Man van kaliber. Helene de Kock
ma weet al jare lank dat jy die een of ander tyd na Populier toe gebring sal word. Jy sien, Jessica, ek het haar altyd alles van jou vertel. My ma, Anna, is die wonderlikste mens. As sy na jou luister, vou sy haar hande in haar skoot en hou jou vas met haar oë. En wat jy sê, bly net by haar. Jy sal van haar hou, ek weet.”
Sy luister ontroerd na hom. Hy is baie lief vir sy ma, besef sy. Hy dra ’n geborgenheid in hom rond wat niks met hiper-aanhanklikheid te doen het nie; ’n byna onaantasbare wete dat hy as mens geliefd is. Sy loer na sy netjiese profiel, kyk toe weer weg oor die deinings van geel, oesryp koring wat anderkant Kroonstad lê. En ’n diep, redelose verlange oorval haar. Dis wat ek mis, dink sy droef. Na al die jare wéét ek weer dat ek iemand is wat daarna smag om onvoorwaardelik bemin te word. Hierdie man ook. Karel soek na liefde. En hy weet te goed wat hy wil hê. Juis dit beklem haar. Sy begin stadig soek na woorde.
“Karel, jou ma klink na ’n wonderlike vrou. Ek wil nie graag hê dat sy onder ’n wanindruk moet verkeer nie.”
Dié keer kyk sy hom reguit aan en in die oomblik dat hy sy kop na haar toe draai, is sy gesig stroef. Maar toe glimlag hy weer, sy blik op die teerpad wat swart deur die geel koring streep.
“Ontspan, Jessica. Geniet net die Kersfees op Populier, toe wat.” Hy lig sy hand van die stuur om baie sag aan haar arm te raak. “Ek ken jou, professor. Ek weet dat jy en Kiewiet eenders is.”
“Kiewiet?” vra sy verbaas en tog effens gefassineerd.
“My broer, ja. Kyk, daar is ek en Adam – en dan is daar Kiewiet.”
“Jonger as jy?”
“Die oudste van ons drie,” sê hy kortweg en ’n frons keep tussen sy wenkbroue. “En ons noem hom nie verniet Kiewiet nie. Enige plaaskind weet hoe vol kinkels kiewiete is. As jy op sy nes afkom, sal hy sommer op jou afduik met ’n skril geskree.”
“Maak julle Kiewiet dan ook so?” lag Jessica.
“Ja,” antwoord hy sonder skroom, maak ’n halwe handgebaartjie bo die stuur en trek toe net sy skouers op. “Ag, wel, Kiewiet is nou maar Kiewiet. En dan is daar Adam, die prokureur. ’n Koel maar gawe ou. Jy sal van hom en sy vrou hou.”
“Julle klink na ’n lekker klomp,” sê sy. “Ek hoop tog regtig nie ek versteur die gesinseenheid of so nie. Jy weet ek is ’n vreemdeling.”
“Lank nie meer nie,” verseker hy haar ietwat heftig, hou sy oë stip op die pad. “Dis net jý wat moet mak word, Jessica. Ek sê jou weer: ek kén jou. Van die eerste dag dat ek in jou klas ingestap het, het ek geweet wat agter jou koel grys blik op slot gehou word.”
“Wat?” vra sy skerp; opeens weer beklemd. Miskien was dit tog ’n fout om saam te kom. Maar hy en mevrou Geyer het só aangehou.
Natuurlik gaan jy saam, het sy gepor. Ek gaan buitendien Kersfees na my suster in Bloemfontein en dan sit jy sielsalleen hier. Die bure sal omsien na ons plek.
Karel is terstond genooi om aandete saam met hulle te geniet en is slaapplek in die groot huis aangebied. En vanoggend, dink Jessica met skielike paniek, het ek sonder slag of stoot saam met hom in die motor geklim. Hierdie man wat ek ken, maar ook nie ken nie. Sy sluk droog. “Wat … weet jy van my?” vra sy.
Hy bly ’n lang ruk stil asof hy eers sy woorde rangskik, en sy kan al die bloupers van die Maluti’s op die kim uitmaak toe hy sê: “Genoeg om te begryp dat jy bang is, Jessica. En al wat ek vra, is dat jy my sal toelaat om dáár te wees, vir jou.”
“Dis mooi … en gaaf, Karel, maar onrealisties. En onregverdig teenoor jou. Ek kan jou niks bied nie.”
Sy merk met diep spyt dat sy kneukels skielik wit om die stuurwiel knel en sy maak ’n oomblik haar oë toe. Liewer eerlik wees, maan sy haarself. En dink weer: ek moes nooit gekom het nie.
“Luister, Jessica,” sê hy in so ’n gemoedelike stemtoon dat sy verbaas na hom draai, “ek is ’n groot man. Ek kies self wat ek wil en wat ek nie wil nie. Ek wil jou vriend wees.”
Hy steek sy linkerhand na haar toe uit en sonder om ’n oomblik verder te twyfel, vat sy sy vingers vas. Hulle sit ’n hele ent so en dit pla glad nie. Sy kyk rustig om haar na die Oos-Vrystaatse somer wat goudgeel om hulle dein. Hier en daar steek die dak van ’n plaashuis bo klompe diepgroen bome uit en hoe nader hulle aan die berge kom, hoe stiller word Jessica. Dié wêreld is vir haar nuut en dit slaan haar asem weg. Hulle ry anderkant Bethlehem deur Slabberts se sandsteenkoppe en klowe, draai links by ’n grondpad in wat deur die geil lande kronkel en onverwags in ’n digte groen kom uitmond.
Sy sien dadelik waar die plek sy naam gekry het. Lang blinkblaar-kerspopuliere staan in ’n ry en droom rondom ’n mosgroen dam. Wilde-eende fladder op uit die riete aan die oewer toe hulle verbyry en ’n klompie bleshoendertjies kolk onrustig op die water.
“Dis mooi,” adem Jessica, “en so vredig!”
Karel knik net glimlaggend, ry stadig om die groot dam om die knikke in die sandpad te vermy. Agter die kerspopuliere is daar ’n oopte met drie groot grasdakrondawels. Die deure loop uit op ’n lapa onder ’n hoë, spits grasdak. Dis ’n vreemde, interessante woonplek, en sy leun nuuskierig vorentoe om beter te kan sien. Eenkant merk sy ’n outydse klein bakoond en braaiplek wat gitswart van die roet is. Hier word sekerlik nét buite geleef, dink sy met ’n roering van opwinding. Hoe heerlik moet dit wees om onder die koel grasdakke te sit en te luister na die wind in die populiere. Maar Karel ry verby en sy sit half teleurgesteld terug.
“Wie se plek …?”
“Kiewiet s’n,” sê hy kortaf, en beduie na waar die pad wegraak in ’n digte laning groot populiere. Die stamme is knoetsig van ouderdom, die takke bo soos vingers verstrengel. “Kyk, Jessica, dis een van die langste lanings in die kontrei. Dit loop om die voet van die sandsteenkop tot by die huis.” Hy ry stadig en hou eensklaps stil sodat die koel stilte deur die oopgedraaide ruite teen hulle aandruk. “Jessica, jy moet nie te veel verwag nie. Ons is eenvoudige mense,” sê hy. “Maar in my ma se huis is daar baie liefde en baie kos.”
Sy lag, raak speels gerusstellend aan sy hand wat op die stuur rus. “Dit klink al hoe beter, Karel. Ek is seker ek gaan dit baie geniet hier by julle.”
Sy snap wat hy bedoel toe die laning skielik oopmaak en ’n groot, oop werf met ’n vierkantige sandsteenhuis voor hulle lê. Die voordeur sit presies in die middel, met drie outydse skuifraamvensters aan weerskante. Die rooi sinkdak het ’n hoë nok en daar is glad nie ’n stoep nie. ’n Mens trap, lyk dit vir haar, vanuit die voorhuis tot in die tuin. En die tuin is bloot ’n groot grasperk deur rye geel en rooi kannas omraam. Dis kompleet asof die plek gestroop is van enige voorgee. Daar is geen versiersels nie en tog is dit ’n sieraad; dit besef Jessica toe hy reg voor die voordeur op die gras stilhou en ’n vrou die deur wawyd oopgooi.
Sy lyk nie oud nie, dink Jessica verbaas, en hou haar hand uit na die skraal vrou met die donker bolla. Daar kleef ’n tydloosheid aan haar. Haar gesig is besonder mooi met ’n sterk beenstruktuur en groot oë. En ’n sagte, sagte mond.
Sy trek Jessica nader en bekyk haar met ’n bedaarde glimlag. “Ek het geweet jy sou haar bring toe jy sê jy gaan Potch toe, Karel.” En met ’n laggie aan Jessica: “Kom, jou bed is klaar opgemaak. Noem my Anna.” Sy gesels asof hierdie gesprek geen voorloop nodig het nie en Jessica vind dat sy spontaan saampraat. Terwyl Karel aflaai, loop sy soos ’n tevrede kuiken agter Anna Malan aan deur die ruim, skemerige sitkamer en krakende gang wat na die slaapkamers lei. Oral merk sy die Spartaanse eenvoud. Asof die vrou van die huis met een veeg die plek van ornamentasie gestroop het. Tog is daar ’n onmiskenbare warmte in die afgewitte mure, in die enkele antieke familieportret op die punt van die gang en die spierwit, donssagte bed waarheen Anna haar lei. Haar gasvrou stoot die gordyne oop en die sonskyn spoel na binne om ’n gloed uit die plankvloer en die roomwit skaapvelletjie voor die bed te haal. Geen gehekelde lappies êrens nie, sien Jessica. Die bedkassie en spieëlkas se hout is net blinkgevryf. Anna volg haar oë en glimlag.
“Ek is nie een vir valletjies nie,” sê sy sag.
“Ek