Op vlerke van die wind. Tryna du Toit
gees,” merk die dokter op.
“Dit kan ook ’n gebrek aan verbeelding wees,” sê Emma liefies. “Verskoon my, asseblief, ek moet my kajuitmaat gaan wakker maak.”
Sonder ’n woord staan hy opsy sodat sy kan verbykom.
Sandra is reeds op. Sy het ’n langbroek met wit en blou strepe en ’n wit trui aan. Sy het haar rooigoue hare agter haar kop vasgebind en is besig om haar gesig te grimeer.
“Hoe oud is jy, Sandra?” vra Emma met ’n glimlaggie.
“Twintig,” sê Sandra, besig om haar handewerk van naby te beskou.
“Perfek,” sê Emma. Sy haal haar kopdoek af, maak haar lippe rooi en sê: “Kom ons gaan eet.”
“Waar sit ’n mens?” vra Sandra. “Ek ken niemand op die skip nie.”
“’n Ander vrou het my gevra om by haar aan tafel te sit,” sê Emma. “As daar nog plek is, kan jy by ons sit. Maar hier sal seker ander jong mense wees en jy sal tog seker verkies om by hulle te sit.”
Saam stap hulle eetkamer toe. By die deur staan Hilda met ’n jong offisier en gesels. Sy het ’n blou broekpak aan met ’n blou serp om die nek en lyk uitgerus en opgewek. Sy knik vir die offisier tot siens en kom na Emma toe. Verras staar sy na Sandra, en met ’n glimlag stel Emma hulle voor.
“Mejuffrou Suid-Afrika!” Hilda Bekker kyk na die beeldskone meisie: die vleklose vel, die byna volmaakte gelaatstrekke, die glorie van haar rooigoue hare, en ’n vreemde uitdrukking flits oor haar gesig. Hartseer? Jaloesie? Dis weg voordat Emma kan sê. Dan glimlag Hilda en sê vrolik: “Geniet dit, liefie! Ons gesels later.”
Die kelner neem hulle na hul tafels toe: Emma en Hilda na die tafel waar Emma die vorige aand gesit het; Sandra na ’n tafel daar naby met twee jong mans en ’n jong meisie.
“Ons het tafelmaats,” sê Hilda nadat die kelner hulle bestelling gevra het. “Markus van Aswegen, die nyweraar, en sy nuwe jong vrou. Markus en my man het saam in verskillende direksies gedien en hy het dikwels by ons aan huis gekom. Hy is ’n paar maande gelede van sy vrou geskei – hulle was by die dertig jaar getroud – en ek het onlangs gehoor dat hy met Tania, ’n jong model, getroud is. Hy het gesê ons – jy en ek – moet by hulle aan tafel sit.”
Emma kyk onseker na haar.
“As jy ander vriende het …” begin sy. Maar Hilda glimlag. “Ek wil graag hê jy moet hier sit. Jy sal hou van Markus – ’n ruwe diamant, maar eg. Jack, my man, het altyd gesê hy is een van die slimste sakemanne wat hy nog teëgekom het. Hy het belange oor die hele land en is seker vandag ’n miljoenêr. Hy besit pragtige renperde.”
“En die model – Tania?”
“Nog nooit gesien nie, maar baie van haar gehoor. Een van Kaapstad se bekendste modelle.”
“Ek dink nog ek moet liewer ander tafelmaats soek,” sê Emma half huiwerig. Wat sal ’n plaasjapie soos sy tog in sulke uitgelese geselskap maak? “Wie is daar nog?”
“’n Kapenaar, Phil de Klerk – radioman, joernalis en skrywer. Jy het seker al van hom gehoor. Markus ken hom – hy het hom genooi.” Sy kyk op, dan sê sy nugter. “Hier kom hulle nou.”
Emma kyk ook op. Begelei deur die hoofkelner kom ’n ouerige man en ’n jong meisie aangestap. Die man is omtrent sestig en is fors gebou met ’n groterige bles. Hy lyk soos ’n boer wat meer op sy gemak sal wees op sy landerye en tussen sy skape as in dié geselskap. Maar uit sy hele persoon straal ’n dinamiese krag waarvan ’n mens dadelik bewus is. Die meisie is omtrent vyf-en-twintig, slank en soepel soos ’n wilgerlat. Haar roesbruin hare is hoog op haar kop gekam en sy het besondere geelbruin oë en ’n pragtige roomwit vel. Aan haar vinger skitter ’n yslike blouwit diamant. Sy lyk soos ’n eksotiese blom, mooi, wêreldwys, en jonk genoeg om Markus van Aswegen se dogter te wees.
Trots stel Markus haar aan Hilda en Emma voor. Is dit die trots van die besitter, wonder Emma – dieselfde trots wat hy in sy mooi plase, sy duur perde of ’n kosbare juweel sou hê? ’n Interessante paar, maar dit is die man, meer as die meisie, wat haar belangstelling prikkel. En dan is daar ook die Kapenaar, Phil de Klerk. Inderdaad ’n uitgelese geselskap. Wie sou die ander leë plek aan die tafel vul?
Dokter Jacques van Zyl het pas by die eetkamer ingekom. Sy dink hoe sy hom “meneer” het, aan die ontmoeting daar op die trap, en half ergerlik, half verleë kyk sy af na haar bord. Dan staan hy langs hulle tafel. Markus van Aswegen staan op en sê hartlik: “A, Jacques, hier is jy. Kom, dat ek jou voorstel … dokter Jacques van Zyl, dames. Jy ken vir Tania, Jacques. En dit is Hilda Bekker en langs haar Emma Conradie.”
Emma knik koel. “Dokter Van Zyl en ek het reeds kennis gemaak.” Langs haar is ’n leë stoel, maar hy gaan gelukkig langs Tania sit.
“Ek hoor jy kom nou net uit die hospitaal, dokter,” sê Tania. “’n Ongewone rol vir die dokter om ’n pasiënt in sy eie hospitaal te wees.”
“Heel ongewoon en baie leersaam,” sê hy met ’n glimlag. “En beste van alles, dit het gemaak dat ek skielik met vakansie kan gaan.”
“Sou jy nie binnekort Duitsland toe gegaan het om ’n konferensie by te woon nie?” vra Markus van Aswegen.
“Ek is op pad na die konferensie toe. Ek sou later per vliegtuig gegaan het; nou het ek besluit om vakansie te hou en met die skip te gaan. Dis nog iets wat ek daar in die hospitaal geleer het: dat niemand onmisbaar is nie. As jy die dag nie meer daar is nie, gaan die wêreld doodgewoon sonder jou aan.”
“Dié stelling geld vir baie mense, maar beslis nie vir almal nie,” sê Markus. “In elk geval, dis hoog tyd dat jy ’n bietjie vakansie hou. En toe het jy besluit om Aletta saam te bring?”
“Sy sou in elk geval saamgekom het. Ek wil hê sy moet met haar Skotse familie kennis maak.”
“Is jy van Skotse afkoms, dokter?” vra Hilda verbaas.
“Nee, my vrou was. Ons het saam in die hospitaal in Edenburg gewerk en sy het later saam met my Suid-Afrika toe gekom.”
Sy stem is koel en bruusk, asof hy nie graag sy eie sake bespreek nie. Niemand waag dit om hom verder uit te vra nie.
Hulle is klaar met ontbyt en besig om tee te drink toe Phil de Klerk opdaag. Markus van Aswegen stel hom voor en nuuskierig kyk Emma na hom. Nie meer so danig jonk nie, besluit sy. Hy is seker al in die veertig. Sy dik bos hare, te vroeg grys, vorm ’n interessante kontras met sy gladde, nog jong gesig en donker oë. Maar hy lyk moeg. Daar is sakkies onder sy oë. Te min slaap, ’n te harde, te vinnige lewe? wonder Emma.
Phil glimlag innemend toe hy aan die punt van die tafel regoor Markus van Aswegen gaan sit en vra verskoning dat hy so laat is. Hy gee sy bestelling aan die kelner en draai dan na Emma.
“Emma Conradie, het Markus gesê? Is dit van die Kaap se Conradies – Mon Désir, Eikenhoutfontein – of van daar doer agter die berg?”
“Van daar doer agter die berg. ’n Mooi ou dorp in Wes-Transvaal: Potchefstroom. Miskien het jy al daarvan gehoor?”
Hy grinnik.
“Ek ken my geskiedenis,” sê hy bestraffend. “En ek het self jare gelede eenkeer in die nag deur die dorp gery. Ons het verdwaal en was honger en dors, maar kon in die hele dorp geen kafee of hotel kry wat vir ons iets te ete of te drinke wou gee nie.”
Emma glimlag en sê verskonend: “Dis ’n ou boeredorp, met boeretradisies. Ons werk bedags en slaap snags. Maar jy kon by enige huis aangeklop het – ons Transvalers is nog bekend vir ons gasvryheid.”
“Verskoon my,” sê hy met ’n tergende glimlag. “Ek praat nie graag op ’n leë maag politiek nie. Later, as ek sterker voel, sal ek graag die argument wil hervat.”
Net voor hulle opstaan, sê Hilda: “Ek het luitenant Horn belowe ek sal help om die kompetisies te organiseer. Ek maak staat op julle