Ingrid Jonker Versamelde Werke. Ingrid Jonker
en digter
my toevou en grens tot geen andere meer
kan bestaan in die son-dag waarin ek verkeer
“Maar se’ jy afdek?” “Nee, ek is ’n dame . . . Sagter
Aia . . . Hier laat ek die agterstraat agter.”
Meneer met ontwaakte blou oë wat staar
het jy die nooi met die rooi hoed gewaar?
Dit is ek . . . deftig en viets
wat die dames en here met my bruin oë piets.
Jy hou van die nooi met die windmaker-gees
wat die krag van jou manlikheid uittart en lees
Jy hou van die nooi met die “lewensuitkyk”
jy hou van die “siel” wat jou “siel” sal verryk . . .
Eerste groet, eerste kus, eerste skande
Verraad van jou hart en jou dierbare hande
En met die verraad van die heilige skoot
vloei my lewe terug in die roet van die dood.
Lied van die lappop
Ek is die lappop wat nie praat
en maak net op jou liefde staat
Saans lê ek blind en stil en doof
en lig nie meer my semel-hoof
My hande roer nie en my lyf
word met jou weggaan koud en styf
Sonder jou hulp kan ek nie loop:
jy het my sommerso gekoop
en sal my nog een Guy Fawkes-nag
goedsmoeds verbrand en daaroor lag.
Ek is die lappop sonder gees
My pyn jou luid gevierde fees.
Dubbelspel
Ons dubbelspel het my vermaak,
die kierang-speel, die knikkop-praat.
Die een spieël in my kamer was
blink-glad, die ander een gebars.
Jy dink maar, god-mens, jy het my deurgrond;
ek sal jou so verwar en so verwond
dat jy van spieël tot spieël sal draf en wonder:
as hierdie sy is, God, wie is die ander . . .?
Met klei en kryt . . .
Met klei en kryt in die skool het ek
astrante beelde en versies verwek
maar saans soek ek in allenigheid rond
soos na enkele froetangs wat swel in die grond
na die meid met die kopdoek, die koffie, die lag
selfs die hond wat dalk op die agterstoep wag
en vrees ek die maan wat glans deur die wind
en die dartelende keps van die tokkelos-kind!
Die beeldhouer
Aan F. Cuairan
As die aand half-blind in skitterligte daal
en skadu’s uit die klip en beitels haal:
skep ek en word ek die lyf van ’n bul
verwoed uit sy kos en sy lêplek gekul
en stamp teen die deur, die klei en die rots
en snork as ek teen die staalwerwels bots
en hyg opgesluit in die engte van mure
en bars teen die gips van die woekerende ure.
En wanneer ek stil teen ’n kruishout word
is ék die verlange en die hande van God
die Seun van die mens en die oë wat breek
en bloei ek wit as die dolk in my steek
en het ek gesterf, verwond en vermink
met my kroon en my vrees in die aarde gesink.
Maar ontwaak ek later as ’n seuntjie wat lag
oor wit sande in aande huppelend draf
uitgespoel deur die see, een lyf met die wier
en bamboes wat slinger en water wat tier,
verstrak ek in marmer vol verwagting en wink
as die aandklokke wyd oor die branders rinkink.
Uitgeput op my bed word ek mens in die nag
Cuairan weergebore wat eet en wat lag
wat bad en wat aantrek en lippe aanraak
jubelend en suiwer en byna volmaak
wat slaap in die roes van die maan teen die ruit
– die deure en vensters en hortjies gesluit.
Ontwaking
Toe ek getoor is uit die slaap en wag
op die wit bruidsluier van die dag
vlug ek reeds om die hoeke van Langstraat
koop ek koerant, drink koffie en praat
oor partypolitiek, vermy lastige vrae
en breek in die fluite en motors en vlae
en byt koppig teen die grys uitgediende
bourgeois-kritiek van familie en vriende.
Opdrag
Wees jy die pad waarlangs ek weer
kaalvoet oor die dubbeldorings loop
na waar die varing en die varkblom bloei
– die gousblom kranse oor die velde knoop . . .
Die brand
Naarstiglik in my kamer soek ek nog
na branders, krappe en die kindervers
die ou portret, die stofpad na die see
– die stad brand onder ’n papierkombers.
Ontnugtering
Laat hulle spot!
Die dag roer uit sy papie
Die kuiken uit sy dop
Die slaap roer uit my wese
Ek wou die wêreld fop:
Ek wou my aan hul voorstel
As ’n klein rooiwang-pop.
Met hierdie oggend is ek uit
My kierang en my rok:
Nou het hul my ontsyfer
en staan ek voor hul op
As die verwronge digter
Laat hulle spot!
Ek het gedink . . .
Ek het gedink dat ek jou kon vergeet,
en in die sagte nag alleen kon slaap,
maar in my eenvoud het ek nie geweet
dat ek met elke windvlaag sou ontwaak:
Dat ek die ligte trilling van jou hand
weer oor my sluimerende hals sou