Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Herman Charles Bosman
ons terugkeer van die geveg, ontdek ons dat die ander flank ook ’n neerlaag gely het. Hulle het baie kaffers geskiet, maar daar was steeds honderde van hulle oor, wat al hoe dapperder geveg het, hoe erger die honger aan hulle mae knaag.
Ek gaan terug na ons kamp toe. Net Nongaas is daar. Hy sit vooroor gebuig op ’n klip, met sy gesig op sy arms. ’n Aaklige vrees neem van my besit en ek vra hom wat fout is.
“Baas Hendrik,” antwoord hy, en toe hy na my kyk, is sy oë vol smart. “Baas Hendrik het nie teruggekom nie.”
Ek gaan onmiddellik terug en begin rondvra, maar niemand kan enigiets met sekerheid sê nie. Hulle onthou heel goed dat hulle my broer Hendrik gesien het toe hulle die grot bestorm. Hy was reg in die middel van die voorste linie. Toe ek dit hoor, is ek opreg trots op my broer, hoewel ek ook besef dat mens niks anders van my pa se seun sou verwag nie. Maar niemand kan my sê wat van hom geword het nie. Al wat hulle weet, is dat hy nie onder dié was wat saam teruggekom het nie.
Ek praat met Marthinus Wessels Pretorius en vra hom om ’n soekgeselskap uit te stuur om na my broer te gaan soek. Maar Pretorius is woedend.
“Ek sal nie ’n enkele man laat gaan nie,” antwoord hy. “Dis alles Kruger se skuld. Ek was van die begin af daarteen. Nou is kommandant Potgieter dood, wat ’n veel beter man was as Kruger en sy hele Dopper-kliek tesaam. As enigiemand teruggaan na die grotte toe, sal ek hom van die kommando ontslaan.”
Maar ek dink nie dit was regverdig van Pretorius nie. Want Paul Kruger het net sy plig probeer doen, en agterna, toe hy vir president benoem is, het ek vir hom gestem.
Dis elfuur toe ek weer terug is by ons deel van die laer. Nongaas sit steeds op die plat klip, en ek sien hy het my broer Hendrik se opdragte uitgevoer en dat die pot staan en prut op die vuur. Aandete is gereed, maar my broer is nie daar nie. Die toneel is te veel vir my en ek gaan lê alleen onder die Van Rensburgs se wa.
Omtrent ’n halfuur later kyk ek op en sien Nongaas wegstap met ’n waterbottel en ’n sakkie op sy rug vasgemaak. Hy sê niks, maar ek weet hy gaan na my broer Hendrik soek. Nongaas weet as sy baas nog lewend is, gaan hy hom nodig hê. Daarom gaan hy na hom toe. Dis al. ’n Lang tyd kyk ek hoe Nongaas tussen die rotse en bosse deurkruip. Ek veronderstel sy plan is om naby een van die grotte te lê en wag en in te sluip wanneer dit donker is. Dis ’n baie dapper ding om te doen. As Makapan se kaffers hom sien, sal hulle hom sekerlik doodmaak, want hy is besig om die Boere te help, en daarby is hy ’n Betsjoeana.
Nag kom, maar nóg my broer Hendrik nóg Nongaas keer terug. Heelnag sit ek met my gesig na die grotte gedraai en slaap niks. In die oggend staan ek op en laai my geweer. Ek sê vir myself dat, as Nongaas tydens sy reddingspoging vermoor is, daar net een ding oorbly vir my om te doen: Ek moet self na my broer toe gaan.
Ek stap eers die veld in, ingeval een van die offisiere my sien en dwing om om te draai. Dan loop ek met die rant langs, onder dekking van die bosse. Van daar af kruip ek, verskuil deur lang gras en rotse, totdat ek ’n deel van Makapan se vesting bereik waar dit stiller is. Ek vorder tot sowat tweehonderd jaart van ’n grot af. Daar lê ek doodstil agter ’n groot rots om uit te vind of enige kaffers aan daardie kant waghou. Af en toe hoor ek die geluid van ’n skoot wat afgevuur word, maar dit kom van baie ver af. Ná’n ruk raak ek aan die slaap, want die angs en min slaap van die vorige nag het my uitgeput.
Toe ek wakker word, is die son reg bo my. Dis warm en daar is geen wolke in die lug nie. Net ’n paar aasvoëls wat baie stadig sirkel, sonder dat dit lyk of hulle ooit hulle vlerke klap. Nou en dan vlieg een ondertoe en gaan sit op die grond, en dis aaklig. Ek dink aan my broer Hendrik en ril. Ek kyk na die grot. Dit lyk asof iets daarbinne beweeg. ’n Oomblik later sien ek dis ’n kaffer wat versigtig na die uitgang beweeg. Dit lyk asof hy reg na my kyk, en uit vrees dat hy my sal sien en die ander kaffers sal roep, spring ek vinnig op en skiet op hom, en mik na sy maag. Hy val soos ’n sak patats en ek is dankbaar vir my pa se raad. Maar nou moet ek vinnig optree. As die ander kaffers die skoot gehoor het, sal hulle almal gelyk aangestorm kom. En dit wil ek nie hê nie. Ek hou ook niks van daardie aasvoëls nie. Ek besluit om ’n groot kans te waag en hardloop so vinnig ek kan tot by die grot en by die ingang in, sodat, al kom die kaffers, hulle my nie in die skemerte sal kan sien nie. Ek lê ’n tyd lank en wag. Maar toe geen kaffers opdaag nie, staan ek op en loop stadig met ’n donker tonnel langs, en kyk kort-kort om om seker te maak niemand volg my nie en dat ek my pad terug sal vind. Want daar is baie kinkels en draaie en dit lyk asof die hele krans uitgehol is.
Ek weet my soektog gaan nie maklik wees nie. Maar daar is iets wat my laat voel dat my broer naby is. Daarom is my geloof sterk, en ek weet dat die Here my na hom sal lei. En ek kry my broer Hendrik, en hy lewe. ’n Groot vreugde oorweldig my toe ek hom kry. Ek sien hom in die flou lig wat deur ’n groot skeur in die dak van die grot val. Hy lê teen ’n rots, hou sy been vas en kreun. Toe sien ek dat sy been verstuit en baie opgeswel is, maar dis al wat fout is met hom. So verras is my broer Hendrik om my te sien, dat hy vir eers nie kan praat nie. Hy hou net my hand vas en lag saggies, en toe ek aan sy voorkop raak, kan ek voel hy is koorsig. Ek gee hom ’n bietjie brandewyn uit my fles, en hy vertel my kortliks wat gebeur het. Toe hulle die grot bestorm, was hy reg voor en soos die kaffers terugbeweeg het, is hy agterna. Maar hulle het in alle rigtings uiteengespat totdat my broer hom alleen bevind het. Hy het probeer teruggaan, maar het verdwaal en in ’n sloot geval. Op dié manier het hy sy enkel so erg verstuit dat hy in intense pyn verkeer het. Hy het in ’n hoek ingekruip en daar gebly, met die gevaar, die donker en sy pyn. Maar die ergste van alles was die stank van die verrottende lyke.
“En toe kom Nongaas,” sê my broer Hendrik.
“Nongaas?” vra ek.
“Ja,” antwoord hy. “Hy het my gekry en my kos en water gegee, en op sy rug getel. Die water het opgeraak en ek was baie dors. Toe vat Nongaas die bottel om dit by die pan te gaan volmaak. Maar dis baie gevaarlik om daar uit te kom, en ek is bang hulle maak hom dood.”
“Hulle sal hom nie doodmaak nie,” sê ek. “Nongaas sal terugkom.” Ek sê dit, maar in my hart is ek bevrees. Want die grotte is eindeloos en donker, en die kaffers is bloeddorstig. Ons kan nie langer wag nie. Dus tel ek vir Hendrik op my skouer en dra hom na die uitgang. Hy verduur baie pyn.
“Jy weet,” fluister hy, “Nongaas het gehuil toe hy my kry. Hy het gedink ek is dood. Hy was baie goed vir my – baie goed. Onthou jy die dag toe hy agter die waens aangeloop het? Hy het so vol vertroue gelyk en so klein, en tog het ek – ek het hom met klippe gegooi. Ek wens ek het dit nie gedoen nie. Ek hoop maar net hy kom veilig terug. Hy het gehuil en oor my hare gestreel.”
Soos ek sê, my broer Hendrik was koorsig.
“Natuurlik sal hy terugkom,” antwoord ek. Maar dié keer weet ek dat ek lieg. Want toe ek deur die bek van die grot loop, het ek geskop teen die kaffer wat ek vroeër daar geskiet het. Die liggaam het op sy sy gerol en ek het die gesig gesien.
DIE ROOINEK
ROOINEKKE, SÊ OOM SCHALK LOURENS, is vreemde goed. Vat byvoorbeeld die dag toe ek en my susterskind Hannes met ’n paar Engelsmanne naby Dewetsdorp te doen kry. Dis kort ná Sannaspos, en ek en Hannes lê agter ’n rots en hou die pad dop. Hannes bring sulke tye deur op wat hy ’n nuttige manier noem. Hy vyl sy mauserkoeëls se punte op ’n stukkie plat klip totdat die lood deur die staal sigbaar is, wat van hulle dum-dum-koeëls maak.
Ek praat dikwels met my susterskind Hannes daaroor.
“Hannes,” sê ek. “Dis ’n sonde. Die goeie Vader sien jou.”
“Dis reg so,” antwoord Hannes dan. “Die Here weet dis die Boereoorlog dié, en in tye van oorlog sal hy ’n bietjie dwaasheid vergewe, veral aangesien daar so baie Engelse is.”
In elk geval, terwyl ons agter die rots skuil, sien ons verder af in die pad twee ruiters aangegalop kom. Ons lê doodstil en laat hulle nader kom tot so vierhonderd tree van ons af. Dis Engelse offisiere. Hulle perde is eersteklas en hulle uniforms mooi en baie deftig. Hulle is loshande die deftigste mans wat ek in ’n lang tyd gesien het, en ek kry skaam vir my verslete broek en velskoene. Ek is bly dat ek agter