Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan


Скачать книгу
bly op die onderste trappie staan en wag dat De la Fontaine moet praat.

      “Waarom het mademoiselle Beatrice jou te lyf gegaan?” vra hy.

      Sy kyk op na hom. Sy verwag tog die ergste, en dus is daar geen sin in om doekies om te draai nie.

      “Ek het haar beledig.”

      Hy kyk verbaas na die meisie. Sulke openlike eerlikheid het hy nie verwag nie. “Hoekom?”

      Leia aarsel. “Ek hou nie van haar nie.”

      De la Fontaine bal sy vuiste. Hoekom moet sy dit altyd so moeilik vir hom maak? Hy het nie gehoor wat daar gepraat word nie, maar hy het tog gehoop dat Beatrice Leia sonder rede geslaan het. Dan kon hy die slavin nou met ’n sagter straf daarvan laat afkom. Skielik is dit asof ’n eindelose moegheid hom oorval. Daar is geen oplossing meer vir die probleem nie.

      “Jy het geweet dat jy gestraf gaan word.”

      Sy knik. “Ek het dit ná die tyd eers besef, meester. Ek weet dat ek verkeerd gehandel het en ek is bereid om my straf te dra.”

      Daar is nog ’n uitweg, dink hy skielik hoopvol.

      “As julle mekaar weer so konfronteer, sal jy dit weer doen?”

      Haar oë is groot en helder toe sy na hom opkyk. “Die volgende keer vermoor ek haar.”

      Hy verstyf. “Jy wil nie gehelp word nie, Leia. Geen straf het nog ooit gehelp nie.”

      Sy antwoord nie en wonder waarop hy afstuur. Wat gaan in sy gedagtes aan? Sy gesig is strak, maar dis asof daar iewers in die groen oë iets anders huiwer, iets wat sy nie kan peil nie.

      Haar hart klop vinnig. Ek maak ’n gemors van my lewe hier. Dalk gaan hy my nou verkoop, en dan sal ek nooit weer hier op La Liberté kom nie. Ek sal hom nie weer sien nie. Soms weet ek nie of ek hom haat of liefhet nie, maar ek weet net dat ek nie hier wil weggaan nie … nie noudat ek en Bako op die rand van ’n groot ontdekking is nie.

      “Ek kan jou nie langer hier hou nie, Leia,” sê hy.

      Sy sluk. “Ek verstaan.”

      Haar gelate aanvaarding van wat hy sê, maak hom skielik kwaad. Hoekom veg sy nie vir haar geluk nie? Hoekom aanvaar sy dit net om later spyt te kry daaroor en weer die hele onaangenaamheid van voor af te begin?

      “Is dit wat jy werklik wil hê?” vra hy dan.

      “Nee … ek wil hier bly.”

      ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke. “Jy maak dit nie juis makliker vir my nie. Ek gaan jou nie verkoop nie, maar jy kan ook nie langer hier bly nie. Niemand sal jou ooit tot jou sinne laat kom nie.”

      Hy sug diep. Hy het deurentyd gehoop dat hy haar hier kon hou, al weet hy self nie hoekom hy dit so graag wil doen nie. Nou het alles egter handuit geruk en kan hy dit nie langer doen nie.

      “Ek gaan aan jou gee wat elke slaaf se droom is, Leia. Daar is niks meer wat ek vir jou kan doen nie. Kom môre hierheen en ek sal vir jou genoeg geld gee om ’n begin iewers te maak.” Hy kyk na haar groot, blou oë wat nou vol vrees op hom gerig is. “Ek gaan jou jou vryheid teruggee. Oor ’n paar dae sal jy as vrye mens van La Liberté vertrek.”

      6

      ’n Lang ruk staar sy woordeloos na hom. Vryheid? Wat beteken vryheid in hierdie groot land? Haar keel trek toe. Al word sy hier gevange gehou, het sy iemand wat haar kan beskerm. Die mense van La Liberté is al wat sy ken. Buite die grense van die landgoed was sy nog nooit, en die wêreld daar buite voel skielik vir haar eindeloos groot en vyandig.

      “Moet dit nie doen nie …” fluister sy sonder hoop dat hy daarop ag sal slaan. “Moet dit nie doen nie, meester!” herhaal sy verskrik.

      Hy probeer homself sonder veel sukses teen haar fluisterende pleidooi verhard.

      “Jy sal gaan waar jy wil, Leia. Jy sal ’n goeie loon vir jou werk ontvang, en jy sal kan trou en jou kinders as vrye burgers grootmaak. Jy was nooit werklik ’n slaaf nie.”

      Sy laat haar blik sak. “Nie nou nie … asseblief, nie nou nie!” Sy weet sy pleit vir ’n verlore saak, maar dit kan haar nie meer skeel nie. Hier sal sy hom nog elke dag sien, maar as sy eers weg is, sal sy hom moet vergeet.

      “Hoekom nie?” wil hy weet. Heimlik is hy bly dat sy sy aanbod geweier het en hy verbaas hom oor sy eie vreugde.

      “Ek … kan u nie sê nie.”

      Hy glimlag effens. “Het iemand hier dalk die snare van jou wilde hart geraak?” wil hy half skertsend weet noudat die spanning verslap het.

      Sy kyk vinnig op na hom, en die ligte gloed wat in haar hals opstoot, vertel hom dat hy raak geraai het. Hy voel skielik nie meer lus vir skerts nie. Hierdie wilde meisie wat hy maande lank as sy eiendom beskou het, het ’n man liefgekry. Al is sy in gevangenskap, is haar hart nog vry. ’n Redelose woede teenoor die onbekende man stoot in hom op. Niemand het enige reg op enige deel van haar behalwe hy nie. Hy besef die onredelikheid van sy woede en beteuel homself met moeite.

      “Ek sal ’n ooreenkoms met jou aangaan. Jy kan hier bly, maar ek verwag dat jy jou voortaan voorbeeldig sal gedra.”

      Vreugde helder haar oë op. “Dankie, meester!” sê sy. “Dankie dat u verstaan.”

      Sy hande jeuk om haar aan die skouers te gryp en haar te skud totdat sy aan hom sê wie die onbekende man is, maar hy beteuel homself. So ’n optrede van sy kant sal die ander slawe en die huismense aan die praat sit. Hy sal haar net baie fyn dophou totdat hy uitgevind het wie die man is.

      “Gaan jy akkoord met die ooreenkoms?”

      “Ja … ek gaan akkoord.” Sy glimlag en haar tande skitter spierwit teen haar sonbruin vel. Geluk en vreugde lê vlak in haar oë. “Ek sal voorbeeldig wees, soos u van my verwag.”

      Hy glimlag half sinies. “Dit sal ons nog eers moet sien.”

      Hy kyk haar agterna toe sy opgewonde terughardloop na die slawehuisies. Die glimlag verdwyn van sy gesig. Hy weet dat hy haar sal mis as sy die dag nie meer op La Liberté is nie. Daardie tyd is ook nie meer so ver in die toekoms nie, want een van die dae sal hy verplig wees om haar vryheid aan haar te gee. Hy kan haar nie vir ’n onbepaalde tyd as slavin aanhou nie.

      Maandagoggend kom daar ’n vreemdeling op La Liberté aan. Leia het die man nog nooit tevore hier gesien nie en wonder so in die stilligheid wat hy kom maak het. Sy het hom en die graaf mekaar sien groet, en dit was duidelik dat hulle baie bly is om mekaar te sien.

      Die man se reistasse en koffers word kort daarna uit die koets gehaal en die huis ingedra.

      Leia haal haar skouers op. Dis maar net nog ’n besoeker, dink sy en buk weer oor die druiwe. Bako het haar vertel watter groot onthale die graaf reël wanneer die druiwe geoes is. In die tyd dat sy hier is, het hy egter net af en toe ’n paar gaste vir ’n aand oorgenooi.

      Teen laat die middag, toe die slawe reeds gereedmaak om huis toe te gaan, kom die graaf en sy jong vriend na die plek waar hulle die dag gepluk het.

      Leia kyk nie op nie. Sy wil nie weer moeilikheid veroorsaak nadat sy die graaf die vorige dag so mooi belowe het dat sy haar sal gedra nie. Net een keer steel sy ’n kykie in die rigting van die vreemdeling en voel ongemaklik toe sy merk hoe hy haar aanstaar. Sy sit haar mandjie op die stapel neer en wag dat Bako by haar moet aansluit. Hulle loop saam terug na die slawehuisies.

      Etienne de Ville kyk verbaas na die graaf. “En wie is dít?”

      De la Fontaine lag. “Dis my besondere probleem, Etienne. Ná meer as drie maande het ek nog nie veel gevorder met haar opvoeding nie. Al wat ek nog bereik het, was om haar te laat begryp dat dit nie dieselfde is om iemand hier te vermoor as om dit in die wildernis te doen nie.”

      Etienne knipper sy oë ongelowig. “Sy is pragtig …!”

      De la Fontaine lag. “Versigtig,


Скачать книгу