Slagyster. Rudie van Rensburg

Slagyster - Rudie van Rensburg


Скачать книгу
hulle mekaar begin uitmoor. Solank hulle net nie op ons losbrand nie,” sê Kiernan.

      “Toe maar, lewendig is ons vir hulle baie meer werd. ADC moes ’n hoop geld opdok om my die eerste keer los te kry,” sê Williams.

      Williams werk vir die Axo Drilling Company, ’n Britse maatskappy wat baie werknemers op die Nigeriese olievelde in diens het. Volgens hom is daar die afgelope jaar al agt van dié maatskappy se werknemers ontvoer. Almal is later ongedeerd vrygelaat.

      “Hoe lank is jy die eerste keer aangehou?” vra Ryan.

      “Drie dae.” Williams haal sy skouers op en beduie na sy kollega, Davison, ’n Amerikaner wat saam met hom in die kroeg in Onne oorval is. “Nugter alleen weet hoekom ons nou al twee weke hier sit.”

      “Vier van my kollegas is ’n tyd terug in die Bonga-olieveld op die oop see ontvoer. Hulle is ook nog nie vrygelaat nie,” sê Ryan met ’n frons.

      “Dis Mend se jagveld daai. Hulle val met bote aan.”

      “Ja, ’n gevaarlike spul.”

      “Hulle is die magtigste milisiegroep. Noem hulleself die Beweging vir die Bevryding van die Niger-rivierdelta. Hulle het my die eerste keer ontvoer.” Williams skud sy kop. “Maar wie die spul is wat ons nou aanhou, weet ek nie. Ek twyfel of hulle van Mend is.”

      “Ashwell Lewis, ’n kennis van my, is dood nadat Mend hom ontvoer het,” sê Donald. Hy lyk bleek en afgerem.

      “Lewis … Ja, ek onthou daai voorval. Dit was toe Nigeriese troepe die gyselaars wou red. Hy is in kruisvuur doodgeskiet. Maar sover ek weet, is dit die enigste gyselaar wat dood is tot op datum.”

      “Dis maar ’n donnerse yl troos,” prewel Donald, ’n kettingroker wat elke nou en dan in sy hempsak voel vir sigarette en dan onthou hy het lankal sy pakkie uitgeput. Toe hy weer vat-vat aan sy sak, bied Ryan vir hom sy laaste Camel Light aan.

      “Kry maar vir jou. Ek het my vrou belowe ek gaan ophou rook.”

      Donald steek die sigaret met bewende vingers aan en suig gulsig daaraan, sy wange hol soos hy rook intrek.

      “Kry ons net een maaltyd op ’n dag?” vra Kiernan en vryf oor sy ronde maag. “Ek kan nou ’n bees verslind.” Hulle moes vanmiddag ’n halwe wit brood in vyf verdeel. Vanoggend het hulle net water gekry. Die vorige dag het Ryan-hulle etlike kilometers sonder kos deur die moeras afgelê en eers gisteraand laat by die kamp aangekom.

      “Nee, in die aande word jy getrakteer op bokafval en ou brood,” sê Williams. “Met brak rivierwater om dit mee af te sluk. Aan die begin kon ek en Davo die afval nie in ons lywe kry nie, maar die afgelope week wurg ons dit maar af. Dit word nooit goed gewas voor dit gekook word nie. Jy moet maar net jou neus toedruk en sluk. Dat ons nog nie siek geword het nie, is ’n bleddie wonderwerk.”

      Ryan gaan sit kruisbeen op een van die vuil matrasse op die grys turf, sy rug teen die bamboesheining van die kamp waarin hulle aangehou word. Die vorige nag se min slaap sorg vir ’n dowwe geklop in sy kop, sy voorkop gloei soos kole. ’n Moegheid omvou hom, maar hy weet hy sal nie nou kan slaap nie. Hy vryf oor sy ongeskeerde wang en die bulte waar die muskiete hom bygekom het. Hy is heeltyd bewus van die stank van hul toilet, ’n gat in die grond in een hoek waar brommers en vlieë in ’n donker wolk saamkoek. Sy lyf ruik ook suur. Wat sal hy nie nou gee vir ’n koekie seep en ’n warm stort nie!

      Hy dink aan Lea en die kinders. Hoe hanteer sy vrou sy ontvoering? Hy is darem seker Amelia en hul bure sal haar goed ondersteun. Lea is ’n fynbesnaarde mens. Sy gaan sukkel. As hy net ’n boodskap by haar en die tweeling kon uitkry.

      Sy oë begin traan toe hy aan sy dogters dink. Hulle raak nou groot, tieners het ’n pa nodig. Hy sal sy prioriteite weer in oënskou moet neem. Tot nog toe het dit vir hom net oor geld, ’n luukse huis en blink karre gegaan. Dit was die groot rede hoekom hy die pos in Nigerië aanvaar het. Of dit die moeite werd was … Wel, hier sit hy. Geld gaan nie die angs verlig waaraan hy sy gesin blootgestel het nie.

      Sy gedagtes word onderbreek deur ’n sleutel wat in die verroeste sinkdeur draai. Vier rebelle kom kletsend in. Een dra ’n emmer water, een knyp twee brode onder sy arm vas en ’n derde een sit ’n skottel met vleis op die grond neer, wat Ryan dadelik aan die reuk eien as die bokafval waarna Williams vroeër verwys het. Die klank daarvan verswelg dié van hul toilet vir ’n wyle. Selfs die vlieë swerm soontoe.

      Die vierde rebel is gewapen met ’n AK47. Die kolf van ’n rewolwer steek by een van sy broeksakke uit. Hy kyk met kraalogies na hulle en spoeg op die grond.

      “Wanneer kry ons vir ’n verandering iets anders om te eet?” spreek Williams die gewapende rebel met ’n glimlag aan. “Steak en chips sal nou goed afgaan.”

      Die man kyk met ’n frons na hom. Sy oë is bloedbelope. “Met wie dink jy praat jy?” vra hy strydlustig in geradbraakte Engels.

      Williams se blik verstar. Hy beduie met sy hand. “Jammer, dit was net ’n grappie.”

      Die man mompel iets in sy eie taal, gee sy AK47 vir een van sy handlangers en haal die rewolwer stadig uit sy sak. Hy stap met ’n strak gesig na Williams, draai die wapen se trommel ’n paar keer met sy vingers, lig die rewolwer op en druk die loop hard teen sy voorkop.

      Die Wallieser se oë is angsbevange en groot geskrik, hy steek sy hande in die lug. “Jammer, jammer, ek vra om verskoning!”

      Ryan sien hoe die rebel se vinger om die sneller krul. Nie een van die gyselaars waag dit om iets te sê nie en hulle hou met afgryse die man se snellervinger dop.

      Toe hy die sneller trek, ruk Williams sy kop wild weg, sy oë toegeklem. Die rewolwer maak net ’n klikgeluid, daar is nie ’n patroon in die kamer nie. Die man klap die trommel van die rewolwer met ’n geoefende hand oop, wys smalend vir die verskrikte Williams en die ander gyselaars daar is patrone in drie van die kamers.

      Hy grynslag. “Dit was jou gelukkige dag. Moenie weer met my grappies maak nie. Ek is mal oor Russiese roulette.” Hy knipoog vir Williams voor hy die rewolwer in sy broeksak terugdruk.

      Met die uitstap skop hy die emmer water om.

      Toe die rebelle laggend by die sinkdeur uit verdwyn, gooi Donald op oor een van die matrasse.

      Williams huil saggies, sy hande voor sy gesig geklem. “Liewe Jesus,” is al wat hy oor en oor prewel.

      8

      Die ander twee se voertuie staan al op hul plekke. Brink van Dyk parkeer sy silwer Mercedes-Benz 500SL voor die gryssteen-kantore van Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Paardeneiland tussen Ben se Pajero en Dolf se BMW. Hy knyp die koerant onder sy arm vas en stap vasbeslote en vinnig die gebou in. Felicity lig hom in sy kollegas is al in die raadskamer.

      Hy is ontsteld en pleinweg die moer in. Hy dra te swaar aan sy skuldlas. Dit trek letterlik sy skouers krom, gee hom slapelose nagte. Dit is nie hoe hy wil lewe nie. Dit is nie hoe hy grootgemaak is nie. Hy het in die Boland in ’n kerkhuis grootgeword en goeie waardes by sy ouers geleer. Respek vir jou medemens. Jy doen nie aan ander wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Moet mense nie veroordeel nie. Gee mildelik aan die armes en jy sal mildelik ontvang. Sy pa was vir hom ’n inspirasie. Hy was bestuurder van ’n kettingwinkel waar sy bruin werkers hom aanbid het. In ’n tyd van afskuwelike rassisme het hy hulle soos gelykes behandel.

      Sy ouer broer het predikant geword. Brink se visioen in sy hoërskooljare was om sendeling te word. Hy het groot drome gehad. Hy sou Afrika invaar en die Woord van God uitdra tot in al die uithoeke van die donker kontinent. In die vakansie voor hy universiteit toe sou gaan om in die teologie te studeer, het hy Louise ontmoet. Hy was smoorverlief. Sy’t nie kans gesien vir sy Afrika-avontuur nie. Hy het gaan onderwys studeer.

      Hy snork. ’n Sendeling in Afrika! Nou verskaf hy wapens aan Afrika-skurke wat hul mede-Afrikane daarmee uitmoor. Hy het homself nog probeer wysmaak die rebelle sou hul skietgoed in elk geval elders kry en hy kon niks daaraan verander nie. Vanoggend se koerantberig het hom egter finaal laat besef hy kan nie die


Скачать книгу