Kies die lewe. Solly Ozrovech
een oomblik ry jy op die hoogtes van uitbundige blydskap en net die volgende oomblik strompel jy deur die donker vallei van wanhoop.
Jy wissel gedurig tussen die pole van hoop en wanhoop; van vreugde en droefheid. Daarom het jy ’n stabiliserende invloed in jou lewe nodig – die lewende Christus.
Christus is ewig en Hy verander nooit nie. A1 is ’n mens temperamenteel en al wissel jou gevoelens volgens die omstandighede waarin jy verkeer, ondervind jy ’n ongekende standvastigheid wanneer Christus die Koning en Here van jou lewe is en sy Heilige Gees in jou woon.
Jy word nie meer deur elke stormwind rondgeslinger nie. Daarmee saam kom ’n lewensvreugde só groot dat dit nie onder woorde gebring kan word nie. Aan sy liefdevolle hand gaan jy die toekoms moedig en selfversekerd tegemoet.
Heilige Meester, ek aanvaar in die geloof u Gees in my lewe. Ek wil graag volgens u wil lewe, sodat ek vastigheid in my lewe kan hê.
11 Januarie
Matteus 16:24–28
’n Formule vir die lewe
Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor. – Matt 16:26
~
Om aan die lewe te bly het ’n mens kos, klere en ander materiële dinge nodig. Dit moet egter nooit tot die hoogste goed verhef word nie, want dan is jy soos die ryk dwaas wat sy aardse besittings so liefgehad het dat sy siel skade gely het.
Om ’n ryk, vol lewe te ly en nie bloot te bestaan nie, het ’n mens iemand nodig om jou lewe mee te deel. Familie, vriende en geliefdes is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe. Hulle help jou om jouself te leer ken. Gelukkig is hy wat van sy vriende kan sê: “Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God […]” (Filem 4).
Jy moet iets hê waarvóór jy leef; ’n taak wat jou talente, jou liefde, jou energie en toewyding opeis; ’n taak waarin jy arbeidstrots en -vreugde kan vind.
Jy moet ’n lewende geloof hê wat jou laat uitstyg bo jouself en sin en betekenis aan jou bestaan gee. Daarsonder word die lewe ’n doolhof van blinde gange. Met geloof is alle dinge moontlik, want om te glo is om seker te wees van die dinge wat jy hoop, om oortuig te wees van die dinge wat jy nie sien nie.
Bron van ware lewe, leer my om die kosbare gawe van lewe met eerbied te bejeën en dit met verantwoordelikheid te hanteer.
12 Januarie
Efesiërs 4:1–16
Die strewe na volwassenheid
Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. – Ef 4:13
~
Die natuur gaan sy gang en die mens groei liggaamlik van kleuter tot grysaard. Dit wil egter nie sê dat die geestelike en verstandelike ontwikkeling van die mens noodwendig daarmee tred hou nie. Dit is iets waaraan ’n mens moet werk.
In die strewe na volwassenheid is dit noodsaaklik om ’n norm te hê waaraan jou vooruitgang gemeet kan word. Vir Paulus is hierdie norm niks minder as die volmaaktheid en volwassenheid van Jesus Christus nie.
Dit skyn byna voorbarig om na Jesus Christus te kyk en jou dan voor te neem om aan hom gelykvormig te leef en sy ewewig en volwassenheid in jou daaglikse lewe te openbaar. Om egter te strewe na enigiets minder, is om die standaarde van Christenskap te verlaag. Die uitdaging om so ’n verhewe ideaal na te jaag behoort vir jou ’n bemoediging te wees.
Wanneer jy bewus word van die verskil tussen wat jy is en wat Hy is, kan jy só ontnugter en teleurgesteld raak dat jy mag ophou om te probeer. Maar deur sy liefde en Heilige Gees werk Hy in jou en kweek Hy die begeerte en die wil om te strewe.
Jesus Christus, dankie dat ek deur u voorbeeld en genade die vreugde van ’n lewe van oorwinning kan ken.
13 Januarie
Spreuke 3:1–10
Beplanning saam met God
Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. – Spr 3:5–6
~
’n Mens kan net vir vandag lewe, of jy kan jou onmiddellike behoeftes ignoreer en slegs vir die toekoms beplan. Albei metodes is ewe dwaas.
Om na te laat om die teenwoordige konstruktief te benut, is om geleenthede mis te loop. Baie mense droom grootse drome oor die toekoms, maar vergeet dat die fondamente van toekomstige geluk in die hede lê.
Gelukkig is die mens wat vergesigte het oor wat hy wil bereik en hom voorberei daarop deur die noodsaaklike, alledaagse en voor die hand liggende taak vandag te doen.
Christus is nie net in die hede saam met jou nie – Hy is ook in jou toekoms. Hy sien jou totale lewe. Hierdie waarheid behoort jou aan te spoor om jou lewe so te beplan dat dit te alle tye in harmonie is met sy heilige wil.
Om saam met God te beplan, beteken om dikwels die oninteressante taak te verrig sonder om onmiddellik vrugte daarop te sien. Maar ook daarin is God besig om sy doel met jou lewe te bereik.
Soms is dit moeilik om God se plan met jou lewe te ken. Veral dan moet jy te alle tye getrou en oplettend wees vir enige deur wat Hy vir jou wil oopmaak.
Meester, ek aanvaar u Koningskap oor my hele lewe en vra dat U my elke dag bewus sal maak van u leiding.
14 Januarie
Psalm 28:1–9
Die krag van gebed
Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. – Ps 28:6–7
~
Ten spyte van die ongeloof en sinisme van die moderne eeu, verrig God nog steeds wonderwerke. Elke keer as iemand in antwoord op gebed gesond word, het God ’n wonderwerk in die kleine verrig.
Elke keer as jy ná ’n tyd van spanning vrede in jou hart ondervind; wanneer jou droefheid of beproewing draaglik word en selfs omskep word in jubelende vreugde – dan het ’n wonder gebeur.
Baie mense bid tot God wanneer hulle in ’n krisissituasie verkeer, maar wanneer die krisis verby is, vergeet hulle dat hulle gebid het en dat God verhoor het.
Baie hedendaagse Christene kan eerstehands getuig dat wonderwerke gebeur het in antwoord op gelowige gebed. Lewens is hervorm; siekte is genees; afbrekende gewoontes is oorwin; verdraaide menslike verhoudings is herstel. Talle mense het ervaar dat God leiding skenk wanneer Hy daarom gevra word.
Oorhandig dan in die gebed jou probleme aan God en wag gelowig op Hom. Indien daar iets is wat jy self moet doen, doen dit sonder uitstel. Moet net nie in jou uiterste nood deur wanhoop oorweldig word nie. Op die regte tyd en volgens sy alwyse wil sal God jou gebede beantwoord en jy sal in verwondering en aanbidding staan oor die uitkoms.
My God en hemelse Vader, ek weet dat U magtig is om te doen ver bo wat ek kan bid of dink. Laat hierdie heerlike waarheid my elke dag lei.
15 Januarie
Jeremia 18:1–17
Om God se wil te ken
Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat. – Jer 18:2
~
Dit is vir baie mense ’n wesenlike probleem om te weet wat die wil van God vir hul lewe is. Maar God maak tog op sy tyd en sy wyse sy wil aan jou bekend. Dit gebeur dikwels op die mees onverwagte plekke en op die mees ongewone maniere, soos in die geval van Jeremia.
Jy kan die gewyde stilte en afsondering