Op vlerke van die wind. Tryna du Toit
>
Tryna du Toit
OP VLERKE VAN DIE WIND
Human & Rousseau
Hoofstuk 1
Dit het gedurende die nag gereën en toe dit lig word, was die berge toe onder die mis. Maar later het die newels begin wegskuif en die wolke verdwyn, en die son het soos ’n môregroet oor die wingerde en velde van die Boland gespoel.
Dis ’n sprankelende oggend en Emma Conradie kyk met waardering na die skilderagtige landskap wat voor die oop venster van haar kompartement verbyskuif.
Die treinreis is amper verby. Daar voor hulle, nog wasig in die verte, is Tafelberg reeds sigbaar. In die hawe wag ’n skip waarmee sy vanmiddag na Engeland en Europa vertrek.
Die Kaap het van jongs af vir haar ’n spesiale bekoring ingehou. Nou, terwyl die trein deur die buitewyke van die stad snel, voel sy weer iets van die ou opwinding wat sy as kind geken het. Sy was die laaste weke so besig om reëlings te tref, so dikwels nog oorweldig deur die gemis en verlange ná haar pa se skielike dood, dat sy nie veel tyd gehad het om aan haarself of die vakansie te dink nie.
Skielik is dit hier. Dis of haar keel toetrek. Sy wens amper sy kan nou net hier omdraai en terug huis toe gaan. Wat wil sy alleen daar in die vreemde gaan doen? Maar daar is op die oomblik geen huis of werk waarheen sy kan teruggaan nie. Sy het haar brûe baie deeglik verbrand. Die dokter wat haar pa se praktyk oorgeneem het, het hulle huis ook gekoop. Hy en sy gesin het reeds hulle intrek geneem in die ruim ou huis met die groen grasperke, die groot bome en die vrugteboord waar hulle as kinders so gebaljaar het. Haar pos as geskiedenisonderwyseres aan die hoërskool – dieselfde skool waar sy en haar susters was – is reeds gevul.
Sy kan natuurlik na een van haar susters toe gaan – Jeanne of Martie of Maryna. Hulle sal haar hartlik en – ondanks tant Millie – met liefde ontvang. Maar dit was juis omdat sy haar wou losmaak, ook van haar susters, dat sy besluit het om ’n ruk weg te gaan.
In die oop deur van die kompartement verskyn ’n elegante blonde vrou. Emma het haar die vorige aand ontmoet. Hulle het toevallig aan dieselfde tafel in die eetsalon gesit en ontdek dat hulle albei die volgende dag met die S.A. Disa na Engeland vertrek. Hilda Bekker was al verskeie kere oorsee en Emma het belangstellend geluister na alles wat sy vertel.
Hilda kyk nou glimlaggend na haar. “Wel, ons is amper daar. Opgewonde?”
“Ek weet nie. Ek is bly om weer die Kaap te sien, maar die res glo ek nog nie eintlik nie.”
“Sal daar iemand vir jou op die stasie wees?”
“Nee.”
“Ken jy niemand in die Kaap nie?”
“Ek het familie hier – ’n neef wat ’n dokter is. Hulle sal my vanmiddag op die skip kom groet. Ek het niemand anders laat weet nie. Gaan jy reguit skip toe?”
“My vriende sal my hawe toe neem om my bagasie af te laai. Dan gaan ons eers by die Mount Nelson eet. Hulle het ’n afskeidspartytjie vir my daar gereël.”
Emma glimlag. “Dit klink lekker. Sorg net dat jy betyds terug by die skip is!”
“Sê maar vir die kaptein hy moet ’n bietjie wag as ek nie vieruur daar is nie,” sê Hilda liggies. “Luister, Emma, sal ek met die hoofkelner reël dat ons aan dieselfde tafel sit? Slegte tafelmaats kan die hele reis vir ’n mens bederf.”
“Dis baie vriendelik van jou,” sê Emma verras. Die mooie Hilda Bekker sal nooit ’n gebrek aan vriende en bewonderaars hê nie. Dis gaaf van haar om haar oor ’n plaasjapie soos sy te ontferm.
“Miskien, as ek mooi vra, sit hy nog ’n paar alleenlopende mans by ons aan tafel.”
“Jy is tog nie ernstig nie?”
Hilda lag. “Waarom nie? Of verkies jy ’n paar katterige, bemoeisieke vroumense?”
“Ek het nog nie daaraan gedink nie,” sê Emma geamuseerd. “In elk geval, dink jy nie die alleenlopende mans sal verkies om self hulle tafelmaats uit te soek nie?”
“Miskien. Maar ’n mens weet nooit nie. En ’n goeie fooitjie kan nogal baie uitrig. Of dink jy ons moet maar kyk wat gebeur?”
“Ek dink so! Hou maar liewer duim vas dat ek ’n lekker kajuitmaat kry,” sê Emma.
Hilda haal haar skouers op.
“Dis één ding wat ek nie aan die toeval oorlaat nie. Ek sou dit haat om my slaapkamer met ’n vreemde persoon te deel. Ek reis altyd alleen in ’n kajuit.”
“Ek behoort tot die werkersklas,” sê Emma liggies. “Aan so ’n weelde het ek nooit eens gedink nie. Ek hoop maar vir die beste. ’n Lekker kajuitmaat kan nogal gesellig wees.”
Hilda Bekker trek haar fyn neusie op.
“Kry net ’n goeie voorraad pille by jou neef,” sê sy. “Dan kan jy haar darem dokter as sy seesiek is. Wel, ek sê dan maar eers tot siens!” groet sy dan opgewek.
Hilda Bekker is seker al amper veertig, maar met haar blonde hare, mooi vel en foutlose grimering lyk sy veel jonger. Langs haar voel Emma vaal en verlep. Die spanning van die afgelope maande – haar pa se dood, die verkoop van die huis en alles wat daarmee gepaard gegaan het – het haar geestelik en fisiek uitgeput. Nou eers, noudat sy tot stilstand kom, besef sy hoe moeg en verward sy is.
Haar pa se dood het haar onverwags voor belangrike besluite te staan gebring. Hy het meer as dertig jaar lank ’n praktyk op Potchefstroom gehad. Daar is sy en haar drie susters gebore, daar het hulle grootgeword, is hulle skool toe en later universiteit toe. Daar is haar ma dood, is haar susters, almal jonger as sy, die een ná die ander getroud. Sy en haar pa het alleen agtergebly.
Sy het nooit beplan om op Potchefstroom te bly nadat sy haar graad en onderwysdiploma behaal het nie. Sy wou in die stad gaan werk, net om eers haar voete te vind, en later oorsee gaan. Haar planne was alles agtermekaar toe haar ma ernstig siek word en Jeanne, wat net jonger as sy self is, skielik trouplanne kry. Sy moes voorlopig tuis bly, en toe die skoolhoof haar ’n pos aanbied, het sy dit aanvaar.
Jeanne is met ’n predikant getroud en is saam met hom op ’n kort studiereis oorsee. ’n Paar maande later is hulle ma oorlede en sy kon toe nie daaraan dink om weg te gaan nie. Haar pa se praktyk het al sy tyd en aandag geëis, Martie is pas universiteit toe en Maryna was nog op hoërskool. Iemand moes ’n ogie oor hulle hou en die huishouding waarneem. Maar sy was nog jonk, het sy gedink, ’n jaar of twee sou geen verskil maak nie.
So het sy op Potchefstroom gebly, en so, met die jare, is sy vasgevang in die huis en die gemeenskap waarin sy grootgeword het. Sy het nie van haar drome en planne vergeet nie, maar daar was vir eers belangriker dinge om te doen.
Die lewe was vol en interessant. Die huis was gedurig vol jong mense en die maande en jare het soos ’n gedagte verbygegaan. Die mans wat daar gekom het, het gewoonlik vir haar mooi susters kom kuier, en saam met hulle het sy die lief en leed van daardie jare deurgemaak. In die mans wat wel in haar belang gestel het, het sy geen sin gehad nie. Sy is te uitsoekerig, het haar susters gesê, en miskien was hulle reg. Onbewus het sy seker almal aan haar pa gemeet, en dan het die meeste mans swak vergelyk.
Martie is later getroud met hulle pa se jong vennoot. Hulle het vir hulle ’n mooi huisie in die nuwe deel van die dorp gebou en binne ’n jaar is hulle eerste seuntjie gebore. Maryna, van jongs af die rebel, het geweier om soos haar susters na Potchefstroom se universiteit toe te gaan. Sy is stad toe, waar sy ’n kursus in drama en kuns geloop het. Toe sy daardie eerste Juliemaand vir die vakansie huis toe kom, het sy oranjerooi hare, pers lippe en ’n lang sigarethouer gehad.
Hulle pa was diep ontsteld en wou Maryna nie terug stad toe laat gaan nie. Maar sy het gedreig om weg te loop en op die ou end moes hy haar maar haar sin gee. Sy het haar kursus voltooi en haar later met radio- en toneelwerk besig gehou. Sy het die vrye, boheemse lewe geniet en vakansietye het sy gereeld van haar langhaarkunstenaarsvriende – altyd die een of ander wordende genie – huis toe gebring. Hulle was ’n vreemde klomp, ondervoed, verwaarloos en egoïsties. Emma en haar pa was doodbang dat Maryna met