Windspoor. Helene de Kock
beslis ’n sleutel gehad. Of ’n loper. Ons sal ’n ander slot moet kry,” sê Karel Helmer en kom sit ook aan tafel. “Maar wie hy ook al was, iets het hom blykbaar hewig laat skrik. Dié dat hy alles net so gelos en laat spaander het.”
“Dalk het ou Jock vir hom geblaf,” sê Laura spottend, en die ander kan nie help om te lag nie.
“Foei tog,” sê Douw. “Elke keer dat my ou hond sy stert swaai, is ek dankbaar dat hy nog tekens van lewe toon. En ek weet nie eens watter jaar ek hom laas hoor blaf het nie.”
“Nou ja, pluis julle nou maar die inbraak uit,” sê Laura. “Ek gaan ’n bietjie rus, want netnou moet ek stad toe om my trourok te gaan aanpas. Ek het so gewig verloor dat hulle dit moes verstel.”
“Ja, kom ons praat liewer oor mooi dinge,” besluit tant Welma. “Van nou af tot Saterdag mag niemand weer die inbraak nóém nie!”
“Dis nou te sê as daar nie weer een plaasvind nie,” sê Seppi en Douw pomp hom onsag in die sy. Hy ken tant Welma, sy het bedoel wat sy gesê het. Van nou af moet die atmosfeer rosig wees. Sy glo onwrikbaar in gemoedelikheid onder alle omstandighede. Ek wil julle sien glimlag, is haar geliefkoosde gesegde, al vergeet sy dit soms self.
Toe Laura die middag terugry van die bruidsboetiek in die middestad, swaai haar gedagtes soos ’n pendule heen en weer tussen die verruklike vaart van die oggend en die inbraak tuis. Die dag het so sielsalig begin, dink sy wrang, maar die wêreld se wanklank het gou genoeg ingesluip. En dis waar wat tant Welma gesê het. ’n Mens voel bepaald aangetas noudat daar ’n inbraak was. Wat sou die dief gesoek het? En wat het hom laat skrik? Ook bly daar ’n kriewelgedagte in haar agterkop: Waarom was Ruben vanoggend by tye so beangs? Dit was asof hy hom om die dood nie kon oorgee aan ’n sorgelose samesyn met haar nie. En dit ’n paar dae voor hul troue …
Dis toe sy by ’n stopstraat naby die huis stilhou dat ’n donker motorfiets brullend uit ’n dwarsstraat peul en vlak voor haar motor tot stilstand kom. Sy sien net die sonlig op ’n blinkswart valhelm blits en ’n swart gehandskoende hand wat omhoog geswaai word. Die volgende oomblik versplinter die windskerm in duisende silwer skerfies …
“Maar het jy glad géén idee wie dit was nie?” wil Gustav vir die soveelste keer weet waar almal in die woonkamer bymekaar is. Laura skud net haar kop en Ruben kyk hom ietwat gesteurd aan.
“Sy hét mos nou al gesê alles het te vinnig gebeur.”
“Ag wat,” paai tant Welma, “daar is nie eens ’n skrapie aan haar nie. Ek begin dink die man wou haar nie beseer nie, dié dat hy haar as ’t ware tyd gegun het om plat te val. Daar is darem altyd sóveel om voor dankbaar te wees.”
“En om te vrees ook!” hou Gustav vol, sy oë somber op Laura wat styf teen Ruben op die bank sit. En dié keer beaam Douw en Seppi sy woorde luidkeels.
“Ja-nee, dis te erg,” brei Seppi uit. “’n Inbraak én ’n klipgooiery – als op een dag!”
Ruben kyk hom net stroef aan. Maar Gustav is nie klaar nie. Hy staan vinnig op, druk sy hande verwoed in sy broeksakke.
“So iets mag net nie weer gebeur nie!” sê hy driftig. “Sulke dinge versteur die goeie orde van ’n mens se lewe. Niemand het die reg om dit aan iemand anders te doen nie. Dis … dis ’n ingryping van alles wat bóós is!”
“Daar het jy iets,” sê Ruben met koele nadruk toe almal verskrik stilbly. “Want in die lewe gaan dit hoofsaaklik om die goeie orde. En wee hom wat dit versteur.”
“O, dis diep woorde,” sê tant Welma ingenome. “En dit uit die mond van ’n bruidegom.”
“Uit die mond van ’n prokureur,” sê Douw skerp, “want ’n bruidegom sou lankal van bekommernis beswyk het. Laura kon dóód gewees het, hoor!”
Prof. Helmer kug-kug en druk sy vingerpunte teen mekaar.
“Kyk,” sê hy bedaard, “ons moet nou nie dinge uit verband uit ruk nie. Hier was ’n inbraak en Laura is met ’n klip gegooi. Dis traumaties, maar niemand is teen trauma gevrywaar nie. Maar ons sal die lewe vir onsself onmoontlik maak as ons onsself as slagoffers begin sien. Kom ons gaan slaap nou en vergeet voorlopig van hierdie voorvalle, en konsentreer op Saterdag se troue wat tog sekerlik vreugdevol sal wees.”
“Hoor-hoor!” sê tant Welma geesdriftig, en bied dadelik aan om vir Laura warm melk in die bed te bring. Dit werk tog so kalmerend.
Maar in haar kamer lê Laura lank en rondrol. As sy haar oë toemaak, sien sy die blink visier van die valhelm, die swart hand hoog gelig teen die blou van die lug, en voel sy haarself skuins vooroor op die sitplek val ’n breukdeel voordat die klip teen die ruit bars. Sy bly wonder wie dit was. En waarom hy dit sou gedoen het? Wat sou hy op hierdie oomblik doen? wonder sy wild. Dalk sit hy iewers in ’n kroeg en lag.
Toe tant Welma eindelik met die warm melk opdaag, drink sy dit dankbaar, luister gedwee na haar soetlike maar goed bedoelde raad. Vergeet nou alles, kindjie. Dink aan mooi dinge. Jy is ’n bruid. Dink wit. Dink wasig …
Laura knik net en sluk haar lag weg. Net soms bewonder sy werklik tant Welma se vermoë om soos ’n kurkprop op ’n situasie te kan dobber.
Maar toe haar stiefma uit is, is sy tog kalmer, selfs vaak. Haar laaste gedagte voordat die slaap oor haar vou, is van Ruben wat haar netnou nog styf teen hom vasgedruk het voordat hy terug na tant Karla is. Weg was sy beheerstheid wat hy so kalm voor die ander gehandhaaf het. Sy lippe was warm op haar wange, haar ooglede, haar mond. En sy arms was snaarstyf om haar. Jy mag nooit iets oorkom nie. Nóóit nie. Jy is my lewe. Só het hy tussen kort asemstote deur gepraat. En by sy motor het hy bly staan totdat sy die voordeur veilig agter haar dig gemaak het.
Wat haar wakker gemaak het, weet sy nie. Sy lê ’n ruk lank roerloos, hoor ou Jock se bekende gesteun soos hy om die hoek waggel en die effense gekraak van die houttrap namate die nag koeler word. Toe raak haar oë gewoond aan die donker, en sy merk die wit vierkant op die vloer voor die kamerdeur.
Sonder om twee maal te dink staan sy op en gaan tel dit op.
Dis ’n brief. Iemand moet dit onderdeur die deur gestoot het. Sy skakel die bedliggie aan en maak dit oop. Dis Ruben se handskrif en sy word bly. Maar met elke woord wat sy lees, sypel die blydskap weg soos water op warm sand.
Laura, ons kan nie meer Saterdag trou nie. Onthou jy wat ek van die wind gesê het? Wel, dit is ’n baie sterk wind hierdie. ’n Stormwind, dit moet jy weet. Maar wat tussen ons is, is nie ’n kersvlam nie. Dit glo ek. Glo my nou ook dat ek op hierdie oomblik nie anders kan nie. Ruben.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.