Dit vat guts. Annelie Ferreira

Dit vat guts - Annelie Ferreira


Скачать книгу
my opstelle daar.

      Ek sluip na my kas en maak die boonste regterdeur versigtig oop om nie te raas nie. Die flipfile lê langs my memory box op die boonste rak, die rak waar mens belangrike goed bêre wat jy nie elke dag gebruik nie.

      Ek haal die flipfile af. Dis my soort stuff hierdie. Woorde. My brein slaan selde vas as ek skryf, nooit soos wanneer ek praat nie. Dalk moet ek altyd ’n pen en stukkie papier ronddra, soos mens met tissues doen, en as ek iets wil sê, skryf ek dit eers gou neer.

      Aha. Hier is dit, op ’n stukkie papier, onder stratosfeer en skigtig:

      transendente: gewoon maar meer as gewoon. Nie konkreet nie. Spesiaal. Soos wonderwerke?

      ’n Boek oor wonderwerke.

      My vingerpunte vee oor die woorde. Isabel se asemhaling is diep en egalig.

      Ek skeur ’n skoon vel papier uit my oefeningboek. Toe ek my pen optel, hoor ek iets buite. ’n Geruis, eers sag en dan harder. Dit reën.

      Ek begin skryf.

      4

      Haai Pa

      Slaap is nie ’n wonderwerk nie. Oukei, wel, partykeer is dit seker. Ek onthou nog hoe Tes in die nag geskree het toe sy ’n baba was, hehe.

      Maar die goed wat gebeur terwyl jy slaap, is wel ongewoon. “Weird verby” sal ook ’n goeie beskrywing wees daarvan. Partykeer, as jy aan die slaap raak, is dit of jy na ’n hele ander wêreld toe gaan. En nie ’n normale ander wêreld soos op TV of in boeke nie.

      Daar is baie normale vreemde wêrelde. In die woestyn, in oerwoude, op die pole, in vulkane en moerasse. Party mense glo daar is wêrelde wat weggesink het onder die see. Dis creepy.

      Maar die wêreld van die nag is heeltemal anders. In die wêreld van die dag sal gewone goed gewoon bly, en crazy goed crazy, en jy sal weet wat die verskil is.

      In die wêreld van die nag weet jy nooit wat jy gaan kry nie. Miskien nice goed, soos silwer muntstukke, of ’n nes Quality Street-sjokolades, met ekstra orange en strawberry creams. Maar ’n freaky man kan jou ook jaag, of jy kan onthou jy het ’n meisie doodgemaak, of jy kan ’n leeu sien heel toevallig op die oomblik wat jy nie jou bene kan roer nie.

      En jy het nie ’n keuse nie. Jy weet nooit waarheen jy gaan as jy jou oë toemaak nie, dis die wet van die nag.

      Moet asseblief vir niemand vertel nie, maar ek is bang vir die donker.

      En vir ander goed.

      Isabel raak geïrriteerd met my. Sy het nou die dag gesê: “Flippit, Mia, jy is nes ouma Issie, dink altyd iets sal jou byt.”

      Ek kan dit nie help nie. Ek is bly Tes wil nog die ganglig aanhê saans. Sy is net ses, niemand dink dis snaaks nie. In Annika se huis is dit stikdonker snags, selfs die duiwel sal bang wees as hy daar moet oorslaap.

      Ek hou ook nie van die stilte in die nag nie. Ek sal dit nooit vir Isabel sê nie, maar dit help as sy saans laat nog rondkrap in die kamer, soos ’n rot wat ’n snackie soek. En in die middel van die nag klink jou gesnork mooier as enige hit op Kfm.

      Onthou jy toe ek en Isabel klein was en saans aan die slaap geraak het in die kar op pad van iewers af? By die huis sou jy ons optel van die agtersitplek en kamer toe dra. In die somer kon ek jou skouer deur jou hemp voel, en in die winter was jou trui sag teen my gesig.

      Ek was amper so hoog soos bo-op die jungle gym, maar ek was nie bang nie. ’n Pa sal jou nooit laat val nie.

      Nag vir eers, Pa.

      van

      Mia

      5

      Annika staan op haar muur. Sy is nie regtig veronderstel om daar te staan nie, of op die skool se dak of enige ander snaakse plek nie, al is dit nie uitgespel in die tien bladsye – gaap – skoolreëls wat ons aan die begin van die jaar gekry het nie. Dis natuurlik hoekom sy daarvan hou. Gelukkig is die muur half weggesteek onder die peperbome, en Annika word anyway nooit gevang vir enigiets nie.

      Sy waai toe sy my sien. Haar hare is vasgemaak in ’n skewe poniestert agter haar linkeroor. Sy lyk so cool daarmee. As ek dit sou probeer, sal ek net lyk asof ek in ’n muur vasgeloop het.

      Ek plak my boeksak neer in die ry wat van die ingang af kronkel. Die teer is nog nat van die reën, maar dis nie te koud nie, so almal koek saam in hulle oggendgroepies.

      Annika spring af van die muur en hop oor die helling van beton na my toe. Die laaste tree gly sy amper, maar sy verloor nie haar balans nie.

      “Girlfriend, raai wat?” Haar oë blink. “Arnold sê daar’s ’n meisie in sy klas met ’n perd wat ons kan uitprobeer. Hy wil foto’s van die perd neem vir sy kunsprojek, ons kan Donderdag saam met hom gaan. Is dit nie great nie!”

      Oh no. Nie nou nie!

      Ouma Mia. Not! “Oukei, kom ons probeer dit.”

      Annika se kuiltjies keep diep in haar wange. “En nog net ’n paar daggies voor die vakansie begin! Yayyy!” Sy gooi haar arms uit. “Ek kan nie wag vir die naweek nie, dis eeue van ons laas op Langebaan was. As die weer so bly, gaan ons vir seker swem. Ons gaan so fun hê.”

      “Cool.”

      “As julle nie vir die week Silwerbaai toe kan gaan nie, kan julle nie ook maar vir ’n naweek weggaan nie?”

      Ek moet vir Annika sê.

      “My pa …” Ek hoes. “My pa het ’n breingewas.”

      Annika versteen. “Oh, my word. Jy bedoel – kanker?”

      Ek knik. En vir ’n oomblik voel ek belangrik, en dan skuldig, want belangrik is verkeerd.

      “Shit,” sê Annika. “Sal hy – ek bedoel, hoe erg is dit? Wat gaan gebeur?”

      “Hulle dink hy gaan ’n operasie nodig hê. Dis nog nie seker nie, hy sien volgende week ’n neurochirurg.” Ek druk my hande in my baadjiesakke en probeer om casual te lyk.

      Die klok laat my wip. Ons moet tot siens sê tot eerste pouse. Die graad agts is in die stupidste klasse verdeel, ek en Annika is nie bymekaar nie.

      “Ons sal Donderdag seker nie te laat van die perd af terugkom nie?” sê ek. “Ek het die aand nog die debatskompetisie. Ek was ook flippen mal toe ek daarvoor ingeskryf het.”

      “Nee, man, jy sal dit ace,” sê Annika. “Jy het dan al opstelkompetisies gewen!”

      “Skryf is bietjie anders as praat.”

      Om ons begin kinders beweeg. Ek kyk rond vir my boeksak, maar Annika gryp my aan die arm. “Die meeste mense wat ek ken wat kanker gehad het, het gesond geword, Mia. Ek is seker jou pa gaan oukei wees.”

      “Thanks,” sê ek.

      Die stroom kinders word breër, sleur ons saam die skooldag in.

      6

      Die perdestorie het laas Vrydag begin, toe ek by Annika gaan oorslaap het. Dis lekker om by hulle te kuier, want hulle huis is mooi en vol verrassings. Annika se ma is ’n kunstenaar. Sy is altyd besig om nice goed te maak en spesiale hoekies daarvoor te kry.

      Ek hou ook van die katte by Annika se huis. Daar is min of meer ’n kleur vir elke kamer. Niemand is seker hoeveel katte daar is nie, want party kom kuier van die bure af. Ek sal nie verbaas wees as selfs Sebastiaan, die Duitse herdershond, een van sy eie het nie.

      Natuurlik hou ek ook daarvan dat Arnold daar is, hy is nog beter as ’n kat. Hy is in matriek en vrek slim, en lyk nes ’n TV-akteur (hy sal beslis die held wees). En hy is altyd nice met my. Die enigste probleem is, Annika dink dis vyf-en-negentig persent seker hy’s gay.

      Mens sal dit nie sê nie, hy is soos ’n heeltemal regular ou. Maar Annika sê baie gay mense is eintlik heeltemal regular, soos haar ma se broer wat in Londen


Скачать книгу