Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Dan kyk sy op na hom. “Hoe sê ’n mens ‘Ek het jou lief’?”
Bako kyk vinnig na haar. “En waarvoor het jy dit nodig?”
“Sommer net nuuskierigheid.”
Hy glimlag en sy swart gesig vertrek in duisend plooitjies.
“Je t’aime. Dis die maklikste een.”
Leia laat die sagte woorde oor haar lippe rol en hou haar kop skeef.
“Dit klink mooi.” Sy frons liggies. “En hoe sê ’n mens ‘Ek haat jou’?”
Bako verstyf. “Dis nie nodig om dit te weet nie.”
“En hoekom nie? Ek wil tog die taal leer. Ek wil nie net ’n paar woorde ken nie.”
Hy aarsel. Hy ken Leia goed genoeg om te weet dat sy sal aanhou neul tot hy haar tevrede stel. Met ’n diep sug sê hy: “Je te hais.”
Sy glimlag. “Dit klink lelik genoeg.” Sy lek oor haar bolip. “Nou goed, nou kan ons voortgaan met die les.”
Hulle gaan ’n ruk sonder onderbreking voort, dan sê Bako skielik: “Ek wou jou nog gesê het dat dit die graaf se moeder was wat gevra het dat hy jou nog ’n kans moet gee. As dit nie vir haar was nie, het hy jou aan meneer Mendoza verkoop.”
Leia kyk vraend na hom. “Die ou dame? Maar ek sien haar so selde!”
“Sy is ’n vrou met ’n baie goeie hart, Leia.”
Sy frons liggies. “En dié meneer Mendoza … is hy ook ’n goeie man?”
Bako haal sy skouers op. “Hy is ’n Spanjaard. Hulle is anders as wat die graaf is.”
“Ek verstaan nie.”
Geduldig verduidelik Bako aan Leia dat daar nie net een blanke ras is nie. Net soos die swart stamme, is daar ook verskillende blanke rasse.
“En watter een is die slegste?” wil Leia weet.
Bako bars uit van die lag. “Dis die mense wat verskil … nie die rasse nie. Daar is goeie én slegte mense onder alle groepe.”
“Vertel my van die een tot wie die graaf behoort.”
Hy kyk skuins na haar. “Jy stel baie eienaardige vrae vandag.”
“Toe, hou op met klets en vertel my.”
Bako sug diep. Leia is vandag in ’n onmoontlike bui. Dan vertel hy haar alles wat hy weet. Eerstehandse kennis het hy nie, maar hy het al genoeg by die bediendes gehoor om Leia ’n goeie begrip te kan gee van hoe dit in Frankryk lyk en wat alles daar gebeur. Hy vertel haar van die prag en praal van die Franse konings, die groot herehuise en ook van die armes en die sukkelbestaan wat hulle voer. Hy verduidelik aan haar hoe die titels werk en hoe dit van geslag tot geslag oorgedra word. Elke groot familie het sy eie embleem wat op sy besittings aangebring word. Dit is ’n soort kenmerk. Selfs van die familiejuwele het die embleem op.
Leia luister met groot oë na hom. Die wêreld van die graaf verander vir haar in ’n sprokie. Vanuit haar nederige posisie kan sy alles nie altyd begryp nie, maar sy luister nogtans met onverdeelde aandag. Sy besef nou eers die omvang van die graaf se mag en sy sidder liggies. Hy is byna soos die koning van die land waar sy vandaan kom. Sy woord is wet, en hy het ook mag oor lewe en dood. Dan laat sy haar blik sak. Dit verander nog niks aan die feit dat ek die graaf haat nie, dink sy, maar as ek hom vermoor, sal ek myself ook vernietig.
Beatrice de Boudelaire woon saam met haar ouers op die buurplaas. Die twee families ken mekaar al baie lank en dus is dit nie ongehoord dat Beatrice La Liberté alleen te perd besoek nie.
Sy is ’n mooi meisie van om en by twintig jaar oud. Sy ken egter reeds al die fyn kunsies waarmee ’n vrou ’n man se hart verower en sy maak deeglik daarvan gebruik wanneer sy in Jacques de la Fontaine se geselskap is. Eendag, weet sy, gaan sy ’n bres in sy verdediging slaan, en dan sal haar pad na die titel van gravin oop wees.
Vandag is haar ligbruin oë egter ietwat troebel. Sedert die wit slavin op La Liberté aangekom het, het Jacques verander. Hy is dikwels in ’n omgekrapte bui, en gewoonlik gaan dit oor die slavin. Sy sal met Jacques daaroor moet praat. Die meisie kan nie langer op die landgoed bly nie. Sy is opstandig en ondermyn die graaf se gesag.
Leia sien Beatrice reeds van ver af aankom. Sy byt op haar tande. Sy het daardie minagtende blik nog lank nie vergeet nie. Sy besef ook dat, as sy nie ’n slavin was nie, sy en Beatrice dalk nog op gelyke voet kon wees. Opstand stoot in haar op. Die noodlot het haar ’n wrede streep getrek deur haar in hierdie omstandighede te dompel. Sy is verplig om onderdanig teenoor Beatrice te wees, en dit grief haar.
Bako sien ook die vrou uit die rigting van die buurplaas gery kom. Sy blik dwaal na Leia en hy merk die gespanne houding by die meisie. As hulle op hierdie oomblik net ’n bietjie dieper in die wingerde gewerk het, kon hulle ’n ontmoeting tussen die twee vroue vermy het, maar nou is daar niks aan die saak te doen nie. Ongemerk staan hy egter nader aan Leia.
“As sy haar perd hier inhou, moet jy nie opstandig raak nie,” fluister hy. “Ek weet wat in jou kop aangaan, want dit staan oor jou hele gesig geskryf.”
Leia kyk na hom. “Hoekom sal sy hier tot stilstand wil kom?”
Hy buk oor sy skoffelwerk. “Omdat sy wil bewys dat sy meesteres oor ons is.”
“Dis onsinnig. Sy het geen regte hier nie.”
“As die graaf met haar trou, sal jy aan haar ook behoort.”
Leia byt op haar tande. “Daardie dag het nog nie aangebreek nie.”
Soos Bako voorspel het, hou Beatrice haar perd by hulle in. ’n Paar sekondes lank bly sy fier en regop in die saal sit terwyl sy die slawe dophou.
Leia voel hoe haar rug kriewel. Sy kyk nie op na die meisie nie omdat sy liewer ’n konfrontasie wil vermy.
“Jy doen halwe werk,” sê sy aan Leia wat verstyf. “Die wingerde is veronderstel om vry te wees van bossies. Waarom skoffel jy dan nie alles uit nie?”
Leia kom stadig orent en draai om na die vrou op die perd.
“Omdat ek so pas met hierdie kol begin het,” antwoord sy vol ingehoue woede.
Beatrice se gesig verhard. “Waag jy dit om my terug te antwoord?” Dan besef sy skielik dat Leia haar in haar eie taal geantwoord het. Sy vat die karwats vaster. “Wanneer jy met my praat, staan jy op jou knieë!”
Leia bly roerloos staan. Sy het verstaan wat die vrou van haar verwag, maar sy is nie van plan om gehoor te gee nie.
“Doen wat sy sê!” fluister Bako dringend in sy eie taal.
“Ek doen dit nie,” sê Leia op Frans. “Ek sterf eerder.”
Bako staar na haar. Hy het nie besef dat Leia reeds die Franse taal in die amper vyf weke só goed aangeleer het nie. Haar grammatika is nie wat dit behoort te wees nie, maar sy maak haarself heeltemal duidelik verstaanbaar.
Beatrice lig die karwats dreigend. “Op jou knieë!” sis sy.
Leia bly staan met ’n uitdagende blik in haar helder blou oë. Sy ruk styf toe die karwats haar met ’n venynige hou oor die skouer tref.
“Ek sal jou gehoorsaamheid leer!” sis Beatrice en lig weer die karwats.
Bako sluk hard. “Asseblief, meesteres, moet dit nie doen nie! Dis tog die graaf se plig …”
Beatrice se blik draai na hom en sy aarsel. Ek is nog nie meesteres hier nie, dink sy bewend, maar eendag sal ek wees, en dan sal hierdie verrotte klein wurm van ’n vroumens weet wie baas is. Sy kyk terug na Leia.
“Jou wit vel maak nie van jou ’n beskaafde mens nie! Jy is en bly ’n barbaar!” Gefrustreerde woede laai in haar op. “Jou wil sal nog gebreek word!”
Leia luister swyend na haar. Hierdie