw Alberts, gerespekteerde Christen-wetenskaplike, sê: “Die spontane, onbeplande ontstaan van die heelal met galaksies, sonne, planete en intelligente lewe, is meer onwaarskynlik as wat dit sou wees as ’n vloot vliegtuie klip, sand en sement uit die lug afgooi en ’n stad soos Johannesburg verrys spontaan, blindweg en per ongeluk daaruit.” ’n Groot Intelligensie het geskep, en vir die gelowige is Hy God. Hoe Hy dit gedoen het, oorspan ons begripsvermoë. Laat ons mekaar ruimte gun. Anders vorder ons nooit vanuit oermodder tot die “blom van die baaierd” (DJ Opperman) nie. God rus ons toe vir die blom: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien” (2 Pet 1:3).
GEBED: Here, dankie dat U groot genoeg is om Skepper te wees. Ek wil my verlustig in u skeppende en herskeppende genade.
2 Januarie Genesis 1:26-31
GOD SKEP DIE MENS
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep (Gen 1:27).
Korreltjie sand, dig Ingrid Jonker oor die mens. ’n Bietjie sterstof, verklaar Gideon Joubert (Die groot gedagte, Tafelberg, 1997). Dis die mens, deur God geskep. Joubert sê: “Die grootste wonder van die Skepping het gebeur met die ontstaan en ontwikkeling van ingewikkelde molekulêre samestellings wat ’n verskeidenheid van gespesialiseerde organe vorm, wat saamspan om die gevorderdste selle aan die lewe te hou: die menslike brein.”
Verseker voldoen Adam en Eva nie aan die verheerlikte prentjies van kunstenaars en Kinderbybels nie. As uitgeworpenes in die wildernis, sou hulle in velklere en met wild groeiende hare in ’n grot geskuil het. Hulle sou vooroor loop, sodat hulle oë deur stikdonkerte of deur digte wildernis kon priem, om ’n syfering van water raak te sien, of ’n klip op te tel om kleinprooi te dood of roofdiere af te weer. Maar wat belangrik is: Hulle het nie, saam met die paradys, hulle beeldskap verloor nie. Die mens blý na die beeld van God geskep, sy verteenwoordiger. God se “beeld” in ons beteken ewenwel nie dat Hy ons as ’n kloon van Hom geskep het, of marionette van ons gemaak het wat Hy met innerlike, geestelike toutjies beheer nie. Saam met sy beeld het Hy die goddelike vryheid in ons ingebed, om te kan kies of en hoe ons sy pad van vryheid wil loop.
Ons is nóú hier, en ons lyk soos ons nóú lyk, ongeag hoeveel skeppingskundigheid dit voorafgegaan het. Wat tel, is hoe ons teenoor mekaar optree. Die groot oortreding is nie om die verkeerde skeppingsteorie aan te hang nie, maar om iemand anders, elmboog-naby, in die ongelyk te probeer stel. Stel jou voor dat Jesus sou sê: “Salig is dié wat weet hoe die eerste mense gelyk het.” Wel het Hy gepraat oor “mekaar liefhê soos jouself”.
GEBED: Here, U het die mens goed gemaak, en hom boonop die luukse van vrye keuse gegee. Dis ’n gevaarlike pad, maar dankie dat U ons daarmee vertrou.
3 Januarie Genesis 2:1-7
SEWE DAE, SEWE TYDPERKE?
Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk … (Gen 2:2).
Hierdie oënskynlik tweede skeppingsverhaal is slegs ’n oorsigtelike opsomming. Die sewe dae word herbeklemtoon. Peter Stoner in sy Science speaks (1969) vertolk die “dae” as sewe geologiese tydperke, wat volgens hom die Bybelse gegewens ten volle ondersteun.
Die fisika het deur die splitsing