Kies die lewe. Solly Ozrovech
van die beste
Lê julle toe op die beste genadegawes. – 1 Kor 12:31
~
Dit is net natuurlik om die beste wat die lewe bied te begeer. Dit is egter lewensbelangrik om te weet wat die “beste” is; om nie onbewus ’n plaasvervanger te aanvaar of om met die tweede beste tevrede te wees nie. Mense streef dikwels na ’n doel wat na hul mening vir hulle die beste is, terwyl God vir hulle iets beters en edel bedoel het.
’n Vals sin vir waardes laat jou dikwels na die tweede beste gryp. Dan maak jy die denkfout om te dink rykdom is belangriker as ’n edel karakter; dit is beter om te ontvang as om te gee; jy moet uit die lewe haal wat jy kan sonder om enigiets in te sit; die doel heilig die middele en net dwase verrig liefdesdiens.
Om te weet wat vir jou die beste is, moet jy jouself ken. Jy moet weet wat jy kán, wie jy is en wat jou potensiaal is. Dit verg moed van ’n besondere kwaliteit om jou eie tekortkomings nugter te sien en te erken; om jou foute te verstaan en te bely; om beslis te wees en volgens God se norme doelstellings te stel: eerlikheid, liefde, reinheid en onselfsugtigheid.
Jy sal nie altyd daaraan kan voldoen nie, maar dit sal so ’n impak op jou lewe maak dat jy sal uitvind God se beste vir jou oortref alles wat jy vir jouself kan begeer.
Gee my die wysheid, Here Jesus, om alleen met die beste tevrede te wees, deur te streef na u waardes en beginsels.
26 Januarie
Prediker 12:1–8
Die toekoms word deur die hede bepaal
Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” – Pred 12:1
~
As jy vandag onwaardige gedagtes koester en ’n lewe van bedrog ly, moet jy nie verwag om vrede en waarheid en voorspoed in die dae wat voorlê te ondervind nie.
Die wet van oorsaak en gevolg is selfs vir die kinders van die Here onverbiddelik. Jy kan nie negatiewe gedagtes saai om positiewe dade te oes nie. Baie mense leef nie, maar bestaan slegs. Hulle koester die ydele hoop dat op die een of ander manier, iewers in die toekoms, die lewe aan hulle vervulling en vreugde sal skenk. Jou toekomstige geluk hang direk af van hoe jy vandag dink en wat jy vandag doen. Die hede is ’n produk van die verlede en ook besig om jou toekoms te bepaal.
Vandag is werklik die belangrikste dag in jou lewe. Daarom behoort jy elke dag jou potensiaal tot die maksimum te benut. So lê jy ’n stewige fondament vir die toekoms. So skep jy gelukkige herinnerings vir die dag wanneer vandag jou verlede is.
Dan benader jy die toekoms positief en met die lewende Christus as middelpunt van jou denke en emosies, begin jy skeppend en ondernemend te lewe. Jou toekomsbenadering is gelowig, dinamies en positief.
Here, help my om vandag te gebruik om te bou vir die toekoms en lei my deur u Heilige Gees.
27 Januarie
Psalm 139:1–24
Deur God omsluit
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. – Ps 139:5
~
Dit is ’n onuitspreeklike genade van God dat Hy ons omsluit met sy liefde en ons daarom kan jubel: “Immanuel – God by ons!” Hoe verbly hierdie woorde ’n mens se hart telkens wanneer die donker wolke van wêreldse spanning jou na depressie en moedeloosheid wil dryf.
God se teenwoordigheid is nie net ’n mooi teorie nie, maar ’n konkrete, praktiese werklikheid:
God is bo jou – om jou te beskerm teen die hitte van die son in die stryd van elke dag; ook die versengende strale van verleiding en versoeking;
God is agter jou – om jou te bewaar teen agteruitgang en jou te versterk om in sy krag steeds voorwaarts te beur;
God is onder jou – om jou omhoog te hou en te ondersteun wanneer die stryd jou neerdruk en jy gevaar loop om onder te gaan;
God is vóór jou – om jou te lei op die paaie van geregtigheid;
God is rondom jou – om jou te omsluit met sy liefde en om jou te beskerm teen sigbare en onsigbare gevare;
God is binne jou – om vir jou die weg, die waarheid en die lewe te wees; om te voorsien in jou behoeftes na die rykdom en heerlikheid van sy genade.
God is vir jou die Algenoegsame.
God is in Christus vir jou Immanuel – God by ons!
Here, ek staan in woordelose verwondering voor die algenoegsaamheid van u teenwoordigheid in my lewe. Dankie dat ek u kind kan wees.
28 Januarie
Psalm 32:1–11
God het ’n pad
Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raadgee en my oog oor jou hou. – Ps 32:8
~
God het reëls neergelê wat jou lewe moet beheers. As gehoorsame kind van God moet jy daarna streef om aan God se hand volgens die lewensreëls wat Hy in sy Woord bepaal het, te wandel.
God is ’n God van orde en nie van chaos nie. Die verwarring van die mensdom vandag is die direkte gevolg van ongehoorsaamheid aan God se wette. Wanneer jy jouself volkome in God se hande plaas en sy wil vir jou lewe soek, sal jy ontdek dat jou geestelike lewe in diepte en stabiliteit toeneem. Jou plig is om hiertoe deur Bybelstudie, gebed en bepeinsing mee te werk.
Geleidelik leer jy God beter ken en laat jy Hom toe om jou lewe steeds meer te beheer sodat sy wil in jou lewe duidelik kan word. Dan loop jy op die pad wat Hy vir jou uitgestip het.
Aanvanklik mag God se doel nie so duidelik wees nie en jy sal in die geloof moet voortwandel. Aanvaar jy egter onwrikbaar die heerskappy en leiding van jou hemelse Vader, sal jy die toekoms met onbegrensde vertroue tegemoetgaan. Jy sal sterk staan in die oortuiging dat God jou lei en oor jou waak.
Liefdevolle God en Vader, leer my u wil vir my lewe ken, sodat ek gehoorsaam en blymoedig u pad kan bewandel.
29 Januarie
Josua 1:1–9
’n Resep vir vreeslose wandel
Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. – Jos 1:9
~
Josua word geroep om God se volk ’n onbekende land binne te lei en dit in sy Naam in besit te neem. God belowe hom sy bystand.
Voor jou lê ’n onbekende nuwe jaar, dis ’n onbekende pad en daar is moontlik baie huiwering in jou hart. Vir sommige sal dit tye van swaarkry bring, vir ander tye van vreugde. Ondervinding het geleer dat die jaar ’n bietjie van albei inhou: die goeie én die slegte.
Baie van ons sal op die bergspits van heerlike ervarings verkeer; op die kruin van die golf van geluk en voorspoed. Moontlik sal ons die wanhoop van die donker dieptes ken wanneer ons die donker vallei moet deurwandel. Soos die jaar ontvou sal ons waarskynlik sowel vreugde as smart ervaar.
Ons moet weet wat ons kan doen om die situasies te hanteer wat ons gaan beleef. Alleen op dié wyse sal ons die toekoms met vertroue kan binnegaan.
Daar is maar net één seker manier om die toekoms vreesloos in te gaan: Ons moet elke dag in die teenwoordigheid van die opgestane Here leef. Ons moet ons elke dag aan Hom oorgee, onsself aan Hom toewy; sy pad vir ons lewe soek en dit in volkome gehoorsaamheid bewandel.
As jy dit doen, sal jy nie die toekoms vrees nie en jy sal die lewe met vertroue tegemoetgaan in die krag en vrede van God, jou Vader.