'n Fontein voor ons deur. Marita van der Vyver
senu-ineenstorting belewe. Ek moes my vel opoffer om my senuwees te red, dis hoe ek myself probeer troos het. (En dit het my darem so half heldhaftig laat klink – eerder as bloot vraatsig.)
Die wreedste van alles, soos menige ma van ’n matriekkind kan getuig, is dat daar dikwels ’n omgekeerde verhouding tussen jou en jou kind se stresvlakke ontwikkel. Hoe meer jy snags slapeloos rondrol, hoe harder snork hy in die kamer langsaan. ’n Goeie nagrus, verseker hy jou, is die bes moontlike voorbereiding vir ’n wiskunde-vraestel. As jy durf vra of ’n paar uur van studie nie óók sou help nie, lig hy jou in dat wiskunde nie ’n ‘studievak’ is nie. Óf jy kan dit doen, óf jy kan dit nie doen nie. Hy kan nie, glo hy, daarom kan hy net sowel rustig slaap.
‘En wat van geskiedenis?’ smeek jy die aand voor die geskiedenis-eksamen. ‘Dis mos ’n studievak by uitstek! Al daardie datums, name, plekke!’ Nee wat, antwoord hy gelate, wat nou nog nie in sy kop is nie, sal beslis nie teen môreoggend in sy kop kom nie. Hy sal eerder rustig slaap.
‘Engels is jou beste vak!’ gil jy drie dae later wanhopig. ‘Jou laaste kans om jou uitslae te verbeter!’ Teen hierdie tyd probeer jy nie eens meer kalm bly nie. Jou kop is al amper so kaal soos Nataniel s’n, jou vel ’n katastrofe, jou sin vir humor ’n vae herinnering uit vervloë dae. ‘Presies,’ beaam jou kind vol selfvertroue. Vannag gaan hy nou rêrig rustig slaap.
Ek sukkel steeds om te glo dat Daniel ondanks al hierdie rustige slapery sy bac heel skaflik geslaag het. Ek is so verstom dat hy ’n mention verwerf het – wat vir Franse skoolverlaters amper so waardevol is soos ’n paar A’s in ’n Suid-Afrikaanse matriekeksamen – dat ek selfs begin wonder of daar nie tog iets te sê is vir slaapterapie nie.
Maar bowenal is ek verlig dat ons nou in alle erns na ’n kleiner huis kan begin soek.
O Krisis!
Die dag nadat ons ’n eiendomsagent gebel het om daardie A Vendre-bordjie teen ons blou tuinhek te kom hang, het die eiendomsmark wêreldwyd ineengestort. Nee, ek glo nie dis ’n regstreekse gevolg van die bordjie teen ons hek nie, maar ek wonder tog meer as voorheen oor daardie teorie van ’n skoenlapper wat sy vlerke op een vasteland fladder en dan volg ’n natuurramp op ’n ander vasteland . . .
Lank, lank gelede, vertel ek gisteraand vir my dogter, was spaarsamigheid nie juis iets om op trots te wees nie. Toe ek nog klein was (onvoorstélbaar lank gelede vir my kind), het ek my oë omgedop vir oujongnooitantes wat plastieksakkies uitspoel en aan die wasgoedlyn hang, of klam en pap gebruikte teesakkies spaar vir ‘weer gebruik’.
Ek het grootgeword in ’n oorvloedige era, vertel ek terwyl my kind verwonderd in haar bed lê en luister, toe spaarsamigheid dikwels verwar is met suinigheid. Ek en my maats het geamuseerd kop geskud oor ma’s wat leë margarienbakkies en glasflessies bewaar, en oupas wat los skroewe en stukkies tou bêre. En dan was daar ons arme pa’s wat aanmekaar gekla het oor ligte wat onnodig brand en elektrisiteit wat gemors word. Sulke belaglike klagtes het ons bloot geïgnoreer. Sonder enige gewetenswroeging.
Want ons het tot sommer nou die dag nog gelewe in ’n wêreld waar ons alles eerder weggegooi as weer gebruik het, van bottels tot babadoeke, van koerante tot karre. Ons het nooit, soos ons ouers of grootouers, die ontbering van ’n Groot Depressie of ’n Groot Oorlog ervaar nie. Ons het roekeloos gekoop, verbruik, weggegooi, sonder om te besef dat ons besig is om die aarde in ’n enorme vullisdrom te verander – en dat so ’n misbruikte planeet nie vir ewig kan aanhou om energie vir so ’n gierige mensdom te verskaf nie.
‘Rêrig, Mamma?’ vra my Mia ongelowig. ‘Was julle só dom?’
Ja, my kind. Die slegte nuus is ons was so dom. Die goeie nuus is, miskien, dat dinge só verander het dat jy en jou maats nou sukkel om te glo hoe morsig ons was. Hier in Europa is ons terug waar ons dekades gelede was, vóór spaarsamigheid ’n verdagte woord geword het. En wêreldwyd is die wiel aan die draai.
Want wat ons deesdae ‘herwinning’ noem, is eintlik mos maar net ’n byderwetse frase vir daardie vervelige ou ‘weer gebruik’ van ons oujongnooitantes. Ek moet bieg ek gril stééds vir klam en koue teesakkies, verkies steeds om hulle weg te gooi eerder as weer te gebruik, maar ek gooi hulle ten minste weg in die ‘regte’ vullishouer agter die kombuisdeur. En die vyf houers, vir onderskeidelik papier, glas, plastiek, blik en ‘nat gemors’, word elke paar dae pligsgetrou na die ‘regte’ herwinningsdromme op die dorpsplein gedra. Ons doen dit dalk op groter skaal, met ’n bietjie meer flair, maar dis nie só anders as ons ma’s wat leë margarienbakkies gebêre het nie, of hoe?
Hierdie nuwe soort ‘suinigheid’ het ontkiem in die groeiende ekologiese bewussyn van die afgelope dekade, maar eers waarlik begin blom in die huidige ekonomiese krisis. Shop till you drop is net nie meer iets om oor te spog nie. Spaarsamigheid is besig om ’n statussimbool te word.
My oorle’ oupa met sy skroewe en sy stukkies tou sou dít sowaar nooit kon voorspel nie.
Op ons Franse TV wys elegante Paryse vroue hoe om jou eie seep en jou eie sjampoe in jou eie kombuis te vervaardig, en in vele voorstede kan jy aandklasse bywoon as jy wil leer om self skottelgoedvloeistof en vloerpolitoer te maak. Oor die radio verduidelik groot kokkedore van die Franse kookkuns – wat tot onlangs nog resepte vir onbekostigbare truffel-belaaide geregte uitgedeel het – deesdae ewe beskeie hoe jy met goedkoop bestanddele steeds verbeeldingryke etes kan voorsit. En op internet dryf oud en jonk verbete handel om enigiets van gehoorapparate tot skaatsplanke teen die laags moontlike prys aan te skaf.
Suinigheid, kan jy maar sê, het sjiek geword.
Of in elk geval moreel regverdigbaar. In ons huis kla my man al jare lank, soos miljoene moedelose pa’s voor hom, oor ligte wat in leë vertrekke brand en radio’s wat vir niemand speel nie – sonder enige bespeurbare gewetenswroeging by ons kinders. Toe kry hy laas jaar die briljante idee om die krimpende energiebronne van die aarde as getuie teen die beskuldigdes in te span. Dit het ’n enkele preek oor ’n donker en droewe toekoms gekos, toe begin die kinders skielik onthou om elektriese apparate af te skakel.
Hulle doen dit steeds, meestal. Nie om ’n klaende knorpot van ’n pa tevrede te stel nie, maar om ’n kosbare planeet van ondergang te red. En die pa gee nie rêrig om dat hy minder belangrik geag word as die planeet nie.
La crise, noem die Franse dit, hierdie ekonomiese fiasko wat Europa soos ’n stormwind getref het. En dis ’n wind wat net nie wil oorwaai nie, hoe hard die een regering ná die ander ook al probeer om ’n gemeenskaplike dak oor die ganse Europa se kop te hou. Dit beteken dat ons almal ons euro’s vier keer moet omdraai voordat ons die voosgevatte note uitgee.
Vir ons gesin is dit nie so ’n enorme aanpassing soos vir sommige ander nie. Aangesien ons al jare lank meer kinders en ’n groter huis het as wat ons eintlik kan bekostig, is ons gewoond daaraan om spaarsamig te lewe.
Ek dra byvoorbeeld van toeka se tyd af tweedehandse klere.
Miskien moet ek dit nie so trots verkondig nie. Daar ís blykbaar nog mense wat dink tweedehandse klere is iets om oor skaam of skuldig te voel. Behalwe as jy jonk en brandarm en boheems is, of ryk en beroemd met jou eie persoonlike modestyl. As jy ’n behoeftige dramastudent of kunstenaar is, sal niemand jou skuins aankyk as jy tweedehandse klere dra nie. (Of nie meer skuins as wat hulle in elk geval sou gekyk het as jou rare uitrustings nuut was nie.) As jy ’n wêreldberoemde model soos Kate Moss is, mag jy ook maar in tweedehandse klere pronk – maar dan noem jy dit nie tweedehands nie, jy praat van vintage of retro. En jy koop jou vintage skeppings in eksklusiewe boetieks wat net so duur is, indien nie duurder nie, as winkels waar jy nuwe klere koop.
Maar as jy ’n respektabele middeljarige ma met ’n klomp kinders is, het jy mos nie ’n verskoning om dooie mense se klere te wil dra nie? Behalwe as jou man miskien sy werk verloor het, siestog, of as die geldnood om watter rede ook al rêrig knyp. Of as jy besonder eksentriek wil wees en soos ’n karnavalkarakter wil lyk.
Wel, hierdie middeljarige ma is nie buitengewoon