Verworpe silwer. Ena Murray
hulle ook nie kan saamloop nie. Ek sê nog – as grootmeneer ’n dubbelbed in hul kamer gehad het, het daar nie moeilikheid gekom nie. Maar nee, dis mos toe mode daardie tyd ook – witgeverfde slaapkamermeubels met twee enkelbeddens. Dis tóé dat dinge skeefgeloop het.” Bet klik haar tong, skud dan maar haar skouers en vervolg: “Nie dat ek dink ’n dubbelbed gaan veel vir jou en kleinmeneer help nie. Dit gaan meer as ’n dubbelbed kos om ...”
Haar skeptiese woorde word kort afgebreek toe daar ’n beweging by die deur is, en albei vroue draai om. ’n Man staan in die deur, en dis vir niemand nodig om Sanet te vertel dat dit Darius Mocke is wat voor haar staan nie.
Dis ’n oomblik baie stil, en dis Bet wat ná ’n vinnige blik na die twee gesigte laat hoor: “Grootmeneer, die kleinmeneer het al weer ’n vreeslike ding gaan aanvang.”
“Is hy terug?”
“Ja, hy’t netnou hier aangekom met ... hierdie meisiekind, en hy sê hy het vanoggend met haar getrou en ...”
“Hy het wat?”
Santie sluk. Dis belaglik dat sy met haar mond vol tande staan en Bet moet verduidelik. Sy voel die oë op haar en haar mond gaan oop.
“Dis heeltemal reg, me ... e ... Ons is vanoggend getroud. Ek is Santie.” Sy gee ’n tree vorentoe, steek haar hand uit soos ’n goed opgevoede kind. “Aange-”
“Laat ons alleen, Bet.”
Bet gehoorsaam dadelik, en Santie doen haar bes om die bejammerende blik in haar donker oë mis te kyk. Sy laat terselfdertyd haar hand terugval na haar sy. Intuïtief trek sy haar skouers meer vierkantig.
“Ek wil net baie seker maak dat ek reg gehoor het. Is jy en my broer, Louis, getroud?”
“Ja.”
“Wanneer?”
“Van ... vanoggend.”
“Waar?”
“In die Kaap ... voor die landdros in Bell-”
“Hoe lank ken julle mekaar?”
“Vier weke.”
“Waar en by wie het julle mekaar ontmoet?”
“Ons het mekaar ... mekaar op die strand leer ken. Ek ... ek het oor ... oor sy voete gestruikel ...” Dit klink vreeslik!
“En toe ken julle mekaar goed genoeg om te trou. Jy vind toe in vier weke alles uit wat nodig is – dat Louis Mocke glad nie ’n slegte finansiële vangs sal wees nie en ...”
“Dis nie waar nie!” Die protes kom spontaan oor haar lippe, maar die mond voor haar smaal.
“Moet my net nie probeer wysmaak jy weet nie dat hy, sodra hy trou, sy erfenis ontvang nie, en moet my net nie probeer vertel dat jy ...”
“Ek is nie van plan om jou enigiets te vertel of te probeer wysmaak nie,” hoor sy haarself tot haar eie verbasing sê. Die man self lyk verbaas oor haar bravade, en sy volg dit vinnig op solank sy nog moedig genoeg voel: “Louis is vier en twintig, sekerlik oud genoeg om self te besluit wanneer hy wil trou. Ek is jammer dat jy hierdie houding inneem, maar ons ís getroud en ...”
“Hoe oud is jy?”
“Twintig.”
“En jy het jou ouers se toestemming vir hierdie huwelik?”
“Nee, want hulle is albei dood, maar ek het my tante s’n by wie ek grootgeword het.”
“Wat is jou van?”
“My van wás Marais.”
“Wat het jy tot nou gedoen?”
“Ek was ’n tikster by ’n prokureursfirma.”
“Waar het jy gewoon?”
Sy pers haar lippe ’n oomblik saam. “By my tante in ’n skakelhuisie, want ons is arm mense.” Sy kyk uitdagend terug. “Maar my tante het my grootgemaak met die idee dat ’n mens jou nie hoef te skaam omdat jy arm is nie. Die feit dat ek met ’n ryk erfgenaam getrou het, is vir my nuus, of jy dit wil glo of nie. Dít was nie my rede hoekom ek met jou broer getrou het nie. Ek het hom ...”
“Spaar my dit, asseblief. Ek het nie tyd vir sentimentele twak nie. Die stukkie nuus wat ek jou netnou vertel het, is maar ’n gedeelte van baie, dit kan ek jou verseker. Ek het heelwat ander nuus vir jou, en dis nie so aangenaam soos die eerste brokkie nie. Jy het met ’n deurbringer, ’n luiaard, ’n dronklap, ’n bakleier, ’n nikswerd en ’n swakkeling gaan trou. Jy sal dit gou genoeg agterkom. As ek jou raad verskuldig is, maak dat jy hier wegkom voordat dit aand word.” Tot haar verbystering gooi hy ’n rol note voor haar op die bed neer. “Daar. Ons het ’n stasie hier. Ek sal ’n motor stuur om jou te kom haal.”
Hy draai in sy spore om en stap weg.
Sy gaan bewend op die bed sit, haar oë vasgenael op die rol note. Sy kan nie glo dat dit gebeur, regtig gebeur het nie! Dit kan nie wees dat sy summier weggejaag is nie! Dit kan nie wees dat hy die waarheid gepraat het nie!
Dis nie soos sy Louis leer ken het nie! Tog ... Bet het ook netnou dinge gesuggereer ... Maar Bet is duidelik ’n bewonderaar van grootmeneer.
’n Skinkbord verskyn in haar gesigsveld, en sy kyk onwillig op, skaam om in die huishulp se oë te kyk. Maar sy kyk op, sien die verwagte simpatie in Bet se oë, en sy voel haar hart krimp.
“Ai, kleinjuffrou, jy moes nooit hierdie perd opgesaal het nie. Dis ’n wilde perd wat jou gaan afgooi, en jy gaan seerkry. Hierdie kleinmeneer ... hy is nie mak nie ...”
Sy kyk die ou mens byna desperaat aan. “Maar ons is klaar getroud, Bet! Ek kan mos nie sommer nou net loop ... soos grootmeneer sê nie!”
“Ek het gedink hy sou dit sê. Ja, ek weet nou nie ... Getroud is getroud. Maar liewer nou loop as later. Kom drink maar jou teetjies. Ou Bet sien sommer ou Bet sal nog baie teetjies vir jou moet aandra. Ai tog! Ai tog!”
Toe Bet al tongklappend terug kombuis toe is, sit Santie steeds radeloos. As Louis net wou huis toe kom ... Waar is hy? Hy het voorgegee hy gaan sy broer oor hul huwelik inlig, maar blykbaar het hy nie. Sy ruk haar reg. Sy durf nie toelaat dat daar agterdog in haar hart teenoor haar man gesaai word nie. Hy is natuurlik dorp toe met daardie doel, maar hy en Darius moes mekaar misgeloop het. Louis is nie wat sy broer hom van beskuldig nie. Sy glo dit nie!
Van die eerste oomblik dat hulle ontmoet het, was hy wonderlik. Sy onthou hul ontmoeting. Tot op daardie oomblik was haar lewe redelik saai en eentonig. Sy het nie gejok toe sy gesê het sy was ’n tikster by ’n prokureursfirma nie. Maar dit was ’n jaar gelede. Toe val tant Alie en breek haar heup en word ’n invalide. Sy moes haar werk bedank om na haar voog tuis om te sien. Hulle het hul bes gedoen om haar by ’n ouetehuis in te kry, maar daar was ellelange waglyste by elke plek waar hulle aangeklop het. Tant Alie is nie regtig só arm nie, maar die ou tante was nog altyd baie versigtig met geld, wetende dat sy na haarself moet omsien. En dan was daar Santie en dié se toekoms waaraan gedink moes word. In vergelyking met die Mockes, of dan Darius Mocke, sal die Marais’s van die skakelhuisie seker as finansieel ondergemiddeld beskou kan word. Maar daar was genoeg sodat Santie die afgelope jaar na haar tante kon omsien en haar tuis verpleeg, totdat sy sowat twee maande gelede eindelik plek in ’n ouetehuis gekry het.
Santie was besig met ’n welverdiende vakansie voordat sy weer aansoek om werk sou doen toe sy daardie dag op die strand oor Louis Mocke se voete gestruikel het. Sy het juis diep ingedagte geloop en dink aan die jaar wat verby is. Sy is baie lief vir tant Alie en sou enigiets vir haar doen, maar haar lewe was die afgelope jaar in ’n baie klein sirkeltjie vasgevang. Omdat sy nooit wou uitgaan en tant Alie alleen laat nie, het sy haar vriende verloor. Later was dit net sy en haar tante en die eentonige roetine van elke dag. Maar skielik was sy weer vry om jonk te wees en met haar lewe voort te gaan ... en toe struikel sy.
Sy het verleë om verskoning gevra, toegelaat dat hy haar ophelp en toe het hy vir haar ’n roomys gekoop by die roomyskarretjie wat verbygekom het en haar