Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Herman Charles Bosman

Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman


Скачать книгу
aantal kortverhale geskryf het wat na my beskeie mening nie heeltemal sonder literêre verdienste is nie.

      Daar was eienskappe van die Marico-bosveld wat amper te oordadig was. Daardie deel van die land was ná die runderpes en die Boereoorlog feitlik verlate. Baie plase noord van die Dwarsberg is net meer as tien jaar tevore eers bewoon, toe boere van die Noord-Kaap en die Wes-Transvaal na die Marico getrek het. Daardie boere was régte Boere. Mense sê ek het ’n besondere insig in die psige van die Afrikaner wat sy lewe op die platteland deurbring. Ek het daardie kennis in die Marico opgedoen, waarheen ek gestuur is toe my verstand die ontvanklikste vir indrukke was.

      Dan was daar die bos. Doringbome. Withaak en kameeldoring. Die kremetart. Swarthaak en blinkblaar en wag-’n-bietjie. Moepels en maroelas. Die songebakte vlakte en die doringboom en Suid-Afrika. Bome is meer as plantegroei en meer as simbole en meer as flou sentimentaliteit, soos in “Woodman, spare that tree” of “Poems are made by fools like me”. Nietemin, wat die eik en die essehout en die sipres vir Europa is, is die doringboom vir Suid-Afrika. En as lourier en mirtehout vir snoer of blommekrans is, is dorings vir ’n kroon.

      In die bos was daar koedoes en koeie en duikers en steenbokkies en osse en gemsbokke en donkies en af en toe luiperds. Daar was ook ribbokke in die kranse en groen- en swartmambas, waaroor skrikwekkende stories vertel is, en muile om die perdekarre te trek, want perde het nie in daardie streek geaard nie. Skrikwekkende stories is ook oor muile vertel.

      En die sonsondergang in die Marico-bosveld is ongelooflik, dik gestreep soos tronktralies, en kleurvol soos hulle kafferkomberse.

      Dan was daar boorgate, honderde voet diep, waaruit water in droogtetye met die hand in die vee se watertrôe gepomp moes word. En daar was ’n Betsjoeana-hoofman wat eenkeer Londen toe is, waar hy ’n oudiënsie verleen is deur Sy Majesteit, George V, die destydse Engelse koning.Toe die Hoë Kommissaris hom op pad terug van Buckingham­paleis uitvra oor die aard van die gesprek, het die Betsjoeana-hoofman geantwoord, “Ons konings weet waaroor om te praat.”

      Daar was af en toe besoeke van predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. En ’n paar vergaderings van die Dwarsberg Debatsvereniging. En daar was dikwels rusies tussen die inwoners. Want ek sou ontdek dat, hoewel die veld oneindig ver strek en die plase baie myle uitmekaar is, die paadjies tussen die doringbome deur nou is.

      Dit is na hierdie deel van die land, die noordelike deel van die Marico-bosveld, waar die Transvaal ophou en die Betsjoeanalandse protektoraat begin, wat ek ná ’n afwesigheid van baie jare terugkeer vir ’n kort besoek. En ek ontdek wat ek eintlik behoort te geweet het: dat die spoke in die hede loop en nie in die verlede nie. Jy dra die spookbeelde met jou saam, in jou kop, net soos jy jou drome onder jou arm ronddra.

      En wanneer jy na ou plekke terugkeer, kom jy jouself teë, soos jy in die verlede was, en as jy jouself liefhet – soos ons almal onsself moet liefhê, omdat ’n mens eers dan, volgens Christus, jou naaste kan liefhê – dan is daar ’n soete weemoed in dié soort ontmoeting. Daar is die tere triestigheid van die skemeraand, donker oë in gesigte na bo gekeer in ’n bleek beswyming. En geure. En gedagtes soos sagte reën wat op ou grafstene val.

      En daardie aand op die trein, op my pad terug na die Bosveld, kom ek ’n soldaat teë wat vir my sê, “Sodra ek uit hierdie uniform is, gaan ek weer vee smokkel.”

      Hierdie woorde maak my opgewonde. ’n Paar van my stories handel oor die eeue oue Marico-tradisie van veesmokkel oor die grens van die Betsjoeanalandse protektoraat. Daarom vra ek of mense steeds vee smokkel. “Meer as ooit,” lig die soldaat my in. Hy kyk by die treinvenster uit, die donker in. “En jy kan maar weet, op hierdie oomblik, terwyl ek met jou sit en gesels, is iemand besig om vee deur die draad te jaag.”

      Ek is baie bly om dit te hoor. Ek was bang dat daardie deel van my stories dalk intussen kon verouder het. Net dinge wat op ’n manier met die ekonomie verbind is, kan verander. Droogte en die menslike natuur verander nooit.

      Die volgende oggend is ons in Mafeking. Mafeking lê buite die Transvaal. Dit is omtrent twintig myl binne die Noord-Kaap se grens. En om uit te kom by Ramoutsa in die Betsjoeanalandse protektoraat, die stat naaste aan die spoorlyn na die deel van die Groot-Marico waarheen ons wil gaan, moet ons eers ’n permit by die immigrasiebeampte op Mafeking kry. Dis alles baie verwarrend. Ons wil net van Johannesburg na ’n gebied in Noordwes-Transvaal reis, maar om daar uit te kom, moet ons eers die grens na die Kaapprovinsie oorsteek, en van die Kaap moet ons deur die Betsjoeanalandse protektoraat reis, ’n Kroonkolonie wat jy nie mag binnegaan voordat ’n immigrasiebeampte daaroor Pretoria toe gebel het nie.

      Dis laatmiddag toe ons Ramoutsa bereik.

      Van daar reis ons per motor na die Marico. Binne ’n uur steek ons weer die Transvaalse grens oor. Ons is terug op Transvaalse bodem, ons heimwee gestil, want sedert vroegoggend was ons bannelinge in vreemde streke. Die oomblik toe ons ons dus anderkant die doringdraadheining bevind wat die Betsjoeanalandse protektoraat van die Groot-Marico skei, hou ons stil en klim in die veld uit. Ons sê vir mekaar hoe goed dit is om weer op Transvaalse grond te staan. En ons sê ook, hoewel dit opwindend is om deur vreemde lande te reis, soos ons sedert sesuur daardie oggend gedoen het, en hoewel buitelandse reise ’n verruimende uitwerking op die gees het, is ons bly dat hierdie ervarings nie na ons kop toe gegaan het nie, en dat ons nie toegelaat het dat vreemde lewenswyses en idees ons beïnvloed nie.

      Ons reis verder deur die bosveld, oor klipperige paadjies, weinig meer as wielspore, tussen bome en onder takke deur, met dorings wat teen die voorruit en die dak krap, nes jare gelede, toe ek die Marico die eerste keer besoek het. Ek is bly om te sien dat niks verander het nie.

      Skemer oorval ons in die skadu van die Dwarsberg, nie ver van ons bestemming nie, en ons kom op ’n plek in die veld af wat ek herken. Dis ’n stasie waar die tweeweeklikse Goewermentslorrie van Zeerust voorheen gestop het, onderweg na Limpopo. Hoe die lorriedrywers geweet het dié plek was jare gelede ’n stasie, was deur die teenwoordigheid van ’n paar koedoehorings wat bo-op ’n groot miershoop ingesteek was. Die plek het nie verander nie. Die miershoop is steeds gekroon, skynbaar met dieselfde stel horings. Die stasie het nie sigbaar uitgebrei in die jare tussenin nie. Al teken van vooruitgang is dat, saam met die horings op sy kruin, die miershoop nou verder versier is deur ’n geroeste melkkan waarvan die boom uitgeslaan is.

      En so keer ek terug na daardie deel van die land waarheen die Transvaalse Departement van Onderwys dit jare tevore goedgedink het om my te stuur. Daar is geen ander plek waarvan ek weet wat so swaar gelaai is met atmosfeer nie, so vreemd en donker deurdrenk van daardie dinge in die lewe wat die outentieke stempel van Suid-Afrika dra.

      Toe ek die eerste keer in die Marico was, was dit in die tyd dat die moepels byna ryp was. En toe ek jare later terugkeer, sien ek dat die moepels in die Marico weer begin ryp word.

      MAKAPAN SE GROTTE

      KAFFERS? (SÊ OOM SCHALK LOURENS). Ja, ek ken hulle. En hulle’s almal eners. Ek is godvresend, en ek het respek vir Sy werke, maar ek kon nog nooit verstaan waarom Hy kaffers en die runderpes gemaak het nie. Die Hottentotte is ’n bietjie beter. Die Hottentot sal net die biltong steel wat aan die draad hang om droog te word. Hy sal nie die draad óók steel nie. Dis waar die kaffer anders is.

      Tog, mens loop soms ’n goeie kaffer raak, wat getrou en opreg is, en ’n ware Christen, en wat nie die wildehonde jou skape sal laat vang nie. Ek dink altyd dis nie reg om daardie soort kaffer dood te maak nie.

      Ek onthou een kaffer wat ons gehad het, by name Nongaas. Hoe ons aan hom gekom het, het só gebeur: Dit was in die jaar van die groot droogte, toe daar niks gras was nie, en die water in die pan opgedroog het. Ons vee het soos vlieë gevrek. Dit was verskriklik. Elke dag het tien of twaalf of twintig gevrek. My pa besluit toe ons moet alles op die waens pak en na die Dwarsberg trek, waar hy gehoor het daar goeie reëns was. Ek was toe ses jaar oud, die jongste in die huis. Ek het meestal agter in die wa saam met my ma en my twee susters gesit. My broer Hendrik was sewentien, en hy’t my pa en die kaffers gehelp om die vee aan te jaag. Dis hoe ons getrek het. Nog baie van ons vee vrek tydens die trek, maar ná omtrent twee maande bereik ons die Laeveld en my pa sê God is goed vir ons. Want die gras is groen al met die Dwarsberg langs.


Скачать книгу