Slagyster. Rudie van Rensburg
watter emosies haar beste vriendin moet beleef. Dit moet skrikwekkend wees om te hoor jou man is in die wildvreemde deur ’n klomp barbare ontvoer. Sy weet Lea het haar dood bekommer oor Ryan se werk in Nigerië. As ingenieur was hy voortdurend blootgestel aan gevaarlike omstandighede in die rebelgeteisterde olievelde. Maar hy sou oor ’n week huis toe kom vir sy halfjaarlikse besoek en Lea kon die afgelope paar weke nie uitgepraat raak oor dié vooruitsig nie.
Dit was reeds vir Lea moeilik om die verantwoordelikheid van ’n huishouding alleen te dra. Hul tweelingdogters is vanjaar hoërskool toe en Ryan kom net elke ses maande vir ’n week of twee. Amelia weet Lea beskou haar nie net as ’n vertroueling nie, maar ook as ’n steunpilaar wat haar in haar enkelouerpligte onderskraag en die las van haar man se afwesigheid ligter maak. Sy het weer in Lea ’n nuttige klankbord as sy ’n sekere soort artikel skryf. Haar insig in die joernalistiek is soms verstommend vir iemand wat oënskynlik in ’n droomwêreld rondsweef.
Die spitsverkeer in Johannesburg laat Amelia swets. Dit gaan nie help om ongeduldig te raak nie, maan sy haarself. Sy gaan minstens vir nog ’n uur op die pad vasgevang wees.
Haar gedagtes keer onwillekeurig terug na haar druk werkslading. Die dringendste spertyd is nou dié van Finweek, wat wag vir haar artikel oor patentregte. Gelukkig het sy klaar al die onderhoude gevoer, haar notas is reg en sy kan net begin skryf. Dan wil Time ’n artikel oor die Suid-Afrikaanse regering se grondhervormingsplanne hê. Dit gaan ’n klomp sweet verg. Sy het al die rolspelers gelys, maar moet nog met hulle onderhoude voer. Rapport soek ’n diepliggende artikel oor die Chinese militêre ontwaking. Sy sal navorsing moet doen. Vandat sy drie maande in China deurgebring het vir Time, word sy as ’n kenner van dié wêrelddeel beskou. Sy het egter nooit op hul militêre spierkrag gefokus nie.
Maar niks daarvan is nou belangrik nie. Sy kan altyd mooipraat om die spertye te verleng. Haar vriendin is haar eerste prioriteit. Sy glimlag. Snaaks hoe haar en Lea se paaie ses jaar gelede toevallig gekruis het, en nou is hulle haas onafskeidbaar, minstens twee keer ’n week bymekaar.
Amelia het haar ontmoet toe sy nog by die koerant was. Sy het as ’n guns vir die kunsredakteur ingestaan by ’n uitstalling van ’n klomp belowende skilders. Lea was een van hulle. Amelia was versot op haar werk en het drie skilderye gekoop. Sy en Lea het begin gesels en hulle het onmiddellik by mekaar aanklank gevind.
Hulle het baie gemeen. Dink dieselfde oor goed. “Ons is soos bloedsusters!” het Lea uitgeroep toe hulle onlangs vir die soveelste keer soortgelyke opmerkings maak, dié keer oor ’n gemeenskaplike kennis. Dit is asof hulle mekaar se gedagtes kan lees, daarom weet Amelia deur watter hel haar vriendin nou gaan.
Amelia neem die afrit na Lea-hulle se huis in Sandton.
Terwyl sy voor die groot dubbelverdieping uitklim, hardloop Lea en haar twee dogters haar tegemoet. Lea huil en die tieners lyk bleek en beangs. Hulle stap saamgebondel na die huis.
Lea bewe toe hulle by die voordeur instap. “Hier was ’n man van Ryan se maatskappy. Hy het my kom vertel Ryan is gister deur ’n rebellegroep ontvoer. Hulle was besig om iewers in die boendoes ’n oliepypleiding te herstel. Die rebelle het hom en twee van sy Europese kollegas ontvoer, die ander is doodgeskiet. Daar was ’n offisier en twee en twintig Nigeriese soldate en werkers.”
“Wil hulle ’n losprys hê?” vra Amelia.
“Hulle het nog nie met die maatskappy kontak gemaak nie, maar die man sê hy vermoed hulle sal binnekort hul eise stel.”
“Hoe hanteer die maatskappy sulke eise? Betaal hulle net voor die voet?”
“Ek weet nie … Ek was nog nie in só ’n situasie nie … en ek het nie daaraan gedink om die man te vra nie,” stotter Lea. “Ek neem aan hulle betaal … Here, ek vertrou so.”
Amelia neem Lea se hande in hare. “Jy en die kinders gaan nou hier op die rusbank bly sit. Ek gaan vir julle tee maak en dan gaan ek bel en met iemand by die maatskappy praat. Probeer ontspan. Ryan lewe en ek glo hulle sal hom goed behandel.”
Sy bring vir elkeen ’n koppie tee. “Ek’t in my haas my selfoon by die huis gelos,” sê sy en Lea beduie na die telefoon in die hoek. Amelia kry Star Petro se nommer in die Johannesburgse telefoongids. Dit word as die streekhoofkantoor in Suidelike Afrika aangegee. Sy word onmiddellik deurgeskakel na die bestuurder: openbare aangeleenthede en hy stel homself bekend as Peter Graves.
“Ons is in dié stadium ook in die duister,” sê hy. “Dit is die eerste Suid-Afrikaner wat ontvoer word en ons het nie al die antwoorde gereed nie. Ons is ’n Amerikaanse maatskappy en ons hoofkantoor in New York hanteer gewoonlik dié aangeleenthede.”
“Is daar al voorheen werknemers van jul maatskappy ontvoer?” vra Amelia.
“Ja, ek is bevrees dit is iets wat al hoe meer gebeur. Gister se drie bring die totaal vir die maand op nege te staan.”
“En? Is iemand al vrygelaat?”
“Nog nie. Ons wag nog om van die rebelle te hoor.”
“Eis hulle gewoonlik geld?”
“In die verlede het hulle. Soms stel hulle ander eise.”
“Soos?”
“Ek … e … kan in dié stadium nie daarop kommentaar lewer nie. Dit word deur ons hoofkantoor hanteer.”
“Is iemand al vrygelaat sedert hulle die ander eise begin stel het?”
“Ja … Nee, maar ek kan nie regtig daarop kommentaar lewer nie. Ek sal môre meer inligting aan u beskikbaar kan stel. Ek wag self nog op antwoorde … Ek is jammer. Dit is vir ons hier net so ’n skok.”
“Meneer Graves, ek gaan u môre weer skakel. Dan soek ek antwoorde. Anders sal ek verplig wees om na die pers te gaan met die storie.”
“Dit sou nie ’n goeie idee wees nie. Ons glo dit kan die gyselaars se lewens in gevaar stel as dit aan die groot klok gehang word.”
Amelia voel hoe die bloed in haar nek en wange opstoot. “Nee, meneer Graves, my ondervinding is rebellegroepe wil graag publisiteit vir hul dade kry. Dit is gewoonlik maatskappye soos julle s’n wat nie in die spervuur wil kom nie. Hoe stiller so iets gehou word, hoe meer tyd is daar vir julle om met die rebelle te onderhandel vir ’n gunstiger ooreenkoms, ongeag die spanning en trauma waaraan die ontvoerdes se families blootgestel word.”
Graves is vir ’n oomblik stil. “Is … is u van die media?”
“Ja, ek skryf onder meer vir Time, Washington Post, The Guardian in Londen en Rapport hier. So, asseblief, meneer Graves, môre soek ek eerlike antwoorde.”
Nadat sy afgelui het, sê sy vir Lea sy moet ontspan. Alles is onder beheer, hulle sal môre ’n volledige verslag van Star Petro kry en sy sal sorg dat hulle voortdurend van alle verwikkelinge op hoogte gehou word. Sy sal ook met buitelandse sake en die Suid-Afrikaanse ambassade in Nigerië in verbinding tree. En sy sal nie rus voor Ryan veilig tuis is nie.
7
Die voortdurende geblaf van AK47-geweervuur laat die gyselaars senuweeagtig na mekaar kyk.
“Na wie of wat skiet hulle?” wil Ryan weet.
“Hulle skiet teiken. Die klomp is nou so van die dagga gerook dat hulle mekaar nog gaan raakskiet,” antwoord Williams, ’n seningrige Wallieser wat nou die tweede keer ontvoer is in sy verblyf van minder as ’n jaar in Nigerië. Hy en ’n kollega is twee weke voor Ryan-hulle in die dorp Onne in ’n kroeg geneem, helder oordag.
“As jy my vra, rook hulle NNG … Nigerian Naturally Grown. Dis ’n ander bliksem as gewone dagga,” sê Donald, Ryan se Engelse makker.
Williams snork. “Dis nog niks. Bid dat hulle nie op Monkey Tail gewire raak nie. Dan gaan die kak spat.”
“Monkey Tail?” wil Ryan weet.
Williams lag. “Dis hardcore goed. Hulle laat ’n kop dagga vir