'n Kwessie van tegniek. Christine le Roux

'n Kwessie van tegniek - Christine le Roux


Скачать книгу
oop en druk die ongebruikte pen hardhandig tussen die ander rommel in. “Dankie vir die koeldrank. En jou tyd.”

      “Dit was ’n plesier.”

      Sy staar na hom. Hy het ook opgestaan en beweeg in die rigting van die deur om dit vir haar oop te maak. Sy dik, donker hare, vroeg al grys gespikkel, val oor sy voorkop en sy gesig wys niks nie. Is hy sarkasties of is hy wraggies opreg? Het hy haar heeltyd sit en uittart?

      “Sukses met jou loopbaan,” sê hy beleef by die deur.

      “Dankie,” sê sy. “Ek sou jou graag dieselfde wou toewens, maar op hierdie oomblik kan ek dit nie oor my hart kry nie.”

      “Begryplik,” sê hy simpatiek.

      Sy gooi haar handsak oor haar skouer, lig haar kop hoog en ignoreer sy uitgestrekte hand, maar sy is seker hy kyk haar agterna tot sy by die hysbak instap.

      Hoofstuk 2

      Dit was vier jaar gelede.

      Daardie dag het Alicia so siedend kwaad teruggery kantoor toe dat sy nou nog wonder hoe sy daar gekom het sonder om ’n ongeluk te maak.

      Die ander meisies het om haar gekoek toe sy by haar kantoor instorm.

      “Oe, hoe was dit?”

      “Gelukkige vrou, was jy regtig alleen saam met hom in ’n kamer?”

      “Is hy in die vlees so lieflik soos op die skerm?”

      Sy het nie geantwoord nie, maar agter haar rekenaar gaan sit en tik dat die blou vlamme tussen die sleutels uitslaan.

      “Alicia. Vriendin,” het Marianne gesê ná sy haar ingeroep het. “Jy dink nie regtig ek kan hierdie stuk publiseer nie?”

      “Hoekom nie? Dis die waarheid.”

      Marianne het gesug. “Dis ’n vrouetydskrif dié. Vroue dink André Rosner is reguit uit die hemel uit.”

      “Hy is nie. Glo my vry, hy is nie.”

      Marianne het haar hand in die lug gehou. “Wag nou, wag nou. Dis duidelik julle twee het nie gekliek nie, maar dit . . .”

      “Nie gekliek nie?” Alicia het histeries gelag. “Daar is niks om te kliek nie. As ons lesers maar weet waarmee hulle te doen het! Soveel hoogmoed, soveel arrogansie, soveel . . .”

      Marianne het afgekyk na die papier voor haar. “Goed, goed, maar jy het nie een enkele feit omtrent hom gegee nie. Niks nuuts, niks wat hom aan ons lesers bekend kan stel nie.”

      “Hy het geen feite gegee nie! Elke vraag wat ek gevra het, is teruggegooi met ’n wedervraag of sarkastiese opmerking.”

      “Miskien het jy hom net op ’n slegte dag getref.”

      Alicia se lag het harder geword. “Marianne, hy hét nie goeie dae nie. Hy beantwoord nie vrae nie, hy gee nie inligting omtrent homself nie. Ek dink die kanse is veel beter dat hy ’n artikel oor my kan skryf as andersom. Ek het meer vrae beantwoord as hy.”

      Marianne het gesug. Op die ou end het die artikel verskyn met baie foto’s en die yl gegewens. Die gewone biografiese feite wat algemeen bekend was. En Alicia se naam was nie by die artikel nie.

      Die film waarin André Rosner gespeel het, is met die gewone kritiese lof ontvang, almal het van voor af gejubel oor sy talent en Alicia het dit suutjies een middag op haar eie gaan sien. Daarna was sy nog kwater. Sy wou hom kritiseer. Sy wou uitloop en vir almal sê: “Sien? Ek het julle gesê hy is meer bek as binnegoed. Ek het geweet een of ander tyd gaan hy tot ’n val kom.”

      Maar sy kon nie. Hy was meesterlik. Hy het weer eens die karakter geword, kon met sy wroegende donker oë die fynste nuanse uitbeeld, het sonder enige teatrale of goedkoop truuks die gehoor gevange geneem en geboei tot die einde.

      Sy het besluit sy sal nie weer na een van sy films gaan kyk nie, en asof hy dit geweet het en haar nog ’n keer vir oulaas wou kwaad maak, het hy sy rug op films gedraai en net in teaterstukke opgetree; dikwels obskure klein dramas wat voor klein gehore gespeel het.

      Dit was ook nie asof sy heeltyd aan hom gedink het nie, daarvoor was haar lewe vol genoeg. Sy het besluit om te kyk of sy as vryskut ’n bestaan kan maak en dit reggekry. Die hoofrede hiervoor was omdat sy ’n storie in haar kop gekry het. In die motor of saans voor sy aan die slaap geraak het, het sy die storie uitgedink.

      Dit sou heel waarskynlik nooit verder gekom het as sy nie een aand na Marianne genooi was vir ’n braaivleis nie. Die ander gaste was hoofsaaklik joernaliste of mense betrokke by die uitgewersbedryf, maar Zach de Groen, die bekende regisseur, was ook daar en toevallig het Alicia langs hom gaan sit toe hulle begin eet het.

      Zach was ’n groot man in alle opsigte. Lank en breed gebou, ’n maag wat oor sy broek hang, ’n dik bos hare en ’n grys baard. Alicia was aanvanklik bietjie geïntimideer deur hom, maar kort voor lank het hulle gesels asof hulle ou vriende was. Hy was ’n gemaklike man sonder fiemies, nie hooghartig of op enige manier beïndruk met sy posisie of reputasie nie. Teen die tyd dat hulle poeding geëet het, het Alicia hom vertel van die storie in haar kop.

      “Ek sou dit al neergeskryf het,” het sy erken. “As ek net geweet het in watter vorm. Soms dink ek ek moet ’n roman probeer skryf, maar ek dink nie ek het die geduld of talent nie. Ek sien net mense en wat hulle sê, ek kan my nie moeg maak met lang beskrywings nie. Miskien ’n toneelstuk.”

      “Wat van ’n draaiboek?”

      Sy moes lag. “Ek sal nie weet waar om te begin nie! Ek is net ’n joernalis.”

      “Jy kan leer,” het hy gesê en aan die kromsteelpyp wat byna nooit uit sy mond is nie, gesuig. “Dis net ’n tegniek. Vertel my jou storie.”

      Die meeste mense was al huis toe en dit het buite op die stoep begin koud word toe hulle nog praat. Alicia het verwag hy sou lag vir haar storie of net bloot beleef daarna luister. Iemand in sy soort werk hoor seker gedurig van mense wat dink hulle het net die storie vir hom. Maar hy het haar die indruk gegee dat hy regtig belangstel, dat hy regtig dink haar storie het moontlikhede.

      “Skryf dit vir my neer,” het hy gesê toe hulle uiteindelik groet. “En van daar af kan ons begin werk.”

      Dit het haar ’n paar jaar gevat. Om mee te begin, kon sy nie dag na dag sit en skryf nie, sy moes haar brood verdien en agter ander stories aanry om verslag te doen. Maar die rowwe buitelyne wat sy skamerig vir Zach gegee het, het stadig verander in ’n nog rowwer draaiboek wat oor en oor geskryf en herskryf en weer geskryf is. Sy was later soos ’n kind in die De Groen-huishouding. Die honde, groot en wollerig soos hulle baas, het nie meer vir haar geblaf nie; Jenna, Zach se goedige vrou, was soos ’n tweede ma. Sy het koppies tee aangedra as Alicia en Zach sit en stry oor ’n karakter of gebeure in die storie, sy het elke weergawe gelees en haar eie opinie gegee al wou hulle dit nie altyd hoor nie.

      Maar die draaiboek het vorm begin aanneem en uiteindelik almal se goedkeuring weggedra. Die produksiemaatskappy was opgewonde oor die projek en die wiele het begin rol vir die verfilming daarvan. Uit die aard van die saak het Alicia minder tyd vir suiwer joernalistieke werk gehad en sonder dat hulle dit agtergekom het, het sy al hoe meer werk gedoen vir Zach en die produksiemaatskappy. Toe hulle haar ’n pos aangebied het as assistent vir Zach was dit byna ’n logiese opvolging van wat sy buitendien gedoen het.

      “Dis ’n goeie idee,” het Zach gesê. “Met die skrywer op die stel kan ons tyd spaar, want mens verander tog gedurig aan die teks.”

      “En skrywers word altyd so kwaad vir hom,” het Jenna ingegooi. “Hulle is soos ma’s met babas, wil nie dat mense met hulle skeppings lol nie. Dis hulle s’n en soos hulle dit gemaak het, moet dit bly. Jy en Zach baklei nou al so lank oor elke woord dat ek reken julle moet mekaar verstaan.”

      Dit was waar. Alicia het gevoel sy en Zach verstaan mekaar. Baklei is nie die regte woord nie, hulle redeneer bloot tot hulle saamstem. Daarby moes sy erken dat sy die hele projek baie opwindend vind. Dat haar storie iets geword het, is klaar rede tot blydskap; dat


Скачать книгу