'n Fontein voor ons deur. Marita van der Vyver
ek daarvan hóú. Omdat ek veel eerder my geld op boeke of reise of smaaklike etes sal uitgee as op ontwerpersuitrustings wat ’n plaas se prys kos. Omdat my maag kriewel van lekkerkry wanneer ek ’n kameelkleurige kasjmierjas, ontwerp deur ’n beroemde Franse modenaam, vir skaars tien euro by die Rooi Kruis se liefdadigheidswinkel opspoor. Welwetend dat dieselfde jas my honderd keer meer sou kos as ek dit nuut in ’n deftige Paryse boetiek moes koop.
En tog is die belangrikste rede vir die groeiende gewildheid van ‘ander mense se klere’ hier in Europa vermoedelik die ekologie eerder as die ekonomie. Dis vrééslik in om groen te wees en te herwin eerder as om enigiets onnodig weg te gooi. En tweedehandse klere is tog een van die oudste maniere van herwin – soos elkeen sal weet wat as kind tevrede moes wees met ’n ouer sus of boet se ‘aangeeklere’. Dis dalk ook die belangrikste rede waarom soveel van ons steeds neig om neus op te trek vir iemand anders se klere: die aaklige herinneringe aan klere wat jy nie self kon kies nie.
Wees verseker, dis heeltemal ’n ander saak as jy kies om tweedehandse klere te dra. As jy skrikkerig is, sal ek jou aanraai om te begin deur bloot mense wat jy ken se klere te dra. ’n Klompie van my Franse vriendinne hou elke seisoen ’n heerlike uitruilpartytjie waarheen elkeen ’n hoop ongewenste klere bring. Dan word daar aangepas en modeparade gehou en gekraai van die lag terwyl elkeen kies wat sy wil hê.
‘Swishing’, lees ek onlangs op die internet, is die byderwetse woord vir hierdie bedrywigheid wat wêreldwyd al hoe gewilder word. Groot modename soos Twiggy is glo geesdriftige swishers (hoewel die meeste van ons helaas nie in die plankdun gewese model se rokkies sal pas nie) en dit kan natuurlik ook op die net gedoen word. En die leuse van die ‘internasionale etiese beweging’? Swop till you drop! Nou is ek nogal geamuseerd dat ek toe al die tyd ’n pionier is in ’n ‘etiese beweging’ waarvan ek nie eens geweet het nie.
Alles wat aan die einde van so ’n aand van Franse swishing oorbly, word aan ’n liefdadigheidswinkel geskenk. Waar meer avontuurlustige siele soos ek tussen rakke vol lelike klere kan gaan snuffel vir die weggesteekte truffel, die diamant in die stof, daardie pragtige kasjmierjas wat volmaak pas. En glo my, as jy eers één keer só ’n diamant ontdek het, sal jy dit wéér wil doen.
En voor jy jou kom kry, dra jy dalk ook ander mense se klere. Sonder enige skaamte of skuld.
Maar al my klere is darem nie tweedehands nie. Ek het ’n swak vir mooi onderklere – natuurlik nie tweedehands nie – en bestee gereeld meer geld op hierdie weggesteekte kledingstukkies as op enigiets wat ek vir ander mense wys. En soos die meeste vroue word ek soms in ’n winkel oorval deur ’n soort waansin wat my ’n onnodige, oorbodige en toetentaal onvanpaste uitrusting sal laat koop – net omdat die prys skielik vir my onweerstaanbaar klink.
Laat ek verduidelik. Ek beskou myself as ’n (taamlik) redelike mens. Belangriker nog, ek verloor (meestal) nie my redelikheid in winkels of selfs op uitverkopings nie. Ek glo nie dat koop-koop-koop my gaan laat lag-lag-lag nie. Ek het nog nooit douvoordag op straat gewag dat ’n winkel se deure oopgaan vir die eerste dag van ’n uitverkoping nie, nog nooit soos ’n histeriese hamster deur ’n hoop winskoop-klere gegrawe nie, nog nooit handgemeen geraak met ’n ander klant wat saam met my na dieselfde begeerlike kledingstuk gryp nie.
Dis die soort gedrag wat ek net uit grappe en spotprente ken.
Maar selfs die redelikste mens sukkel soms om ’n winskopie te weerstaan. Dis mos nou ’n bargain, oortuig ek myself, al is dit ’n wye katpak in ’n vuilgroen kleur wat my soos ’n valskermsoldaat laat lyk. Want kyk, dis van suiwer sy! Al weet ek voor my siel dat ek nooit hierdie spesifieke skakering van seesiekgroen sal dra nie omdat dit my aan ’n gehate skooluniform uit my jeugjare herinner.
Of, op ’n ander dag, in ’n ander winkel: Kyk, dis rooi fluweel, en ek wou nog altyd ’n rokkie van rooi fluweel hê. Al is hierdie een miskien ’n nommer te klein. (Ek kan mos maar minder eet tot ek daarin pas.) Want dis mos nou ’n bargain!
En dan hang die aaklige valskermuitrusting of die te klein rokkie van rooi fluweel in my kas, soms jare lank, ná ek dit ’n enkele keer gedra het. (Een keer is gewoonlik genoeg om te sien dit werk glad nie.) As ek daarvan ontslae raak, is dit mos ’n onteenseglike bewys dat my ‘winskopie’ eintlik ’n waansinnige flater was. En dís moeilik om te erken, vir ’n (taamlik) redelike vrou.
Sulke valse winskopies herinner my nogal aan die Britse bergklimmer Mallory se befaamde antwoord op die vraag waarom hy Everest wou klim: Omdat dit daar is. Soms koop ’n meestal redelike vrou soos ek ’n kledingstuk bloot omdat dit daar is – en minder as gewoonlik kos.
Die goeie nuus is dat sulke winskopie-flaters tog minder word soos mens ouer word en uit jou eie foute leer. Teen dié tyd weet ek ek sal nooit vuilgroen dra nie (nie eens vuilgroen sy nie), nes ek weet ek sal nooit honger ly ter wille van ’n rok nie (nie eens ’n rooi fluweelrok nie). Maar ek vermoed die waansin sal nooit heeltemal verdwyn nie.
Net laas somer nog het ek in Spanje ’n lieflike oorvouromp met ’n swart-wit blompatroon teen ’n belaglik lae prys aangeskaf. Dié keer was die grootte en die lengte en die sjiffonmateriaal en alles perfek. Eers toe ek dit die eerste keer dra, ontdek ek dit vou nie net oor nie, dit vou veral oop. Elke keer as ek gaan sit, hang die twee pante tot op die vloer aan weerskante van my kaal bene. Die soort romp wat sou werk vir Paris Hilton as sy uit ’n New Yorkse taxi klim, maar erg onvanpas vir ’n middeljarige taxi-ma van vele kinders en stiefkinders.
Om nie eens te praat van wat Provence se nare mistralwind met sulke flappende sjiffonpante aanvang nie. Toe ek nou die dag oor die straat stap, het ek vir ’n enkele angswekkende oomblik gedog ek word blind. Alles het net skielik swart geword. Al wat ek kon hoor, was skreeuende motorremme.
Dit was die swart voering van die romp wat tot bo-oor my kop gelig is deur ’n vlaag wind.
Ek het onmiddellik geweet ek gaan nooit-ooit weer hierdie romp dra nie. Selfs al sou die opvlieënde pante gedokter kon word met gewiggies in die soom of hakies om dit toe te hou of wat ook al. Nee, die blote herinnering aan my oomblik van onbedoelde ekshibisionisme in die middel van ’n besige Franse dorpstraat is genoeg rede om van hierdie bepaalde ‘winskopie’ ontslae te raak. Dit behoort eintlik genoeg te wees om my vir die res van my lewe van sulke simpel winskopies weg te hou – maar dit wil ek eerder nie belowe nie.
Terwyl ek hier sit en skryf, juig die sonbesies vlak voor my venster omdat dit somer is in Provence. Hulle steur hulle glad g’n niks aan la crise nie. Min gepla met die verdrietige feit dat vele Franse vanjaar gedwing word om ’n meer beskeie somervakansie te beplan – korter, goedkoper, nader aan die huis – of hoegenaamd nie kan weggaan nie.
Nee wat, die sorgvrye insekte sing lustig voort omdat die son tot laat saans skyn. Omdat die lug blou is en na laventel ruik. Omdat die lowergroen platane skaduwee en koelte bied. Dalk kan ons ’n les by hulle leer. Anders gaan ons oor ’n paar maande terugkyk na ’n seisoen waarin ons so gewroeg het oor die ekonomie dat ons skoon vergeet het om die son te waardeer.
Maar hoe bied jy vir jou gesin ’n somervakansie op ’n begroting wat krimp soos ’n woltrui wat in te warm water gewas is? Die antwoord, vir ’n groeiende aantal Franse, is ’n strategie wat Suid-Afrikaanse binnelanders al jare lank beproef. Jy bedel ’n bed (of ’n matras op die vloer) by familie wat naby die see woon, dan voel dit darem soos vakansie. (Nie vir die arme familie by die see nie, maar dis weer ’n ander storie.)
Vir ons gesin is dit egter nie ’n praktiese opsie nie. Ons Franse familie woon almal in die minder aanloklike noorde van die land. Húlle kom gewoonlik in die somer by óns in die warm suide afpak, nie andersom nie. (Dié dat ek weet watse harde werk sulke gaste kan wees – hoe lief jy hulle ook al het.)
En ons Suid-Afrikaanse familie is te ver. Ons kan miskien nog genoeg beddens vir die hele gesin bedel – hoewel selfs dít kan lol as jou gesin so groot soos ons s’n is – maar ons kan nie bra verwag hulle moet ons almal se vliegtuigkaartjies ook nog betaal nie.
Die Europeërs kampeer glo ook vanjaar in groter getalle as ooit voorheen. Dit bly die gewildste Plan B as jy nie by familie kan gaan afpak nie. Terug na die natuur gedwing deur die ekonomie, sou mens miskien hoopvol kon sê.