Op vlerke van die wind. Tryna du Toit

Op vlerke van die wind - Tryna du Toit


Скачать книгу
het nou alleen gewoon, maar haar susters het dikwels met hulle krose kom kuier, en dan het die huis weer weerklink van haastige voetstappe en helder jong stemme. Later het Jeanne se man ’n beroep na ’n gemeente op Potchefstroom aanvaar en die familiebande was hegter as ooit vantevore.

      Emma het haar skoolwerk gehad, die huishouding en die tuin om na om te sien, en sy was deel van die dorp met al sy bedrywighede. As daar ’n krisis in die pastorie of in die jong dokter se huis was, was Emma die steunpilaar na wie hulle om raad en hulp gekom het. Toe Maryna en haar man vir ses weke oorsee moes gaan, was dit Emma wat die twee babas moes oppas.

      Toe is haar pa een nag stil in sy slaap oorlede. Martie se man het Emma gewaarsku dat haar pa se hart nie baie sterk is nie en sy het self gesien dat hy oud word, maar sy skielike dood was tog vir haar ’n groot skok.

      Dit was eers ná die begrafnis, nadat alles verby was en sy in die groot, leë huis besig was om op te ruim, dat die volle betekenis van haar pa se dood tot haar deurgedring het en sy aan haarself begin dink het. Wat sou sy nou doen?

      Sy was drie-en-dertig en in haar susters se oë reeds ’n oujongnooi. Vir die eerste keer sedert haar ma se dood was sy vry van alle verpligtinge, vry om te gaan waar sy wil en te doen wat sy wil. Die ou drome het weer in haar begin roer, maar sy was bang en onseker. Sy was vasgegroei op Potchefstroom, in die ou, bekende omgewing het sy veilig en beskermd gevoel. Het sy die moed om weg te gaan, die wêreld daar buite alleen aan te durf?

      Daar was natuurlik nog haar vriend Andries Visagie. As sy met hom trou, sou dit baie van haar probleme oplos. Maar sou sy saam met Andries weer die tinteling wat die lewe eenmaal gehad het, terugvind?

      Dit was haar predikantswaer wat die dag toe hulle besluit het om die huis te verkoop, vir haar gesê het: “Jy wou altyd gaan reis het, Emma. Waarom gaan jy nie nou nie?”

      “Jy bedoel alles hier net so los en op ’n skip klim en wegry?” het sy liggies geskerts.

      “Waarom nie? Ek dink jy is dit na al die jare aan jouself verskuldig.”

      Sy het na hom gekyk, soos dikwels vantevore getref deur sy simpatieke begrip.

      “Ek sal daaroor dink, Herman,” het sy belowe.

      Tien dae later het hy vir haar ’n pak brosjures gebring.

      “Kyk gerus hierna. Miskien sal dit jou help om te besluit.”

      Dit was brosjures van ’n reisagentskap, met inligting oor skepe, reisgeld, tye van vertrek, foto’s van kastele in Frankryk, Londen, Rome, Parys …

      “Die S.A. Disa vertrek middel Augustus. Dit gee jou kans om al jou sake agtermekaar te kry.”

      “Dit lyk of julle van my ontslae wil raak,” het sy hom liggies beskuldig. “Is dit oor tant Millie?”

      Herman het gelag.

      “Nee, dit het niks met tant Millie te doen nie. Ons het jou lief en ek weet eintlik nie hoe ons sonder jou sal klaarkom nie, maar ek dink dis noodsaaklik dat jy ’n bietjie wegkom. En nou is die ideale kans.”

      Ná hy weg is, het sy weer aan tant Millie gedink. Tant Millie was ’n groottante wat vroeër op Potchefstroom gewoon het. Haar man was ’n predikant en sy het haar met almal se sake bemoei en die gemeenskap met ’n ysterhand geregeer. Sy was ’n baie bekwame mens; daar was nie nog iemand wat soos sy kon organiseer nie. Kerkbasaars, huweliksonthale, sportbyeenkomste, konserte, pieknieks, liefdadigheidsorganisasies – met geesdrif en ’n fenomenale dryfkrag het sy alles aangepak en deur­gevoer. Vir alles het sy raad gehad. Almal het haar bewonder en ’n heilige respek vir haar gehad, maar niemand het van haar gehou nie. Selfs ná haar man se dood het sy nog ’n leidende rol in Potchefstroom se gemeenskap gespeel – tot ergernis van die jonger geslag, wat anders oor sake gedink het. Eers ná ’n beroerte wat haar gedeeltelik verlam het, het sy haar finaal – en onwillig – onttrek.

      Vandag is tant Millie haas vergete, maar die familie het Emma dikwels met haar geterg as sy so doenig was met al haar bedrywighede, so graag hulle sake vir hulle probeer reël.

      Herman het gesê nee, dis nie oor die tant Millie-streep in haar dat hulle wil hê sy moet weggaan nie, maar in die stilligheid wonder sy tog. Het sy in haar ywer om haar susters by te staan, haar miskien te veel in hulle sake ingemeng? Sy dink aan die verenigings waaraan sy behoort – waarvan sy gewoonlik voorsitter of sekretaresse of tesourier is – aan haar skoolkinders, hoe dikwels sy in hulle huislike lewens moes inmeng as dit op skool nie na wense gegaan het nie.

      ’n Baasspelerige, gefrustreerde oujongnooi, wat alles en almal wil regeer! Is dit hoe haar familie en die mense van Pot­chefstroom haar sien?

      Daardie selfde middag het sy vakansieklere gaan koop. Toe sy in die winkel ’n sonbril opsit en haarself in die toonbankspieël sien, het haar hart in haar keel geklop. Met hierdie uiloogbril was dit meteens moontlik om die ou Emma af te lê … om haar klaar te verbeel dat sy aan boord van die S.A. Disa is.

      Dieselfde aand nog het sy aan die reisagent geskryf.

      Die trein maak ’n wye draai voor dit die Kaapstadse stasie binnery en ’n oomblik sien Emma die skip, spierwit en statig in die oggendson, waar dit vasgemeer lê langs die kaai. Uit die skoorsteen trek ’n dun rokie.

      Die S.A. Disa maak gereed om te vertrek!

      Sy is verbaas om haar neef Pieter Jacobs op die stasie te sien. Hy glimlag breed toe hy haar groet.

      “Ek het jou kom haal. Edna is in die bed. Sy het geval en ’n arm gebreek. Ma is ook daar – hulle albei wil jou graag sien. Ek sal jou self later skip toe neem.”

      Op pad na Pieter se huis in Milnerton ry hulle vlak by die hawe verby.

      “Daar is jou skip,” sê Pieter. “Mooi, nè?”

      Van naby lyk die skip nog mooier en groter. ’n Regte droomskip wat haar na verre, vreemde lande sal neem.

      Tannie Bettie wag hulle op die stoep in. Sy is ’n paar jaar ouer as Emma se pa, maar lyk nog sterk en vol lewens­krag. Edna het intussen opgestaan. Die ongeluk het die vorige aand gebeur en sy is nog ’n bietjie bleek, maar sy groet opgewek.

      Terwyl hulle tee drink en botterbroodjies eet, gesels hulle oor Emma se pa en die familie. Dan sê tannie Bettie: “Wat gaan jy nou eintlik daar anderkant die water soek?”

      “Ek weet self nie,” sê Emma. “Ek dink ek gaan maar net kyk hoe dit daar lyk – of die mense anders as ons is …”

      “’n Mors van tyd en goeie geld,” sê tannie Bettie. “Waarom bly jy nie liewer hier en soek vir jou ’n goeie man en trou met hom nie? Netnou bly sit jy op die rak.”

      “My susters dink klaar ek is ’n oujongnooi,” glimlag Emma. “En die goeie mans wat ek ken, is reeds almal getroud of ervare genoeg om hulle nie in die strikke van ’n oujongnooi soos ek vas te loop nie.”

      “Ek hoop daar is darem interessante geselskap op die skip,” sê Edna. “Hou maar jou oë oop vir ’n diamantmagnaat of ’n ryk Karooboer.”

      “Wees maar liewer op jou hoede vir die mans op die skip,” sê tannie Bettie streng. “Die offisiertjies met hulle uniforms en elegante maniertjies het gewoonlik ’n vrou in elke hawe, en die ander wolwe in skaapsklere is net daarop uit om onskuldige jong meisies te verlei.”

      “Ek sal oppas,” belowe Emma. “Ek sal my hart die hele tyd streng agter slot en grendel bewaak.”

      “Dit sal baie verstandig wees,” sê tannie Bettie ernstig.

      Martie is soos tannie Bettie, dink Emma. ’n Liewe, goeie, deug­same mens, sonder ’n vonkie humor of verbeelding. En An­dries is ook so.

      Goeie, getroue Andries! As hy vandag hier was en haar weer gevra het om met hom te trou, sou sy seker ja gesê het.

      Die kanon het pas die twaalfuur-tydsein oor die stad gebulder toe Pieter vir Emma by die skip aflaai. Die familie was teleur­gesteld omdat sy nie vir middagete wou bly nie, maar sy was skielik haastig om op die skip te kom en te sien hoe


Скачать книгу