'n Kwessie van tegniek. Christine le Roux

'n Kwessie van tegniek - Christine le Roux


Скачать книгу
mens, die gesin voltallig, pa, ma en kinders. Daar is niks, ek herhaal: níks stiefs omtrent haar nie. Sy is ons ma.”

      “Goed,” gee sy toe. “Maar dit moet ’n invloed op jou gehad het.”

      “Leef jou ouers nog?” vra hy aanvallend.

      “Ja. Albei.”

      “Sou dit jou beïnvloed het as jy jou ma verloor het toe jy ses was?”

      “Natuurlik.” Sy ril by die blote gedagte.

      “Waarom vra jy dan sulke onsinnige vrae?”

      Sy klem haar tande opmekaar. “Ek vra nie hierdie vrae omdat ék noodwendig wil weet nie; ek vra die soort vrae waarin lesers belang sal stel.”

      Sy stem word ’n paar grade kouer, as dit moontlik is. “Sodat hulle hulle tonge kan klik en sê: ‘Ag, foei tog, arme man’?”

      “Nie noodwendig nie.”

      “Wat dan?”

      Sy is baie lus om op te staan en te loop, maar Marianne sal nie bly wees nie. Marianne het ’n tydskrif wat in die pers moet kom, die buiteblad gaan ’n foto van hierdie knorrige man op hê en duisende lesers gaan dit koop om meer omtrent hom te lees.

      “Jou kinderdae was dus onbelangrik,” sê sy. “Dit het geen invloed op jou latere loopbaan gehad nie. Mag ek weet wanneer jy wel besluit het om ’n akteur te word?”

      “Op universiteit. Wanneer het jy besluit om ’n joernalis te word?”

      “In matriek.”

      “Hoekom?”

      “Dit het my aangestaan. Ek het nie kans gesien vir ’n vervelige werk agter ’n lessenaar nie. Ek hou van die afwisseling en die gevoel van deel wees van alles wat . . .” Sy bly stil. “Ons praat nie oor my nie.”

      Hy kyk op sy horlosie en sug, dan staan hy op, maak die yskassie wat in die buffet ingebou is, oop en staar na die inhoud. “Wil jy ’n koeldrank hê? Ek kan kamerdiens bel en vra vir tee of koffie, maar dit sal te lank neem, en teen die tyd dat dit hier kom, is jy al weg.”

      “Koeldrank is goed,” sê sy styf.

      Hy haal twee blikkies uit, maak hulle oop en gooi die inhoud skuimend in twee glase.

      “Dankie,” sê sy toe sy die glas by hom vat. Sy drink ’n sluk en kyk af na die skoon bladsye waarop sy nog niks geskryf het nie. “Jy het op universiteit jou eerste groot rol gehad.”

      “Ja.”

      “En twee jaar later reeds in ’n belangrike reeks op televisie.”

      “Ja.”

      “Wat verkies jy, televisie of die groot skerm?”

      “Dis om ’t ewe.”

      “Sommige akteurs sê hulle hou meer van televisie, daar is meer kontinuïteit en . . .”

      “Elkeen het sy eie uitdagings,” sê hy verveeld.

      “Het jy spesiaal voorberei vir hierdie rol wat jy nou gaan speel? Om ’n geknakte mens te speel, is . . .”

      “Ek berei altyd voor.”

      “Vanselfsprekend, ja, maar hierdie rol is tog iets anders en . . .”

      Hy kyk na haar oor die rand van sy glas. “Het jy spesiaal voorberei vir hierdie onderhoud?”

      “Nee,” sê sy bitsig.

      “Waar kry jy dan al die inligting vandaan? Oor my kinderdae en my pa?”

      “Marianne het dit vir my gegee. Die redaktrise.”

      “Ek sien. Die afgerolde CV.”

      “Presies.”

      “Dan hét jy mos al die inligting? Waarom was dit nodig om my tyd te mors?”

      Sy is nou so kwaad dat sy met moeite praat. “Marianne het gedink die lesers stel belang in meer as net die afgerolde CV.”

      “Die man agter die akteur?” vra hy en sy donker stem is selfs donkerder van die sarkasme. “Die regte André Rosner?”

      “Persoonlik,” sê sy geselserig, “dink ek nie daar is iemand agter die akteur nie. Ek dink die akteur is al wat daar is.”

      Daar is ’n vinnige glimming in sy oë, maar dis weg voor sy kan besluit wat dit beteken.

      “Ja,” gaan sy voort. “Daar is geen ‘regte’ André Rosner nie. Ander akteurs wat ek al ontmoet het, is gevlei as ’n mens ’n onderhoud met hulle wil voer. Hulle is bly dat soveel mense van hulle hou, dat hulle so gewild of geliefd is onder die mense. Hulle is selfs deemoedig, dankbaar. Hulle skryf hulle sukses toe aan ander faktore, ander mense of invloede en hulle is dankbaar daaroor. Bly om erkenning te gee waar nodig. Hulle sit nie hoogmoedig en arrogant die joernaliste en tart nie.”

      “Inderdaad,” sê hy en kyk weer na sy horlosie. Hy drink sy glas leeg en sit dit hard op die tafeltjie langs hom neer. “Miskien het hulle minder bloutjies geloop. Miskien het hulle onderhoude toegestaan en is hulle woorde inderdaad korrek weergegee. Miskien is daar nie in hulle privaat lewe gekrap nie.”

      “Ek het nie in jou privaat lewe gekrap nie!”

      “Nee,” antwoord hy, “maar kyk weer ’n slag na jou voorbereide vrae. Is die volgende een nie: ‘Waarom is u nog nie getroud nie, meneer Rosner? Is dit waar dat u ’n lang verhouding gehad het met juffrou X en dat dit in bitterheid ondergegaan het?’”

      Sy byt op haar lip. Dit staan byna net so in haar aantekeninge.

      “Ek is reg,” sê hy tevrede. “En in elke onderhoud word meer onwaarhede gepubliseer, bou julle voort op die mite. Ek is ’n ongenaakbare man wat net op die filmdoek lewend kan word of ware emosie kan uitbeeld. Ek was nog nooit getroud nie, is nie in ’n verhouding met een of ander sekskatjie wat my naam in die nuus kan hou nie. Glo my, juffrou . . . e . . .”

      “Conradie.”

      “Daar is niks wat jy kan uitdink wat nog nie geskryf is nie. Ek was al ’n enkelkind, een van vyf, ’n weeskind, ’n verstote kind. Ek kan net met die natuur kommunikeer omdat ek toevallig op ’n plaas grootgeword het, ek kan glad nie kommunikeer nie omdat ek op ’n plaas grootgeword het. Ek hou meer van koffie as tee, ek hou meer van rockmusiek as klassieke musiek.” Hy gooi sy hande in die lug. “Wat maak dit saak? Gee die lesers regtig om? Sou ek ’n ander mens gewees het of ’n beter akteur as ek tee verkies het?”

      “Ek weet regtig nie,” sê sy en staan op. “Ek kan nie namens die lesers praat nie, maar wat myself betref, gee ek nie ’n hel om nie. Jy kan gif drink vir al wat ek omgee. Of ’n satanis wees. Dis net dat mense jou bewonder. Hulle vind jou ’n uitsonderlik begaafde akteur, iemand wat in watse rol ook al die mense kan boei en roer. Waarom dit so is, weet ek nie. Om die waarheid te sê, vind ek dit onsinnig. As hulle moet weet watse mens jy regtig is, sal hulle nie die geld uitgee vir ’n kaartjie nie.” Sy begin opwarm. “Nee, genugtig,” sê sy. “Met die hoë lewenskoste is daar baie goed wat mense eerder kan koop. Jy kan ’n hele paar brode koop met die geld van een fliekkaartjie. Selfs ’n klein stukkie vleis. Ja, ’n lekker steak kos omtrent dieselfde as jy dit in die supermark koop en self by die huis gaan gaarmaak. En jy kan ’n hele paar tydskrifte koop met die geld. Tydskrifte wat jou vir baie ure kan besig hou en vermaak. Waarin jy kan lees van gawer mense as hierdie een arrogante akteur.”

      Die glimming is terug in sy oë. “Presies,” stem hy saam.

      “En as almal so voel,” gaan sy voort, “sal jy nie meer werk hê nie. Regisseurs sal jou vermy. ‘Nee, genade,’ sal hulle sê. ‘Dié Rosner-man is die ondergang van enige produksie. Mense koop liewer steak as ’n kaartjie na een van sy films.’”

      “Absoluut,” sê hy. “Vleis is buitendien gesonder as sit in ’n donker bioskoop.”

      “Mag ek jou aanhaal,


Скачать книгу