Windspoor. Helene de Kock

Windspoor - Helene de Kock


Скачать книгу
klink sy stem oplaas ergerlik op. “Julle daal dan!”

      Ruben buig meteens oor na haar toe en soen haar.

      “Jy wil nie weet wat aangaan nie, Gus. Maar jy is reg. Ons daal en ek maak ’n plan!”

      Daarop werskaf hy weer by die propaanbrander en daar is ’n bekende blaasgeluid wanneer die warm gas ingepomp word. Sta­dig en swewend styg die ballon. Laura kyk na die agterkant van Ruben se kop; die digte swart hare wat krul in sy nek, sy sterk bruin hande wat raak vat by die aan/af-klep, en sy kry hom op­nuut lief soos elke keer wat sy na hom kyk. Soos die eerste keer toe sy na hom gekyk het.

      Dit was ’n warm Desembermiddag en sy en Gustav het uitgestrek langs die swembad gelê. Douw en Seppi het met hul bene in die water gesit en lees. ’n Skadu het oor haar bene geval en sy het sonder om haar oë oop te maak, gesê: “Gee pad, Douw, jy staan in my son.” En toe daar geen reaksie was nie, het sy gesug en maar verder geraai: “Seppi? Maak dat jy wegkom of ek help jou nooit, óóit weer in jou kampuslewe met fisika nie!”

      “Ek moet nooit, óóit in die regte gaan studeer het nie,” het ’n vreemde manstem gesê, “want fisika lyk nou na net die regte ding …” Haar oë het oopgevlieg. Dit was ’n groot man wat ’n groot skadu gegooi het. Sy oë was so suiwer blou soos die swembadwater en hy het verleë met een hand deur sy digte swart kuif gevee, maar eensklaps breed geglimlag.

      “Ruben!” het Gustav langs haar verheug uitgeroep en opgespring om hand te gee. “My hemel, jong! Waar val jy uit?”

      “Uit ’n vliegtuig,” het Ruben geantwoord, sy helder blik steeds op haar gesig. “Vanoggend al …”

      Gustav het hom aan ’n arm beetgekry en op ’n dekstoel neergetrek; aanvanklik heeltemal vergeet om hom aan die ander voor te stel sodat hulle stil-glimlaggend bly luister het. Hulle het immers nou geweet wie hy was. Ruben Meyer, ou skoolvriend van Gus­tav, op wie hy baie trots was. Daar was heelwat foto’s van hom en Ruben in sy album en hy het daarvan gehou om hulle te vergas op al sy prestasies. Ses onderskeidings in graad twaalf. ’n Graad in die regte, met lof natuurlik. En toe die beurs om aan ’n gesogte Ivy League-universiteit in Massachusetts te gaan studeer. Selfs Laura se pa, professor Helmer, dekaan van ’n regsfakulteit, het later laggend die wens uitgespreek om dié akademiese reus te ontmoet. “Julle kan maar lag,” het Gustav onverstoord gesê, “maar Ruben Meyer is ’n baie besonderse mens. Aantreklik ook, julle sién mos … kyk net dié foto … ’n regte Adonis, nè? En glo my, vroumense is gaande oor hom. Maar sy kop én sy hart sit op die regte plek. Vriendskap is vir hom baie kosbaar.”

      Eindelik kon Douw en Seppi dit nie meer hou nie.

      “Is dit nou Ruben, jou danige vriend?” wou Douw spottenderwys weet.

      “Ons brand om die man te ontmoet,” het Seppi ewe sedig by­gevoeg en vir Laura geknipoog.

      Gustav het verleë gelag en haastig almal aan Ruben voorge­stel. En as sy vriend Laura se hand ’n raps te lank na sy mening vasgehou het, het hy dit nie laat blyk nie. Want daar was so baie om oor te praat. Drie jaar se los drade wat hulle in een enkele gesprek wou vasvat, so het dit vir Laura voorgekom. Hulle het byna tegelyk gepraat, gelag en nou en dan gereageer op Douw se tussenin vrae en Seppi se aanmerkings. Maar sy het bewus gebly van die blouer-as-blou kykers wat kort-kort in haar rigting gedraai het. Toe al het sy die voorloop van hierdie gevoel gehad: dat die twee jaar wat sy vas uitgegaan het met Gustav Bothma niks tussen hulle gesmee het nie. En sy het dit vir seker geweet toe daar daar­die selfde aand nog vir haar ’n telefoonoproep was.

      “Naand, Laura. Dis Ruben Meyer.”

      “O, hoe gaan dit, meneer Meyer?” het sy met kamma koel on­betrokkenheid gevra.

      Hy het sag gelag. “Ek bel nie om clichés uit te ruil nie, Laura.”

      “Waarom dan?” het sy verstom en ’n bietjie afgehaal gevra.

      “Om opinies uit te ruil. Ek dink jy is verreweg die mooiste meisie wat ek nog ooit gesien het. Ek dink dit al sedert Gustav eenmaal ’n foto van jou en hom aan my gestuur het. O, ek weet hulle sê skoonheid is bloot ’n kwessie van smaak. Maar Laura, my goeie smaak het my nog nooit vantevore so stormgejaag laat voel nie.”

      Sy het stom bly luister. Stormgejaag? Wat vir ’n woord … Sy was vol botsende emosies. Hy het woorde gesê wat sy wou hoor; dit het sy helder geweet. Maar Gustav se woorde het in haar kop weerklink: ’n man oor wie vroumense gaande raak … Gustav wat haar so flus nog by die agterdeur nag gesoen het. En sy moes wonder: Sou Ruben dit misbruik? Die wete dat meisies maklik voor hom swig?

      “Laura?” het hy sag gepor, en sy het haar asem ingetrek om koel en diplomaties te sê: “Ek vorm selde blitsopinies, meneer Meyer. Maar my eerste indruk van jou was aangenaam.”

      “Ag so?” En toe met eensklapse ongeduld: “Ek wil jou alleen sien, asseblief. Nou dadelik.”

      “Nee,” het sy sag gekeer, haar hart ’n wilde bonsing in haar bors.

      “Waarom nie?”

      “Omdat ek nog nie só voel nie,” het sy kalm gejok. “Miskien moet jy my maar eers in ’n geselskap beter leer ken. Dalk doen ek iets wat jou goeie smaak beledig en dan is jy ontslae van die storm­gejaagdheid.”

      Hy het sag gelag. “ Noem my Ruben as jy my weer sien, juffrou Helmer,” het hy gesê asof hy haar hele relaas nie gehoor het nie. “En ek gaan vir Gustav waarsku: as hy wil keer, moet hy nóú keer.”

      Sy was min verbaas toe tant Welma, haar stiefma, haar ’n half­uur later kom roep. Hy het in die portaal gestaan met ’n geheimsinnige glimlag om sy mond. En tant Welma het sprekend na haar gekyk toe sy saam met hom by die stoepdeur uit is.

      Buite op die koel, klam grasperk het Ruben dik van die lag gesê: “Sy keur my af. Ek kan dit sommer sien.”

      “Tant Welma is gekant teen blitsromanses. Sy waarsku altyd daarteen.”

      “Ek weet, ja. Ek het haar raadgee-rubriek in Jakaranda gelees toe ek in Amerika was. Gustav het dié tydskrif gereeld vir my aangestuur. Maar ek wil nie oor háár praat nie, Laura.”

      Selfs by die halflig van die stoeplamp kon sy die erns op sy gesig uitmaak. Hy het sy hand na haar toe uitgehou. Op die palm het daar ’n blinkronde klip gelê.

      “Dit moes eintlik ’n berggansveer gewees het,” het hy sag gesê. “Maar ek kon nie gou genoeg een in die hande kry nie.”

      En toe sy versteen bly staan: “Jy lees tog Boerneef? ‘Mits dese wil ek vir jou sê …’ en so aan. Jy ken dit tog?”

      Sy stem het effens geklim, byna asof hy beangs wou raak, en sy het intuïtief haar hand uitgesteek.

      “Dis my beste klip,” het hy gesê toe hy haar vingers daaroor toevou. “My ma het dit vir my gegee toe ek en sy eenmaal langs die Tsitsikammakus gaan stap het.”

      Die klip het glad en koel in haar hand gelê en sy het dit nader aan haar gesig gebring om mooier te kon sien. En die oomblik gebruik om haar kop bymekaar te kry. Natuurlik het sy van die berggansveer geweet: Mits dese wil ek vir jou sê hoe diep my liefde vir jou lê … So lui dit. En of dit nou ’n veer of ’n klip is, die boodskap bly dieselfde. En sy het nie geweet hoe om dit te ontvang nie.

      “Dis baie mooi,” het sy oplaas uitgekry. “Maar …”

      “Daar is geen maar nie, Laura,” het hy pleitend en tog ferm gesê, en weer haar vingers oor die glansende klip gevou. Asof in akkoord het hulle dieper die donker tuin ingestap en op die bankie langs die swembad gaan sit en gesels.

      En later, in die holte van die nag, het sy in haar bed gelê en elke woord van die gesprek oordink. “Vertel my van Harvard,” het sy gesê. Deels omdat sy wou weet en deels omdat sy geen dieper erns wou hanteer nie. Nie op daardie oomblik nie.

      Ruben het dit aangevoel, want nie een maal weer het hy te intens geraak nie. En hy het vertel. Van die eerste maande se be­klemmende eensaamheid in sy woonstelletjie naby Harvard Square. Van daardie winter wat Massachusetts


Скачать книгу