'n Kwessie van tegniek. Christine le Roux
n>
Christine le Roux
’n Kwessie van tegniek
[no image in epub file]
HUMAN & ROUSSEAU
Hoofstuk 1
Alicia wens daar was ’n spieël in die hysbak. Alle hysbakke behoort spieëls in te hê sodat ’n meisie haar gou kan opknap voor sy uitstap. As die hysbak vol mense is, sal dit seker tot grappige opmerkings lei, maar sy gee nie vreeslik om hieroor nie. Sy is seker haar lipstiffie is in die motor afgebyt en heel waarskynlik lê haar maskara in donker kringe onder haar oë en gaan die man dink sy ly aan ’n nare siekte of slaap nooit nie.
Albei hierdie gevolgtrekkings sou verkeerd wees. Sy is en was nog altyd uitermate gesond. Sy glo ook aan ’n goeie nag se slaap. Laat nagte beteken net dat sy die volgende oggend soos ’n heks lyk en soos een optree. Ter wille van die res van die mensdom en in die besonder die lede wat met haar moet saamwerk, is dit beter as sy genoeg slaap kry. Maar die verkeer hierheen was besonder swaar, dis wurgend warm buite en sy is nie meer seker of die grimering wat sy met ongewone sorg aangesit het nou nog is waar dit moet wees nie.
By die laaste verkeerslig het ’n taai muggie by die oop ruit van haar motor ingevlieg teen haar oogbank vas. Sy onthou spesifiek dat sy haar oog geklap het en dat die ooggrimering dus nou teen haar wang gestreep sit. Sy haal ’n verfrommelde sakdoek uit haar handsak en vee onder haar oë. Daar lê inderdaad ’n gryserige streep op die sakdoek.
Die hysbak stop met ’n ruk en sy stap uit, maar bly eers staan om diep asem te haal. Dis nie dat sy bang of senuagtig is nie; sy het net ná die gejaag om hier te kom ’n oomblik se sereniteit nodig.
Sy maak haar handsak weer oop, haal haar notaboek uit en druk dit onder haar arm in. Mens moet professioneel lyk as jy ’n onderhoud gaan voer. Jy wil nie hê die mense moet dink jy is onvoorbereid en deur die blare nie.
Sy kan ook nie stry dat sy ’n trilling van opgewondenheid in haar binneste voel roer nie. André Rosner is nie net ’n akteur van formaat nie, hy is pragtig. Sy beskou haarself as nogal sinies wanneer dit by mans kom. Dis nie dat sy ’n grief het teen die geslag as sodanig nie; die teenoorgestelde is eerder waar. Sy hou van hulle, sommige van haar beste vriende is mans. Sy glo ook nie dat ’n mooi man beter is as ’n lelike een nie. Die meeste van haar kêrels was glad nie aantreklik nie, maar hulle het daardie iets gehad, die onnoembare kwaliteit wat haar bloed laat bruis het. ’n Vonkel in die oog, die vermoë om ’n meisie altyd na ’n prinses te laat voel, ’n sin vir humor.
Maar André Rosner is móói. Hy is aantrekliker as enige ander held van die klein of groot silwerdoek. Sy donker oë is vol verborge waarhede, hulle wys niks, maar sy is seker as mens net weet hoe om hulle te lees, gaan jy wonderbaarlike dinge agterkom. Hy is lank en lenig, as hy loop, laat hy haar dink aan ’n luiperd.
Die feit dat byna al die vrouens in die land ook soos sy voel, sit haar effens af. Noem sy naam en vrouens, oud en jonk, rol hulle oë en sug verlangend.
Dat sy dus gevra is om die onderhoud te doen, is iets wat haar skuldig meerderwaardig laat voel. Sy behoort nie so in haar skik te wees nie, maar sy is.
Sy maak keel skoon, lek oor haar lippe en stap in die gang af tot sy voor sy kamer staan.
“Moet asseblief nie laat wees nie,” het sy agent gemaan. “Meneer Rosner is baie besig met die repetisies van sy nuwe prent en kan eintlik nie die uur afstaan nie.”
Sy trek aan haar romp, vee enige los hare van haar voorkop weg en op die kop elfuur klop sy aan die deur.
“Binne,” sê ’n stem en sy haal vir oulaas diep asem, begin solank glimlag en druk die deur oop.
“Goeiemôre,” sê sy en steek haar hand uit. “Ek is Alicia Conradie van die . . .”
Hy skud haar hand dat sy die vingerbeentjies teen mekaar voel knars. “Sit,” sê hy en wys na ’n stoel.
Sy gaan sit, haar knieë netjies bymekaar omdat haar rompie nogal kort is. Sy haal ’n pen uit en slaan die notaboek oop op haar knieë. Haar hand pyn so dat dit nie maklik is om die glimlag in stand te hou nie, maar sy doen haar bes.
“Ek waardeer dit dat u in u besige program tog tyd kon inruim vir hierdie onderhoud,” sê sy.
Hy antwoord nie, maar val in die leunstoel oorkant haar neer, sy lang bene uitgestrek voor hom, sy hande in die sakke van sy jeans. Hy dra ’n wit hemp en ’n dun grysblou trui. Sy vind dit vreemd op so ’n warm dag, maar besef vinnig hoekom hy dit aanhet. Die lugverkoeling in die kamer is ysig, sy voel hoe haar kaal arms begin saamtrek in hoendervleis.
“E . . .” sê sy en kyk af na die lys vrae in haar notaboek. “U is hier vir die verfilming van . . .”
“Ja,” val hy haar in die rede, sy stem so koel soos die lug.
“En is u opgewonde daaroor?”
Sy nogal onverbiddelike swart wenkbroue lig ’n fraksie. “Opgewonde? Waarom op aarde sal ek opgewonde wees? Dis my werk.”
Sy hou haar glimlag in posisie al is dit nie meer maklik nie. “Jammer, dis miskien swak gestel. Sien u uit na die rol wat u gaan speel?”
“Dis my werk,” herhaal hy stroef.
Sy laat vaar die glimlag. “Dis tog ’n nuwe uitdaging,” sê sy. “Elke nuwe rol wat u speel, is tog iets heeltemal anders. Dis juis een van die aspekte wat kritici aanspreek; die feit dat u nie in stereotipes verval nie. In die televisiereeks was u ’n Boererebel en het daarvoor groot lof gekry en nou speel u die rol van ’n geestesversteurde in . . .”
“Dis my werk,” sê hy vir die derde keer. “Vanselfsprekend is elke karakter anders as die vorige.”
Sy maak ’n kuggeluidjie in haar keel. “Miskien moet ons by u kinderdae begin. Wou u altyd akteur word?”
“Nee,” sê hy. “Wou jy?”
Sy is heeltemal uit die veld geslaan. “Ek?” vra sy in ’n stem wat meer na ’n piepgeluid klink. “Waarom sou ek?”
“Presies. Waarom sou ek?”
“Wat wou jy dan word?” vra sy, nou vies genoeg om die hoflike aanspreekvorm te laat vaar.
“’n Brandweerman, ’n enjindrywer, ’n boer.”
“Soos alle klein seuntjies,” terg sy.
Sy gesig bly strak, hy haal net sy skouers effens op.
“Jy het op ’n plaas grootgeword,” sê sy.
“Ja, en jy?”
“Wel, ja, om die waarheid te sê, het ek, maar dis regtig nie relevant nie.”
“Ek kan nie méér saamstem nie.”
Dis nou haar beurt om ’n wenkbrou te lig. “Is my vrae oor jou kinderdae nie relevant nie? Is dit wat jy vir my wil sê?”
Hy haal sy skouers op.
“Vir lesers is dit,” sê sy. “Hulle wil graag weet waar jy vandaan kom, waar jy grootgeword het, wanneer jy besluit het om ’n akteur te word. Sulke soort inligting.”
“Maak dit van my ’n beter akteur? Dink jy ek het resitasies opgesê tussen die skape?”
“Dis nie wat ek gesê het nie!”
“Maar dis wat in jou tydskrif sal staan.” Hy kyk op na die plafon. “Tussen die rante van sy geboorteplaas het hy vir die eerste keer besef hy wil akteur word. Die onverstoorde veld en rustigheid van die landelike omgewing het hom laat besef . . .”
“Onsin,” sê sy skerp. “Ek‘t op die Vrystaatse vlaktes grootgeword en dit het niks te doen met die feit dat ek nou skryf nie.”
“A,” sê hy. “Dan is ons dit eens.”
Sy blaas haar asem stadig uit en kyk af na haar aantekeninge. “Jy’s die oudste van drie kinders.”
“En jy?”
“Dis net ek en my suster,” antwoord sy voor sy haar kan keer.
“Dis