Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
meer roer of omkrap nie.
Tot nou. Die klein wit barbaar het weer sy woede laat opvlam, weer daardie fyn plooitjies van kommer om sy oë laat vorm. Op ’n manier is Leia se koms ’n bedekte seën, maar sy gaan haarself vernietig. Sy gaan haarself te pletter loop teen Jacques de la Fontaine.
Die gravin haal haar skouers op. Leia is net ’n slavin. Haar vernietiging is nie ’n té groot prys om te betaal om Jacques terug te bring na die werklikheid nie. Leia sal word soos die ander slawe … willoos en onderdanig. Alles sal tog ten goede uitwerk.
Die nag gaan stadig verby. Leia kyk na die sterre bokant haar. Sy dink aan haar land en aan die hangertjie wat nou in haar hut lê. Sy dink nie aan wat môre op haar wag nie, want sy weet dat die gevaar juis daar lê. As sy begin dink, sal die haat weer die oorhand kry en sal die frustrasies van voor af begin.
Vanuit die duisternis van die kas hoor sy die naggeluide en dit stel haar op ’n vreemde manier gerus. Die krieke is nog daar, en ook die jakkalse. Die lewe gaan voort, en ook haar afsondering sal einde kry. Niks is finaal en onveranderbaar behalwe die dood nie. En sy lewe nog.
Teen sonsondergang die volgende dag beveel die graaf dat Leia uit die kas gehaal moet word. Hy het die oomblik so lank moontlik uitgestel omdat hy bang was vir wat hulle mag vind.
Bako breek byna sy bene soos hy hardloop om Leia te bevry. Ook hy was bekommerd oor die volgehoue stilte. Hy roep al sy voorvaders se geeste op om te help. Dié meisie het vir hom kosbaar geword.
Leia hoor die slot rinkel en glimlag. Hy het my onderskat, en dis goed so. Hy mag nooit weet dat hy verkeerd was nie. Sy maak haar oë toe en leun teen die ruwe hout. Hulle mag nie weet dat sy gewen het nie.
Bako pluk die deur oop en staar ’n paar oomblikke lank na Leia wat lyk asof sy nie weet wat om haar aangaan nie. Dan steek hy sy arm onder hare deur en help haar na buite.
“Kom, ons gaan terug. Ek gaan jou by jou hut laat tot jy beter voel. Die graaf sal later met jou wil praat.”
Leia vind tot haar verbasing dat haar bene lam onder haar voel en sy is bly vir Bako se ondersteuning. Dit sal wonderlik wees om nou op ’n bed te kan lê.
Sy raak aan die slaap oomblikke nadat sy op haar growwe matras neergeval het.
Bako verlaat die hut suutjies. Hy vermoed dat Leia hom om die bos gelei het, maar besluit om niks te sê nie. Diep in sy binneste is hy bly dat sy nie geknak het nie. Sy respek vir die skraal, verwilderde meisie groei. Daar kan net een van haar soort wees, dink hy bewonderend. Selfs die agttien jaar wat sy weg was uit die beskawing en verwyder van haar eie mense, het niks aan haar verander nie. Haar skerpsinnigheid en doelgerigtheid het nie getaan nie. Selfs onder die omstandighede waarin sy haar bevind, is sy nog ’n gedugte teenstander vir ’n man soos die graaf De la Fontaine.
Bako skud sy kop glimlaggend. So stil-stil het die bewondering vir Leia onder die slawe gegroei. Hulle weet dat sy nie werklik een van hulle is nie, en juis daarom kan hulle dit bekostig om na haar op te sien.
De la Fontaine ontbied Leia eers die volgende oggend om tienuur. Sy het baie vroeg reeds rivier toe gegaan om te gaan baai en haar hare te was. Terwyl sy in die koel water geduik het, het sy besluit dat sy tog nie die rol van die onderdanige slaaf gaan speel nie. Wat maak dit saak as hy haar weer straf? Van haar plan om hom dood te maak, sal hy haar nooit laat afsien nie.
Sy voel skoon en verfris toe sy ’n skoon, wit jurk aantrek vir die ontmoeting. Sy wil nie vuil en verwaarloos lyk nie. De la Fontaine moet weet dat dit nie só maklik gaan wees om haar wil te breek nie.
Nicole is ook teenwoordig toe Bako en Leia opdaag. Die graaf en sy moeder staan op die stoep van die herehuis, en Bako en Leia staan aan die onderpunt van die trap.
De la Fontaine se blik dwaal vlugtig oor die meisie. Hy merk op dat haar vel nog gloei van die swem. Haar blonde hare het reeds droog geword en hang in glinsterende golwe oor haar skouers. Dan hou sy blik haar oë ’n sekonde lank gevange, en hy sien nog dieselfde uitdaging in hul blou dieptes.
’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke toe verligting deur hom spoel. Hy het sy plig gedoen om haar te straf, maar sy is nog net dieselfde. Haar trots het nie gebreek nie.
“Ek het besluit om jou aan monsieur Mendoza te verkoop,” sê hy en hou haar fyn dop toe Bako vertaal. Met tevredenheid merk hy die skrik en onsekerheid in haar blou oë. Die feit dat sy nie van die gedagte hou om aan iemand anders te behoort nie, amuseer hom. Sy beskou hom sekerlik nie as haar weldoener nie, dus kan hy net tot die gevolgtrekking kom dat sy nog vasbeslote is om hom dood te maak.
Dis die eerste keer dat Nicole van aangesig tot aangesig met Leia kom, en ’n klein fronsie verskyn tussen haar sagte grys oë. Haar hart gaan uit na die meisie wat ’n patetiese poging aanwend om haar houding van ongeërgde uitdaging terug te wen. Sy word soos ’n speelbal van die een na die ander gegooi, dink sy ongelukkig. Sy is een van ons en tog ook nie. Sy is werklik iemand sonder herkoms of heenkome.
“Moet dit nie doen nie, Jacques,” sê sy eindelik stadig. “Sy het nog nie haar voete gevind nie.”
De la Fontaine kyk vinnig, ondersoekend na sy moeder.
“U besef tog dat sy net meer probleme kan veroorsaak?” De la Fontaine moet hom daarvan weerhou om te glimlag. Sy moeder behoort tog te weet dat hy Leia net wil skrikmaak.
“Gee haar nog ’n kans,” sê die gravin sag.
Die graaf draai weer na Leia, wat die gesprek in stilte aangehoor het. Plek-plek het sy woorde en frases herken, maar sy kon nie die algemene strekking van wat daar gesê is, verstaan nie.
“Bako,” sê die graaf, “sê aan haar dat sy nog ’n kans kry. Ek wil nie onredelik wees nie.”
Bako sug byna van verligting toe hy die graaf se woorde aan Leia vertaal. ’n Oomblik lank het hy gedink dat hulle haar gaan wegstuur, en ’n groot dankbaarheid jeens die gravin wel in hom op. Sy is ’n goeie mens.
Leia sê niks. Sy besef maar alte goed hoe amper sy van die landgoed af weggestuur is. Sy kan niks doen aan die mag wat hierdie mense oor haar het nie. Hulle het selfs die reg om haar dood te maak omdat sy aan hulle behoort.
Die gravin draai om en gaan die huis binne. De la Fontaine se blik rus ’n oomblik op Leia. Die skrik het uit haar blou oë verdwyn en plek gemaak vir daardie koue afsydigheid wat hy reeds so goed by haar ken. As sy net nie so buitengewoon mooi was nie, sou dit vir hom makliker gewees het om streng op te tree. Dit maak hom woedend dat sy hom uitdaag terwyl sy nie kan begryp dat hy die beste vir haar probeer bewerkstellig nie.
Die stilte rek en rek, en ’n magtelose frustrasie pak die graaf beet. As sy net wil praat, dink hy, maar sy swyg soos die graf.
“Gaan terug na jul werk,” sê hy skielik kortaf aan Bako.
Bako beduie aan Leia dat hulle moet loop. Nog vir oulaas kyk sy met gloeiende oë na haar meester en sluk die opwellende gevoel van haat. Haar haat is nou nie meer teen sy heerskappy oor haar gemik nie. Sy haat hom ook omdat hy haar verwar, omdat daar ’n vae gevoel van toegeneentheid jeens hom in haar binneste gebore is. Sy verag haarself vir hierdie swakheid. As sy haar wraakplan wil deurvoer, moet sy sterk wees.
Met ’n trotse houding stap sy van die graaf af weg. Hy staar haar agterna, sien die slanke soepelheid van haar jong liggaam en bal sy vuiste. Sy is ’n slavin en sy sal dit so moet aanvaar, dink hy met sy tande opmekaar gekners. Haar blanke skoonheid kan geen verskil maak nie. Hy sal haar nog moet leer om onderdanig te wees.
De la Fontaine ontspan effens. Hy het ander slawe al gebreek en van Leia sal hy geen uitsondering maak nie. Hy het die mag en hy sal dit gebruik wanneer dit nodig is.
Leia en Bako vorder fluks met hul lesse. Die meisie is gretig om die Franse taal te leer, en dit vergemaklik Bako se taak. Hulle is reeds drie weke besig en sy kan al ’n baie eenvoudige gesprek met hom voer. Hulle het baie pret saam en hierdie uurtjies word vir Leia ’n genot. Sy sien elke dag daarna uit dat Bako na haar hut kom vir die les. Dan lag hulle saam oor haar krom uitspraak of koddige manier van uitdrukking.
“Je