Helene de Kock Omnibus 6. Helene de Kock
af as Kiewiet ken nie, maar die duisende ander wat nou almal ’n stukkie van hom wil hê. Dis nie dat ons dit juis doelbewus verswyg nie, dis net dat …”
“Niemand juis iemand is hier op Populier nie?” het Jessica geglimlag. “Dis tog wat Adam ook gesê het!”
“Ja,” het Anna geknik. “Dit is so dat Adam en Karel trots is op Loek, maar nie meer as wat hy op hulle is nie. En ek het my drie seuns ewe lief en daarom is Loek hier net sommer Kiewiet, net soos wat hy was voordat hy bekend geraak het. Dis makliker vir my so. Jy het seker opgelet dat ons byna nooit televisie kyk nie. Ek lees van altyd af liewer koerant. Dis kompleet of ek Kiewiet nie herken op die skerm nie en dit ontstig my ’n bietjie om hom so … so glad en sjarmant te sien.
“Dit was met Lukas ook so, weet jy. Loek se pa. Hy was ook so verskriklik mooi. En hy het dit net so verpes as mense daaroor ’n aanmerking maak. Hy was veral wild vir vroumense wat deur sy voorkoms betower is. Jy sien, Lukas was …” Haar woorde het weggeraak en sy het lank haar mond dig saamgepers. “Lukas was … geheel en al sonder klatergoud. En sy hart was verknog aan die aarde wat vir hom so wonderbaarlik mooi was.”
“Wat het dan gebeur?” het Jessica gevra, ’n kramp van jammerte in haar bors. Anna se hele gesig was deurspoel van verlange. Kan ’n mens so liefhê, het sy gewonder en geduldig gewag totdat die vrou se woorde weer hortend begin kom het.
“Ek het Lukas een vakansie in die Kaap ontmoet. Hy het toe al hier op Populier geboer en ek was pas klaar met my eerste jaar op Stellenbosch. Dit was liefde, Jessica. Onmiddellik en onstuitbaar.” Die groot oë was vol besadigde kalmte, die skraal hande koesterend om die koffiebeker gevou. Dit is nie ’n ontboeseming nie, het Jessica besef. Dis bloot die gestroopte feite van ’n liefde wat die tyd getroef het.
“Dit klink asof dit wonderlik was,” het sy gefluister.
“Dit was, ja. Ons is drie maande later getroud – teen almal se sin in. Ek was so bitterlik jonk. Maar ons liefde het alles bedek – my onervarenheid, sy diep lewensdrif, jare se droogte en toe die vloed wat amper alles weggespoel het. Maar dit was alles niks. Niks. Ons het mekaar gehad.”
Sy was ’n oomblik stil.
“En … toe was daar die nag van die storm. Ek was vier maande swanger met Kiewiet en alleen by die huis. Lukas was lande toe met die motorfiets om na die koring te gaan kyk. Dit het toe al diepgroen in die voortjies gestaan.” Sy het sidderend gesug. “Daar was een verskriklike slag en toe die reën. Ure later het Gert Malan my kom sê Lukas is op die land langs sy motorfiets deur die weer doodgeslaan. Die werksmense het hom daar gekry, maar was te bang om my te kom sê. Gert was ons buurman en ook ons beste vriend.”
“Adam en Karel se pa?”
Anna het net geknik, die leë bekers geneem om dit uit te spoel. En Jessica het geweet: daar was niks meer te sê nie. Die storie het homself verder vertel. Anna Malan het haar drie seuns grootgemaak en tot op heden oomblik verlang sy smagtend na Lukas de Jager. Jessica bly op die koel vensterbank sit tot haar lyf stram is. Toe gaan sy lê, maar die slaap kom nie. Tot die groupienk voorloop van die dagbreek worstel sy met ou en nuwe gedagtes. Wat kom Daniël op Potch soek? En hoe gemaak met Karel en sy liewe ma aan wie sy binne dae verknog geraak het? Mense wat haar toevou met die deernis waarna sy so verlang het die afgelope jare. Al het sy dit nie so mooi geweet nie.
Later staan sy op, gaan stort en trek ’n wit kortbroek met ’n geel kortmoutruitjie aan. Haar hare bind sy met ’n geel strik laag agter in haar nek vas. Toe glip sy deur die skemer gang kombuis toe om vir haar koffie te maak. Maar Anna is haar voor. Kiewiet ook. Hulle sit in gemeensame stilte by die kombuistafel met hul bekers koffie en van Anna se rysige wit beskuit. Anna het nog haar blou kamerjapon aan, maar Kiewiet was klaarblyklik nooit bed toe nie. Het seker heelnag by die oond gehelp. Hy staan op toe sy inkom en sy sien hoe stowwerig sy oorpak is. Daar is fyn, vaalbruin kaf op sy swart kuif en voorkop. Dit kleef aan sy stoppelbaard en hang aan sy lang swart wimpers. Hy lyk soos die woesbebaarde leier van ’n nomadestam, en ’n oomblik stel sy haar voor hoe dit sal lyk as hy só die nuus sou lees. ’n Klein snakgeluidjie smoor in haar keel, maar sy trek haar gesig op ’n vroom plooi.
“Môre,” groet hy stug, en frons toe hy vir haar ’n stoel uittrek. “Môre, Kiewiet,” sê sy koelweg en beantwoord Anna se breë glimlag. Sy gooi vir haarself koffie in en gaan sit ewe tuis by hulle. Anna begin gesels asof hulle drie al jare lank saam oggendkoffie drink. Sy beduie met ’n blos van entoesiasme op haar wangbene hoe sy van rooi kannas en dennebolle ’n tafelrangskikking vir vanaand se Kersmaal gaan maak. En sal Jessica vanoggend asseblief handjie bysit met die koekbakkery vir Populier se werksmense?
“Wie sê die professor kan bak?” wil Kiewiet moedswillig weet en kyk haar die eerste maal reguit aan met sy kwaai, swartblink oë.
Kompleet, dink sy, asof hy die een of ander reaksie wil uittorring. Sy glimlag lief met hom. “Die professor het nog nooit, maar Jessica is ’n ou hand met bak en brou, Kiewiet.” Sy lê liggies klem op sy naam en sy sien dat sy die kol getref het. ’n Gloed stoot in sy nek op en hy tuur in sy koffiebeker.
Sy begin met Anna gesels, maar dink met wrang satisfaksie: So ja, Loek de Jager, weet nou dat jy vir hierdie proffie bloot Kiewiet is. En naby jou nes sal sy sweerlik nie weer kom nie. En nog ’n ding: jou Kiewiet-gesig vol kaf en stof staan my veel meer aan as Loek se winkelpop-mooigeit. Ten minste kan ’n mens sien hoe bekonkeld jy eintlik kan wees.
Sy luister na Anna se geselsies, knik nou en dan instemmend sonder om werklik te hoor en sien hoe die vrou se oë telkens liefkosend raak aan haar seun se breë hande wat styf om die koffiebeker gevou is, aan sy ongelooflike mond met die vol onderlip wat nou liggies saamgepers is soos wat hy drink en sluk. Maar hy hou sy broeiende swart blik op die tafel tussen hulle, kyk Jessica nie een keer weer aan nie. Net dan en wan kyk hy na Anna en dan versag die mooi, stowwerige gesig. Maar sy blik flits verby Jessica na die venster agter haar of af na die tafelblad waar ’n strepie sonlig tussen hulle ingekruip het. Hy drink klaar en plak sy beker hard neer toe hy opstaan.
“Ek loop nou,” sê hy effe bot, sodat Anna half verbaas haar eie relaas oor die doenigheid van die oggend onderbreek.
“Jy’t dan nog nie geëet nie, kind!” maak sy beswaar.
Maar hy skud sy kop so heftig dat Jessica die kafreuk in haar neus voel prik. “Nie honger nie, Mams. Ek sal vanaand mos baie eet.” Daarmee stap hy met lang treë uit en die sifdeur klap toe agter hom.
Anna sug en bly ’n rukkie nadenkend stil. Toe sê sy: “Steur jou tog nie aan hom nie, Jess. Hy sal jou nog gewoond raak. Hy maak van kleins af so as vreemde mense hier kuier.”
Jessica knik swyend, maar die woorde krap onverwags aan haar, maak haar nugter wakker. Ek kan nie bly nie, dink sy. Waarom moet Kiewiet my kwansuis gewoond raak? Tog nie om Karel se ontwil nie, dit weet almal seker nou.
“Anna,” sê sy, “ek is ’n vreemdeling hier en ek …”
“Ag nee!” roep die vrou ontstemd uit en steek albei haar hande oor die tafel om Jessica s’n vas te vat. “So het ek dit nie bedoel nie!”
Maar Jessica maak haar met ’n laggie stil. “Ek weet goed, Anna. Maar jy weet tog daar’s geen werklike rede waarom Kiewiet aan my hoef gewoond te raak nie. Ek het saam met Karel gekom, maar ek moet om sy ontwil liefs nie bly nie. Buitendien, ek moet na Kersfees regtig terug Potch toe.”
“Om Daniël se ontwil,” sê Anna en klink so beswaard dat daar ’n benoudheid in Jessica se bors opstoot. Dis of die woorde haar eie gedagtes deur ’n sif druk sodat net die pitte agterbly. Daniël, en sy terugkoms sonder sy vrou. ’n Ligte bewing laat haar haar hande uit Anna se moederlike greep losmaak.
“Nie regtig nie,” jok sy openlik en sien die fyn begrip vir die leuentjie in Anna se mooi oë.
“Nou toe dan maar. Maar ek het tog gehoop dat jy sal bly tot na Nuwejaar. Ons het elke Oujaarsnag ’n holkransparty wat jy net móét bywoon.”
“Sy kan dit vir seker nie misloop nie,” sê Karel, wat ingekom het en die laaste woorde opvang. Hy tik Jessica liggies op die skouer