Kies die lewe. Solly Ozrovech
Jy kan jou eie besondere plek hê waar God in die verlede dikwels vir jou ’n werklikheid geword het.
God openbaar Homself aan dié wat Hom soek – en dit hang hoegenaamd nie van ’n spesifieke plek af nie. God kan jou op enige plek en onder enige omstandigheid ontmoet. Dit kan op die bergtop wees, waar jy sy heerlikheid aanskou. Of dit kan in die donker vallei wees, waar jy worstel met jou eie onvermoë en kleingeloof.
Jeremia moes na die pottebakkershuis gaan om die stem van die Here te hoor. Hoe kragtig het die Here nie in hierdie vreemde omstandighede met hom gepraat nie. Maar Jeremia is diep oortuig van sy hoë roeping en van die verantwoordelike pad wat die Here vir hom gekies het.
As jy maar net sensitief en gehoorsaam wil wees, sal jy onmiskenbaar sy stem hoor en leer wat sy wil in jou lewe is.
Ek dank U opnuut, Here, dat ek te alle tye, op enige plek en onder watter omstandighede ook al, met U kan praat. Maak my vandag sensitief om u stem te hoor en gehoorsaam om u wil te doen.
16 Januarie
Genesis 28:1–15
Vertrekpunt na môre
Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. – Gen 28:15
~
Vandag is ’n beginpunt, ’n vertrekpunt! Die beslissings wat jy vandag maak, kan al die môres van jou lewe beïnvloed. Dit is alleen wanneer jy ’n suiwere waardebepaling van elke afsonderlike dag maak, dat jy konstruktief vir die toekoms kan bou. Hierdie soort bouwerk vereis ’n plan. Dit is noodsaaklik dat jy doelwitte in die lewe sal hê om jou daarvan te vrywaar dat jy ’n reisiger na nêrens word.
As jy ’n lewe wil leef wat die moeite werd is, moet jou ideaal of doelstelling groot genoeg wees om as uitdaging te dien om bo jouself uit te styg en dit doelgerig na te streef. Moenie vrees om iets nuuts en moeiliks aan te pak nie. Dit is die enigste pad waarlangs jy bevrediging sal ken. Dit sal jou geestelik versterk en jou in jou geloofsoortuiging laat groei.
Jou alledaagse taak skep vir jou onbeperkte geleenthede om jou geloof in ’n altyd-teenwoordige God te beoefen. Dan word jou taak, hoe nederig ook al, ’n roeping.
Jou geloof word dan ’n praktiese werklikheid wanneer jy God se wil nastreef dáár waar Hy jou geplaas het. Dan is dit nie maar net ’n emosie wat vir Sondae gereserveer word nie. Dit motiveer jou om al jou talente in sy diens te stel. Daarby leef jy in die wete dat Hy jou sy bystand en beskerming vir elke dag belowe. Dan leef jy elke dag met God, vir God!
Leer my daagliks om u wil te doen en u pad te loop, goeie Meester, sodat ek my plig met vreugde sal doen en u doel met my lewe sal bereik.
17 Januarie
Filippense 2:12–18
Medewerker van God
Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. – Fil 2:12–13
~
Dit is ’n oorweldigende gedagte, tog vol van inspirasie en besieling – God werk in jou! Die uitdagende vraag is of jy met Hom saamwerk en of jy in sy pad staan?
Jy mag vaagweg bewus wees van jou lewensdoel, maar dit mag miskien net nie sterk genoeg wees vir jy om dan op die uitgestippelde pad te loop wat God beplan het nie. Dan leef jy ’n lewe volgens eie wil en keuse en nie na die wil van God nie. Hierdie selfgekose pad lei noodwendig na ontevredenheid en frustrasie. Jy ploeter voort in eie krag op ’n pad wat jou eie blinde hart beplan het, meer bewus van die neerlae as van glorieryke oorwinnings. Die lewe self verloor sy glans en verval in ’n vale alledaagsheid.
Wanneer jy met oortuiging erken dat God in jou werk, en jy onwrikbaar besluit om in alle sake aan Hom gehoorsaam te wees, word jy ’n medewerker van God in die kuns om te lewe. As dit gebeur, vind ongelooflike en onverwagte dinge in jou lewe plaas. Wat voorheen struikelblokke was, word nou skielik geleenthede op jou pad wanneer jy aan God se hand die toekoms inbeweeg.
Here Jesus, Leidsman en Voleinder, gee aan my toewyding, oorgawe en ’n gewillige oor vir u bevele, sodat ek voortdurend u wil vir my lewe sal ken.
18 Januarie
Lukas 9:23–27
Geestelike ondervoeding
Wat help dit ’n mens as hy die wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan. – Luk 9:25
~
Elke mens wil graag iets met sy lewe bereik; hy wil die bevrediging smaak dat hy nie verniet gelewe het nie. Daarom stel hy vir homself doelwitte en werk met die inset van al sy kragte vir die verwesenliking van dit wat hy as essensieel vir sy sukses beskou.
Hy versamel alles wat geld en sosiale prestige hom kan bied: ’n steeds groeiende inkomste verhoog sy gevoel van sekuriteit; vriende wat hom kan help om sy doelstellings te bereik en aan hom toegang verleen tot die regte sosiale kringe, word vir hom steeds belangriker.
Desnieteenstaande gebeur dit so dikwels dat mense wat alles bereik het en oorlaai is met die goeie dinge wat die lewe kan bied, nog onvergenoegd is. Hulle word toenemend bewus daarvan dat hulle iewers iets van kardinale belang misgeloop het.
Wanneer besittings en alles waarvoor materialisme staan, vir ’n mens belangriker geword het as God; wanneer stoflike dinge vir jou belangriker geword het as geestelike waardes; wanneer ’n balansstaat belangriker is as integriteit en eerlikheid; dán ly jy aan geestelike ondervoeding.
Geen mens wat God uit sy lewe weglaat, kan waarlik suksesvol wees nie. Maar as jy geestelik ook groei tot volwassenheid in Christus, leer ken jy die ware betekenis en doel van die lewe.
Dankie, Here Jesus, dat U dit moontlik gemaak het dat u Heilige Gees sin en betekenis aan my lewe gee en my die vermoë gee om dié dinge te onderskei waarop dit werklik aankom.
19 Januarie
Efesiërs 3:14–21
’n Heerlike waarheid
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. – Ef 3:16
~
Die rykdom wat ’n lewe in God bied, oortref jou wildste verwagtings. Wanneer jy voel dat jy tot oorlopens toe vervul is met sy liefde, vrede en krag, krap jy nog maar aan die oppervlakte van die goudaar van sy genade.
Die enigste ding wat jou kan weerhou van ’n ryker ervaring met God, is jou eie onvermoë om dit te ontvang. Die grootste gawe wat jy van God kan ontvang is ’n steeds groeiende hunkering na Hom. Dit klink soos ’n teenstelling: as jy God ken, ervaar jy sy volheid, en juis in hierdie vervulling setel die begeerte om Hom steeds beter en meer intiem te ken. Dit is wat die Gees van God in jou lewe doen.
Dit is nie maar net ’n vlietende emosie wat op jou neerdaal wanneer jy godsdienstig voel nie. Dit is ’n konkrete daad van geloof in die krag van die inwonende Gees van Christus juis wanneer dit voel asof die lewe dreig om uitmekaar te val.
Jy moet jouself gedurig daaraan herinner: “Christus leef deur sy Gees in my!” Mettertyd sal jy volkome sekerheid hê en vanuit sy krag leef. Daar lê jou innerlike krag en sterkte. Loof die Here daarvoor.
Hoe sal ek U ooit genoeg kan dank, Here, dat u Gees in my kom woon het. Gee dat ek dit sal laat blyk in die omstandighede waarin ek leef en werk.
20 Januarie
Psalm 8:1–10
Selfvertroue
U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon. – Ps 8:6
~
Die Bybel