Op vlerke van die wind. Tryna du Toit
oor Sandra se gesig val.
“Ek is doodbang,” sê sy sober. “Om met al die mooiste meisies van oor die hele wêreld mee te ding – ek kry kouekoors as ek net daaraan dink.”
“Jy is pragtig, Sandra. Jy hoef vir niemand terug te staan nie.”
Sandra skud haar kop.
“Vir myself maak dit nie saak nie. Maar om as Mejuffrou Suid-Afrika te gaan, is iets heel anders.” Sy ril skielik en trek die kombers oor haar skouers. “Sjoe, die luggie is koel. Ek wonder hoe laat ons ontbyt kry? Ek is dood van die honger.”
“Ek wil glo jy is honger,” sê Emma simpatiek. “Maar dis nog lank voor jy ontbyt sal kry – ek weet nie of jy dit besef nie, maar die horlosie is vannag ’n uur teruggeskuif. Ek stort net gou, dan gaan ek kyk of ek nie vir ons ’n bietjie tee kan kry nie.”
Sy is pas terug toe Jessie vir hulle tee en beskuitjies bring. Emma groet en verneem na haar pasiënt.
“Hulle was die hele nag aan die gang. Daar het ’n kwaai suidoos gewaai, daarom dat die skip so gerol het. Gelukkig het die see stil geword, so dit sal nou gou beter gaan. Die meeste mense het maar ’n dag of twee nodig om hulle voete te vind.
“Ek is bly dit gaan hier beter,” sê sy toe sy vir Sandra haar tee gee. “Uit soos ’n kers was sy, arme ou lammetjie. Ons eie Mejuffrou Suid-Afrika, nè! So jonk en vars soos ’n blommetjie. Ek is seker sy gaan daardie klomp vreemde meisiekinders almal uitstof.”
Emma drink haar tee en trek ’n bruin langbroek en ’n warm roesbruin trui aan. Om haar nek bind sy ’n mooi groen syserp.
“Geniet jou wandeling,” sê Sandra terwyl sy dieper onder die komberse inkruip. “As ek verslaap, roep my asseblief betyds vir ontbyt, sal jy?”
Op die dek waai ’n koel briesie en met diep teue asem Emma die vars seelug in. Dis net voor sonop en die dek is byna verlate. ’n Paar seevoëls vlieg agter die skip aan, ’n teken dat hulle nog nie te ver van die land is nie. ’n Matroos is besig met skropwerk ’n entjie van haar af, ’n ou man en ’n vrou wandel rustig rond, en ongestoord kan sy haar eerste sonsopkoms ter see geniet.
Die son is al op, die see ’n glimmende blou, toe sy Aletta en haar pa oor die dek sien aankom.
Hulle is nog ’n hele entjie weg en sy draai haastig na die reling en hoop maar dat hulle sal verbystap. In spanning wag sy, maar dan val ’n skaduwee oor haar en ’n nou reeds bekende stem sê: “Goeiemôre. Ek hoop jy voel vanoggend beter.”
Toe sy opkyk, staan Aletta se pa langs haar. Hy het ’n grys broek en ’n blou woltrui aan. Die blougrys oë is koel en ondersoekend en laat haar verleë en ongemaklik voel.
“Ja, dankie,” sê sy styf. Sy wens hulle wil loop.
Maar hy gaan nie weg nie. ’n Oomblik nog kyk hy af na haar, dan sê hy: “Ons het nou al ’n paar keer ontmoet, maar nog nie formeel kennis gemaak nie. Kan ek myself voorstel? Ek is Jacques van Zyl en dit is my dogter, Aletta. Ons wil albei net graag dankie sê vir jou hulp gisteraand.”
Aletta staan styf en ongemaklik eenkant teen die reling. Die blou geruite romp hang op haar knieë, die witblonde hare is in twee stywe vlegseltjies. Die man se stem is beleef, maar sy kry tog die gevoel dat hy heimlik met haar die spot dryf.
Koud sê sy: “Aletta was siek en daar was niemand anders om haar te help nie.”
“Dit was nogtans vriendelik van jou,” hou hy vol, en nou is sy seker hy spot.
“As ek geweet het in watter verleentheid ek myself sou laat beland, sou ek seker twee maal gedink het voor ek na julle kajuit toe gegaan het. Ek dink dit was baie onbedagsaam van jou om ’n siek kind so alleen in die kajuit te los.”
’n Oomblik kyk hy haar aan.
“’n Skooljuffrou, sou ek raai, wat ’n welverdiende vakansie van lastige leerlinge en hulle ewe lastige ouers geniet. Ek is jammer as ons jou ongerief veroorsaak het.”
Emma bloos vererg. Haar groen oë glinster ergerlik, maar sy beheer haarself en sê koel: “Ek is seker ons sien almal uit na die vakansie, meneer Van Zyl. Laat ons dit nou nie met ’n kinderagtige vete bederf nie. Die skip is groot, daar is genoeg plek vir ons almal.”
Daarmee draai sy om en stap weg, maar haar vreugde in die mooi, sonnige dag is gedemp. Wat het haar makeer om so met die man te praat? Sy het niks daardeur bereik nie, haarself net in groter verleentheid gedompel.
Sy stap vinnig en ná ’n rukkie bedaar haar onstuimigheid. Waarom het sy haar so ontstel? wonder sy half geamuseerd. Die kool is die sous nie werd nie.
’n Rukkie later verskyn Agnes Greeff op die dek. Sy wag toe sy Emma sien aankom en groet haar glimlaggend.
“Jy lyk so energiek! Hoe vroeg het jy opgestaan?” vra Agnes.
“Voor sonop. Ek kon net nie langer in die kajuit bly nie.”
“Ek wou ook opstaan, maar Moira het nog geslaap en ek wou haar nie hinder nie.”
Emma vra hoe dit met haar skoonsuster gaan en Agnes skud haar kop. Daar is ’n frons tussen haar wenkbroue. “Sy voel nie baie lekker nie.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “My broer is ’n bietjie meer as ’n jaar gelede skielik oorlede en dis ’n moeilike aanpassing vir Moira. Jy sien, dis nie net dat Henk dood is en sy nou alleen die mas moet opkom nie. Saam met Henk het sy ook so baie ander dinge verloor wat vir haar belangrik was. Sosiale status, vriende, ’n groot huis en tuin, ’n besige sosiale lewe …”
“Ek wil glo dis ’n moeilike aanpassing vir enige vrou,” sê Emma simpatiek.
“Sy was baie mooi toe sy jonk was,” sê Agnes en die frons is nog daar. “Almal het haar bederf – eers haar ouers, toe Henk. Henk het alles vir haar gedoen. Hy was altyd die buffer tussen haar en alles wat onaangenaam was. Dis vir haar moeilik om te aanvaar dat sy nou alleen is, dat ’n deel van haar lewe – so ’n belangrike deel – vir goed verby is.”
“Het sy kinders?” vra Emma.
“Een getroude seun, Dirk. Moira het ’n ruk by Dirk en sy gesin gewoon, maar sy hou nie baie van Dirk se vrou nie en dit het nie goed gegaan nie. Sy is toe eers na ’n hotel, later na ’n woonstel, maar sy kan – of wil – nêrens aanpas nie. Ons hoop maar die reis sal haar ’n nuwe uitkyk op die lewe gee.”
“Waarheen gaan julle oral?”
“Ons beplan eintlik ’n reis om die wêreld. Word ons moeg – of gebeur daar iets – kan ons altyd vroeër terug huis toe gaan. En jy? Wat is jou plan?”
Emma glimlag effens.
“Ek het geen vaste plan nie. Ek volg maar net my ster!”
Agnes glimlag begrypend.
Hulle gaan saam na binne. ’n Man kom die trap op. Die blougrys oë betrag haar koel, effens spottend, en verleë kyk sy weg.
Langs haar sê Agnes Greeff verras: “Hallo, dokter Van Zyl. Dis ’n verrassing! Ek het nie gedink besige dokters kry nog tyd om skip te ry nie. Ek het gedink as hulle êrens wil gaan, vlieg hulle altyd.”
“Hallo, Agnes. Reis jy saam met ons?”
“Ek het besluit om jou raad te volg. My skoonsuster en ek is op die eerste skof van wat ons hoop ’n wêreldreis sal wees.”
Emma wag verleë dat die dokter opsy moet staan dat sy kan verbykom, maar Agnes sit haar hand op haar arm en sê: “Laat ek julle voorstel: dokter Jacques van Zyl van Kaapstad, Emma. En dit is Emma Conradie.”
Hy steek sy hand na Emma uit. ’n Oomblik aarsel sy, dan lê sy haar hand onwillig in syne.
“Emma Conradie,” sê hy liggies terwyl hy haar hand nog in syne hou. “Die skip is nie heeltemal so groot as wat jy gedink het nie, is dit?”
“Nee,” sê sy koel en maak haar hand uit syne los. Hy glimlag en lyk meteens jonger,