Ingrid Jonker Versamelde Werke. Ingrid Jonker
Hul het my uitgekies en ingetroon
tot hierdie tronk waarin ek woon
waarom hul daagliks, vry nog, gaan
en nie my stom kreet kan verstaan
’n Eerste Prys hang om my nek
maar saans verlang ek halfpad gek
terug na die kudde, weg van hul lof
na die Karoo-veld en die stof
waar ek nog trots teen die aandwind staan
een van die duisende sonder naam,
Sonder die juk van die roem of die dors
en die Eerste Prys op my bors.
Gabriël
Jy daal deur dakke, skoorstene en krotte
en skrik my skielik op uit teruggetrokke
drome, uit die vergeefse en geheime klug
Jy ruk my tot jou dooie liggaam terug.
Ek kon in die vertedering versink
eerdat jy my berekenend vermink
want vroom sing jy vir my ’n sagte lied
maar in jou hande hou jy my verdriet.
Jy is die skaduwee, die nag wat dros
Jy is die spook, jy is die tokkelos!
Jy het vir my gesterf . . .
Jy het vir my gesterf sonder my wete
sodat ek jare met gevoude hande en gebede
en preutse oë op ’n herontmoeting hoop
(nog smiddags angeliere vir die woonstel koop)
en my verbeel ek sien in neon-lig
die wit en blou patroon van jou gesig.
Nou weet ek jy is dood en alle bande
geknip met ’n stomp skêr in sagte hande –
die flenters van ons liefde lê verspot
onbruikbaar, vormloos en sonder God
Nou weet ek jy is dood en al my lof
verminder daagliks oor die gruis en stof.
Die onverkrygbare
Met erkenning aan M.R.
Ek koop ’n rok van crêpe-de-chine
met vingers op die tikmasjien
Met goeie kos en ligte dop
sal iemand gou as vriend ontpop
Met verse oor die graf en stof
koop ek vir my ’n rantsoen lof
Jou liefde kan ek myne noem
met mooimaakgoed en warm soen
Kon ek verkry met geld en spel
die wyster wat die ure tel!
Fragment
Om nege-dertig het ek jou ontmoet
en volgens voorbepaling met die hand gegroet
Wit was die buislig-stilte op die gruis
Geslote in verdriet reeds elke huis.
Die yl gekantel van ’n rafelende wolk
het jou gedagtes soos ’n stem vertolk:
By ons ontmoeting het jy reeds geweet –
Diep in jou oë het jou hart gebreek.
Die waarsegster
“Hier stort ’n bos swart hare uit
die klein kristal waarom jou lewe sluit.”
Haar kamer is ’n rooi en swart papawer
Haar vingers dobbel met die boer van klawer.
Haar oë is ’n diep poel wat verys
waarin my lewe strak en klaar verrys:
Sy ken my as die afgetrokke kind
van Gordonsbaai se see en branderwind
Sy ken my in Die Strand en Riversdal
Soos skilderye is my dae uitgestal.
“Ek sal jou sê wat jy moet doen
wanneer die swartkop hom met jou versoen!”
Die vlerkslag van haar bode op sy vlug
keer uit die nagstad na haar terug
Uit hande witgepoeier val
die blink vuur van die klein kristal,
Haar oë het ’n wilde kolk geword
waarin my eie lewe skuim en stort
Toe weet ek dat sy jou as mens begeer
wat flikkerend uit die klawerkaarte keer
Sal sy my nou langs agterstrate lei,
’n donker skadu tussen jou en my?
Sal sy my langs ompaaie na jou stuur
Sal ek my vasloop in ’n baksteenmuur?
Die tydelose kamer rooi en swart
berei die onheil van my hart
En sy wat glimlag en gelate roem:
“Die swartkop sal hom nog met jou versoen.”
Die blommeverkoopster
Toe ek my pap gaan eet was almal daar
en het my stroef-venynig aangestaar
Minder as reg! Hul moes die deeg
self knie en boonop handgee met die kreef
terwyl die oudste heerlik lê en slaap
selfs by die papbord nog sit droom en gaap
“Maar se’ jy afdek!” Buite die ruite dwaal
die stad se honger kinders koud en kaal.
“As jy vandag jou blomme gaan verkoop
kyk hoe jy jou gedra en hoe jy loop.
Hul kan armoede aan jou hande voel
Maar jy’s ordentlik . . . weet wat ek bedoel?”
Ek sal my blomme neem en deur die agterstraat
die kortpad vat – dit is al laat.
Troostelose agterstraat wat om my slaan
waarlangs my susters en my broers laggend gaan.
Hoe roer die koel kalkoentjies tog vanmôre weer
in my ’n geesdrif, onuitspreeklik teer.
“Mooi kalkoentjies!” Blou oë van ’n stadsheer
Blou oë . . . blou . . . “Wil u ’n bossie koop, meneer?”
In ander dae was sy glimlag vir my saans
soos ’n skoon huisie met ’n tuin daarlangs.
’n Bossie kalkoentjies! En ek van die krot
by die opwas en afdroog sal lag soos ’n god
by die blommepluk saans, die aflos, die ete
was hy in my hart die volmaaktheid, die wete
van skoonheid, meneer met die oë van gister,
meneer