Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
die venynige houe van die karwats terwyl sy Beatrice probeer bereik.
Beatrice uiter ’n gil van pyn toe Leia haar arm waarin die karwats is, vasvat en met ’n pynlike draai agter haar rug vasdruk.
“As jy ooit weer aan my slaan, vermoor ek jou,” sis Leia blind van woede en pyn. Sy gee Beatrice se arm nog ’n draai en die meisie snak na haar asem.
“Los my!”
“Het jy gehoor wat ek sê of moet ek dit herhaal?”
Beatrice sluk. “Ek het gehoor wat jy sê, maar dit sal jou niks help nie. Die graaf sal jou hiervoor straf, en hierdie keer sal ek toesien dat jy op die wiel beland!”
“Jy kan my nie bang maak nie,” sis Leia en skud haar blonde hare uit haar gesig. “Ek kan jou nou hier vermoor en niemand sal weet wie dit gedoen het nie.”
Beatrice se bene word lam onder haar. Die graaf sal haar nooit glo as sy hom vertel wat hier gebeur het nie. Leia is slinks en versigtig om haar nie so seer te maak dat dit sal wys nie.
“Jy … sal dit nooit doen nie!”
Leia glimlag effens. “Moenie so seker daarvan wees nie. Ek sou jou graaf De la Fontaine vermoor het, maar ek was dom genoeg om dit nie te doen nie. So ’n fout sal ek nie weer maak nie.”
“Jy’s mal!” hyg Beatrice.
“Net kwaad.” Sy los die meisie onverwags, en Beatrice steier ’n paar treë vorentoe om haar ewewig te herwin. “As jy ooit weer aan my slaan, sal jy jou lewe nie meer seker wees nie,” sê sy ysig. “Jy sal nie die eerste wees nie.”
Beatrice se mond is kurkdroog. Haar karwats lê voor Leia se voete, en sy weet dat sy dit nie nou kan waag om dit daar te gaan optel nie. Dan draai sy skielik om en hardloop struikelend van Leia af weg.
’n Hele ent van hulle af staan die graaf en kyk wat tussen die twee vroue gebeur. Daar is ’n koue woede in sy oë. Miskien het dit tyd geword om die slavin haar vryheid te gee. Hy kan haar nie langer hier op La Liberté hou nie. Sy goed geordende lewe het oornag in chaos verander. Hy is self nie eens meer seker van wat hy dink nie.
Leia stap stadig terug na die wingerde. Noudat haar intense woede bedaar het, besef sy eers wat sy gedoen het. Sy weet ook dat sy hierdie keer nie so maklik daarvan sal afkom nie.
Dié aand betrap Bako haar in haar hut met die hangertjie in haar hande. Sy probeer dit wegsteek, maar hy het dit reeds gesien en vra haar om dit aan hom te wys.
Baie teësinnig bring sy dit weer te voorskyn en hou dit na hom uit.
“Ek het dit by Tembisa gekry. Dit was om my nek toe ek op die strand uitgespoel het.”
Bako is lank genoeg in die beskawing om te weet dat die edelstene baie werd is. Dit is die soort edelstene wat ’n matig ryk man nie eens kan bekostig nie. Die raaisel van Leia se herkoms word vir hom ál groter. Die vyf diamante vonkel in die lamplig en die vyf smaragde se groen glim teen die soliede goud. Dis ongelooflik, dink Bako, dat ’n arm slavin wat nooit iets sal kan besit nie, hierdie juweel het. Die skoonheid daarvan laat hom lank met blink oë daarna staar.
“Dis mooi,” fluister hy eindelik, “mooier as enigiets wat ek nog ooit gesien het.”
Elke diamant en smarag is volmaak geslyp. Al tien edelstene is die grootte van ’n kleinerige ertjie en duidelik met groot sorg uitgesoek. Die embleem in die middel is nie baie duidelik nie, en Bako bring dit nader na die lamplig om dit beter te kan beskou. Dan frons hy.
“Ek het hierdie embleem al iewers gesien,” sê hy eindelik. “Ek is byna seker daarvan dat ek dit al gesien het.”
Leia kyk vinnig na hom. “Waar, Bako?” vra sy hees.
“Ek weet nie … ek kan nie onthou nie, maar ek het dit hier in die Kaap gesien.”
Vreugde borrel in haar op. Is sy nou eindelik op die pad na dit wat sy lank gelede was?
“Probeer onthou, Bako!”
“Jammer, Leia, ek kan nie, maar miskien val dit my eendag by.” Hy bekyk die hangertjie weer aandagtig. Dit lyk soos een van dié wat hy al by Beatrice de Boudelaire gesien het. Die meisie s’n het ’n klein, versteekte knip wat die hangertjie laat oopspring wanneer sy daarop druk. Met sy neus feitlik teen die hangertjie, ondersoek hy dit versigtig en roep uit van blydskap toe hy die knip kry. “Kom kyk hier!” roep hy.
Sy wip orent en kom by hom staan. “Wat is dit, het jy onthou?”
“Nee, maar kyk hier.” Hy druk met sy duimnael op die knip, en die dekseltjie spring oop.
Leia staar ongelowig na die binnekant. In die dekseltjie is daar ’n geskilderde miniatuur-portretjie van ’n man … iemand soos die graaf in deftige klere. Dis egter die skilderytjie aan die ander kant wat haar haar oë van verbasing laat knip. Dis ’n pragtige vrou met blonde hare soos sy self. Daar is kosbare juwele om haar slanke hals, en haar klere is duur en mooier selfs as dié van Beatrice de Boudelaire. Haar groot oë is blou soos die see.
Bako draai stadig om na Leia. “Dis jou moeder, Leia,” sê hy hees. “Hierdie was jou moeder! Julle het dieselfde kleur hare en oë, julle lyk selfs baie na mekaar! Kyk! Hierdie was jou moeder!” eindig hy met ’n uitroep van vreugde.
Leia sluk. “En hierdie man?”
“Hy moes jou vader gewees het. Een van hulle het die juweel om jou nek gehang sodat jy hulle kon onthou.”
Sy haal sidderend asem toe sy op die bed kom sit. “Ek het dit nooit geweet nie!”
“Jy moet dit dadelik na die graaf neem!”
Sy kyk verskrik op. “Nee! Nee, ek kan dit nie doen nie. Hy mag dalk dink dat ek dit iewers gesteel het.”
Bako se gesig verstrak. “Ek het nie daaraan gedink nie. Maar wat gaan jy nou doen?”
Sy kyk weg. “Niks. Daar is niks wat ek kan doen behalwe om te wonder waarvandaan ek werklik kom nie.”
Hy kom by haar staan. “Ek sal jou help soek … Ons sal altyd bly soek totdat ons jou mense gekry het!”
“Dis net ’n droom, Bako.”
“Nee, dit is nie! Weet iemand dat jy die hangertjie het?”
“Net die man wat my gevang het en monsieur Mendoza.” Sy kyk op na Bako. “Maar monsieur Mendoza het dit nog nooit gesien nie.”
Bako knik. “Dis goed so. As ons jou mense opspoor en jy die hangertjie te voorskyn bring, sal daar iemand wees wat weet dat jy dit saam met jou gebring het.”
Haar oë blink van trane. “Dankie, Bako, maar miskien bly dit net ’n mooi droom.”
“Jy moet glo dat die waarheid eendag sal uitkom, Leia. Glo dit net.”
Sy knik stom. Dit kan nog jare neem voordat sy haar mense opspoor, of dit mag nooit gebeur nie, dink sy ongelukkig. En as ek hulle vind, sal hulle my kan herken? Hoe gaan ek bewys wie ek is?
Oor die voorval in die veld tussen Leia en Beatrice word daar geen woord gerep nie. Leia wonder of die ander meisie dalk nie die moed gehad het om die graaf daarvan te vertel nie, maar sy voel tog die hele tyd onrustig.
Saterdagoggend ontbied die graaf haar. Leia se hart klop in haar keel toe sy na die herehuis stap. Hierdie is die konfrontasie waarvoor sy die hele tyd nog gevrees het. Gaan hy haar hierdie keer op die wiel sit of gaan hy haar lyfstraf gee?
Nie een van die moontlikhede is juis aangenaam nie. Sy moet haarself staal teen die paniek wat haar wil oorweldig. As sy maar net nie in ’n oomblik van blinde woede die meisie te lyf gegaan het nie, dink sy, maar weet dat dit nou te laat is vir spyt.
De la Fontaine stap uit op die stoep toe hy Leia sien nader kom. Hy het hierdie oomblik bly uitstel omdat hy nie geweet het hoe om dit te hanteer nie. As dit nie was dat hy ooggetuie was van alles wat gebeur het nie, kon hy Beatrice se verhaal baie maklik geglo het. Volgens haar