Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Die naweek bly sy ure lank langs die rivier sit. Hier is dit oop en lyk haar vrees vir haar byna belaglik. Hier kom die kalmte terug na haar en kan sy weer nugter dink.
Dis dan ook hier waar Salvador Mendoza haar raakloop.
“Help dit nog om te droom, Leia?” vra hy en sy kyk vinnig om na hom. Dan ontspan sy en glimlag selfs.
“Nee, dit help nie, maar dit hou my besig.”
Hy kom op die gras langs haar sit. “Die voorman sal oor ’n week weer op die been wees, maar ek dink nie hy sal langer hier wil bly nie.”
Haar keel trek toe. “Is die graaf kwaad daaroor?”
“Nee, ek dink hy is eerder verlig.” Hy kyk ondersoekend na haar. “Is jy spyt oor wat jy gedoen het?”
Sy kyk weg na die water. “Ja, ek is spyt. Ek moes hom maar toegelaat het om te doen wat hy wou doen. Dan sou net ek daaronder gely het, en niemand anders sou seergekry het nie. Dan sou die graaf my nie gestraf het nie … Ek sou hom nie gedwing het om my te straf nie.”
“Haat jy hom nog?”
Leia aarsel en sê dan: “Ja, ek haat hom nog. Ek moet.”
“Hoekom?”
Mendoza kyk na haar klassieke profiel, die mooi mond en lang, donker wimpers.
“Besef jy dan nie dat hy ondanks alles nog probeer om jou te beskerm nie? Hy het jou op ’n manier gestraf wat hy weet nie jou wil sal breek nie. Jy het reeds bewys dat die kas jou nie kan oorwin nie, en daarom het hy jou weer soontoe gestuur. Hy wou jou liggaam nie met lyfstraf skend nie en hy wou jou die vernedering van die wiel spaar.”
Sy draai na hom met groot, helder oë. Mendoza ruk inwendig toe hy haar diepste geheim in ’n onbewaakte oomblik sien.
“Leia … dis sinneloos!” sê hy skor.
“Ek weet.”
“Haat hom liewer.”
Sy kyk weg. “Dis nie moeilik nie. Dit sal ook nie moeilik wees om hom te vermoor nie.”
Hy snak na sy asem. “Jy moet berus. Jy moet alles aanvaar. Daar is geen ander manier waarop jy weer jouself kan word nie.”
Sy lek oor haar bolip. “Ek kom iewers vandaan … van iewers waar ek nog nooit was nie … waarvan ek nie kan onthou nie. Ek is nie as slaaf gebore nie en ek hoort nie hier nie. My ouers het albei verdrink toe hul skip gestrand het. Maak dit van my ’n slaaf ? Gee dit ander die reg om my soos ’n besitting te koop? Al wat ek van my ouers het, is ’n hangertjie met ’n vreemde embleem daarop. Niks meer nie. Dis my enigste bewys dat ek nie hier hoort nie.”
Mendoza frons. “Is dit genoeg?”
“Vir my is dit.”
Eers teen die Sondagmiddag besluit De la Fontaine om met Leia te praat. Hy het die oomblik bly uitstel omdat hy bang is sy sê dalk dat sy graag wil weggaan. Dan sal hy weet dat hy gefaal het in sy poging om haar sover te bring om alles te aanvaar.
Bako bring Leia na die koelte van die akkerbome voor die herehuis. Dan maak hy homself vinnig uit die voete soos die graaf hom beveel het om te doen.
De la Fontaine stap na Leia toe. Sy wag hom met groot, bang oë in, en hy byt op sy tande. Het die kas dan nou eindelik haar wil gebreek?
Toe hy haar bereik, huiwer sy net ’n oomblik voordat sy op haar knieë sak.
“Staan op,” sê hy sag.
Sy kom weer orent en wag gespanne op wat hy vir haar wil sê. Die kere wat hulle so van aangesig tot aangesig gepraat het, was nooit aangenaam nie. Op die oomblik sien sy nie vir nog meer spanning kans nie.
“Ek luister, meester.”
Hy byt op sy tande. Sy is nie meer die uitdagende, veragtende meisie wat hy hierheen gebring het nie. Hy onthou haar woede en haar trots die dag toe hy haar op die skip by Lantini gaan haal het en hy haat homself vir wat hy reeds aan haar gedoen het.
“Jy sal nooit gelukkig hier kan wees nie,” sê hy ná ’n lang stilte. “Ek gaan jou aan monsieur Mendoza verkoop. Miskien sal jy daar beter vaar.”
Die skielike kilheid wat in haar oë opkruip, laat hom liggies frons.
“Maak wat jy wil,” sê sy ysig. “Ek is mos net ’n stukkie van jou eiendom.”
“Liewe magtig, ek wil jou help!” ontplof hy. Haar koue onverskilligheid maak hom woedend. “Gaan jy dan nooit verstaan dat ek jou nie wil vernietig nie?”
“Waarom doen jy dit nie?” vra sy omgekrap. “Omdat ek nie lyk soos die ander nie? Omdat my vel dieselfde kleur as joune is?”
Hy bal sy vuiste en is bly dat daar nie van die ander slawe by is om te hoor hoe sy met hom praat nie. Toe sy op haar knieë gegaan het, het hy vir ’n oomblik gedink dat haar wil geknak het, maar dit het nie. Haar opstand bly onder die oppervlak sluimer.
“Omdat ek jou uiteindelik jou regmatige plek wil gee,” sê hy vol ingehoue woede. “Eendag wil ek jou jou vryheid gee, maar ek kan dit nie doen voordat jy die wette van die beskawing aanvaar het nie!”
“Die wette van die beskawing is nie dieselfde as dié van die slawe nie!” Haar blou oë skiet vuur. “In my posisie mag ek gebruik en misbruik word, maar as ’n vry mens word ek beskerm!”
“Ek beskerm jou,” sê hy, en sy stem is skielik weer rustig en diep, al woel die woede onder die oppervlak. “Ek het jou gekoop om jou te kan beskerm teen wat Lantini met jou beoog het.” Sy aantreklike gesig is hard soos graniet. “Het jy al vir ’n oomblik gedink wat jou lot dáár sou wees? Jy sou op ’n slawemark verkoop word. Hulle sou jou klere uitgetrek het sodat jy deur almal bewonder kon word en ’n goeie prys vir jou gekry kon word. Dalk sou jy iewers in ’n harem beland het waar die een of ander sjeik jou kan gebruik wanneer hy daarna voel!”
Leia sidder liggies. Niemand het haar ooit vertel wat die werklike lot van wit slavinne is nie. Miskien het niemand geweet nie.
Hy kyk af na haar ietwat bleek gelaat. “Ek stel jou voor ’n keuse: Wil jy verkoop word, of wil jy hier bly en probeer om na my raad te luister?”
Sy sluk hard. “Ek wil bly.”
’n Glimlag speel om sy mondhoeke. Hy weet goed genoeg dat dit nie die einde van hul konfrontasie sal wees nie.
“Nou goed, ek aanvaar dit so. Jy kan maar gaan.”
Sy probeer aan iets dink om te sê, maar sy kan nie. Dan draai sy vinnig om en hardloop van hom af weg.
Hy lag sag. Dit is net ’n wapenstilstand dié. Oor ’n paar dae of miskien ’n week, sal daar wel weer iets opduik om die vonk in Leia aan te steek. Sy het die vuur van die jeug aan haar kant, maar ook die lis van ’n vrou. Die lag verdwyn uit sy oë … Sy is ’n vrou, bo alles is sy nog ’n verruklike vrou …
Leia se goeie voornemens duur nie baie lank nie. Solank as wat die onsigbare kettings haar aan La Liberté en aan De la Fontaine verbind, sal die opstand in haar bly.
Sy kan ook nie aan Beatrice se gedurige teenwoordigheid op die landgoed gewoond raak nie. Daardie venynige hou met die karwats het sy nog lank nie vergeet nie.
Teen hierdie tyd het sy egter al deeglik besef dat sy niks aan haar situasie kan verander nie. Opstandigheid bring net meer moeilikheid. Daar is vir haar geen hoop om ooit hier uit haar gevangenskap weg te kom nie.
Terwyl sy gebukkend in die wingerd werk, hou sy Beatrice en die graaf uit die hoek van haar oog dop. Hulle staan ’n paar treë van haar af en gesels gedemp. De la Fontaine lyk vandag ontspanne en lag af en toe oor iets wat die meisie sê.
Leia byt op haar tande. Sy beny Beatrice haar sorgelose bestaan. Sy beny haar haar mag as ’n ryk, blanke meisie. Hul wêrelde verskil soos dag en nag en tog, wie weet, sou sy dalk ook iemand soos Beatrice kon gewees het as die skip nie byna twintig