Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
gesig verstrak. “Dit was mos maar net my plig, of hoe?”
“Het sy dit gesê?”
“Ja.”
“Die duiwel haal haar en almal wat soos sy is,” sê hy met gevoel.
Leia kyk skeef na hom. “Dis die eerste keer dat ek jou so iets hoor sê, Bako.”
Hy val langs haar in en hulle begin terugstap.
“Dis nie iets wat ek teenoor die graaf sal noem nie, maar dit help as ’n mens so af en toe ’n bietjie stoom afblaas.”
Sy lag. “My manier is ’n bietjie meer daadwerklik, of hoe?”
Hy glimlag. “En gevaarlik.”
Etienne de Ville is by die stal toe Beatrice met die perd daar aankom. Hy het gesien wat daar bo teen die berg gebeur het en het hierheen gekom om met haar te praat.
Sy kyk skaars op na hom toe sy die perd aan die staljong gee.
“Mademoiselle?” sê Etienne en keer haar voor toe sy wil wegstap.
“Wat is dit?” vra sy ietwat geïrriteerd.
“Ek is jammer ek was te laat om u te gaan help.”
Sy kyk op na hom. Sy seunsagtige gesig met die blonde hare wat lossies in ’n strik agter in sy nek vasgebind is, is glad nie te onaardig nie, besluit sy. Miskien het sy hom te gou geoordeel. Sy hou van mans wat so na haar kyk.
“Ek kan myself seker gelukkig ag dat ek nog lewend is,” sê sy oënskynlik ongeërg, maar die skok van haar ondervinding maak haar nog bewerig.
“Dit sou ’n ramp gewees het as u iets moes oorkom,” sê Etienne, en sy blik dwaal na Leia en Bako wat die onderpunt van die bergpad bereik het. “Ons is baie aan daardie slavin verskuldig.”
Beatrice se oë blits vuur. “Oor háár moet jy liewer niks sê nie. Sy het al genoeg moeilikheid hier veroorsaak.”
“Die graaf wil haar haar vryheid gee en ná vandag sal hy seker ook genoeg rede hê om dit te doen.”
Beatrice byt op haar tande. “Ek gee nie om wat Jacques doen nie. Solank ek net nie meer elke dag wat ek hier kom in haar moet vasloop nie.” Sy draai om en stap vinnig van hom af weg.
Etienne bly fronsend staan. Beatrice is ’n pragtige meisie, maar so tipies van haar stand, is haar skoonheid met ’n bietjie gif gemeng. Hy sal wat wou gee om te weet waarom daar soveel intriges en rusies om die wit slavin is. Jacques verdedig haar soos ’n leeuwyfie haar welpie, en Beatrice wens die meisie uit die pad. Madame De la Fontaine lyk net baie bekommerd wanneer daar oor Leia gepraat word. Dit alles, besluit Etienne, lei tot ’n baie interessante situasie.
Salvador Mendoza kom weer vir een van sy gereelde kuiertjies op La Liberté aan. Etienne hou van hom en wonder in die stilligheid hoe die ou man oor die wit slavin se teenwoordigheid voel. Dit neem hom nie lank om uit te vind nie.
Die aand van sy aankoms op La Liberté loop Mendoza en Leia mekaar by die waterput raak. Hy groet haar glimlaggend.
“Hou jy nog uit, Leia?” wil hy vriendelik weet.
Sy lag. “Ek en die graaf het ’n wapenstilstand, monsieur. Ons baklei nie, maar ons het ook nog nie vriende gemaak nie.”
Hy frons liggies. “Hy is jou baie dank verskuldig omdat jy Beatrice gered het.”
Sy kyk weg. “Hy het nog nie dankie gesê nie, en ek verwag dit ook nie. Hy kan sy wyfiekat maar hou. Ek wens net dat ek haar liewer oor die kranse gestamp het, pleks van haar te red.”
Mendoza glimlag. “Dit is presies wat hy verwag het jy gaan doen. Hy en die jong man De Ville het alles sien gebeur, maar was magteloos om iets te doen. Jy was reeds by mademoiselle Beatrice toe hulle onraad merk.”
Haar oë blink in die flou lig van die lantern. “Dis nou ’n mooi grap! Ek wonder of hy die moed sal hê om my keel af te sny as ek haar vermoor.”
“Hoekom haat jy haar, Leia?”
Sy kyk weg. “Sy behandel my soos … soos vuilgoed.”
“Jy het haar gered.”
“Ek het nie gedink nie.”
“Daar steek meer van die beskawing in jou as wat jy wil voorgee. Dit is ingebore by jou.”
“Kennis vloei nie in ’n mens se are nie.”
Hy lag. “Wie weet!” Hy lyk skielik weer ernstig. “Hou net moed, kind. Een van die dae sal dinge seker begin verander. Dit kan nie so aanhou nie.”
Sy kyk na hom. “Miskien … en miskien ook nie. Alles hang van die mense af wat die mag het. Ek kan niks teen julle doen nie.”
“Ek is nie een van hulle nie.”
Sy kyk hom vierkantig in die oë. “Jy is, monsieur. Jy het geld, jy het mag en jy is ’n vry mens.”
“En ek is ’n ou man wat met die jare heelwat wysheid geleer het. Ek dink ek kan sê dat ek mense ken. Jy haat Beatrice de Boudelaire omdat die graaf aan haar behoort en omdat sy eendag jou meesteres gaan wees. Beatrice haat jou omdat jy die graaf interesseer. Eendag sal daar ’n ander uitweg kom, en dan sal jy dit met albei hande moet aangryp. Die paadjie waarop jy nou is, lei na ’n afgrond en ’n ramp.”
“Ek wou hom een nag vermoor … ek het hom met ’n mes gegooi. Hy het nie eens sy kop weggeruk nie. Hy het net na my gekyk …”
Mendoza kyk na haar bleek gesiggie en sidder liggies. Hy kan goed glo dat sy die graaf sou wou vermoor. Om haar te verkoop sal nie die saak oplos nie. Sy sal haar nuwe eienaar ook probeer van kant maak.
Etienne bly onbegrypend in die tuin staan. Mendoza en Leia gesels soos ou bekendes daar by die put. Hy draai stadig om en gaan terug na die huis. Hy is nog maar skaars ’n jaar in hierdie land en hy is klaar geboei deur die mense hier. Al is hulle Franse of Hollanders of Duitsers, hulle verskil tog baie van hul landgenote in hul vaderland. Die land het voorwaar ’n vreemde invloed op sy inwoners.
Die nag word Mendoza skielik siek en hy kan nie die volgende dag vertrek nie. Leia is onbewus hiervan toe sy op bevel van die gravin na die herehuis gaan.
Die ou dame staan, soos haar seun, op die stoep toe Leia nader kom.
“Jy kan nie vir altyd in die wingerde werk nie,” sê Nicole. “Oor die Kerstyd sal ek jou in die kombuis nodig hê.”
Leia kyk onbegrypend na haar. “Die Kerstyd?”
Met ’n skok besef Nicole dat die meisie nog ’n rou heiden is en nie van Christus en sy koms na die aarde weet nie. Hulle het hierdie aspek van haar opvoeding heeltemal oor die hoof gesien.
“Ons sal ’n tyd inruim om dit asook ander dinge aan jou te verduidelik. Intussen dink ek jy moet Bako vra om jou te vertel wat Kersfees beteken.”
Leia knik. “Goed, madame.”
“Kersfees is oor ’n bietjie meer as twee weke. ’n Paar dae voor die tyd sal ek jou laat roep om te verduidelik wat ek van jou verwag.”
“Ja, madame.”
Nicole frons liggies oor die meisie se gelatenheid. Miskien het Leia nou uiteindelik besef dat dit niks sal help om teen die prikkels te skop nie.
“Jy kan maar gaan.”
Leia glimlag toe sy ’n diep buiging maak en na haar werk terugkeer. Sy het geen benul wat van haar verwag gaan word nie. Sy was nog nooit binne die groot herehuis nie en kon maar net grootoog sit en luister wanneer die ander slavinne vertel. Daar is skielik ’n sprankie opgewondenheid in haar. Sy gaan die binnekant van die huis sien wat sy so lank al net van buite af kon bewonder.
Sy steek vas toe sy die jong man ’n paar treë voor haar op ’n bankie in die tuin sien sit. Dit is dieselfde man wat met die rytuig aangekom het.