Dit vat guts. Annelie Ferreira
dink as jou Pa kanker het nie, is jy?
Maar voor ek dit kan help, dink ek aan Thomas ook. Ek ken Thomas nie so goed soos Arnold nie. Ek weet hy is in graad nege, maar hy is baie kort. Niks langer as ek nie, en ek lyk of iemand my kunsmis moet gee.
Die rede hoekom ek weet van hom, is omdat ek in hom vasgeloop het die begin van die jaar. En ek bedoel vasgeloop het. Ek het verdwaal op pad na die wiskundeklas toe – oukei, ek het verdwaal op pad na elke flippen klas toe, dit was die eerste week van graad agt!
Toe panic ek en hardloop, om ’n hoek, reg in Thomas vas. Dit was die eerste keer dat ek in ’n ou vasgehardloop het en dit was, wel, nie so sleg as wat mens sou dink nie. Thomas was soort van hard en sag gelyktydig en al is hy so kort, was sy arms sterk. Sy donker oë het vir my geglimlag.
Dis hoekom ek ja gesê het vir die debatskompetisie. Ek, Mia Malan, wat nie eens mondeling kan doen sonder om die heeltyd te wil omkap nie. Die Afrikaans-juffrou het my gevra. Toe ek sien Thomas gaan deelneem, awol my brein net daar en ek sit my naam ook op.
En dan die perd. Hoe moes ek geweet het Annika sou so keen wees? Ek het sommer net randomly gechat, ek was nie ernstig nie!
Iets wollerigs raak aan my been. Ek is uit die pophuis met een sprong, kap my kop so hard ek sien net sterretjies.
’n Verbaasde miaau.
“Prinses!” Ek voel-voel na die dak met een hand, hou my kop vas met die ander. “Ek dog jy’s ’n reënspinnekop.”
Toe hoor ek stemme.
Ek sien ’n blonde kop en ’n grys een, tannie Sybil en Ouma s’n. Hulle is op pad na oom George se kar, baie stadig, met tannie Sybil se arm om Ouma se skouers.
Oom George loop na Ouma se motor en klim in. Hy skakel die enjin aan. Dit klink nie soos Ouma se motor nie. Wanneer sy dit aanskakel, klink dit soos een of ander wintie wat sy kar by ’n verkeerslig rev. Pa sê dis omdat sy haar clutch te stadig laat uitkom.
’n Vlaag wind pluk aan my hare en blaas ’n hand vol stof in my gesig. Agter die huise oorkant die straat stapel die wolke op.
3
Ek gaan soek Ma in die studeerkamer. Sy is op die Internet, ek kan die woorde “primary tumour” uitmaak voor sy die bladsy minimise.
“Nag, Ma,” sê ek. Ek tel my ou kleikameelperdjie op wat skeef op haar lessenaar lê en sit hom weer regop, langs Isabel se kraleboksie en die skulpe wat Tes by Silwerbaai opgetel het.
“Nag, Mia,” sê Ma. “Lekker slaap.” Sy kyk na my asof sy iets wil sê, dan kyk sy weer weg.
“Jy ook,” sê ek, en draai om.
Ek roep: “Nag, Pa!” in die rigting van Ma-hulle se slaapkamer en gaan na my en Isabel se kamer. Sy haal pajamas uit haar kas.
Die wind is nou heeltemal hyper, huil om hoeke, ratel vensters en ruk iewers aan ’n hek. Aan tafel het Pa gesê dit gaan reën. Die boere sal bly wees. Hulle was nou die aand op TV en het gesê as dit nie binnekort reën nie, gaan hulle gesaaides nie opkom nie.
Ek tel my selfoon op om vir Annika te SMS, maar skielik huiwer ek.
“Hoeveel mense dink jy moet ons van Pa vertel?” vra ek vir Isabel.
“Ek het al my vriende en die mense van die kerk laat weet,” sê Isabel. “En dit op Facebook gesit.”
“Facebook? Hoekom?”
“Dat almal aan Pa kan dink, natuurlik! Ons pastoor sal die gemeente Sondag by die diens ook vra om vir Pa te bid.”
Hoe kan sy die hele wêreld laat weet? Ek meen, ’n breingewas is nou nie so embarrassing soos, sê, aambeie nie, maar nogtans.
“Pa gaan gesond word, jy sal sien.” Isabel lig haar ken voor sy omdraai en begin uittrek. “Ek gaan hom saamvat na ons healing-dienste toe.”
“Pa sal nooit gaan nie.”
“Dis hoekom jy moet bid.” Isabel se stem raak weg in die sagte blou pajamatop wat oor haar kop gly. “Gebed verander mense.”
Isabel is baie into haar kerk. Op die oggend van haar veertiende verjaardag het sy in ’n vreeslike bui wakker geword wat ’n halwe jaar aangehou het tot sy saam met haar pelle na die kerk in Solwaystraat gegaan het. Sy is nou ’n jaar daar en ek moet sê, haar bui het baie verbeter.
Ek klim in die bed en maak my oë toe sodat Isabel nie met my sal praat nie. Maar dis nie stil in die kamer nie. Daar hang woorde in die lug, die woorde wat Ma netnou nie gesê het nie, en Ouma se woorde wat ek nie gehoor het toe ek vanmiddag uit die huis gevlug het nie, en …
Dit kom sit op my bed, druk op my bors. KANKER.
Kan gebed Pa regtig verander van ’n man met kanker na ’n gesonde man? Miskien moet ek dit probeer. Dit kan nie kwaad doen nie, kan dit?
Maar met wie presies moet ek praat?
Pa en Ma glo nie God is ’n man nie, want dit sal onregverdig wees teenoor vroue, en hulle glo ook nie hy’s wit nie, want dit sal onregverdig wees teenoor swart mense, Chinese, Indiërs, Pakistani’s, Maori’s, whatever. Hulle sê God is die grond van ons wese, in alles, maar ook meer as alles. Ek het natuurlik nie ’n clue wat dit beteken nie, maar dit sidestep wel die probleem van ’n wit man. Maar hoe praat mens met die grond van jou wese?
Toe bid ek sommer maar net. “Liewe Here of Grond-van-Ons-Wese, sal jy Pa asseblief help? Hy het kanker. Ek sal seriously bly wees. Dankie.”
Ek wag, maar daar kom geen antwoord nie. Isabel sê God antwoord soms “nee”, wat eintlik die beste antwoord is, maar een wat jy eers later sal verstaan. Hierdie antwoord is net stilte.
Tog voel ek beter. Miskien moet ek God net kans gee, partykeer sê Ma of Pa ook: “Laat ek daaroor dink” as ek vir hulle iets vra. God is dalk besig om te dink.
Ek hoor Isabel in haar bed klim, vroetel met haar duvet. ’n Skakelaar klik, die donker agter my oë word nog swarter. Isabel sug sag.
Hoe laat mense anyway wonderwerke gebeur? Dis iets wat jy eintlik behoort te weet, ingeval jou pa kanker kry. Oom George weet alles van hierdie soort goed af. Hy het ’n medalje van die universiteit gekry toe hy nog ’n filosofiestudent was, en hy is besig om ’n boek te skryf, oor waarheid. Pa sê hy gaan nog lank skryf, want waarheid verander die hele tyd, maar tog.
Miskien kan ek ook eendag ’n boek skryf, soos oom George, maar myne sal gaan oor wonderwerke. Dan kan dit mense help wat een nodig het. Ek hou van skryf, dis baie makliker as praat.
’n Boek oor wonderwerke. Alle soorte wonderwerke.
Toe onthou ek iets.
Dit was ’n Sondag ’n paar weke gelede toe ouma Issie en oom George-hulle by ons kom braai het. Oom George het met Pa langs die braaiplek staan en gesels, ’n bier in sy hand. Pa het tjops op die rooster gerangskik. Ek was ook op die stoep, besig om Rakker met ’n maagkrap-special te treat. Dit was ’n skroeiwarm dag en braai het dit niks koeler gemaak nie, maar ek hou van vure.
Oom George was besig om net lekker op spoed te kom. Ek het met een oor geluister. Van goed die helfte van wat hy gesê het kon ek nie kop of stert uitmaak nie, soos gewoonlik. Van die ander helfte het ek hier en daar iets gevang. Ek probeer dit onthou. Hy het gepraat oor die waarde van ’n ding wat hy “die transendente” genoem het, wat in die moderne samelewing verlore raak. Dis jammer, het hy gesê, want dis iets heilig. En kosbaar. Ek dink hy het kosbaar gesê.
Agterna het ek “die transendente” in die woordeboek opgesoek, maar ek sweer die verklaring sou meer verstaanbaar in Russies gewees het. Toe vra ek Ma. Sy het gesê dis iets wat nie gewoon of alledaags is nie.
Ek skakel my bedlampie aan. Isabel roer in haar bed vol skaduwees.
“Ek moet net iets check,” fluister ek in haar rigting.
“Make it snappy,” brom sy.
Ek